Stres en orgaanoorplantings

  • 0

Foto: Pexels

It seems impossible to believe, but we have finally made it to this doorway of hope. Almost exactly a year ago, we received his diagnosis of renal failure and have since had an unimaginable year of despair, trying bravely to live as meaningfully as we could with the time left together, while facing his impending mortality in the darkest of hours. Today we stepped through this doorway, into a world of sterile isolation and miracles, and in the next few weeks we hope to be ready to face the world with matching kidneys and matching smiles. (Persoonlike belewenis van ’n anonieme nierskenker)

Inleiding

Om organe te skenk aan ander persone wie se lewensverwagting en -kwaliteit daardeur verbeter word, kan as ’n “gawe van die lewe” of ’n “lewensreddende gebaar” bestempel word. Skenkers (hetsy lewend of reeds oorlede) verdien beslis die hoogste agting en waardering vir hul daad van naasteliefde. Terselfdertyd behoort die toewyding en professionaliteit van die mediese span wat die chirurgiese prosedures op skenkers en ontvangers uitvoer, vanselfsprekend spesiale vermelding te ontvang.

Die joernalis Ané van Zyl (2025) berig in hierdie verband oor ’n sewentienjarige jong dame wat ongeveer vier jaar gelede met hartspierverswakking gediagnoseer is, waarvoor sy toepaslike medikasie gebruik. Haar gesondheid het egter geleidelik steeds versleg, met die gevolg dat ’n hartoorplantingsoperasie, as ’n volgende stap, deur die betrokke hartspesialis voorgestel is. Sy wag tans dat ’n geskikte orgaanskenking ’n werklikheid word.

Dit sal heeltemal aanvaarbaar wees om te beweer dat normale verwagtingsangs met enige orgaanoorplantingsproses gepaard gaan. Akute stresverwante simptome kan ernstiger afmetings aanneem sodat professionele psigoterapeutiese behandeling as ’n voorkomende maatreël nodig blyk te wees. Kan vryswewende en situasiegebonde angs binne hierdie konteks as verbandhoudende risikofaktore bestempel word? ’n Groep Amerikaanse medici (Davydow ea 2015) wys daarop dat die aanwesigheid van posttraumatiese stresversteuring ’n beduidende negatiewe impak uitgeoefen het op die fisiologiese gesondheidsverwante lewenskwaliteit van ’n groep orgaanoorplantingspasiënte wat hulle bestudeer het.

Primêre fisiologiese risiko’s wat orgaanoorplantings voorafgaan of daaruit voortspruit, verwys, daarteenoor, na ongekontroleerde liggaamlike faktore, inherent aan die oorplantingsprosedure, wat aanleiding kan gee tot kritieke situasies en wat onmiddellike optrede deur medici in mediese omgewings vereis. Dit is faktore op grond waarvan die uitvoering van 'n oorplantingsoperasie bemoeilik word of selfs kan misluk, byvoorbeeld orgaanverwerping, bloeding, infeksies of immuniteitsreaksies (Sabripoor ea 2024).

Psigofisiologiese reaksiepatrone

Die beginstadium van enige stresreaksie behels die kognitiewe assessering van die betrokke omgewingsituasie en die implikasies wat dit vir die individu inhou (Prasser ea 2009). Daar word onderskeid getref tussen primêre en sekondêre assessering (met ander woorde, evaluering van die aard en eise van die situasie en terselfdertyd ’n voorraadopname van die beskikbare bronne om die eise te hanteer). Daarna volg die sekondêre fase, wat verwys na die beoordeling van die gevolge van die situasie en die persoonlike betekenis wat aan die situasie gekoppel word.

Fisiologiese reaksies volg normaalweg op bogenoemde kognisies (Prasser ea 2009). Dit staan bekend as die algemene aanpassingsindroom. Die liggaam mobiliseer homself teen moontlike eksterne bedreigings. Die simpatiese senuweestelsel reageer (simpatiese oorheersing) aanvanklik en streshormone word terselfdertyd deur die endokriene sisteem vrygestel. Daarna volg ’n fase van parasimpatiese oorheersing totdat homeostase weer bereik word. Indien die stressor(e) egter intens en langdurig is, kan die vatbaarheid van die liggaam vir siektetoestande verhoog word.

