
Theo du Plessis, emeritus professor, Departement Suid-Afrikaanse Gebaretaal en Dowestudies, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein
Hoofreferaat gelewer by die 2024 SAALT-kongres, Breakwater Lodge, Kaapstad, 10–12 Julie 2024.
1. Inleiding
Op 19 Julie 2023 het president Ramaphosa die Constitution Eighteenth Amendment Bill B1-2023 as wet onderteken, waarna die Constitution Eighteenth Amendment Act, 2023, op 27 Julie 2023 in die Staatskoerant gepubliseer is, met dien verstande dat dit eers nadat die President ’n datum daaromtrent geproklameer het, eers in werking sal tree.
Die reaksie wat op hierop gevolg het, het my onwillekeurig laat terugdink aan die eerste en gedeeltelike verampteliking van SAGT (Suid-Afrikaanse Gebaretaal) in 1996, toe die South African Schools Act, 1996 die taal vir die doeleindes van leer in ’n openbare skool as amptelike taal verklaar het. Uit die knipseldatabasis van die Universiteit van die Vrystaat se Departement Suid-Afrikaanse Gebaretaal en Dowestudies blyk dit dat hierdie reaksies onder meer twee universiteite (Maties en Kovsies) se aanvaarding van dowe nagraadse studente, die bekendstelling van ’n Bybel vir dowes, gebaretaaltolking aan Kovsies, ’n eerste musiekvideo vir dowes en die eerste dowes-sepie ingesluit het. Dit is waarskynlik die wisselende aard van hierdie ingrypings wat Kobus Kellerman, destydse direkteur van DeafSA, genoop het om te waarsku dat ons daarteen moet waak om ’n nuutheidstatus aan SAGT toe te ken. Vermoedelik was hy bekommerd oor die kortstondige aard van sommige van hierdie soort ingrepe.
Die tweede en volledige verampteliking op 19 Julie 2023 het soortgelyke reaksies meegebring. Ons neem onder meer kennis van “’n geskarrel” om gebaretaal by skole aangebied te kry, die opleiding van skeidsregters in gebaretaal, die voorbereiding van ’n boek wat vir dowes bruikbaar is, die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) se stigting van ’n fonds om universiteite se taalbeleidsraamwerk te wysig, en die opleiding van lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in elementêre gebaretaal.
Gedagtig aan Kellerman se bekommernis oor reaksies op die eerste verampteliking in 1996 laat hierdie jongste response die vraag ontstaan of ons nie dalk hier met diversiteitstokenisme te make begin kry nie. Volgens die skrywers Carmel Carne, Marcelyn Oostendorp en Anne Baker duik diversiteitstokenisme op “when sign language is mentioned only to increase perceived diversity, where diversity is a commodity that holds social capital”, ’n soort politieke korrektheid, dus.
........
’n Verdere vraag is of Suid-Afrikaanse owerhede oor die algemeen nie dalk met diversiteitstokenisme besig is wat die hantering van SAGT betref nie [...] Hiermee erken die betrokkene die feit dat die implementering van die nege histories gemarginaliseerder inheemse tale (HGIT’s) as amptelike tale deur die regering misluk het.
........
’n Verdere vraag is of Suid-Afrikaanse owerhede oor die algemeen nie dalk met diversiteitstokenisme besig is wat die hantering van SAGT betref nie. Hierdie vraag duik op na aanleiding van die hoof van konstitusionele ontwikkeling van die Departement Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling se onlangse onverwagse bekentenis omtrent die veramptelikingskwessie by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) se 2024 SAGT Indaba. Hy het by hierdie geleentheid naamlik te kenne gegee dat staatsdepartemente nog nie gereed is om SAGT as 12de amptelike taal te implementeer nie. Om onder hierdie omstandighede implementering te verwag, het hy geredeneer, kan tot die gevolg hê dat die taal grootliks “ongebruik” bly, soortgelyk aan die situasie van “die ander gemarginaliseerde amptelike tale”. Hiermee erken die betrokkene die feit dat die implementering van die nege histories gemarginaliseerder inheemse tale (HGIT’s) as amptelike tale deur die regering misluk het.
Dit laat onvermydelik die vraag ontstaan waarom daar nogtans deurgedruk is met die verampteliking van ’n 12de taal en of sodanige stap nie inderdaad uiteindelik as diversiteitstokenisme beskou kan word nie. Om die waarheid te sê, kom dit nie daarop neer dat dieselfde vir taalbeleid en -beplanning vir die HGIT’s geld nie?
Hierdie vrae word ondersoek deur te probeer vasstel watter “positiewe en praktiese maatreëls” (verwysend na artikel 6[2] van die Grondwet) die betrokke owerhede getref het met betrekking tot die verhoging van die status en uitbreiding van die gebruik van die HGIT’s in die onderwys, as ’n eerste gevallestudie. As tweede gevallestudie word ondersoek ingestel na maatreëls wat die owerhede op soortgelyke trant omtrent die amptelike status van SAGT in die onderwys ingestel het.
2. Enkele kernbegrippe
........
Een van die kernbegrippe wat in hierdie studie ter sprake kom, is die begrip amptelike taal.
.......
Een van die kernbegrippe wat in hierdie studie ter sprake kom, is die begrip amptelike taal. Unesco sien ’n amptelike taal as die taal wat in amptelike domeine van taalgebruik aangewend word: die parlement, howe, onderwys en regering en administrasie. Ampstaalstatus word gewoonlik met hierdie taalgebruiksdomeine verbind. Unesco gaan verder en noem ook twee domeine wat meestal as nie-amptelike domeine van taalgebruik beskou word, te wete die sakewêreld en media. Die onderliggende beginsel wat by al hierdie domeine ter sprake kom, is dat die status van ’n taal deur sy aanwending as amptelike taal van hierdie domeine bepaal word: hoe meer domeine, hoe hoër die status.
Juis na aanleiding van hierdie gebruiksbeginsel ontstaan die vraag of ’n amptelike taal wat nie noodwendig ’n hoë gebruikstatus in al die domeine het nie, nog as amptelike taal beskou kan word. Heinz Kloss het egter reeds in 1966 'n tipologie voorgestel wat ons kan help om hierdie vraagstuk op te los. Hy het naamlik gepostuleer dat ons tussen drie “soorte” amptelike tale moet onderskei, te wete statutêre amptelike tale, simboliese amptelike tale en amptelike werkstale. Eersgenoemde kategorie verteenwoordig ’n neutrale verwysing na tale wat op die wetboek amptelik verklaar is, die tweede na tale wat ongereeld maar wel soms in belangrike simboliese funksies aangewend word (byvoorbeeld by die opening van die parlement, in belangrike toesprake, ens), en laasgenoemde as die taal of tale wat werklik reëlmatig om funksionele redes aangewend word. Hierdie tipologie het relevansie vir ’n meertalige bedeling met ‘n velerlei amptelike tale, maar dui ook op die praktiese probleem waarvoor administrasies oor die algemeen te staan kom, naamlik hoe om die statutêre amptelike tale doeltreffend aan te wend.
Jonathan Pool het uitgewerk dat by ’n besluit omtrent die aantal amptelike tale twee kwessies teen mekaar opgeweeg behoort te word, te wete billikheid en doeltreffendheid. Eersgenoemde oorweging spruit gewoonlik voort uit ’n egalitêre benadering tot taalbestuur, terwyl laasgenoemde verband hou met ’n funksionele benadering of die institusionalisering van meertaligheid. Waar billikheid (en egalitarisme) voorkeur geniet en waar die simboliese status van amptelike tale swaar weeg, word meer tale aangewend maar neem doeltreffendheid uiteraard proporsioneel af. Waar doeltreffendheid voorkeur geniet en die klem dus op amptelike werkstale val, neem doeltreffendheid wel toe, maar kan vrae oor die billikheid van die taalbedeling ontstaan. Hoe dit ook al sy, Pool het vasgestel dat vir 'n doeltreffende administrasie hoogstens drie amptelike tale op gelyke voet aangewend kan word.
