Ledigheid; die duiwel se oorkussing, of nie heeltemal so eenvoudig nie?

  • 3

“Boredom is the conviction that you can't change... The shriek of unused capacities.”
(Saul Bellow, The Adventures of Augie March)

...
Die inoefening van ’n daaglikse ledigheidsessie van 60 minute (of minder) kan spoedig ’n gesonde gewoonte word. Op dié wyse kan negatiewe emosies wat met ledigheid in verband staan, deur positiewe belewenisse soos vreedsaamheid en rustigheid vervang word.
...

Die doel van hierdie artikel is om kortliks te verwys na die aard en betekenis van “ledigheid”. Verder word die risiko’s, nuttigheid en implikasies van geforseerde ledigheid en die rol van self-gereguleerde gedrag in hierdie verband bespreek. Die bevindings van enkele goed-gekontroleerde navorsingstudies wat oor ledigheid handel, word kortliks saamgevat om die kompleksiteit van die toestand verder te illustreer.

Richard Carlson (2007)¹ maak die stelling dat ’n mens by geleentheid jouself moet toelaat om spontaan bloot ledig te wees, dus nie iets produktiefs aanpak of uitvoer nie. Skep vir jou ’n situasie waar jy sonder iets om te doen is. Die individu word daagliks voortdurend aan ’n wye spektrum prikkels (onder andere visueel, ouditief, reuk, smaak, pyn, temperatuur) blootgestel wat dit bykans onmoontlik maak om vir ’n paar minute eenvoudig stil te sit sonder om iets aktiefs te doen. Die skrywer waag dit om te beweer dat die moderne mens vanaf “menslike wesens na menslike doeners” migreer. Die inoefening van ’n daaglikse ledigheidsessie van 60 minute (of minder) kan spoedig ’n gesonde gewoonte word. Op dié wyse kan negatiewe emosies wat met ledigheid in verband staan, deur positiewe belewenisse soos vreedsaamheid en rustigheid vervang word.

Hierdie vertrekpunt sluit aan by die mening van Toohey (2012:50) wat verklaar “for students, boredom can be a powerful stimulus to creativity”.

Dit val binne die grense van redelikheid om te verwag dat ’n wye spektrum opinies oor hierdie hipotetiese standpunt van Carlson ontlok sal word. Omdat die rol en impak van ledigheid ná aftrede na alle waarskynlikheid ’n groter werklikheid is as gedurende ’n persoon se aktiewe beroepsloopbaan, is Carlson se artikel per e-pos aan ’n groep afgetredenes (N=16) wat almal oor voor- en/of nagraadse akademiese kwalifikasies beskik, gestuur. Die versoek was soos volg: “Beste [naam]. Ek oorweeg dit om iets oor Richard Carlson se konsep van episodiese of spontane (occasional) ledigheid te skryf. Dink jy daar is enige meriete in sy redenasie?”

Die wye variasie in opinies deur die respondente in hierdie eenvoudige opname blyk duidelik. Een persoon het nie op die versoek gereageer nie. Twee was negatief/skepties oor die konsep, ses was neutraal/versigtig, terwyl sewe persone (met ander woorde 47% van dié wat wel gereageer het) hulself positief of besonder positief uitgespreek het oor die voorgestelde strategie van Carlson wat ’n “daaglikse ledigheidsessie” behels. Dit blyk duidelik op grond van die response van hierdie geleentheidsteekproef dat geen konsensus oor die onderwerp bestaan nie.

 

Kontekste

Die konteks waarin Carlson verwys na ’n strategie om ledigheid te hanteer, is dié van ’n persoon wat homself binne betekenisvolle gesinsisteme bevind en aktief besig is om beroepsdoelwitte na te streef. Elpidorou (2018) sluit hierby aan en beklemtoon dat die waarde van ledigheid veral daarin geleë is indien dit sporadies, episodies (of van tyd tot tyd) ervaar word deur individue met geïntegreerde gedrag wat gepaard gaan met minimale interne konflik. Persoonlikheidsintegrasie is ’n belangrike kenmerk van normale, goed-aangepaste persoonlikheidsfunksionering en word beskou as ’n voorvereiste om ledigheid doelgerig te hanteer.

