Suid-Afrikaanse Gebaretaal is nou eindelik wel een van 12 amptelike tale

  • 0

Grafika: ©Moondance op Pixabay, prent gepubliseer op 29 Maart 2022.

Suid-Afrikaanse Gebaretaal is nou eindelik wel een van 12 amptelike tale1

Mense onthou seker die groot fanfare wat met die Staatspresident se ondertekening van die Constitution Eighteenth Amendment Act, 2023 op 19 Julie 2023 gepaard gegaan het. Veral van sy poging om een of twee gebaretaaltekens by Bruno Drüchen, direkteur van die Dowe Federasie van Suid-Afrika (DoweSA) aan te leer. Hierna is groot gewag gemaak van Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) wat nou Suid-Afrika se (reeds onwerkbare) lys van 11 amptelike tale na 12 uitgebrei het. “SAGT nou Suid-Afrika se 12de amptelike taal” is wyd en syd aangekondig. “Nee,” het die Dowes ons tereggewys, “’n 12de amptelike taal, nie die 12de nie.” In skrille kontras hiermee staan die stilswye oor die waar maak van die intensie van die betrokke wysigingswet op 26 Junie 2026 ingevolge Proklamasie 321 van Staatskoerant 54901, die datum waarop artikel 6 van die Suid-Afrikaanse Grondwet gewysig is om ook SAGT as ’n amptelike taal naas die bestaande 11 te erken. Die proklamasie, wat terloops in die 2023-wysigingswet voorsien word (die sogenaamde fynskrif) en deur die meeste betrokkenes eenvoudig geïgnoreer is, is op dié dag stilletjies deur onse haastige president geproklameer, net ’n paar dae voor die driejarige herdenking van die wysigingswet. Verrassend genoeg het die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) in Worcester verkies om die betekenisvolheid van die President se proklamasie te ignoreer deur ’n paar weke later, op 19 Julie 2026, mense op te roep tot die viering van SAGT se drie jaar as amptelike taal! Newwermaaind die feit dat die 1996-Grondwet tot 25 Junie 2026 SAGT nie as ’n amptelike taal gelys het nie, gewoon omdat die 18de Grondwetwysigingswet nog nie soos voorgeskryf geproklameer was nie. Dit het, soos reeds genoem, eers op 26 Junie gebeur.

Ons weet mos teen hierdie tyd dat onse president nie maklik tot aksie oorgaan nie. Drie jaar is eintlik nogal redelik aanvaarbaar. Dit het hom byvoorbeeld meer as 10 jaar geneem om die Wet op die Suid-Afrikaanse Taalpraktisynsraad, 2014 wat hy op 16 Mei 2014 bekragtig het, eers op 29 Augustus 2025 as wet te proklameer. Nog ’n taalwet, die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale, 2012, daarenteen, is weer “blitsvinnig” een jaar later, op 13 Mei 2013, geproklameer. Onse president is egter oor die algemeen nie haastig wanneer wetlike taalreëlings ter sprake is nie.

........
SAGT is tegnies gesproke dus eers vanaf die inwerkingtreding van die 18de Grondwetwysigingswet op 26 Junie 2026 ’n amptelike taal van Suid-Afrika. Wat uitsonderlik hieromtrent is, is dat Suid-Afrika op hierdie dag slegs die tweede land ter wêreld geword het om sy nasionale gebaretaal deur middel van die land se Grondwet te veramptelik.
.........

SAGT is tegnies gesproke dus eers vanaf die inwerkingtreding van die 18de Grondwetwysigingswet op 26 Junie 2026 ’n amptelike taal van Suid-Afrika. Wat uitsonderlik hieromtrent is, is dat Suid-Afrika op hierdie dag slegs die tweede land ter wêreld geword het om sy nasionale gebaretaal deur middel van die land se Grondwet te veramptelik. Lesotho het ons voorgespring toe daardie land op 13 Augustus 2025 die Tenth Amendment to the Constitution Act, 2025, ingevolge waarvan “sign language” (let wel, nie “Lesotho Sign Language” nie) veramptelik is, in hulle staatskoerant geproklameer het. Al het Kenia reeds op 27 Augustus 2010 ook amptelike status aan sy nasionale gebaretaal, Kenyan Sign Language, toegeken, is dit nogtans amptelike status wat beperk word tot die parlement – Engels en Swahili is die land se verklaarde amptelike tale, dus nie op dieselfde vlak as die gebaretale van Lesotho en Suid-Afrika nie.