........
Waar billikheid (en egalitarisme) voorkeur geniet en waar die simboliese status van amptelike tale swaar weeg, word meer tale aangewend maar neem doeltreffendheid uiteraard proporsioneel af. Waar doeltreffendheid voorkeur geniet en die klem dus op amptelike werkstale val, neem doeltreffendheid wel toe, maar kan vrae oor die billikheid van die taalbedeling ontstaan.
.......
Karl Gadelii kom in opdrag van Unesco met ’n kompromisbenadering vorendag wat al hierdie oorweginge betref deur die vraag te stel watter kriteria vir suksesvolle taalbeplanning geld, op basis waarvan hy dan met ’n tipologie na vore kom wat betrekking het op konkrete uitkomste vir onderskeidelik status-, verwerwings- en korpusbeplanning. Wat statusbeplanning betref, word die erkenning van die taal op amptelike vlak vereis; wat verwerwingsbeplanning betref, die aanwending van die taal as onderrigmedium (vir so lank as moontlik); en wat korpusbeplanning betref, die voldoende ontwikkeling van ’n stewige literatuur, ’n grammatika en ’n woordeboek. Waar by die eerste kriterium simboliese erkenning nog aanvaarbaar kan wees, word by die volgende twee kriteria die funksionele aanwending van die taal vereis. Kom grootliks simboliese aanwending by laasgenoemde twee kriteria ter sprake, sou daar van diversiteitstokenisme kon begin sprake wees.
Wat is nou die geval by die verampteliking van nasionale gebaretale?
Sedert die aanvaarding van die Verenigde Nasies (VN) se Declaration on the rights of persons belonging to national or ethnic, religious and linguistic minorities in 1992 het lidlande stappe begin doen om regserkenning aan hulle gebaretale te verleen – teen die einde van 2023 reeds altesaam 77 lidlande. ’n Opname van die Wêreldfederasie van Dowes (WFD) toon dat verskeie regsinstrumente met betrekking tot die erkenning van die nasionale gebaretale aangewend word: in 35% van VN-lidlande se geval deur middel van algemene wetgewing; by 31% deur middel van ’n gebaretaalwet; by 14% deur grondwetlike erkenning; en by 2% van lidlande deur middel van ’n ander instrument. In 18% van die gevalle is geen relevante dokumentasie beskikbaar nie.
Teenstrydig met die webtuiste WorldAtlas se bewering, blyk uit verdere ondersoek dat slegs sewe van hierdie lande hulle gebaretale as amptelike tale erken, te wete Uruguay (sedert 2001, as tweede ampstaal); Nieu-Seeland (sedert 2006, as derde ampstaal); Pole (sedert 2012, as tweede ampstaal); Papoea-Nieu-Guinee (sedert 2015, as vierde ampstaal); Suid-Korea (sedert 2015, as tweede ampstaal); Malta (sedert 2016, as derde ampstaal); en Suid-Afrika (sedert 2023, as 12de ampstaal). Ten opsigte van die oorweging van doeltreffendheid blyk dit dat vyf van die betrokke lande nie die voorgestelde maksimum perk van drie amptelike tale oorskry nie. Twee oorskry dit wel: een (Papoea-Nieu-Guinee) minimaal en die ander (natuurlik Suid-Afrika) viervoudig. Suid-Afrika het dus duidelik gekies vir ’n egalitêre benadering tot taalbestuur, ’n keuse wat ernstige implikasies inhou vir SAGT as bykomende amptelike taal.
3. Twee Suid-Afrikaanse gevallestudies oor taalbeplanning vir gemarginaliseerde tale
Vervolgens die genoemde twee gevallestudies, een met betrekking tot taalbeplanning vir die HGIT’s en die ander met betrekking tot SAGT. Ter agtergrond word eers stilgestaan by taalstatusbeplanning, waarna die stand van taalverwerwingsbeplanning in nadere besonderhede bekyk word. Hier word op taal-in-die-onderwys-beplanning as taalverwerwingsbeplanning gekonsentreer. Die kwessie van taalkorpusbeplanning word nie hanteer nie.
3.1 Gevallestudie I: Taalbeleid en -beplanning vir die HGIT’s
Artikel 6(2) van die Suid-Afrikaanse Grondwet vereis van die staat om “praktiese en positiewe maatreëls” te tref om die status van die HGIT’s te verhoog en hulle gebruik uit te brei. Neem ons Unesco se benadering as uitgangspunt, impliseer hierdie opdrag ten minste addisionele taalwetgewing met betrekking tot taalgebruik in die onderskeie ampstaaldomeine, te wete die parlement, howe, administrasie en onderwys.
Wat die parlement betref, bepaal die Joint Rules van 1998 dat alle wetgewing in twee tale sal verskyn, sonder om egter die tale te spesifiseer. Dieselfde reël geld vir petisies. In die praktyk dien Engels altyd as een van die twee tale, wat die taal se status as amptelike werkstaal bevestig. Ongeveer dieselfde konvensie bestaan vir taalgebruik in die howe. Trouens, in 2017 is dit selfs so ver gevoer as om Engels as werkstaal in hierdie domein te verklaar. Van die 2009-insiatief om een inheemse taal in een hof per provinsie in te stel, het klaarblyklik niks van gekom nie.
Wat die administrasie betref, is deur middel van die Use of Official Languages Act, 2012 (UOLA) gepoog om uitdrukking aan die opdrag in artikel 6(2) te gee, maar sonder noemenswaardige sukses. Die taalbeleide wat staatsentiteite ingevolge hierdie wet moet publiseer, bied grootliks ’n herhaling van wat in die Grondwet staan en het nie die taak van amptenare enigsins vergemaklik nie. Lutamo Ramuedzi se voorlopige ondersoek na die taalbeleide van 41 staatinstellings toon dat 100% van hulle opvallend Engels as eerste amptelike taal gekies het, wat weer eens die taal se status as amptelike werkstaal bevestig.
Of daar werklik gevorder is met praktiese en positiewe maatreëls betreffende die status en gebruik van die HGIT’s in die gemelde drie domeine, bly dus ’n ope vraag. Buiten die onderwys – wat hierna bespreek sal word – en die niksseggende UOLA bestaan daar origens nie wetgewing waar uitdrukking gegee word aan die opdrag in artikel 6(2) nie. ’n Mens sou verwag het dat die taalbeleide van verskillende staatsdepartemente die nodige regstellings sou maak, maar alhoewel hulle die gebruik van bepaalde HGIT’s vir administratiewe doeleindes spesifiseer, word by implikasie (en soms direk) voorkeur aan Engels as werkstaal verleen. Die implikasie hiervan is dat die aanwysing van Afrikaans asook die HGIT’s as addisionele tale grootliks simbolies van aard is en dui op diversiteitstokenisme as statusbeplanning.
Wat taalverwerwingsbeplanning binne die onderwysdomein betref, is ons vertrekpunt artikel 29(2) van die Grondwet wat die reg op onderwys in die amptelike taal of tale van jou keuse waarborg, asook onder bepaalde voorwaardes enkelmediumskole. Gedagtig aan Unesco se uitgangspunt dat ’n amptelike taal (vir so lank as moontlik) as onderrigmedium in skole funksioneer, stel ’n mens uiteraard daarin belang in hoeverre die HGIT’s in hierdie hoedanigheid aangewend word. ’n Uitvloeisel van onderrigmedium is dat die taal ook as taal van assessering aangewend en as skooltaal aangebied word.