Indien deur die lens(e) van ledigheid, armoede en die jeug gekyk word, bring die verskynsel egter ’n eiesoortige sosio-maatskaplike problematiek na vore, wat verband hou met swak skoolprestasie, vroeë skoolverlating, werkloosheid en werkskuheid, asook bendegeweld om maar enkele kwessies te noem.

Ander kontekste waarbinne die term ledigheid van toepassing is, is ledigheid binne die werksomgewing; die vaardighede om ledigheid sinvol te hanteer; ledigheid gedurende vakansietye; akademiese ledigheid, asook ledigheid by pasiënte met gediagnoseerde chroniese siektetoestande soos kanker en beroerteaanvalle.

Volgens Finkielsztein (2023) bestaan die opvatting dat ledigheid onvermydelik deel vorm van die alledaagse lewe wat een of ander tyd sy opwagting soos ’n onwelkome besoeker sal maak. Hierdie standpunt is waarskynlik korrek, maar dit bly steeds moeilik wetenskaplik-bewysbaar. Finkielsztein (2023) verwys na ’n Amerikaanse opname wat in 2017 met 3867 respondente uitgevoer is. Die bevinding was dat 63% van die deelnemers ten minste een keer elke sewe tot 10 dae ledigheid ervaar het. Die voorkoms en persepsie van ledigheid behoort ook tussen verskillende kultuurgroeperinge te wissel. Dit sou ook met redelike sekerheid verwag kon word dat ledigheid toegeneem het tydens die Covid-19-pandemie.

 

Kliniese beeld

Navorsing oor ledigheid kan vir eenvoudsonthalwe in twee breë kategorieë verdeel word, eerstens studies met die fokus op die aard van ledigheid as ’n permanente persoonlikheidstrek (trait boredom), en tweedens hoe om die negatiewe impak van die ervaring van ledigheid (state boredom) te verminder (Elpidorou 2018).

Ledigheid gaan meestal gepaard met die ervaring van negatiewe emosies en word dus as ’n aversiewe toestand beskryf. ʼn Ledige persoon voel “nie goed nie”, is rusteloos, letargies, moeg en geïrriteerd. Onder bepaalde omstandighede kan ledigheid ’n simptoom van kliniese depressie wees. Op sigself is ledigheid egter nie ’n formele psigiatries-diagnostiese toestand nie, en ledigheid verskyn ook nie meer deesdae in die DSM-(IV)-psigiatriese klassifikasiestelsel as ’n simptoom van die grenspersoonlikheidversteuring nie. Die kriterium wat ledigheid impliseer by grenspersoonlikheidversteurings verwys bloot na “’n chroniese gevoel van leegheid”.

Konsentrasie- en aandagprobleme is algemeen, die tyd gaan stadig verby en die persoon is ontevrede met sy onmiddellike omgewing. Die ledige situasie word waargeneem as nie-optimaal vir die persoon. Daar is gewoonlik ’n sterk behoefte te bespeur om by ’n ander taak of aktiwiteit betrokke te raak as die taak wat tans voorhande is.

Daar is ’n gebrek aan eenstemmigheid oor die aard van die fisiologiese prosesse wat onderliggend aan ledigheid is. Sommige kenners beskryf ledigheid as ’n toestand wat met verlaagde kortikale aktiwiteit gepaard gaan, ander beklemtoon weer dat verhoogde kortikale aktiwiteit die primêre kenmerk is. Daar is selfs groeperinge wat argumenteer dat beide verhoogde, sowel as verlaagde kortikale aktiwiteit die hoof-fisiologiese kenmerk van ledigheid is.

...
Met die nodige selfkennis en insig kan ledigheid op ’n konstruktiewe wyse hanteer word om sodoende beweging aan die gang te sit om nuwe moontlikhede te ondersoek.
...

Enkele teoretiese beginsels

Elpidorou (2018) argumenteer voorts dat ledigheid ’n tweeledige doel dien. Eerstens openbaar ledigheid ’n wanverhouding tussen dit wat ’n persoon begeer (die ideaal) en dit wat ontvang is (die werklikheid). Ledigheid stuur dus ’n duidelike boodskap of sein dat ’n onbevredigende, betekenislose of selfs banale situasie aan die orde van die dag is.