Indien ’n persoon aan langdurige trauma blootgestel word, strek die reaksies en gevolge verder as bloot die algemene aanpassingsindroom. Posttraumatiese stresversteuring hou verband met veranderinge in breinfunksionering (Massunken 2025). Die amigdala (die brein se “alarmstelsel”) word ooraktief. Dit beteken dat die senuweestelsel in ’n konstante staat van hiperwaaksaamheid funksioneer, wat dit moeilik maak vir die persoon om te ontspan. Die gevolg is ’n ervaring van chroniese stres. Die effektiwiteit van die hippokampus, veral om waarnemings na die verlede te verplaas, of om tussen hede en verlede te onderskei, neem af tydens die blootstelling aan traumatiese ervarings. Die gevolg is dat terugflitse en/of angsdrome aanwesig is, wat die skeiding tussen verlede en hede nog meer laat vervaag. Die funksionaliteit van die prefrontale korteks, wat verantwoordelik is vir rasionele denke en beheer asook emosionele regulering, verswak ook weens die invloed van trauma. Die persoon vind dit toenemend moeiliker om doeltreffend te fokus, kalm te bly en rasionele besluite te neem.

Psigometriese vraelyste word gewoonlik gebruik om die bewustelike ervaring van stres deur ’n persoon te meet, terwyl fisiologiese indikatore van stres, soos metings van die harttempo, polsvolume, skeletspierspanning, galvaniese velweerstand asook breinaktiwiteit (Arsalan ea 2023) en die kortisolvlak in speekselafskeiding (Brand ea 2021), normaalweg met die vraelysdata gekorreleer word.

Kompliserende faktore

.......
Die orgaanoorplantingsproses behels ’n kontinuum van verskeie opeenvolgende fases, elkeen kenmerkend van eiesoortige mediese, sielkundige, sosiale en ekonomiese uitdagings.
.......

Die orgaanoorplantingsproses behels ’n kontinuum van verskeie opeenvolgende fases, elkeen kenmerkend van eiesoortige mediese, sielkundige, sosiale en ekonomiese uitdagings (Anil Kumar en Mattoo 2015). “Eindstadium-orgaansiekte” verwys na ’n pasiënt se verswakkende of mislukte orgaanfunksionering en sy/haar kliniese toestand wat onafwendbaar in ’n afwaartse kritieke rigting beweeg. Dit kan beskryf word as ’n “kwessie van lewe of dood” en lei tot die begin van die orgaanoorplantingsfase. Orgaanoorplantingsevaluering deur ’n multiprofessionele span behels verskeie stappe waartydens die vereistes waaraan die oorplantingskandidaat moet voldoen, ondersoek word. Dit gaan gepaard met verdere stresresponse, en veral die risiko om moontlik afgekeur te word kan traumaties wees. Die wagperiode vir ’n geskikte orgaanskenking is gewoonlik die mees stresvolle fase. Gedurende hierdie fase kan die gesondheid van die pasiënt verder geleidelik verswak en gepaardgaan met kritieke mediese sorg soos gereelde dialise, wat verdere druk op die pasiënt plaas. Omdat ’n tekort aan skenkers ’n wesenlike probleem is, kan hierdie wagperiode selfs langer as twee jaar duur.

Di Matteo ea (S j) wys verder daarop dat die oorgeplante orgaan postoperatief deur sommige pasiënte as ’n “vreemde eksterne voorwerp” geïnterpreteer kan word. Dit kan aan die een kant tot angs lei, of aan die ander kant tot ooridealisering van die skenkerorgaan. Dit kan gesien word as ’n brose en kosbare objek wat ten alle koste tot die uiterste beskerm moet word. Tydens die sogenaamde gedeeltelike inkorporeringsfase begin die pasiënt om die skenkerorgaan geleidelik as ’n deel van sy liggaamsbeeldkonsep te integreer. Die "finale inkorporeringsfase” verwys na die volledige aanvaarding van die nuwe orgaan, en dus ontlok die prosedure nie meer voortdurende sensitiewe bewussyn-ervarings nie.