.........
Die Taal-in-onderwys-beleid (TiOB) van 1997 dien as sentrale vertrekpunt. Oogmerke van hierdie beleid is die bevordering van toevoegende tweetaligheid, die ontwikkeling van die amptelike tale, steun aan onderrig in ander tale, waaronder SAGT, en die ontwikkeling van regstellingsprogramme vir die HGIT’s.
........
Die Taal-in-onderwys-beleid (TiOB) van 1997 dien as sentrale vertrekpunt. Oogmerke van hierdie beleid is die bevordering van toevoegende tweetaligheid, die ontwikkeling van die amptelike tale, steun aan onderrig in ander tale, waaronder SAGT, en die ontwikkeling van regstellingsprogramme vir die HGIT’s. Die beleid maak voorsiening vir die sogenaamde taal van onderrig en leer (TOL) met dien verstande dat dit binne ’n meertalige raamwerk plaasvind, ’n maatreël wat ingebring is om te verhoed dat enkelmedium skole eentalige leerders oplewer. Wat taalvak betref, vereis die beleid dat leerlinge in die eindfase ’n eerste taal en ‘n addisionele taal sal aanbied, waarvan ten minste een ’n amptelike taal sal wees. Dit is opvallend dat geen vereiste gestel word dat een van hierdie tale uit die HGIT’s-groep moet kom nie.
Naas die TiOB bevat ook die kurrikulum taalbeleid rakende beide die TOL en taal as vak (TaV). Die Nasionale Kurrikulumverklaring van 2002 wysig konseptueel die TiOB se voorgeskrewe tale deur nou te vereis dat leerders ’n huistaal (HT – omskryf in terme van taalbevoegdheid) en eerste addisionele taal (EAT) aanbied waarvan beide amptelike tale moet wees – ’n verdere verandering. Wat die TOL betref, word voorkeur verleen aan die huistaal. Nietemin word die ideaal van toevoegende tweetaligheid behou, dws die oorgang in ’n stadium van huistaal na ’n addisionele taal as TOL met die behoud, of nie, van die huistaal. Hierdie model word ook as “inkrementele” tweetaligheid voorgehou.
In 2011 word die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidverklaring (KABV) uitgereik waarin die (gewysigde) vereiste van die aanbieding van twee amptelike tale voortgesit word, een op huistaalvlak en die tweede op EAT-vlak. Wat TOL betref, word die ideaal van toevoegende tweetaligheid nagestreef, maar word verkies dat die huistaal in die Grondslagfase gebruik word, waarna die EAT, by name Engels, toegevoeg word. Om hierdie vereiste duidelik te maak, word die Engelse afkorting FAL (First Additional Language) nou dienooreenkomstig gewysig tot EFAL (English First Additional Language), ’n akroniem wat grappig genoeg letterlik as “ef-all” uitgespreek kan word en neerkom op ’n versagting van die vloekwoord f&k&l (in Engels f@*k-all). Dalk ’n aanduiding van die niksseggendheid van ’n vereiste om leerders te wil onderrig in ’n taal wat volgens ’n magdom verslae nie die taal beheers nie? Ironies genoeg wys die einste onderwysdepartement in sy jongste 2023-verslag oor die TOL-situasie, “The status of the Language of Learning and Teaching (LoLT) in schools: a quantative overview: 2008–2016”, self op hierdie dilemma.
In 2012 word die sogenaamde MTbBE- (Mother-tongue-based Bilingual Education-) projek as eksperiment in geselekteerde Oos-Kaapse huistaalskole van stapel gestuur. Die oogpunt van die projek is om moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys vir onderrig en leer in die dissiplines wiskunde, wetenskap en tegnologie in te faseer. Dit is ironies dat die begrip moedertaalonderwys, wat na 1994 op negatiewe wyse met die apartheidstelsel se verpligte moedertaalonderwys geassosieer is, nou weer afgestof word, weliswaar hierdie keer binne die konteks van (aanbevole) tweetalige onderwys. Die belang en waarde van moedertaalonderrig vir kognitiewe ontwikkeling word benadruk en suksesvolle Afrikaanse eerstetaalskole word as voorbeeld voorgehou van wat met moedertaalonderrig bereik kan word. Gedurende Februarie 2024 kondig die Minister aan dat die projek gedurende 2025 na alle huistaalskole van die Oos-Kaap uitgebrei sal word.
Op ’n vraag gedurende Mei 2022 oor die aantal huistaalskole in Suid-Afrika het die Minister aangedui dat sowat 32% (8 089) van alle skole (24 996) as huistaalskole beskou kan word. Hiervan is 0,07% (6) SAGT-skole, 4,18% (339) HGIT-skole, 15,59% (1 261) Afrikaanse skole en 80,15% (6 483) Engelse skole. Bykans die helfte van die gemelde HIGT-skole is van die Oos-Kaap.
Om hierdie afdeling af te sluit, stel ons nou die vraag of taal-in-die-onderwys-beplanning tot die volwaardige erkenning van diversiteit bydra of eerder waargenome diversiteit tot gevolg het. Wat TOL betref, blyk dit dat daar ’n verskil of wanverhouding bestaan tussen Afrikaanse en Engelse huistaalskole en HGIT-skole: In eersgenoemde word die huistaal oorwegend regdeur die skoolloopbaan as onderrigtaal aangewend, terwyl by laasgenoemde groep skole dit slegs tot graad 3 aangewend word. Hierdie verskil hou ernstige implikasies in vir die aanwending van HGIT’s as voertale in hoër onderwys. Ons sit met ’n situasie waar Engels oorheers in ’n oorwegend nie-Engelse omgewing, wat die vraag laat ontstaan of die EFAL-konsep bestaansreg het en of Engelse onderrig nie eerder as vreemdetaalonderrig beskou behoort te word nie, dit is op dieselfde vlak as die sogenaamde nie-amptelike tale soos Arabies, Frans, Telegu ens, dit wil sê as Tweede Addisionele Taal. Ook ontstaan vrae oor die aanspraak dat 67,64% van alle skole sogenaamde parallelmedium skole is, heelwat daarvan skole waar naas Engels ook die HGIT’s as voertale aangewend word. Gegewe die ontrekking van die huistaal vanaf graad 4, is die betrokke syfer misleidend en het dit sekerlik nie tot in die VOO- (Verdere Onderwys en Opleiding-) fase betrekking nie. Dit sou geldig kon wees slegs indien die leerders in die HGIT’s geëksamineer word.
Wat skoolvak betref, is dit bemoedigend dat die HGIT’s as beide huistaal en addisionele tale aangebied word, asook dat daar in 2014 met die Incremental Introduction of African Languages- (IIAL-) projek afgeskop is. Teen 2017 word by ’n komiteevergadering van die onderwysdepartement gerapporteer dat hierdie program egter nog net in 27% van skole waar die HGIT’s nie onderrig word nie, geïmplementeer is.
Een van die grootste uitdagings wat taalvakke betref, is wat ons as die EFAL-monster kan beskryf. In ’n omsendskrywe gedurende November 2022 oor EFAL (geborg deur USAID!) word die noodsaak daarvan binne ’n konteks waar 90% van alle leerders in Engels onderrig word, beklemtoon. Hierdie oorbeklemtoning bring onder meer mee dat die aanbied van die HGIT’s as EAT’s ondermyn word. ’n Tweede uitdaging is die insypeling van die modegier transtaligheid binne departementele verslae soos die jongste 2023-verslag oor voertaal (waarna eerder verwys is), waar aanbeveel word dat daar deur middel van transtaligheid tussen die HMIL’e rondbeweeg kan word sonder om te veel ag op taalgrense te slaan. Daarmee word enige strewe na uitnemendheid by die verwerwing van taalvaardigheid prakties ondermyn.