Tweedens dien ledigheid as ’n motiverende faktor om weg te beweeg van betekenisloosheid na die eksplorering van nuwe moontlikhede. Met die nodige selfkennis en insig kan ledigheid op ’n konstruktiewe wyse hanteer word om sodoende beweging aan die gang te sit om nuwe moontlikhede te ondersoek. Ledigheid op sigself reguleer gedrag deur te dien as ’n rigtingaanwyser (cue) vir die roete om aan te beweeg na groter betekenisvolheid.

 ’n Persoon moet egter oor die vermoë, kennis en insig beskik om ’n fase van ledigheid (wanneer dit wel opduik) deeglik te “lees” en te weet hoe om daarop te reageer. Elpidorou (2018:334) stel dit soos volg: “Thus, listening to what boredom tells us when it arises, and being able to use its motivational power in order to promote movement, can help not only to reduce the duration of our current boring experience but also to increase the chances of later finding ourselves in situations that are congruent with our desires and in line with our interests.”

 

Navorsing

Enkele portuurgeëvalueerde studies word hieronder kortliks bespreek ten einde die multi-dimensionaliteit en kompleksiteit van ledigheid te illustreer en beklemtoon.

  • Psigometrie

’n Kanadese navorsingsgroep (Struk, Carriere, Cheyne en Danckert 2017) doen ’n studie oor die psigometriese eienskappe van die verkorte vorm van die Boredom Proneness Scale. Hierdie assesseringsinstrument bestaan (slegs) uit agt vraelysitems en is ’n vinnige en tydekonomiese tegniek om in die kliniese praktyk toe te pas. Die vraelysitems bestaan uit die volgende stellings wat elk op ’n deurlopende skaal beantwoord word: ek het dikwels niks nuttigs om te doen nie; ek vind dit moeilik om myself besig te hou; baie dinge wat ek doen, is herhalend en vervelig; dit verg baie stimulasie om my sover te kry om iets te doen; die meeste dinge wat ek doen, motiveer my nie; in die meeste situasies is dit moeilik vir my om iets te vind wat my belangstelling prikkel; die meeste van die tyd sit ek bloot rond en doen niks nie; ek voel dof en half-dood, behalwe indien ek iets opwindends of selfs iets gevaarliks doen.

Die konstrukgeldigheid van dié vraelys is ondersoek deur van relatief-groot steekproewe (N= 2440 en 2502) gebruik te maak. Die tellings wat met behulp van die vraelys verkry is, het statisties beduidend met ’n reeks onafhanklike metings gekorreleer, insluitend aggressie, depressie, angs, stres en aandagafleibaarheid. Die interne konsekwentheid van die vraelys is as uitstekend (0,88) aangedui. Die vraelys kan derhalwe nuttig aangewend word om ledigheidsvatbaarheid op ’n meer betroubare wyse te evalueer, in vergelyking met soortgelyke tegnieke wat tans beskikbaar is.

  • Impulsiwiteit

Sundströma, Hjelm-Lidholma en Radon (2019) verbonde aan die Sweedse Instituut vir Kleinhandel Innovasiebevordering doen ’n kwalitatiewe studie oor die verband tussen ledigheid en impulsiewe kleinhandel-klereaankope. ’n Steekproef (N=14) Sweedse verbruikers tussen die ouderdomme 20–30 jaar word vir die doel gebruik. Die respondente sluit sewe mans en sewe vroue in.

In die algemeen kom vinnige besluitneming en hedonies-onweerstaanbare koopgedrag onder verbruikers meer dikwels in die kleinhandel-modeomgewing voor as in ander industrieë. Die vermoede bestaan dat ledigheid ’n rol speel in die bevordering van impulsiewe aanlyn aankope.

Die resultate van die studie dui daarop dat faktore soos lae pryse en maklike toegang tot modewebtuistes as snellers dien vir ledige verbruikers. Impulsiewe aankope funksioneer vir die respondente as ’n roete om te ontsnap aan die alledaagse, vervelige realiteit, daarom word bevrediging gesoek in materiële voorwerpe en in die opwinding om moontlik ’n winskoop op te raap. Die gedrag dien tipies as ’n hanteringsmeganisme om ledigheid en verveling te vermy. Negatiewe emosies wat met ledigheid in verband staan, word vervang deur positiewe emosies soos opwinding, plesier en sukses gedurende die koopproses.