Interessantheidshalwe: Daar is slegs ses verdere lande ter wêreld wat hulle nasionale gebaretale as amptelike tale op nasionale vlak naas die gesproke amptelike tale erken, naamlik Uruguay (sedert 2001), Nieu-Seeland (2006), Pole (2012), Papoea-Nieu-Guinee (2015), Suid-Korea (2015) en Malta (2016). Hierdie status word in ’n verskeidenheid landswette erken. Sommige webwerwe skets ongelukkig ’n misleidende prentjie omtrent die amptelike erkenning van gebaretale deurdat hulle nie onderskei tussen erkenning as amptelike taal en amptelike (dus wetlike) erkenning as taal nie. WorldAtlas is een van die bekendes. Die diens vertoon ’n webblad, “Which countries recognize sign language as an official language?”, waar daarop aanspraak gemaak word dat 41 lande hulle gebaretale as amptelike tale erken. Die diens verskaf egter geen dokumentêre bewyse ter ondersteuning van hierdie aanspraak nie. Daar kon vasgestel word dat sodanige bewyse slegs vir die ses lande hier bo genoem, bestaan. Wat WorldAtlas se aanspraak nóg meer problematies maak, is dat die diens dit baseer op die World Federation of the Deaf se inligting oor die wetlike (of amptelike) erkenning van gebaretale deur lidlande van die Verenigde Nasies. Die Federasie vertoon hierdie inligting op ’n webblad, “The legal recognition of National Sign Languages”. Teen 18 Junie 2026 word altesaam 84 lande gelys wat op een of ander wyse wetlike erkenning aan hulle gebaretale verleen – let wel: amptelike erkenning, nie erkenning as amptelike tale nie. Dit verg dus ’n redelike sprong deur WorldAtlas om op basis van hierdie inligting uit te kom by 41 gebaretale wat as amptelike tale erken word. Die diens kan eenvoudig net Wikipedia se redelik akkurate “List of official languages” raadpleeg om te sien watter gebaretale as amptelike tale van hulle land erken word.

Maar die Suid-Afrikaanse situasie is om nog ’n rede ’n uitsondering. Baie mense (veral die vorige minister van basiese onderwys en tans van verdediging) skyn ’n belangrike verwikkeling omtrent SAGT se status in Suid-Afrika te misken, naamlik dat die taal al reeds so vroeg as 1996 ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996 as amptelike taal erken is; weliswaar beperk tot die onderwys, maar nietemin op dieselfde vlak as die destydse 11 amptelike tale. Ingevolge die betrokke onderwysdepartement se reëls word ’n amptelike taal onderrig as Huistaal en Addisionele Taal (Eerste Addisionele Taal en Tweede Addisionele Taal), en volgens ons Grondwet se Handves van Menseregte (artikel 29) kan ’n amptelike taal ook as voertaal in openbare skole aangewend word, selfs binne enkelmediumverband.

Amptelike status in die onderwys is egter nie al vorm van wetlike erkenning wat SAGT al ’n geruime tyd lank geniet nie. Ingevolge die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale, 2012 moet staatsinstellings voorsiening maak vir die akkommodering van mense wat SAGT as voorkeurtaal verkies, ’n reëling waarop die sprekers van die 11 amptelike tale nie aanspraak kan maak nie – hulle moet maar net hoop die betrokke staatsinstelling gebruik ’n amptelike taal of tale wat hulle beheers. Hierdie reëling word in die Use of Official Languages Amendment Bill van 26 Januarie 2026 wat tans in omloop is, geskrap en vervang met die redelik waansinnige voorstel dat staatsinstellings minstens sewe amptelike tale sal gebruik (die Grondwet vereis minstens twee), waarvan een SAGT moet wees. Dis ’n reëling wat natuurlik op ’n nuwe vorm van taalbevoorregting neerkom. Die Language Policy Framework for Public Higher Education Institutions van 2020 vereis van universiteite om ingevolge die nog ongewysigde Wet op die Gebruik van Amptelike Tale, 2012 vaardighede en kapasiteit in SAGT ooreenkomstig hierdie wet te ontwikkel afgesien daarvan om die taal te bevorder en omstandighede vir sy ontwikkeling te skep, dit naas die amptelike tale. Hierbenewens erken die Wet op die Suid-Afrikaanse Taalpraktisynsraad, 2014 gebaretaaltekste as gelykwaardig aan geskrewe tekste vir die doeleindes van vertaling en tolking.