........
Om sake te vererger is orgaanoorplantings nie slegs ’n komplekse chirurgiese prosedure nie, dit hou ook verband met unieke etiese en regskwessies.
........

Om sake te vererger is orgaanoorplantings nie slegs ’n komplekse chirurgiese prosedure nie, dit hou ook verband met unieke etiese en regskwessies. In ontwikkelende lande word die situasie verder gekompliseer deurdat die psigososiale milieu dikwels verskil in terme van die voorkoms van armoede, onderontwikkelde mediese sorg, komplekse gesinstrukture en -funksionering, kulturele norme, waardes en persepsies in verband met orgaanskenkings en -chirurgie (Anil Kumar en Mattoo 2015)

In hierdie artikel word die fokus hoofsaaklik geplaas op die rol van stres as ’n komorbiede risiko, of anders gestel, ’n risiko wat met orgaanoorplantingchirurgie gepaard gaan. ’n Seleksie van navorsingstudies, soos uitgevoer deur erkende navorsers, waarvan die metodologie aanvaarbaar en dupliseerbaar is en waarvan die resultate in portuurgeëvalueerde vaktydskrifte gepubliseer is, word kortliks bespreek. Die resultate van die navorsing kan dus met ’n redelike mate van sekerheid as gesaghebbend aanvaar word.

’n Seleksie van navorsingsbevindings

Orgaanoorplantingchirurgie by kinders, hoewel dit ’n lewensreddende ingryping is wat hul lewenskwaliteit verbeter, plaas beduidende emosionele, sielkundige en sosiale druk op beide die kinderpasiënte en hul gesinne (Yuluğ-Taş en Özbaran 2025). Psigiatriese komorbiditeite soos angs en depressie kom algemeen by kinders tydens hierdie proses voor. Sleutelrisikofaktore sluit in mediese onsekerhede voor en ná oorplanting, langdurige hospitalisasieperiodes, neuropsigiatriese effekte van immuniteitsonderdrukkers, en sosiale isolasie. Terselfdertyd ervaar ouers hoë vlakke van stres, angs en depressie, wat die gesinsdinamika ontwrig en finansiële stabiliteit kan benadeel. Daarom is dit onvoldoende om slegs op mediese uitkomste in kinderorgaanoorplantings te fokus. Toegang tot psigososiale ondersteuningsdienste is absoluut noodsaaklik vir hierdie gesinne. Die hoofbevindings van Yuluğ-Taş en Özbaran (2025) se sistematiese literatuuroorsig dui daarop dat psigiatriese evaluasies van kinders, gekombineer met multidissiplinêre sielkundige ondersteuning, ’n positiewe invloed uitoefen op die aanpassing en prognose van kinderpasiënte voor en na afloop van orgaanoorplantingchirurgie. 

.......
Die bevinding dat posttraumatiese-stres-simptome geredelik identifiseerbaar is voor die oorplantingsprosedure en voortduur na afloop van die oorplantings, dui daarop dat streshantering en -voorkomingsingrypings binne die konteks van die orgaanoorplantingsklinieke geïnisieer en beplan behoort te word as ’n spesifieke faset van die voor-oorplanting-assessering.
.......

Hind ea (2024) vind op grond van ’n retrospektiewe studie met kinders en adolessente in die Brits-Columbiese Kinderhospitaal ’n hoë voorkoms van selfgerapporteerde posttraumatiese-stres-simptome (PTSS) by die pasiënte, voor en na afloop van soliede-orgaan-oorplantings (hart, nier en lewer). Die traumasimptome hou beduidend verband met faktore wat met die pasiënt se persoonlike ervarings te make het, soos die hospitalisasieproses op sigself, die kompleksiteit van die diagnose, asook die beskikbaarheid van pasiëntondersteuningstelsels, veral wat die kwaliteit van gesinsfunksionering betref. Die bevinding dat PTSS geredelik identifiseerbaar is voor die oorplantingsprosedure en voortduur na afloop van die oorplantings, dui daarop dat streshantering en -voorkomingsingrypings binne die konteks van die orgaanoorplantingsklinieke geïnisieer en beplan behoort te word as ’n spesifieke faset van die voor-oorplanting-assessering. Hiervolgens blyk dit dat hindernisse soos ’n gebrek aan voldoende agtergrondkennis by versorgers, ’n gebrek aan bereidwilligheid om by die hulpverleningsproses betrokke te raak, en ’n gebrek aan die beskikbaarheid en toeganklikheid van plaaslike geestesgesondheidsdienste, effektiewe en professionele ingryping aan bande lê.