Die impulsiewe aankoop van nuwe kledingstukke, met ledigheid as die onderliggende dryfveer, skep ’n pseudobeeld van individuele betekenisvolheid by die ledige verbruiker. Dit word aanbeveel dat kleinhandel-klerehandelaars wegbeweeg van ’n verkope-gedrewe strategie na strategieë met die fokus op sosiale gemeenskappe en ’n deelnemende kultuur. Die verbruiker behoort eerder blootgestel te word aan innoverende geleenthede om ledigheid te beperk, deurdat interessante aktiwiteite, soos om aan kompetisies deel te neem en buitengewone ervarings mee te maak, tydens die aanlyn aankoopproses beskikbaar gestel word.

  • Sadisme

In ’n resente Deense studie (Pfattheicher, Lazarević, Nielsen, Westgate, Krstić en Schindler 2023) wys die navorsers daarop dat die tradisionele skool ’n omgewing is waar toegeneentheid, sowel as wreedheid aan die orde van die dag kan wees. Die doel van hul ondersoek was om te bepaal of ledigheid ’n motiverende faktor is by die ontwikkeling van sadistiese insidente op skoolvlak. ’n Steekproef (N=1038) is gewerf, wat beide geslagte tussen die ouderdomme 10–18 jaar insluit. Die meetinstrumente het bestaan uit vraelyste wat die respondente self, sowel as deur portuurgroepe voltooi is. Die korrelasiekoëffisiënt (r=0,36) tussen sadisme en ledigheid was statisties beduidend op die 95%-sekerheidsvlak. Ledigheid speel hiervolgens dus wel ’n deurslaggewende rol by sadistiese gedragspatrone. Die voortspruitende vraag is op watter wyse ledigheid op skoolvlak verminder kan word.

  • Subtipes

Die doel van ’n Duitse navorsingsgroep (Goetz, Frenzel, Hall, Nett, Pekrun en Lipnevich 2014) se projek was om ledigheidsubgroepe te identifiseer deur middel van ’n ervaringsmonsteringmetode (experience sampling method). Dit kom daarop neer dat alle deelnemers aan die projek daaglikse gestruktureerde dagboekaantekeninge moes hou, waarvolgens hul deurlopende subjektiewe ervarings geboekstaaf word. Die inligting is daarna kwalitatief ontleed.

Twee steekproewe is gebruik en het onderskeidelik uit 63 Duitse universiteitstudente (gemiddelde ouderdom 24 jaar) en 80 Duitse hoërskoolleerders (gemiddelde ouderdom 17 jaar) bestaan. Vyf subtipes is geïdentifiseer op grond van verskille in kortikale aktiwiteit en verskille in affektiewe valensie. Die vyf subtipes en die kenmerkende gedragspatrone sluit in: onverskillige (indifferent) ledigheid (ontspanne, teruggetrokke, gee nie om nie); gekalibreerde ledigheid (onseker, ontvanklik vir verandering); soekende ledigheid (rusteloos, aktief op soek na verandering); reaktiewe ledigheid (hoogs reaktief en geïrriteerd met huidige situasie, doelbewus op soek na ander alternatiewe en verandering) en apatiese ledigheid (depressie en aangeleerde hulpeloosheid).

 

Samevatting

Die spreekwoord “ledigheid is die duiwel se oorkussing” dien normaalweg as ’n goed-bedoelde poging deur welmenende belangstellendes om iemand tydig te waarsku dat sy gedragspatrone in ’n problematiese rigting aan die beweeg is.