Saam beskou, kan ’n mens eintlik tot die gevolgtrekking kom dat SAGT reeds lank voor die 18de Grondwetwysigingswet van 2023 bykans dieselfde status as die voormalige 11 amptelike tale geniet het. Om dit nog sterker te stel: In 2020 is die South African Sign Language Charter aanvaar wat ’n wye spektrum beloftes omtrent die spesiale status en gebruik van die taal sanksioneer. SAGT is die enigste Suid-Afrikaanse taal, en sedert 26 Junie 2026 ook die enigste amptelike taal, met ’n gesanksionerde taalhandves. Die betrokke handves verbind staatsinstellings tot ’n reeks maatreëls wat omtrent die status en gebruik van die taal getref behoort te word – tegnies gesproke, maatreëls wat veel verder gaan as wat grondwetlik van hierdie staatsinstellings omtrent hulle hantering van die gesproke amptelike verwag word. Dit sou nie verkeerd wees om te besluit dat met die verampteliking van SAGT op 26 Junie 2026 die spesiale status wat die taal reeds sedert 1996 verwerf het, nou net verder bekragtig is nie.

In plaas daarvan om egter hoog op te gee oor ampteliketaalstatus moet ’n mens jou eerder nou afvra hoekom dit ten spyte van al die wetlike reëlings omtrent die taal wat sedert 1996 getref is, steeds nodig was om aan te dring op amptelike status as ’n 12de amptelike taal. Wat meer bring dit die betrokke gemeenskap in die sak wat nie reeds deur die wetboek tot stand gebring is nie? En waarom bestaan daar ondanks al die wetlike taalreëlings steeds ’n behoefte aan meer wetgewing? Moet daar nie eerder daarop gekonsentreer word om munt te slaan uit dit wat reeds te boek gestel is nie? So ’n aksie vra nie vir meer wette nie, maar eerder vir die toepassing van reeds aanvaarde wette.

Maak seker dat die geleenthede wat deur wetgewing geskep word, ten volle benut word. Dit vereis ’n taalbewuste gemeenskap wat tot aksie oorgaan en dinge gedoen kry. Soos om werk te maak van die omskakeling van Engelstalige skole vir dowes na skole met SAGT as onderrigmedium, om leerplanne vir SAGT as Eerste en Tweede Addisionele Taal ingestel te kry, om seker te maak dat SAGT-vaardige onderwysers in diens geneem word, om seker te maak dat SAGT-vaardige taalpraktisyns in sleutelposisies diens doen, ens.

Dit is dinge wat van kardinale belang vir die dowe gemeenskap is. Te belangrik om aan ander, en veral die staat, se grille oorgelaat te word. Soos Jaap Steyn dit so mooi gestel het: “Tuiste in eie taal”. Ek voeg by: Tuisteskeppers deur eie taal.

1 Grootliks gebaseer op Du Plessis, T. 2025. Van tegniek tot amptelike taal. Die opkoms van Suid-Afrikaanse Gebaretaal as ’n twaalfde amptelike taal van Suid-Afrika, 1977–2023. Johannesburg: UJ Press. Skakels word in die teks verskaf vir bronne wat nie in die boek voorkom nie.

Lees ook:

Pasverskyn: Van tegniek tot ampstaal deur Theodorus du Plessis

Wie word ore aangesit? Suid-Afrikaanse Gebaretaal die twaalfde amptelike taal

Afrikaans kom derde: kommentaar op Suid-Afrika se jongste sensusverslag

Die verampteliking van Suid-Afrikaanse Gebaretaal – diversiteitstokenisme as taalbeplanning?

Repliek op die debat oor moedertaalonderrig binne die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top