Die doel met Cousino ea (2021) se studie was om die voorkoms van uitbranding, werksuitputting, beroepstevredenheid en posttraumatiese stres te meet by klinici en administrateurs wat in orgaanoorplantingshospitale werksaam is. ’n Dwarssnitmetode is gebruik waartydens ’n aanlyn navorsingsvraelys (bestaande uit 50 items) gebruik is om die onderskeie veranderlikes te meet. Vier Noord-Amerikaanse pediatriese orgaanoorplantingsentra is vir die doel geïdentifiseer. Basiese demografiese inligting van die respondente sowel as besonderhede oor die aard en kwaliteit van die beskikbare sielkundige ondersteuningsdienste vir personeel is ook aangeteken. 135 respondente het die vraelys voltooi, van wie 76% vroulik was; 78% was van Europese afkoms. 34% van die deelnemers het ’n definitiewe aanwesigheid van uitbranding en 43% het voldoende professionele beroepstevredenheid gerapporteer. 15% van die respondente het hoë vlakke van posttraumatiese stres, wat verband hou met pasiëntsterftes, aangedui, met vroulike klinici wat meer geneig was om hierdie simptome te rapporteer. Byna 80% van die deelnemers het van eksterne sielkundige ondersteunende dienste gebruik gemaak en slegs 10% het hospitaalondersteunde dienste benut. Dit blyk dus dat die personeel van pediatriese orgaanoorplantingspanne in hierdie opname matige vlakke van uitbranding, professionele werkstevredenheid en posttraumatiese stres gerapporteer het. Vroulike klinici was veral geneig om meer dikwels werksuitputting en posttraumatiese-stres-simptome te ervaar. Oorplantingsentra behoort gevolglik aangemoedig te word om intervensies en programme wat ten doel het om die sielkundige gesondheid van medici en ander betrokkenes te bevorder, op ’n vernuwende wyse te bestuur.

Samsel (2017) bestudeer die mediese en psigiatriese verslae van 393 pediatriese en jong volwasse pasiënte (van 3 tot 29 jaar oud) wat soliede-orgaan-oorplantings ondergaan het. Die belangrikste bevindings sluit die volgende in: 6,5% van die pasiënte is formeel met posttraumatiese stresversteuring gediagnoseer; pasiënte met gediagnoseerde posttraumatiese stres het meer dikwels psigiatriese sorg benodig en meer dikwels psigotropiese medikasie gebruik; hulle het ook langer periodes van hospitaalverblyf benodig; die nougesette nakoming van hul postoperatiewe behandelingsprogramme was problematies vir hierdie groep; pasiënte met torakale oorplantings (hart en longe) was meer geneig om traumatiese stres te ontwikkel in vergelyking met diegene met abdominale oorplantings (lewer en niere). Dié bevindings beklemtoon die behoefte aan ’n geïntegreerde benadering wat interne professionele psigiatriese, mediese en sielkundige hulpverlening (pre- en postoperatief) binne die hospitaal opset betref. 

Die waarde van musiek as ’n terapeutiese medium is algemeen bekend. Crawford, Hogan en Silverman (2013), verbonde aan die Universiteit van Minnesota, ondersoek die impak van musiekterapie op stres van die gemoedstoestand asook die persepsies van die risiko’s van newe-effekte by gehospitaliseerde skenkers en ontvangers van soliede-orgaan-oorplantings. Die 38 deelnemers is ewekansig aan ’n eksperimentele en/of waglyskontrolegroepe toegewys in ’n voor- en natoetsontwerp.

