Misofonie

  • 3

Foto: Freepik

Many questions are unanswered, etiology is not clear, neural mechanisms are speculative and treatments are not yet proven. Above all, the general recognition of decreased sound tolerance, as a problem requiring attention and proper treatment, should be considered a priority in the community of hearing professionals. (Jastreboff en Jastreboff 2021)

Dink jouself in die situasie in dat jy in ’n fliekteater sit en probeer fokus op ’n belangrike faset in die film, wanneer die meedoënlose springmielie- of aartappelskyfie-etery van ’n ander fliekganger wat langsaan jou sit, skielik onuithoudbaar begin voel. So oorweldigend dat jou hart begin klop, jou skeletspierspanning toeneem en al wat jy wil doen, is om weg te beweeg vanaf die bron van irritasie. Vir mense met misofonie is die blootstelling aan spesifieke agtergrondklanke nie bloot vlugtig en van verbygaande aard nie, maar eerder ’n onhanteerbare werklikheid. Vir hulle is sekere klankprikkels die bron van hul intense en atipiese emosionele reaksies daarop. Misofonie is tans ’n redelik onbekende toestand (soos blyk uit die aanhaling hierbo), maar diegene wat simptome van misofonie toon, se gedrag word dikwels deur omstanders verkeerdelik vertolk, hul lewensgehalte word ontwrig en dikwels ondervind sulke mense ’n mate van sosiale isolasie.

........
Die term misofonie (wat letterlik ’n “aversie vir sekere klanke” beteken) het eers relatief onlangs die lig gesien toe dit deur die Amerikaanse oudioloë Jastreboff en Jastreboff (2021) vir die eerste keer gebruik is.
........

Die term misofonie (wat letterlik ’n “aversie vir sekere klanke” beteken) het eers relatief onlangs die lig gesien toe dit deur die Amerikaanse oudioloë Jastreboff en Jastreboff (2021) vir die eerste keer gebruik is.

Misofonie word egter tans nog nie as ’n diagnoseerbare entiteit (disorder) met kliniese modifikasiekodes deur erkende, internasionale psigopatologie klassifikasiestelsels, soos die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM-5-TR) en die International Classification of Diseases (ICD-11), erken nie. Die vraag ontstaan gevolglik watter mate van eenstemmigheid onder deskundiges bestaan oor die wyse waarop die toestand gedefinieer en omskryf word.

Dit is ’n besondere aktiewe navorsingsterrein en nie minder nie as 34 akademiese artikels is op die databasis EBSCOhost opgespoor, wat gedurende die eerste drie maande van 2025 gepubliseer is.

’n Voorbeeld hiervan is ’n studie wat in Duitsland uitgevoer is (Pfeiffer, Allroggen en Sachser 2025), met ’n verteenwoordigende steekproef respondente (N=2522) tussen die ouderdomme 16–96 jaar, wat ’n aanlyn assesseringsvraelys oor misofonie moes voltooi. 33,3% van die deelnemers het gerapporteer dat hulle sensitief is vir ten minste een spesifieke misofoniese klankprikkel. Hiervan het 2,3% subkliniese simptome gerapporteer. Die intensiteit waarmee misofonie gemanifesteer het was soos volg: ligte simptome het by 9,9% van die steekproef voorgekom, matige tot ernstige simptome by 2,1% en ernstige tot uiterste simptome is by 0,1% van die deelnemers waargeneem. Misofonie is na alle waarskynlikheid dus ’n toestand wat op ’n deurlopende spektrum van graadverskille voorkom.

Die doel van hierdie artikel is om enkele verskillende gesigspunte oor die aard, omvang, definisie en diagnose van misofonie, wat onlangs in die akademiese literatuur gepubliseer is, kortliks te beskryf en saam te vat.

Standpunte oor begripsafbakening

Swedo, Baguley, Denys, Dixon, Erfanian, Fioretti, Jastreboff, Kumar, Rosenthal, Rouw, Schiller, Simner, Storch, Taylor, Werff, Altimus en Raver (2022) het tussen Junie 2020 en Januarie 2021 ’n omvattende studie gedoen om te bepaal of ’n komitee van 15 kundiges met uiteenlopende kennis oor misofonie ’n konsensusdefinisie kan ontwikkel. ’n Gewysigde Delphi-metode is gebruik om die bevindings van portuurgeëvalueerde navorsingsartikels te evalueer wat geïdentifiseer is deurdat ’n sistematiese literatuuroorsig vooraf gedoen is.