Wat hierdie afdeling betref, kan ons dan tot die gevolgtrekking kom dat daar wel bewyse bestaan van die bewerkstelliging van konkrete diversiteit, maar dat dit grootliks te make het met hoe die beleid in die Grondslagfase uitgevoer word. Wat die kwessie van HGIT’s as addisionele tale betref, wil dit voorkom asof ’n program soos die IIAL opvallend in die teken van diversiteitstokenisme staan.
Soos eerder gesuggereer, hou die onttrekking van die huistaal ná graad 4 in die meerderheid Suid-Afrikaanse skole ernstige implikasies in vir die beleid daaromtrent in hoër onderwys. Dit is daarom interessant dat reeds sedert die Education White Paper 3 van 1997 gepraat word oor die ontwikkeling van die HGIT’s as TOL’e, ’n kwessie wat hierna in verdere verslae neerslag vind, spesifiek die 2003-ondersoek na die instelling van inheemse tale as onderrigmediums en die befondsing van universiteite gedurende 2014, en die opvolgverslag van 2015, waar die 2003-aanbeveling herhaal word, weliswaar in meer besonderhede.
Die 2002-taalbeleid vir hoër onderwys het Engels en Afrikaans uitgesonder as TOL’e van hoër onderwys, maar aanbeveel dat die HGIT’s wel as alternatiewe onderrigtale ontwikkel moet word. Die betrokke gedagtegang vind uiteindelik neerslag in die hersiene taalbeleid vir hoër onderwys wat in 2017 vir bespreking gepubliseer word. Die uiteindelike beleid wat in 2020 uitgereik word, het hierdie frase laat vaar en bepaal nou eenvoudig dat Engels die voertaal van universiteite is. In die vorm van diversiteitstokenisme word toegevoeg dat die “amptelike tale” (let wel nie by name die HGIT’s nie) ontwikkel moet word en dat die sogenaamde Afrikataal-departemente “versterk” moet word. ’n Sterker voorbeeld van diversiteitstokenisme sal ’n mens moeilik vind. Maar die tokenisme eindig nie hier nie. Die betrokke beleid vereis ook dat wat institusionele kommunikasie betref, van twee addisionele tale (let wel weer sonder om die HGIT’s te spesifiseer) gebruik gemaak sal word en dat die gebruik van die HGIT’s (uiteindelik wel gespesifiseer) “geaksentueer” sal word.
Maar steeds is dit het einde niet. Die “Policy on minimum requirements for teacher education qualifications” van 2015 (populêr afgekort tot MRTEQ en op Engels uitgespreek “Mr Teq”) voer diversiteitstokenisme een stap verder. Wat taalvaardigheid betref, vereis hierdie beleid dat alle onderwysers vaardig sal wees in minstens een amptelike taal (let wel, weer eens geen opheffing van die HGIT’s nie) en “gedeeltelik vaardig” sal wees in minstens een “ander Afrikataal”, of in SAGT. Die beleid verwys na hierdie addisionele taal as ’n language of conversational competence (LoCC), ’n totaal nuwe benaming vir ’n alternatiewe taal. Impliseer die vereiste “een ander Afrikataal” dat die TOL eintlik ’n sogenaamde Afrikataal moet wees? Nee, altans so blyk dit uit die verdere verduideliking wat lui dat indien die TOL Engels of Afrikaans is (en ons weet dis in 90% van die gevalle Engels), dan móét die LoCC een van die HGIT’s of SAGT wees. Hierdie beleid is om verskeie redes problematies, maar die hoofrede hou verband met die LoCC, ’n vereiste wat uit en uit neerkom op diversiteitstokenisme. Trouens, die reëling kom ook neer op die degradering van die HGIT’s.
Ter afsluiting van hierdie afdeling weer die vraag of die taalmaatreëls met betrekking tot hoër onderwys diversiteit konkreet erken en institusionaliseer of neerkom op diversiteitstokenisme. Wat die TOL in hoër onderwys betref, val dit op dat die beleid nie die HGIT’s spesifiek in hierdie verband teiken nie. Maar miskien is dit ook goed so, want dit is ietwat onrealisties om van ’n leerder wat nie regdeur sy/haar skoolloopbaan in die huistaal onderrig is nie, te verwag om dit opeens op universiteitsvlak as voertaal aan te wend. Ons het aangetoon dat die beleid uiteindelik diversiteitstokenisme verskans. Dit behoort ’n mens dus nie te verbaas dat universiteite hierop voortbou met ingrepe wat neerkom op uiterlike vertoon (window-dressing) sonder enige substansie nie; dit is suiwer diversiteitstokenisme.
Die betrokke staatsdepartemente voer hierdie diversiteitstokenisme nog verder met die sogenaamde MRTEQ, waar die vereiste dat alle onderwysers “gedeeltelike vaardigheid” in ’n HGIT (of SAGT) moet hê, neerkom op ’n totale degradering van hierdie tale.
Ten opsigte van hierdie saaklike oorsig van status- en taal-in-onderwys-beplanning van die HGIT’s, het ons opgemerk dat wat eersgenoemde betref, hierdie tale simboliese ampstaalstatus geniet, en wat laasgenoemde betref, streng gesproke ook. Die tale word slegs tot graad 3 as onderrigtale gebruik, soos wat van ’n amptelike taal verwag word. Sulke simboliese maatreëls kom neer op diversiteitstokenisme.
3.2 Gevallestudie II: Taalbeleid en -beplanning vir SAGT
By die ondertekeningseremonie van 19 Julie 2023 toe die verampteliking van SAGT bekragtig is, is nadruk gelê op hoe lank die proses geduur het. Word dit egter met die verampteliking van Afrikaans en van die HGIT’s vergelyk, kry ’n mens ’n ander perspektief op die aangeleentheid.
As vertrekdatum vir die verampteliking van Afrikaans neem ons die jaar 1909, toe die South Africa Act, 9 aanvaar en Afrikaans daarmee as amptelike taal uitgesluit is – slegs Engels en Hollands is as amptelike tale verklaar. Nege jaar later, in 1918, is artikel 137 van die wet sodanig gewysig dat “Hollands” voortaan ook Afrikaans sou insluit, uitgesonderd in die geval van wetgewing en amptelike dokumentasie. Slegs ’n verdere sewe jaar later is die taal kragtens The Official Languages of the Union Act, 1925 volledig gelykwaardig as amptelike taal naas die ander twee tale erken. Afrikaans se veramptelikingsproses het altesaam 16 jaar geduur.
........
In totaal het die verampteliking van die HGIT’s dus 84 jaar geduur.
.......
Ook die HGIT’s is nie in 1909 veramptelik nie. Hulle verampteliking as streekstale (in die apartheidsgebiede) het eers 54 jaar later, in 1963, ooreenkomstig die Grondwetlike Wysigingswet, 1963 plaasgevind. Daarna het dit nog 30 jaar, tot in 1993, geduur eer hulle ook op nasionale vlak kragtens die Constitution of the Republic of South Africa, 1993 naas Engels en Afrikaans (Hollands is ondertussen as amptelike taal verwyder) as nasionale amptelike tale erken is. In totaal het die verampteliking van die HGIT’s dus 84 jaar geduur.
SAGT is nie saam met die HGIT’s in 1993 veramptelik nie, maar is wel slegs drie jaar later, in 1996, in die onderwysdomein veramptelik kragtens die South African Schools Act, 1996 en 27 jaar later, in 2023, kragtens die Constitution Eighteenth Amendment Act, 2023 as nasionale amptelike taal naas die ander 11 amptelike tale. In totaal het SAGT se verampteliking dus 30 jaar geduur – in vergelyking met Afrikaans se verampteliking sekerlik dubbel so lank, maar in vergelyking met die HGIT’s se verampteliking bykans drie keer korter. Sonder om van hierdie konteks kennis te neem word dit misleidend om die veldtog om SAGT veramptelik te kry as “’n lang stryd” te tipeer.