Aangesien die gevoel van “om in beheer te wees” met positiewe gesondheidsuitkomste by soliede-orgaan-oorplanting-pasiënte geassosieer word, is deelnemers die keuse gebied om óf na lewende musiek volgens voorkeur te luister óf ’n kort mondfluitjieles te ontvang, gevolg deur ’n blues-vertoning met kitaarbegeleiding. Tydens vooraftoetsing het die groepe nie statisties beduidend ten opsigte van die veranderlikes verskil nie, terwyl beduidende groepsverskille voorgekom het tydens natoetsing wat ontspanning, stresvlakke en kwaliteit van gemoedstoestand betref, met die eksperimentele deelnemers wat gunstiger tellings behaal het as die kontrolegroep. 37 deelnemers het lewende musiek volgens persoonlike voorkeur gekies, terwyl een deelnemer die mondfluitjieles gekies het. Uit die resultate van hierdie studie blyk dit dat musiekterapie ’n doeltreffende psigososiale intervensie is met betrekking tot ontspanning, stres en gemoedstoestand vir soliede-orgaan-oorplanting-pasiënte, beide wat ’n luister-gebaseerde en ’n deelnamegebaseerde intervensie betref.

’n Suid-Afrikaanse studie (Prentice-Hoogervorst en Mayers 2022) met die fokus op adolessente orgaanoorplantings, beklemtoon die belangrikheid van ’n deeglik beplande oorgang van pediatriese na volwasse sielkundige nasorg. Die studie het die sielkundige belewenisse van die pasiëntegroep deur middel van ’n fenomenologiese-analise-prosedure ondersoek, asook hul behoeftes aan gespesialiseerde psigososiale ondersteuning om hul postoperatiewe aanpassing beter te fasiliteer.

Schlebusch, Pillay en Louw (1989) het ’n vergelykende studie in die Addington-hospitaal, Durban uitgevoer met pasiënte wat niere ontvang het van kadawers versus lewende skenkers. Eersgenoemdes wou veral meer te wete kom oor die persoonlikheidseienskappe en gesinsomstandighede van die oorledenes, terwyl die ontvangers van niere deur lewende skenkers meer bekommerd was oor die psigiese en fisieke welstand en vordering van die skenkers.

........
In die algemeen word internasionale riglyne en standaarde in verband met die kliniese diagnose en noodsaaklike psigososiale hulpverlening wat orgaanoorplantingspasiënte betref, sover as moontlik in Suid-Afrika ondersteun en opgevolg. Hierdie riglyne onderskryf die noodsaaklikheid van multidissiplinêre psigososiale assessering en sorg, voor sowel as na afloop van oorplantingchirurgie.
........

In die algemeen word internasionale riglyne en standaarde in verband met die kliniese diagnose en noodsaaklike psigososiale hulpverlening wat orgaanoorplantingspasiënte betref, sover as moontlik in Suid-Afrika ondersteun en opgevolg. Hierdie riglyne onderskryf die noodsaaklikheid van multidissiplinêre psigososiale assessering en sorg, voor sowel as na afloop van oorplantingchirurgie. Die klem val op die belangrikheid om die nienakoming van immuniteitsonderdrukkende medikasie te beperk en die aanwesigheid van kliniese depressie, angsversteurings en middelmisbruik (soos alkohol, nikotien en dwelmmiddels) aan te spreek om sodoende die prognose en herstel van pasiënte te bevorder (Etheredge, Penn en Watermeyer 2017).

Die volgende aanhaling uit ’n publikasie van ’n groep Italiaanse navorsers belig die kern van die problematiek uitstekend: “The protagonist of the entire transplantation process is the recipient. The recipient is a person, with feelings, personal values, social and working interests, and sometimes suffering psychopathological symptoms from the stress of the illness and the impending danger. These factors must all be considered and treated to achieve a successful treatment” (Di Matteo, De Figlio en Pietrangelo s j).

Ten slotte: Sou die kombinasie van robotika en KI-analise in die toekoms ’n rol kon speel om trauma en stres tydens orgaanoorplantingchirurgie te verminder?