Hier onder volg ’n uiteensetting van Swedo ea (2022) se konsensusdefinisie, tensy anders vermeld.

  • Algemene beskrywing
........
Misofoniese reaksies word nie noodwendig ontlok deur die intensiteit van klankprikkels nie, maar eerder deur die spesifieke patroon of die betekenis wat ’n individu aan die klankprikkels heg. Snellerstimuli is dikwels herhalend van aard en sluit hoofsaaklik stimuli in wat deur ander individue gegenereer word, veral dié wat deur die menslike liggaam voortgebring word.
........

Volgens Swedo ea (2022) verwys misofonie na die verlaagde toleransie vir spesifieke klanke of ’n aversie vir stimuli wat met sulke klanke geassosieer word. Hierdie stimuli, bekend as “snellers”, word ervaar as onaangenaam of ontstellend en is geneig om sterk negatiewe, emosionele, fisiologiese en gedragsreaksies op te wek. Dit is ’n gedragspatroon wat nie algemeen voorkom nie. Misofoniese reaksies word nie noodwendig ontlok deur die intensiteit van klankprikkels nie, maar eerder deur die spesifieke patroon of die betekenis wat ’n individu aan die klankprikkels heg. Snellerstimuli is dikwels herhalend van aard en sluit hoofsaaklik stimuli in wat deur ander individue gegenereer word, veral dié wat deur die menslike liggaam voortgebring word. Sodra snellerstimuli waargeneem word, kan individue met misofonie dit moeilik vind om die stimulus bloot te ignoreer. Disfunksionele gedrag is dikwels die gevolg. Die tipiese wyse waarop misofoniese simptome na vore kom, asook die graad daarvan, wissel van lig tot ernstig. Sommige individue met misofonie is bewus daarvan dat hul reaksies op snellerstimuli buite verhouding tot die omstandighede is. Misofoniese simptome word dikwels vir die eerste keer in die laat kinderjare of vroeë adolessensie waargeneem.

  • Reaksies op misofoniese snellers

In reaksie op spesifieke snellerstimuli, kan individue met misofonie ’n reeks negatiewe, affektiewe reaksies ervaar. Woede, irritasie, walging en angstigheid kom algemeen voor. Misofoniese snellers kan verhoogde reaksies van die outonome senustelsel tot gevolg hê, soos ’n toename in skeletspierspanning en pupilgrootte, verhoogde harttempo, vasokonstriksie en sweetuitslag.

Die aggressie kan direk gerig wees op die individu wat die stimulus voortbring. Aggressie kan ook manifesteer as mondelinge of fisiese humeuruitbarstings, hoewel hierdie reaksies meer dikwels waargeneem word by kinders met misofonie as by volwassenes. Volwassenes met misofonie probeer dikwels om hul reaksies op snellers te inhibeer, deur prikkels te vermy of weg te stap vanaf die bron van irritasie of kan selfs ingryp om die snellerstimuli te staak.

  • Intensiteit van reaksies op snellerprikkels

Die intensiteit van ’n persoon se reaksie op misofoniese snellerstimuli word beïnvloed deur verskeie faktore, insluitend: die konteks waarin die stimulus teëgekom word; die individu se waargenome mate van beheer oor die stimulusbron; en die interpersoonlike verhouding tussen die individu met misofonie en die bron van die klankprikkel (byvoorbeeld ’n gesinslid, ’n vriend/in of ’n onbekende persoon). Self-gegenereerde stimuli ontlok gewoonlik nie dieselfde intense reaksies as stimuli wat deur iemand anders geproduseer word nie.

  • Verhouding met ander toestande

Misofonie kan teenwoordig wees by persone met of sonder normale gehoorsensitiwiteit. Dit kan alleenstaande wees of saam met toestande soos tinnitus en hiperakusis voorkom. (Volgens die oudioloog Aahz (2022) word misofonie dikwels binne die vakgebied oudiologie as ’n subtipe van hiperakusis beskou, eerder as ’n aparte versteuring. Daarom onderskei die meeste oudiologiese navorsingstudies nie tussen misofonie en hiperakusis nie.)

Misofonie presenteer ook saam met neurologiese of psigiatriese versteurings, insluitend angs-, gemoeds-, persoonlikheids- en obsessief-kompulsiewe versteuring, asook post-traumatiese stresversteuring, outismespektrum-versteuring en aandagtekort-hiperaktiwiteitversteuring. Ko-morbiditeite of die gelyktydige voorkoms (co-occuring) van misofonie met ander versteurings kan die diagnose daarvan bemoeilik, en in sulke gevalle kan van ’n differensiële diagnose gebruik gemaak word.