Die verampteliking van SAGT verloop dus in twee fases, soos eerder aangedui: ’n eerste fase gedurende 1996 toe dit kragtens die Skolewet tot amptelike taal vir die doeleindes van onderrig en leer in openbare skole verklaar is, en ’n tweede fase, wat kragtens die Constitution Eighteenth Amendment Act, 2023 op die erkenning daarvan as ’n 12de amptelike taal uitgeloop het. Dit het meegebring dat Suid-Afrika slegs die sesde VN-lidland was wat regserkenning aan sy nasionale gebaretaal verleen het, nogal ’n uitsonderlike prestasie vir ’n taal wat glad nie in die 1993-Grondwet genoem word nie. Hierdie stap het gevolg op ’n nog vroeëre erkenning, in 1995, in die Pan-South African Language Board Act, 1995 wat voorsiening maak vir die erkenning of stigting van ’n taaladviesliggaam oor gebaretaal vir PanSAT. Uganda het in dieselfde jaar kragtens die land se grondwet erkenning aan sy nasionale gebaretaal verleen as ’n taal wat ontwikkel en bevorder moet word, nie as amptelike taal soos deur die Suid-Afrikaanse regering beweer word nie. ’n Derde erkenning volg met die aanvaarding van die 1996-Grondwet teen die einde van daardie jaar wat SAGT toedeel tot die groep Suid-Afrikaanse tale wat deel vorm van PanSAT se spesiale taalmandaat met betrekking tot taalontwikkeling en -bevordering.
Die tweede fase van die verampteliking van SAGT het in 2007 afgeskop toe DeafSA die Grondwetwysigingskomitee van die derde regeringsadministrasie met ’n amptelike versoek oor die erkenning van SAGT as bykomende amptelike taal genader het. Dit het drie regeringsadministrasies, en uiteraard drie betrokke komitees, geneem aleer die verampteliking gedurende Julie 2023 wetlik bekragtig is. Opvallend omtrent hierdie proses is die lompheid waarmee die betrokke en ander parlementêre komitees DeafSA se voorstel hanteer het. Dit het onder meer meegebring dat die federasie sy aanvanklike 2007-voorstel nog drie keer moes herhaal en dat die betrokke komitee gevolglik ook sy aanbeveling hieromtrent telkens moes herhaal. Ook blyk dit dat niemand werklik presies geweet het wie nou eintlik vir die verampteliking verantwoordelik is nie, wat meegebring het dat die vraagstuk tussen verskillende komitees rondgeskop is, soos blyk uit die Minister van Basiese Onderwys se antwoord hieromtrent op ’n opposisievraag gedurende 2018 toe sy nog PanSAT daarvan beskuldig het dat die liggaam nie die nodige stappe hieromtrent gedoen het nie, ’n liggaam sonder enige mandaat ten opsigte van die verampteliking van tale. Dit het ’n petisie van 2017 aan die parlement en ’n skreiendeverslag deur die VN se Committee for the Rights of Persons with Disabilities (CRPD) gedurende 2018 gekos om die proses uiteindelik in ’n daadwerklike rigting te stuur.
Een van die interessante verwikkelinge met betrekking tot SAGT se status hou verband met die taal se insluiting by 2012 se UOLA. Die wet vereis naamlik dat staatsentiteite voorsiening moet maak vir kommunikasie met persone wat SAGT as voorkeurtaal kies, ’n reëling wat nie vir gebruikers van amptelike tale geld nie. Wat laasgenoemde betref, vereis die wet dat wat kommunikasie met die publiek betref, staatsentiteite voorsiening moet maak vir die gebruik van minstens drie amptelike tale. Die reg op taalkeuse in hierdie geval lê by die owerheid, nie soos in die geval van die reëling omtrent SAGT, by die individu nie. Ironies genoeg word selfs persone wat ’n nie-amptelike taal gebruik, op dieselfde manier as die gebruikers van SAGT bevoordeel.
Die tussentydse tydperk (1997–2006) het niks konkreets met betrekking tot die veldtog om die verampteliking van SAGT opgelewer nie. Wel van belang is die feit dat daar gedurende hierdie tydperk heelwat aandag gegee is aan wetgewing rakende SAGT in die onderwys, maar sonder konkrete uitkomste. Dit is eers na 2009 se litigasie in Springate v Minister of Basic Education & Others dat die betrokke departement tot aksie oorgegaan en in 2014 met ’n huistaalkurrikulum vir SAGT vorendag gekom het. Die eerste huistaalleerders het in 2018 gematrikuleer. Toe die betrokke minister in 2018 in ’n parlementêre vraag gevra is waarom dit so lank geduur het om by hierdie punt te kom (sien hier bo), het sy in haar antwoord duidelik laat blyk dat sy en haar departement geen benul gehad het van die implikasies van die 1996-verampteliking van SAGT in die onderwysdomein nie.
Hierdie suggestie van onbevoegdheid laat ’n mens wonder of die owerheid überhaupt ’n begrip het van wat amptelike taalstatus soos wat Unesco dit voorsien, behels. Ons het reeds vroeër verneem dat staatsdepartemente skynbaar nie gereed is om SAGT as amptelike taal te implementeer nie. Dit is waarskynlik deels daaraan te wyte dat daar nie vir die verampteliking begroot is nie, ’n kwessie wat die opposisie reeds in 2007 te berde gebring het en waarop nie gedurende die veramptelikingsproses behoorlike antwoorde verskaf is nie. Die Minister van Sport, Kuns en Kultuur bevestig op 21 Mei 2021 in antwoord op ’n vraag van die opposisie dat ’n kosteberekening onderneem sal word eers nadat SAGT veramptelik is! Dit herinner ’n mens aan die hele kwessie van die beoogde Nasionale Gesondheidsversekeringskema waar ’n soortgelyke benadering gevolg word.
Dat die owerheid nie mooi begryp wat verampteliking behels nie, blyk ook uit die motivering wat die Departement van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling vir die noodsaak aan verampteliking in die betrokke wysigingswetsontwerp gegee het. Volgens hierdie departement sal die verampteliking van SAGT die volgende bereik:
- a) die kulturele aanvaarding van SAGT en bevordering van die dowekultuur
- b) help om persone met gehoorgestremdheid se aanspraak op gelykberegtiging en menswaardigheid te verwesenlik
- c) inklusiewe en substantiewe gelykheid bevorder en onbillike diskriminasie op grond van gestremdheid, soos gewaarborg in artikel 9 van die Grondwet, voorkom of uitskakel.
Is dit egter nie kwessies wat reeds in bestaande wetgewing gedek word nie? Inderdaad.
Buiten dat eersgenoemde kwessie reeds in artikel 6(5) van die Grondwet in die taalmandaat van PanSAT geïmpliseer word, vorm dit ook deel van die taalmandaat van die taaladviesliggaam van PanSAT vir gebaretaal en handel PanSAT se gebaretaalhandves van 2021 uitvoerig daarmee. Die tweede kwessie, oor regte, word in die Handves van Regte (hoofstuk 2 van die Grondwet) vervat, maar word ook in die “White Paper 6 – Special needs education: Building an inclusive education and training system” van 2001 gedek, asook in die “White Paper on the rights of persons with disabilities” van 2016. Die derde kwessie, rakende gelykheid, word naas artikel 9 van die Grondwet ook in die Handves van Regte, asook in laasgenoemde witskrif, vervat. Dit is moeilik om in te sien hoe meer wetgewing die nie-implementering van bestaande wetgewing kan regstel.