Bokhari (2023) en Arjmandmazidi ea (2025) verwys na voorbeelde soos virtuele realiteit en rekenaarsimulasies wat preoperatief gebruik kan word om pasiënte voor te berei ten opsigte van wat die verdere verloop van die prosedure behels en sodoende hul angsvlakke en onsekerheid te verminder; robotgeassisteerde chirurgie (bv die Da Vinci-stelsel) wat operasiesnitte meer presies en minder indringend maak en gevolglik trauma aan die weefsel beperk en die hersteltyd verkort, asook virtuele ondersteuningsgroepe via rekenaarplatforms wat pasiënte help om die emosionele trauma wat met orgaanoorplantings gepaardgaan, sinvol te verwerk.

........
Toekomstige navorsing behoort veral te fokus op die verbetering van modelinterpretasie, die geldigheidsbepaling van algoritmes vir diverse bevolkingsgroepe, asook die verdere ontwikkeling van datakwaliteit om sodoende die volle potensiaal van KI in orgaanoorplantingsgeneeskunde te bevorder.
........

Arjmandmazidi ea (2025) beklemtoon egter dat alhoewel KI en masjienleeralgoritmes oor die potensiaal beskik om die betroubaarheid van voorspellings wat tydens orgaanoorplantingchurigie noodsaaklik is te verbeter, die kliniese implementering daarvan steeds problematies is. Toekomstige navorsing behoort veral te fokus op die verbetering van modelinterpretasie, die geldigheidsbepaling van algoritmes vir diverse bevolkingsgroepe, asook die verdere ontwikkeling van datakwaliteit om sodoende die volle potensiaal van KI in orgaanoorplantingsgeneeskunde te bevorder.

Doelgerigte pogings om stresvolle ervarings wat met orgaanoorplantings gepaardgaan, deeglik te bestuur, sal beslis meehelp om die roete na die "deurgang-hoop" vir alle betrokkenes by hierdie chirurgiese prosedures verder te vergemaklik.

Eindnota

Daar word geensins daarop aanspraak gemaak dat hierdie artikel op ’n omvattende en sistematiese literatuuroorsig gebaseer is nie. Dit is hoogstens ’n bondige seleksie van toepaslike en geloofwaardige literatuur en beklemtoon sekere belangrike en relevante tendense op die navorsingsterrein.

Bibliografie

Anil Kumar, BN en SK Mattoo. 2015. Organ transplant and the psychiatrist: an overview. Indian Journal of Medical Research, 141(4):408–16. DOI: 10.4103/0971-5916.159268. PMID: 26112841; PMCID: PMC4510720. https://pmc.ncbi.nlm.nih.gov/articles/PMC4510720/.

Arjmandmazidi, S, HR Heidari, T Ghasemnejad, Z Mori, L Molavi, A Meraji, S Kaghazchi, E Mehdizadeh Aghdam en S Montazersaheb. 2025. An in-depth overview of artificial intelligence (AI) tool utilization across diverse phases of organ transplantation. Journal of Translational Medicine, 23:678 ev. https://doi.org/10.1186/s12967-025-06488-1. https://translational-medicine.biomedcentral.com/articles/10.1186/s12967-025-06488-1#citeas.

Arsalan, A, M Majid, IF Nizami, W Manzoor, SM Anwar en J Ryu. 2023. Human stress assessment: a comprehensive review of methods using wearable sensors and non-wearable techniques. MDPI Sensors,1(0). https://arxiv.org/abs/2202.03033

Bokhari, SFH.2023. Artificial intelligence and robotics in transplant surgery: advancements and future directions. Cureus, 15(8):e43975. DOI: 10.7759/cureus.43975. PMID: 37746390; PMCID: PMC10515737. https://pmc.ncbi.nlm.nih.gov/articles/PMC10515737.

Brand, M, H Shippey, J Hagan, S Hanneman, B Levy, S Range, N Wongsuwan, A Zodin en M Walden. 2021. Comparison of psychological and physiological stress in NICU nurses. Advances in Neonatal Care, 21(4):E93–E100. DOI: 10.1097/ANC.0000000000000837.