  • Misofoniese snellers

Die meeste individue het normaalweg ’n eie kenmerkende en gepersonaliseerde patroon van snellers. Ouditiewe snellers kom mees algemeen voor, hoewel individue met misofonie ook soms op visuele prikkels oorreageer.

........
Klanke wat verband hou met orale funksies, is een van die mees gerapporteerde misofoniese snellerstimuli, soos kouery, eet, drink, lippe klap, slurpery, hoes, keel skoonmaak, asook slukgeluide.
........

Klanke wat verband hou met orale funksies, is een van die mees gerapporteerde misofoniese snellerstimuli, soos kouery, eet, drink, lippe klap, slurpery, hoes, keel skoonmaak, asook slukgeluide. Nasale geluide, soos asemhaling en snuif, dien ook dikwels as snellers. Ouditiewe snellers kan ook nie-orale/nasale geluide insluit wat geproduseer word deur mense, soos deur rolpuntpenne te klik, die geluide van sleutelborde, vinger- of voettikkery, skuifel voetstappe, sowel as geluide wat deur voorwerpe geproduseer word, soos ’n staanhorlosie wat tik of geluide wat deur diere gemaak word.

Kommentaar oor die Delphi-studie

Rosenthal, Campbell en Altimus (2023) lewer oorwegend positiewe kommentaar oor die Delphi-studie. Hulle noem dat dié navorsing objektief en gestruktureerd uitgevoer is. Konsensus is bereik deur ’n groot groep diverse kundiges wat aanleiding gegee het tot die eerste formele definisie van misofonie. Vorige navorsing oor die onderwerp is hoofsaaklik uitgevoer met klein gerieflikheidsteekproewe en gevallestudies. Hierdie belangrike vooruitgang op die navorsingsterrein toon belofte om met verloop van tyd ’n seminale publikasie met ’n langdurige impak te word.

Brout (2022) wys daarop dat deurlopende aandag voortaan aan die modifikasie van die Delphi-definisie van misofonie gegee moet word en dat die herhaling (of duplisering) van die studie uiters noodsaaklik is. Dit word aanbeveel dat multi-dissiplinêre navorsingsbevindings, sowel as inligting vanuit die neuro-wetenskappe ook voortaan ingesluit behoort te word. ’n Voorbeeld is die brein se vermoë om irrelevante stimuli uit te filtreer en sodoende die hoeveelheid inligting wat deur die hoër breinfunksies geprosesseer word, verminder. Daarbenewens verwys die Delphi-ondersoek na individue met misofonie wat ook visuele sensitiwiteit vir motoriese beweging rapporteer. Daarom sal dit gepas wees om studies wat verband hou met visuele en ouditiewe kruismodale prosesse, in te sluit.

Volgens Aazh (2023) beteken konsensus na regte dat slegs ’n bepaalde standpunt ingeneem is en kan dus nie as letterlike feite geïnterpreteer word nie. Die verteenwoordiging van die Delphi-komitee kan verder uitgebrei word en toekomstige studies behoort pasiënte met ’n wye spektrum misofoniese simptome, asook graadverskille in intensiteit in te sluit. Dit is dalk voorbarig om misofonie nou reeds as ’n diagnoseerbare entiteit te beskou, gegewe die gebrek aan empiriese bewyse rakende enige moontlike onderliggende patologie aan die een kant, en die oënskynlike hoë voorkoms daarvan onder die algemene bevolking aan die ander kant. Toekomstige definisies van misofonie behoort ook spesifieke kriteria in te sluit om misofonie, hiperakusis en klanksensitiwiteit doeltreffend van mekaar te onderskei.

Samevatting

Misofonie is ’n relatief onbekende toestand wat gekenmerk word deur ’n intense afkeer teenoor spesifieke klanke, soos kou, slurp, asemhaling of tikgeluide. Hierdie klanke, bekend as “snellers”, wek by mense met misofonie sterk negatiewe emosionele en fisiese reaksies uit, soos woede, irritasie, verhoogde hartklop en spierspanning. Die reaksies is dikwels buite verhouding tot die situasie self en kan lei tot ontwrigting van die individu se daaglikse lewe, insluitend sosiale isolasie en misverstande deur ander.