Wat taal-in-die-onderwys-beplanning vir SAGT betref, staan die TiOB van 1997 uit as die beleid wat uitvoering begin gee aan die 1996-Skolewet-bepaling oor SAGT se status in die onderwys. Buiten dat die TiOB SAGT by name vermeld, het die bepalings oor amptelike tale as TOL en taalvak uiteraard ook op dié taal betrekking. Ons het ondertussen uitgevind dat die betrokke minister dit nie so verstaan het nie. Desnieteenstaande het die Revised National Curriculum Statement van 2002 SAGT by die leerarea Taal, Geletterdheid en Kommunikasie ingesluit, is ’n standaarde-genererende liggaam daarna vir SAGT gestig, en is standaarde inderdaad hierna ontwikkel. In dieselfde jaar is regulasies gewysig om voorsiening te maak vir die assessering van leerlinge wat SAGT as die amptelike taal van keuse ingevolge artikel 29 van die Grondwet en die TiOB kies – ’n suggestie dat iemand in die departement tog die implikasies van SASA 1996 begryp het! (En dalk vergeet het om die Minister daaromtrent in tel lig?) Teen 2002 was alles dus gereed vir die ontwikkeling van ’n gebaretaalkurrikulum – alles behalwe die Minister, so wil dit voorkom.
Soos aangedui, het die 2009-litigasie ‘n draaipunt bewerkstellig toe ’n dowe leerder gebaretaal as vak vir universiteitsvrystelling wou neem. ’n Kompromie is bereik, maar die gebrek aan ’n goedgekeurde kurrikulum is blootgelê. Die onderwysdepartement het in reaksie daarop met die ontwikkeling van ’n huistaalkurrikulum weggespring wat, soos reeds aangedui, teen 2014 gereed was. Uit die 2018-vraag aan die Minister oor die gedraaiery het dit ook geblyk dat sy ook nie die logiese konsekwensie van die ontwikkeling van ’n kurrikulum vir SAGT as addisionele taal begryp het nie. ’n Aankondiging hieroor is eers in 2021 gemaak, weliswaar oor SAGT as Tweede Addisionele Taal, maar niks het nog daarvan gekom nie – nog ’n voorbeeld van lippediens wat in werklikheid neerkom op diversiteitstokenisme. Nog geen aankondiging oor ’n leerplan vir SAGT as Eerste Addisionele Taal is al gemaak nie.
Naas die amptelike tale word ’n vyftiental nie-amptelike tale as Tweede Addisionele Tale aangebied. Die Minister het in 2018 aangekondig dat Swahili toegevoeg gaan word en teen 2022 is die intensie herhaal, sonder enige resultate. Die taal verskyn steeds nie op die lys van goedgekeurde tale nie. Ten minste is gebaretaal nie die enigste taal waar met implementering gesloer word nie!
Die feit dat daar steeds nie vir SAGT as addisionele taal ’n kurrikulum bestaan nie, laat uiteraard vrae ontstaan oor die erns van die Departement van Basiese Onderwys oor die taal. Om hierop ’n perspektief te verkry, kan ’n mens teruggaan na ’n memorandum wat die dowes-gemeenskap in 2003 aan die regering oorhandig het met betrekking tot SAGT in die onderwys – dit is ’n jaar nadat SAGT in die nasionale kurrikulumverklaring geïnstitusionaliseer is. Hierdie memorandum, genaamd die sogenaamde Deaf March Memorandum, is na aanleiding van landswye optogte aan die regering oorhandig. Die memorandum vra dat SAGT as taalvak op skool ingestel word, dat dit as TOL aangewend sal word, dat onderrig- en leermateriaal ontwikkel sal word, en dat onderwysers betrokke by onderrig van dowe leerders verpligte gepaste opleiding sal ondergaan. Deur hierdie memorandum met twee verdere verbandhoudende verslae te vergelyk, kry ’n mens ’n indruk van hoedanig aan die Dowes se 2003-eise voldoen is.
Die eerste (en daar was meer, maar hier word slegs twee geselekteer), die Convention on the Rights of Persons with Disabilities (CRPD) se verslag, wat ’n respons was op ’n verslag van die Suid-Afrikaanse regering omtrent die land se nakoming van die VN se 2006-CPRD, beveel ’n effektiewe en permanente program aan vir onderwysers wat met dowe leerlinge werk, asook die effektiewe opleiding van gebaretaaltolke. Ook herbevestig die CRPD dowes se reg op inklusiewe onderwys en beveel dit aan dat White Paper 6, waarna vroeër verwys is, volledig hersien word. Hierdie witskrif bevorder nie werklik inklusiewe onderwys nie en maak ook glad nie melding van gebaretaal en dié se rol binne die onderwys nie – dit terwyl ’n 1997-onderwysverslag, “Quality education for all”, en die daaruit voortvloeiende “Consultative Paper No 1 on Special Education: Building an inclusive education and training system, first steps” van 30 Augustus 1999 wel uitvoerig met hierdie kwessies gehandel het. Die CRPD-verslag meld opvallend kwessies wat in die 2003-memorandum reeds as problematies beskou is en waaraan ooglopend dus na die mening van die CRPD nie aandag gegee is nie.
........
Verder word by hierdie geleentheid voorgestel dat SAGT ’n verpligte addisionele taal gemaak word en dat inklusiewe onderwys bevorder sal word ten einde SAGT te “normaliseer”. Laasgenoemde twee aanbevelings moet gesien word as ’n poging om die taal, maar ook dowe leerders, by hoofstroomonderwys te integreer.
........
Die tweede, ’n verslag oor die verrigtinge van die SAGT Indaba in 2024, meld ook sulke kwessies, onder meer die noodsaak van bevoegde gebaretaalonderwysers en -tolke. Verder word by hierdie geleentheid voorgestel dat SAGT ’n verpligte addisionele taal gemaak word en dat inklusiewe onderwys bevorder sal word ten einde SAGT te “normaliseer”. Laasgenoemde twee aanbevelings moet gesien word as ’n poging om die taal, maar ook dowe leerders, by hoofstroomonderwys te integreer.
Dat die twee verslae waarna hier verwys word, van die kwessies herhaal wat reeds in die 2003-memorandum problematies was, gee ’n aanduiding van ’n onverkwiklike situasie wat waarskynlik deels te wyte is aan die mislukkings (of onwilligheid) van ’n onbevoegde onderwysdepartement om gepaste regstellings te maak. Dit is onaanvaarbaar dat ’n afgestudeerde onderwyser met (net) ’n LoCC-sertifisering vir SAGT as onderwyser in ’n skool vir dowes aangestel word, om maar een voorbeeld te noem van die erns waarmee hierdie departement onderwys vir dowes bejeën.
4. Slotsom
Ten besluite keer ons terug na Unesco se kriteria vir suksesvolle taalbeplanning ten einde die vraag te probeer beantwoord of taalbeplanning by die twee behandelde gevallestudies suksesvol is.
Die studies het getoon dat in die geval van die HGIT’s hierdie tale inderdaad op amptelike vlak soos vereis erkenning geniet, maar dat in terme van die tipe amptelikheid hierdie tale hoogstens simboliese status geniet. Dieselfde geld vir SAGT. Trouens, die verampteliking van SAGT binne onderwysverband in 1996 het reeds aan hierdie kriterium voldoen. Die addisionele status van SAGT as simboliese amptelike taal voeg dus nie noodwendig enige waarde toe nie.