Cousino, MK, C Bogle, M Lim, M Heang, AD McCormick, J Sturza, EM Fredericks, JC Magee en ED Blume. 2021. Burnout, professional fulfillment, and posttraumatic stress among pediatric solid organ transplant teams. Pediatric transplantation,25(4):e14020. https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/33861499/.

Crawford, I, T Hogan en MJ Silverman. 2013. Effects of music therapy on perception of stress, relaxation, mood, and side effects in patients on a solid organ transplant unit: a randomized effectiveness study. The Arts in Psychotherapy, 40(2):224–9.  https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0197455613000750.

Davydow, DS, ED Lease en JD Reyes. 2015. Posttraumatic stress disorder in organ transplant recipients: a systematic review. General Hospital Psychiatry, 37(5):387–98. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0163834315001292.

Di Matteo, GD, A De Figlio en T Pietrangelo. S j. The psychological dimension of organ transplant patients: mini review. Open Access Text. DOI: 10.15761/MCRR.1000111. https://www.oatext.com/the-psychological-dimension-of-organ-transplant-patients-mini-review.php.

Etheredge, HR, C Penn en J Watermeyer. 2017. Interprofessional communication in organ transplantation in Gauteng province, South Africa. South African Medical Journal, 107(7): 615-20. https://doi.org/10.7196/samj.2017.v107i7.12355.

Hind, T, J Robillard, K Armstrong, O Guttman en TD Blydt-Hansen. 2024. Risk factors of post-traumatic stress in pediatric solid organ transplant recipients. Pediatric Transplantation, 28(7):e14854. https://onlinelibrary.wiley.com/doi/full/10.1111%2Fpetr.14854.

Massunken, M. 2025. PTSD and the brain: What really happens. LinkedIn. https://www.linkedin.com/posts/michelle-massunken-msw-rsw_ptsdrecovery-traumahealing-neuroscience-activity-7366823238565298177-TEf-/.

Prasser, M, R Smith, N Holt, A Bremner, E Sutherland en M Vliek. 2009. Psychology: the science of mind and behaviour. Londen: McGraw-Hill Higher Education.

Prentice-Hoogervorst, L en PM Mayers. 2022. Adolescent paediatric transplant patients’ experiences of transition to adult services. Health SA Gesondheid, 27:a1937. https://doi.org/10.4102/hsag.v27:0.1937.

Sabripoor A, R Ghousi, M Najafi , F Barzinpour en A Makuei. 2024. Risk assessment of organ transplant operation: A fuzzy hybrid MCDM approach based on fuzzy FMEA. PLoS ONE, 19(5). https://journals.plos.org/plosone/article?id=10.1371/journal.pone.0299655.

Samsel, CB. 2017. Psychiatric care and psychotropic utilization in a solid organ transplant population with medical and nonmedical traumatic stress disorders. Journal of the American Academy of Child and Adolescent Psychiatry, 56(10):S305–S306. https://www-clinicalkey-com.ez.sun.ac.za/#!/content/1-s2.0-S089085671730919X. http://dx.doi.org/10.1016/j.jaac.2017.07.592. 

Schlebusch, L, BJ Pillay en J Louw. 1989. Depression and self-report disclosure after live related donor and cadaver renal transplants. South African Medical Journal, 75:490–3. https://journals.co.za/doi/pdf/10.10520/AJA20785135_8642.

Van Zyl, A. 2025. Skoolmeisie (17) wag hoopvol op nuwe hart. Die Burger Aktueel, bl 55. 15 Augustus. 

Yuluğ-Taş, B en B Özbaran. 2025. Psychiatric comorbidities in pediatric organ transplantation: current findings and clinical approaches. European Transplant Research, 1(1):25–33. DOI: 10.14744/etr.2025.32042. https://jag.journalagent.com/etr/pdfs/ETR_1_1_25_33.pdf.

Lees ook:

Interpretiewe of vertolkende versorging en demensie

Fisieke oefening en demensie – enkele navorsingsbevindinge

Enkele standpunte oor postume spermonttrekking en voortplanting

Misofonie

Geraasbesoedeling

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top