Die term misofonie is eers onlangs deur die Amerikaanse oudioloë Jastreboff en Jastreboff (2021) bekendgestel, en die toestand is nog nie as ’n amptelike versteuring in internasionale klassifikasiestelsels, soos die DSM-5-TR of ICD-11, opgeneem nie. Daar is dus onsekerheid oor die presiese definisie en afbakening van misofonie, hoewel ’n konsensusdefinisie in 2022 deur Swedo en kollegas ontwikkel is. Volgens hierdie definisie is misofonie kenmerkend van verlaagde toleransie teenoor sekere klanke, wat nie deur die intensiteit van die klank veroorsaak word nie, maar deur die betekenis of patroon wat die individu aan die klank heg.

........
Dit is nodig dat spesifieke objektiewe en meetbare kriteria vir misofonie saamgestel word. Alvorens dit gebeur, kan slegs na misofonie as ’n “toestand wat algemeen voorkom” verwys word, en beslis nie na “kliniese misofonie” nie.
........

Misofonie kan ko-morbied saam met ander toestande soos tinnitus, hiperakusis, angs, gemoedsversteurings, obsessief-kompulsiewe versteuring en selfs outisme voorkom, wat die diagnose bemoeilik. Die meeste snellers is ouditief, maar visuele stimuli kan ook ’n rol speel. Navorsing oor misofonie is nog in sy kinderskoene en daar is ’n behoefte aan verdere studies om die onderliggende meganismes, diagnostiese kriteria en effektiewe behandelingsmetodes te bepaal. Resente navorsing dui daarop dat misofonie ’n werklike en ontwrigtende ervaring is, wat op ’n deurlopende skaal van lig na intens aanwesig is en groter erkenning en begrip in die samelewing en professionele gemeenskap verdien.

Dit is nodig dat spesifieke objektiewe en meetbare kriteria vir misofonie saamgestel word. Alvorens dit gebeur, kan slegs na misofonie as ’n “toestand wat algemeen voorkom” verwys word, en beslis nie na “kliniese misofonie” nie.

Bibliografie

Aazh, H. 2023. Commentary: Consensus definition of misophonia. Frontiers in Neuroscience, 16. https://doi.org/10.3389/fnins.2022.1077097.

Brout, JJ. 2022. A brief commentary on the consensus definition of Misophonia. Frontiers in Neuroscience, 16. DOI=10.3389/fnins.2022.879070.

Jastreboff, MM en PJ Jastreboff. 2021. Hyperacusis. Audiology Online, 18 Junie. https://www.audiologyonline.com/articles/hyperacusis-1223.

Pfeiffer, E, M Allroggen en C Sachser. 2025. The prevalence of misophonia in a representative population-based survey in Germany. Social Psychiatry and Psychiatric Epidemiology, 60:257–64. https://doi.org/10.1007/s00127-024-02707-0.

Rosenthal, MZ, J Campbell en C Altimus. 2023. Editorial: Advances in understanding the nature and features of misophonia. Frontiers in Neuroscience, 17. https://doi.org/10.3389/fnins.2023.1267682.

Swedo, SE, DM Baguley, D Denys, LJ Dixon, M Erfanian, A Fioretti, PJ Jastreboff, S Kumar, MZ Rosenthal, R Rouw, D Schiller, J Simner, EA Storch, S Taylor, KRV Werff, CM Altimus en SM Raver. 2022. Consensus definition of Misophonia: A Delphi study. Frontiers in Neuroscience, 16:841816. doi: 10.3389/fnins.2022.841816.

Lees ook:

Geraasbesoedeling

Ledigheid; die duiwel se oorkussing, of nie heeltemal so eenvoudig nie?

  • 3

Kommentaar

  • Pieta van Deventer

    Dis so raak beskryf dat dit net nie waar is nie, behalwe dat dit nog erger is. Ek sal 'n verhandeling oor hiperakusis, misfonie en diesmeer kan skryf. Dis my vrou se grootste vrees dat iemand voor ons in die ouditorium sy selfoon sal aanskakel sodat die lig in my oë sal skyn, of dat 'n lekkergoedpapiertjie agter my kraak en nog erger, iemand wat agter my sit en gesels (veral op 'n selfoon), want ek ly aan totale klankverwarring en kan dan niks verstaan nie. Ek verloor myself heeltemal, ten spyte van my ma se goeie pogings tot opvoeding. Na 'n beroerte is dit net eens so erg, ja, veel, veel erger. Jy wil van jou kop af raak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top