Wanneer ledigheid in die praktyk ter sprake kom, dui ’n analise van die situasie op die bestaan van ’n komplekse en multi-dimensionele toestand:

  • Ledigheid kan simptomaties wees van ’n onderliggende diagnoseerbare psigiese toestand soos kliniese depressie, en indien wel behoort die persoon verwys te word vir ’n volledige assessering deur ’n professionele persoon. Die psigometriese eienskappe van die verkorte Boredom Proneness Scale behoort in die Suid-Afrikaanse konteks verder ondersoek te word.
  • Indien ledigheid ’n doodnormale verskynsel is wat episodies voorkom, en die ledige persoon beskik oor goed-geïntegreerde persoonlikheidfunksies, is dit wel moontlik om deur middel van die aanwending van self-gereguleerde gedrag op ’n selfstandige en sinvolle wyse ’n fase van ledigheid met relatief min risiko te oorbrug. Dit kan selfs as ’n stimulus tot hoër vlakke van kreatiwiteit dien.
  • Die strategie van geforseerde episodiese ledigheid soos deur Richard Carlson voorgestel word, kan nuttig aangewend word deurdat tyd formeel ingeruim word om kreatief na te dink (mediteer) oor gebeurtenisse in die verlede, te besin oor die toekoms, huidige perspektiewe te herevalueer en rustigheid in die algemeen te bevorder.
  • Ledigheid is ’n terrein waarop omvattende en goeie kwaliteit internasionale navorsing tans gedoen word. Enkele studies word hierbo opgehaal om die uiteenlopendheid van die onderwerpe en bevindings te illustreer.
  • “Ledigheid verg weldeurdagte aksie” is waarskynlik ’n meer positiewe, versigtige en gebalanseerde uitspraak wanneer dit kom by welmenende raadgewing oor en die professionele hantering van ledigheid.

Ten slotte:

Wat Richard Carlson se voorgestelde strategie van vrywillige/geforseerde weeklikse ledigheidsessies betref, kan dit aan die een kant ’n positiewe aktiwiteit wees en aan die ander kant ’n gevaarlike onderneming (veral indien die literatuurbevindings en subtipes van ledigheid hierbo in ag geneem word). Hetsy die sessies in groeps- of individuele verband ingeoefen word, word aanbeveel dat dit gepaard gaan met deeglike toesig en kontrole (byvoorbeeld deur ’n mentor, lewensafrigter, maatskaplike werker, sielkundige of medikus).

 

Bronnelys

Carlson, R. 2007. Do not sweat the small stuff. Omnibus-uitgawe. Londen: Hodder & Stoughton

Elpidorou, A. 2018. The good of boredom. Philosophical Psychology, 31(3):323–351. DOI: 10.1080/09515089.2017.1346240

Finkielsztein, M. 2023. The Significance of Boredom: A Literature Review. Journal of Boredom Studies, 1. https://doi.org/10.5281/zenodo.7144313

Goetz, T., A.C. Frenzel, N.C. Hall, U.E. Nett, R. Pekrun en A.A. Lipnevich. 2014. Types of boredom. An experience sampling approach. Motivation and Emotion, 38:401–419. DOI 10.1007/s11031-013-9385-y

Pfattheicher, S., L.B. Lazarević, Y.A. Nielsen, E.C. Westgate, K. Krstić en S. Schindler. 2023. I enjoy hurting my classmates: On the relation of boredom and sadism in schools. Journal of School Psychology, 96:41–56. https://doi.org/10.1016/j.jsp.2022.10.008

Struk, A.A., J.S.A. Carriere, J.A. Cheyne en J. Danckert. 2017. A Short Boredom Proneness Scale: Development and Psychometric Properties. Assessment, 24(3):346–359

Sundström, M., S. Hjelm-Lidholm en A. Radon. 2019. Clicking the boredom away. Exploring impulse fashion buying behavior online. Journal of Retailing and Consumer Services, 47:150–156

Toohey, P. 2012. Bored? Perhaps you are just thinking very hard. Journal of the Royal Society for the Encouragement of Arts, Manufactures and Commerce, 158(5550):50. URL: https://www.jstor.org/stable/10.2307/26204131

 

Eindnotas

¹Die boekpublikasie deur Carlson is nie ’n akademiese bron nie, maar wel ’n teks wat op die selfhelp- en populêre mark gerig is.

²Tydens die skryf van hierdie artikel is in geen opsig gebruik gemaak van die kletsbot ChatGPT of enige ander taalverbeteringsmodel wat op Kunsmatige Intelligensie berus nie. 

  • 3

Kommentaar

  • Charl Cilliers

    Baie interessant, inderdaad ook omdat "geen konsensus bestaan oor die onderwerp" nie.

    Ek stem ook saam: "ledigheid verg weldeurdagte aksie".

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top