Wat taalverwerwingsbeplanning of taal-in-die-onderwys-beplanning betref, blyk dit dat die HGIT’s slegs tot graad 3 as onderrigmedia aangewend word. In die geval van SAGT is dit onseker – volgens die onderwysdepartement was daar in 2021 slegs ses huistaal-SAGT-skole waar ons waarskynlik kan aanneem dat SAGT as voertaal gebruik is. Dit word egter nie as taal van assessering aangewend nie. Taalverwerwingsbeplanning vir SAGT, wat sedert 1996 amptelike status binne die onderwysdepartement geniet, skyn in hierdie opsig dus betreklik meer suksesvol te wees as vir die HGIT’s.
........
Wat taalverwerwingsbeplanning of taal-in-die-onderwys-beplanning betref, blyk dit dat die HGIT’s slegs tot graad 3 as onderrigmedia aangewend word. In die geval van SAGT is dit onseker – volgens die onderwysdepartement was daar in 2021 slegs ses huistaal-SAGT-skole waar ons waarskynlik kan aanneem dat SAGT as voertaal gebruik is. Dit word egter nie as taal van assessering aangewend nie.
........
Hierdie vergelyking dui onvermydelik daarop dat beide status- en taalverwerwingsbeplanning vir die HGIT’s grootliks as diversiteitstokenisme getipeer kan word. In SAGT se geval geld dit beslis ook wat statusbeplanning betref, en deels ook vir taalverwerwingsbeplanning, gegewe die feit dat dit soveel jaar geneem het om konkrete uitvoering te gee aan die verampteliking van SAGT in die onderwys en die feit dat hierdie tendens voortgesit word, soos blyk uit die gesloer met ’n kurrikulum vir SAGT as addisionele taal.
Waar laat hierdie kwessies ons nou? Uit die vergelyking blyk dit dat gegewe die de facto-posisie van Engels as amptelike werkstaal, ’n fokus op statusbeplanning vir die HGIT’s en SAGT nie produktief is nie en tot hiertoe hoogstens papier- en min konkrete uitkomste opgelewer het. Buitendien voldoen taalstatusbeplanningspogings vir beide hierdie tale aan die kriterium van suksesvolle taalstatusbeplanning in soverre dit simboliese status betref.
’n Fokus op taalverwerwingsbeplanning mag dalk meer belowende resultate oplewer. Ten minste is sulke beplanningsinisiatiewe vir Afrikaans betreklik suksesvol, wat die haalbaarheid van so ’n fokus bevestig.
Verenigings soos Savto (Suid-Afrikaanse Vereniging vir Taalonderrig) kan in hierdie opsig ’n belangrike bydrae lewer op die terrein van navorsing en drukgroepvorming. Uit die huidige ondersoek blyk dit dat spesifiek wat SAGT betref, die volgende kwessies aandag behoort te geniet: die gehalte van SAGT-huistaal-onderrig en -assessering; die noodsaak aan ’n kurrikulum vir SAGT as addisionele taal; en steun aan die SAGT-“normaliseringsbeweging” vir inklusiewe onderwys.
Om mee af te sluit: Die organisasie R2ECWD (Right to Education for Children with Disabilities) eggo die standpunt van die breër internasionale dowes-lobbie dat persone met gehoorverlies se primêre hindernis tot onderwys linguisties van aard is en nie aan doofheid (as gestremdheid) toegeskryf moet word nie. Dit is ’n stelling wat impliseer dat hierdie persone as ’n linguistiese minderheid hanteer en gerespekteer moet word. Die vraag is of Suid-Afrikaanse owerhede bereid is om hierdie kopskuif te maak wat taalbeplanning vir die land se nasionale gebaretaal betref.
Bibliografie
Carne, C, M Oostendorp en A Baker. 2024. Ideological framing of sign languages and their users in the South African press. Multilingua, 43(4):525–52.
Constitute. 2010. Kenya 2010. https://www.constituteproject.org/constitution/Kenya_2010 (13 Julie 2023 geraadpleeg).
—. 2017. Uganda's Constitution of 1995 with Amendments through 2017. https://constituteproject.org/countries/Africa/Uganda?lang=en (7 November 2022 geraadpleeg).
Currie, I. 2005. Official languages and language rights. In Woolman et al 2005.
De Meulder, M, J Murray en R McKee. 2019a. Introduction: the legal recognition of sign languages: advocacy and outcomes around the world. In De Meulder, Murray en McKee 2019b.
—. 2019b. The legal recognition of sign languages: advocacy and outcomes around the world. Bristol: Multilingual Matters.
Departement van Basiese Onderwys. 2011. Curriculum and Assessment Policy Statement. Further Education and Training Phase Grades 10–12. Pretoria: Departement van Basiese Onderwys.
—. 2013. The incremental introduction of African Languages in South African schools. Draft policy: September 2013. Pretoria: Departement van Basiese Onderwys.
—. 2017. Basic Education: Committee meeting: 27 June 2017. Incremental introduction of African languages (IIAL). Pretoria: Departement van Basiese Onderwys.
—. 2021. SA and Tanzania to sign MoU to cement the implementation of the Kiswahili language in South African schools. https://www.education.gov.za/ArchivedDocuments/ArchivedArticles/Kiswahili-In-SA-Schools.aspx (18 Junie 2024 geraadpleeg).
—. 2022. English First Additional Language (EFAL) Foundational Phase reading benchmarks: Learning brief, November 2022. https://www.education.gov.za/Portals/0/Documents/Reports/ReadingBenchmarks22/15.%20English%20as%20a%20First%20Additional%20Language%20Benchmark%20Learning%20Brief.pdf (11 Junie 2024 geraadpleeg).
—. 2023. The status of the Language of Learning and Teaching (LoLT) in schools: a quantative overview: 2008–2016. Pretoria: Departement van Basiese Onderwys.
—. 2024. Implementation of mother tongue-based bilingual education announced during International Mother Language Day celebration. https://www.education.gov.za/ArchivedDocuments/ArchivedArticles/Implementation-of-Mother-Tongue-based-Bilingual-Education-0224.aspx (11 Junie 2024 geraadpleeg).
Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. 2014. Report of the Ministerial Committee for the review of the funding of universities, October 2013. Pretoria: Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.
—. 2015a. National Qualifications Framework Act (67/2008): Revised policy on the minimum requirements for teacher education qualifications. Pretoria: Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.
—. 2015b. Report on the use of African languages as mediums of instruction in higher education. Pretoria: Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.
—. 2017. Draft Language Policy for Higher Education. Pretoria: Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.
—. 2020. The language policy framework for public higher education institutions. Pretoria: Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.
Departement van Maatskaplike Ontwikkeling. 2016. White Paper on the Rights of Persons with Disabilities. Pretoria: Staatsdrukker.
Departement van Onderwys. 1997a. Language in education policy in terms of Section 3(4)(m) of the National Education Policy Act, 1996 (Act 27 of 1996). Pretoria: Staatsdrukker.
—. 1997b. Education White Paper 3: A programme for the transformation of higher education. Pretoria: Staatsdrukker.
—. 1997c. Quality education for all. Overcoming barriers to learning and development. Report of the National Commission on Special Needs in Education and Training (NCSNET) and the National Committee on Education Support Services (NCESS), 28 November 1997. Pretoria: Departement van Onderwys.
—. 1999. Consultative Paper No 1 on Special Education: Building an inclusive education and training system, first steps, August 30, 1999. Pretoria: Departement van Onderwys.
—. 2001. Education White Paper 6: Special needs education: Building an inclusive education and training system. Pretoria: Departement van Onderwys.
—. 2002. National Curriculum Statement. Revised National Curriculum Statement Grades R–9 (Schools). Pretoria: Departement van Onderwys.
Departement Suid-Afrikaanse Gebaretaal en Dowestudies. 2024. Sabinet SASL archive. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.
Die Presidensie. 2023. President Cyril Ramaphosa enacts sign language as 12th official language, 19 Jul. https://www.gov.za/speeches/president-cyril-ramaphosa-enact-sign-language-12th-official-langauge (15 Mei 2024 geraadpleeg).
Die Unie van Suid-Afrika. 1925. The official languages of the Union act, 1925. Wet No. 8 van 1925. Pretoria: Staatsdrukker.
Druchen, B. 2023. SASL 12: Journey. Public hearings on the Constitution Eighteenth Amendment Bill [B1 - 2023], 7 March 2023. Kaapstad: Parlement van die Republiek van Suid-Afrika.
Du Plessis, T. 2023. Die opkoms van Suid-Afrikaanse Gebaretaal as Suid-Afrika se 12de amptelike taal. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 63(3):585–614.
Eyewitness News. 2023. President Ramaphosa announces sign language as 12th official language. https://www.youtube.com/watch?v=yc9h0YtZihI (18 Junie 2024 geraadpleeg).
Gadelii, KE. 1999. Language planning: theory and practice. Evaluation of language planning cases worldwide. Parys: UNESCO. https://unesdoc.unesco.org/ark:/48223/pf0000118456/PDF/118456engo.pdf.multi (16 Mei 2024 geraadpleeg).
Holness, W. 2016. The development and use of sign language in South African schools: the denial of inclusive education. In Ngwena, Grobbelaar-du Plessis, Combrinck en Kamga (reds) 2018.
Hoofde van die Hoër Howe. 2017. Heads of Court resolution on the language of record in South African court. https://www.judiciary.org.za/images/news/2019/Heads_of_Court_resolution_on_the_language_of_record.pdf (12 November 2020 geraadpleeg).
Kannemeyer, J. 1984. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1. Pretoria: Academia.
Kloss, H. 1966. Types of multilingual communities: a discussion of ten variables. Sociolinguistic Inquiry, 36(2):135–45.
Linden, A. 2018. 3 new subjects for matrics. Daily Dispatch, 23 Oktober, bl 4.
Magadani, N. 2009. Zwelitsha’s Indigenous Language Court to reduce backlogs. Report. Pretoria: Departement van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling.
Minister of Basic Education. 2021. Minister of Basic Education Budget Speech, responses by DA & FF+. Briefing, 20 May 2021. https://pmg.org.za/briefing/33004 (20 Mei 2022 geraadpleeg).
—. 2022. Question NW833 to the Minister of Basic Education to ask the Minister of Basic Education. https://pmg.org.za/committee-question/18311 (24 November 2022 geraadpleeg).
Minister van Basiese Onderwys. 2018. Question NW2999 to the Minister of Basic Education. https://pmg.org.za/committee-question/10647 (18 Junie 2024 geraadpleeg).
Minister van Sport, Kuns en Kultuur. 2021. Question NW1351 to the Minister of Sport, Arts and Culture. https://pmg.org.za/committee-question/16260/ (18 Junie 2024 geraadpleeg).
Ministerie van Onderwys. 2002. Language policy for higher education. Pretoria: Department of Education.
Ministeriële Komitee. 2003. The development of indigenous African languages as mediums of instruction in higher education. Report compiled by the Ministerial Committee appointed by the Ministry of Education in September 2003. Pretoria: Department of Education.
Ngesi, V. 2003. Deaf community delivers memorandum to include sign language in all schools. Diamond Fields Advertiser, 10 Februarie, bl. 3.
O'Conner, M. 1998. UV bied van volgende jaar Gebaretaal as vak aan. Die Volksblad, 4 September, bl 5.
Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad. S j. SAGT Indaba 2024. South African Sign Language Indaba Report, Birchwood Hotel, Boksburg, 1–2 Februarie 2024. Pretoria: Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad.
—. S j. South African Sign Language Charter. https://pansalb.org/SAGT-charter (23 April 2020 geraadpleeg).
Parlement van Suid-Afrika. 1998. Joint Rules of Parliament. (Soos deur die Gesamentlike Reëlskomitee goedgekeur, 24 Maart 1998.) Kaapstad: Parlement van Suid-Afrika.
Parliament of the United Kingdom. 1909. South Africa Act, 9 Edward VII, c 9. https://www.jstor.org/stable/2212266 (15 Maart 2012 geraadpleeg).
Pool, J. 1991. The official language problem. The American Political Science Review, 85(2):495–514.
Ramuedzisi, LS. 2022. An analysis of the impact of Section 4(2)(b) of the South African Use of Official Languages Act of 2012 (on previously marginalised indigenous official languages). Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 40(3):275–87.
Republiek van Suid-Afrika. 1963. Constitution Amendment Act, 1963. Wet 9 van 1963. Pretoria: Staatsdrukker.
—. 1993. Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1993. Wet 200 van 1993. Pretoria: Staatsdrukker.
—. 1995. Pan South African Language Board Act, 1995. Wet 59 van 1995. Pretoria: Staatsdrukker.
—. 1996a. South African Schools Act, 1996. Wet 84 van 1996. Pretoria: Staatsdrukker.
—. 1996b. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996. Wet 108 van 1996. Pretoria: Staatsdrukker.
—. 2012. Use of Official Languages Act, 2012. Wet 12 van 2012. Pretoria: Staatsdrukker.
—. 2022. Constitution Eighteenth Amendment Bill B1-2023. Pretoria: Staatsdrukker.
—. 2023. Constitution Eighteenth Amendment Act, 2023. Wet 3 van 2023. Pretoria: Staatsdrukker.
Right to Education for Children with Disabilities (R2ECWD). S j. Education White Paper 6: the primary South African policy document on inclusive education. Fact sheet 3. https://www.included.org.za/R2ecwdsite/docs/Factsheet%203.pdf (15 Mei 2024 geraadpleeg).
Suid-Afrikaanse Regering. 2023. Social Development welcomes signing of bill for sign language to be 12th official language. https://www.gov.za/news/media-statements/social-development-welcomes-signing-bill-sign-language-be-12th-official (18 Junie 2024 geraadpleeg).
Unesco. 1953. The use of vernacular languages in education. Paris: Unesco.
Verenigde Nasies. 1992. Declaration on the Rights of Persons Belonging to National or Ethnic, Religious and Linguistic Minorities, General Assembly resolution 47/135, 18 December 1992. https://www.ohchr.org/en/instruments-mechanisms/instruments/declaration-rights-persons-belonging-national-or-ethnic (26 Junie 2023 geraadpleeg).
—. 2006. Convention on the Rights of Persons with Disabilities adopted 13 December 2006 by Sixty-first session of the General Assembly by resolution A/RES/51/106. https://www.ohchr.org/en/instruments-mechanisms/instruments/convention-rights-persons-disabilities (10 April 2023 geraadpleeg).
Verenigde Nasies se Komitee oor die Regte van Persone met Gestremdhede. 2018. Concluding observations on the initial report of South Africa, 23 October 2018, G1832308. New York: United Nations. https://www.ohchr.org/en/documents/concluding-observations/crpdczafco1-concluding-observations-initial-report-south-africa (9 Augustus 2023 geraadpleeg).
Wêreldfederasie van Dowes. 2023. The legal recognition of national sign languages (Update: 18 August 2023). https://wfdeaf.org/news/the-legal-recognition-of-national-sign-languages (8 November 2023 geraadpleeg).
Woolman, S, T Roux, J Klaaren, A Stein en M Chaskalson. 2005. Constitutional law of South Africa. Kaapstad: Juta & Kie Bpk.
Lees ook:
Wie word ore aangesit? Suid-Afrikaanse Gebaretaal die twaalfde amptelike taal
Afrikaans kom derde: kommentaar op Suid-Afrika se jongste sensusverslag
Repliek op die debat oor moedertaalonderrig binne die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel

