
While some countries have implemented institutional policies to regulate its use to some extent, there remains a lack of standardized rules and procedures for the collection and retrieval of sperm after death. It is essential to introduce institutional guidelines to facilitate requests for assisted reproductive technology (ART) following successful sperm retrieval. (Vidua, Dubey, Budholia, Tandon, Arora en Patnaik 2024)
Agtergrond
Die onttrekking van spermatosoa by ’n man nadat hy gesterf het, is bekend as postume, nadoodse of post mortem-spermonttrekking. Rothman (1980:512) het reeds meer as 40 jaar gelede die eerste geval van postume spermonttrekking in die ginekologiese vakliteratuur beskryf. Dit was egter nie ’n klassieke geval nie omdat die pasiënt breindood was ten tyde van die prosedure, en dus nog nie formeel gesterf het nie. Die betrokke 30-jarige man het ’n noodlottige breinbesering opgedoen in ’n motorongeluk. Op versoek van sy familie is ’n poging aangewend om sy spermselle met die oog op latere voortplanting te bewaar. Verskillende voordoodse spermonttrekkingsmetodes (soos elektro-ejakulasie) het onprakties blyk te wees. Uiteindelik is chirurgie uitgevoer om spermatosoa uit die spermbuisstelsel (sperm-containing excurrent duct system) te onttrek.
Jequier en Zhang (2014:2618) beveel aan dat daar krities nagedink word oor die hantering van hierdie soort prosedure. Volgens hulle behoort die postume herwinning van spermatosoa nie slegs uit ’n vinnige naaldbiopsie en die bevriesing van enkele spermselle te bestaan nie. Die weefsel moet noukeurig ondersoek en spermbeweging moet deeglik beoordeel word. Die uitvoering van lewensvatbaarheidstoetse is wenslik. Indien die pasiënt moet betaal vir die berging van sperm wat dood/onaktief blyk te wees, kan dít onnodige hofgedinge meebring. Dit is ook beter om eerder te veel sperm as te min te onttrek. Hoeveel weefsel verwyder word, is minder belangrik as die risiko dat te min geneem word, soos wat wel met naaldbiopsies kan gebeur.
Postume bevrugting bestaan uit drie fases (Cherkassky 2023:683), naamlik die herwinning, berging en gebruik van manlike gamete. Gebruik sluit in die inplanting van sperm in die baarmoeder en die ontwikkeling van ’n embrio. Volgens die Engelse reg moet toestemming vir elke fase verkry word. Daar val die herwinning van gamete onder die bepalings van die gemenereg en die ander fases onder die Wet op Menslike Bevrugting en Embriologie (soos gewysig in 2008).
Die regsreëls oor voortplanting in Suid-Afrika het aanvanklik hoofsaaklik gehandel oor individue se reg om toegang tot voorbehoedmiddels te verkry en swangerskappe binne die wetsvoorgeskrewe tydraamwerke te beëindig. Die klem was dus op die reg om voortplanting te voorkom. Die toename in die gebruik van geassisteerde reproduktiewe tegnologie het egter die klem geleidelik na andersoortige en diverse voortplantingsregte verskuif. Veral die klemverskuiwing ten opsigte van individue se reg om in vitro-metodes te gebruik, het die omvang van menslike voortplantingsvryhede aansienlik uitgebrei. Hierdie menseregte behoort egter ondersteun te word deur ’n wetsraamwerk wat behoorlik daaraan uitvoering gee (Van Niekerk 2017).
Wessels (s.j.), ’n kenner op die gebied van surrogaat- en voortplantingsreg, wys daarop dat die Suid-Afrikaanse regstelsel nie die kwessie van postume spermonttrekking en daaropvolgende bevrugting direk en uitdruklik hanteer nie. Regs- en mediese praktisyns wat daarmee te doen kry, moet dus ’n grondige kennis van verskeie stukke wetgewing hê, naamlik die Nasionale Gesondheidswet 61 van 2003, die Regulasies rakende die Kunsmatige Bevrugting van Persone van 2016, die Kinderwet 38 van 2005 en die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996. Hierdie wetgewing word in die volgende afdeling kortliks uiteengesit.
Weens die komplekse gevolge van postume spermonttrekking, is dit belangrik dat mediese sentrums beleidsdokumente daaroor saamstel. In dié verband het Waler en Ramasamy (2016) die beleidsdokumente nagegaan van 50 Amerikaanse mediese fakulteite wat US News and World Report op grond van die instellings se navorsingsuitsette as die voorste 50 bestempel het. Slegs 14 van dié fakulteite het Waler en Ramasamy se navorsingsvraelys voltooi. Vyf (35,7%) het uiteindelik beleidsdokumente oor postume spermonttrekking beskikbaar gestel en nege (64,3%) het geen beleid oor dié kwessie gehad nie.
In die volgende afdelings van hierdie artikel1 word die Suid-Afrikaanse wetregtelike agtergrond en twee Suid-Afrikaanse hofsake wat oor postume spermonttrekking moes beslis en in watter mate regsekerheid bestaan, kortliks bespreek. Die besware teen postume spermonttrekking word ook uitgelig. Teen die agtergrond van onlangse ontwikkelings in die Israelse reg, word die implikasies van die nadoodse herwinning en gebruik van sperm dan van nader bekyk. Daar word hoofsaaklik op ewekniebeoordeelde artikels uit gerekende vaktydskrifte gesteun. Hiervoor is erkende elektroniese databasisse soos EbscoHost en MedLine geraadpleeg.
Suid-Afrikaanse wetgewing
Die regsposisie oor postume, nadoodse of post mortem-spermonttrekking word nie uitdruklik in Suid-Afrikaanse wetgewing gereël nie. Die wetgewing word hierna kortliks uiteengesit, en daarna word verwys na twee hofuitsprake.
Kunsmatige bevrugting word gereguleer ingevolge die Regulasies rakende Kunsmatige Bevrugting van Persone wat gepubliseer is onder Artikel 68 van die Nasionale Gesondheidswet 61 van 2003. Volgens Loubser (2024) dien die onderstaande as ’n kort en bondige opsomming van die regulasies:
- Geen persoon, behalwe ’n bevoegde persoon, mag ’n gameet verwyder of ’n gameet laat verwyder of onttrek van die liggaam van ’n gameetskenker vir die doel van kunsmatige bevrugting nie.
- Gamete mag slegs onttrek word van, en slegs gebruik word in, lewende persone op voorwaarde dat die gamete onttrek of verwyder is ingevolge die bepalings van die Nasionale Gesondheidswet en die Regulasies. (Die Nasionale Gesondheidswet bevat egter geen bepalings rakende die verwydering of gebruik van gamete nie.)
- Die woordgebruik in Regulasies 7(c) en (j) toon aan dat die wetgewer voorsiening maak vir gameetskenkings deur persone wat mekaar ken. Oop-identiteit gameetskenkings word dus uitdruklik in die wetgewing wat kunsmatige bevrugting reguleer, erken. Dit is opmerklik dat daar geen bepalings in die Nasionale Gesondheidswet of die Regulasies is wat die gebruik van gamete van ’n skenker wat oorlede is, verbied nie.
- Die enigste verbodsbepalings in die Regulasies is die volgende: Indien Regulasie 8(2)(e) saamgelees word met Regulasie 6, is die gebruik van geskenkte gamete verbode sodra ’n maksimum van ses kinders deur kunsmatige bevrugting verwek word en lewend gebore is uit die gamete van ’n spesifieke gameetskenker. Ingevolge Regulasie 10(1)(b) en (c) mag gamete nie vir kunsmatige bevrugting gebruik word as die gameetskenker se toetsresultate, ontleding of ondersoek waarna in Regulasie 7(e) tot (g) verwys word, nog nie beskikbaar is nie. Dit mag ook nie vir kunsmatige bevrugting gebruik word indien die gameetskenker jonger as 18 jaar is. Indien ernstige genetiese toestande of ’n geneties oordraagbare siekte by die skenker of ontvanger aanwesig is, mag die gamete van daardie skenker (as hy ’n draer is) nie vir kunsmatige bevrugting gebruik word nie.
- Die Grondwet beskerm in artikel 12(2)(a) elke persoon se reg van besluitneming oor voortplanting. Die implikasies van hierdie grondwetlike reg vir postume spermonttrekking en voortplanting word bepaal deur die balansering van alle betrokkenes se regte.
- Eiendomsreg ten opsigte van gamete is ’n verdere netelige regskwessie.
........
Reproduktiewe mediese tegnologie ontwikkel teen ’n vinnige tempo. Dit is duidelik uit ’n oorsig van beide plaaslike en Westerse internasionale regsraamwerke dat die wetgewer dit problematies vind om op hoogte te bly van hierdie ontwikkelings.
........
Onder die Suid-Afrikaanse wetgewing is eiendomsregte van gamete en embrio’s ’n komplekse medies-regskwessie, wat oor die potensiaal beskik om massiewe probleme en grondwetlike uitdagings te skep (Wessels s.j.).
Reproduktiewe mediese tegnologie ontwikkel teen ’n vinnige tempo. Dit is duidelik uit ’n oorsig van beide plaaslike en Westerse internasionale regsraamwerke dat die wetgewer dit problematies vind om op hoogte te bly van hierdie ontwikkelings. Dit is veral duidelik wat die kwessie van eiendomsregte van gamete en embrio’s betref.
Die gebrek aan voldoende wetlike raamwerke skep vir mediese spesialiste, infertiliteitsklinieke en pasiënte wat die dienste benut, risiko’s van toekomstige onsekerhede en litigasie, ongeag of sodanige litigasie teen die spesialis, die infertiliteitskliniek of ’n ander diensontvanger is.
Hofuitsprake
In NC v Aevitas Fertility Clinic (23236/2017) (2018) ZAWCHC (23 Januarie 2018) (Thaldar 2018:471) moes die Suid-Afrikaanse hooggeregshof die eerste keer oor die kwessie van postume voortplanting beslis. Die hof het tot die gevolgtrekking gekom dat die applikant se oorlede man ingestem het dat sy sperm postuum gebruik word, en dat hierdie vereiste wel nagekom is. Die applikant was gevolglik daarop geregtig om haar oorlede man se sperm vir voortplanting te gebruik.
Die uitspraak het meer regsekerheid oor die grondliggende aspekte van postume voortplanting geskep. Die relevante wetgewing laat postume voortplanting toe, en die oorlewende huweliks- of lewensmaat het ’n wettige reg om gamete te berg en vir bevrugting te gebruik.
Hierdie reg kan onderworpe wees aan die oorledene se toestemming, hoewel dít nie ’n geldige afleiding is op grond van die uitspraak nie. Die uitspraak het dit duidelik gemaak dat toestemming deur die oorledene ’n voldoende vereiste vir postume voortplanting is; of dit egter ’n noodsaaklike vereiste is, is nog onseker.
In gevalle waar die feite van dié in NC v Aevitas Fertility Clinic verskil (soos waar daar geen skriftelike toestemming óf geen bewys van toestemming bestaan nie), reken Thaldar (2018) dit is raadsaam om die hof te nader voordat daar met postume voortplanting voortgegaan word. Verdere vertolking van die toepaslike regsbeginsels word waarskynlik dan vereis.
In Ex Parte SN (2020/10242) (2020) ZAGHC (7 Mei 2020) – Suid-Afrika se tweede hofsaak oor postume voortplanting – het ’n vrou (SN) die hooggeregshof genader om ’n dringende bevel wat haar sou toelaat om sperm te laat verwyder uit die liggaam van haar man, wat in daardie stadium in ’n koma in die hospitaal was, sodat sy dit ná sy dood vir voortplanting kon gebruik (Shozi 2021:28). Die aansoek het twee regsvrae laat ontstaan: (i) of gameetverwydering mag plaasvind waar die persoon wie se gamete ter sprake is, nie in staat is om toestemming te gee nie; en (ii) of gamete wat op dié manier verwyder word, vir postume voortplanting gebruik mag word.
Die hof het bevind dat SN die gamete mag laat verwyder, maar het nie uitspraak gelewer oor of sy dit vir postume voortplanting mag gebruik nie. Omdat die saak op ’n dringende grondslag aangehoor is, het die hof nie redes verstrek nie. Die hof se gevolgtrekking was dat waar ’n persoon oor magtiging beskik om namens ’n (komateuse) pasiënt tot mediese prosedures toe te stem, sodanige persoon ook tot gameetverwydering kan toestem. Of die gamete vir postume bevrugting gebruik mag word, moet egter deur ’n hof bepaal word omdat andersoortige regs- en sielkundige belange dan ter sprake kom.
Besware teen postume voortplanting
Shozi (2021:31) wys op die besware wat dikwels teen postume voortplanting geopper word, veral wat betref die moontlike impak op die kind(ers) wat gevolglik gebore word. Die besware word in drie stellings saamgevat, naamlik dat postume voortplanting kinders benadeel (i) deurdat hulle in enkelouerhuishoudings gebore word; (ii) deur hulle te ontneem van die voorreg om hulle biologiese pa te leer ken; en (iii) omdat erfporsies uit die gestorwe pa se boedel ontoelaatbaar is. Indien daar objektief aangetoon kan word dat postume spermonttrekking nié in belang is van kinders wat op dié wyse gebore word nie, behoort die wettigheid daarvan heroorweeg te word.
Shozi (2021) se drie stellings verg kritiese ondersoek. Menslike gedrag is uiters kompleks en uniek. Twee persone kan heeltemal verskillend op vergelykbare eksterne stimuli in hulle fisiese en sielkundige omgewings reageer. Persoon A skakel dalk betreklik maklik by ’n enkelouer- of hersaamgestelde gesin in, en persoon B moontlik nié. Faktore soos maatskaplike status, opvoedingsvlak, persoonlike waardes en ouerskapstyle bepaal die gehalte van die interpersoonlike verhoudings in gesinne. Die veralgemening dat dit kinders skade aandoen om as gevolg van postume voortplanting in enkelouergesinne gebore te word (stelling i), hou dus nie in alle opsigte stand nie.
Eweneens kan dit vir sommige individue traumaties wees om later te hoor dat hulle gebore is ná die onttrekking van spermatosoa by hulle oorlede biologiese pa, wat hulle gevolglik nooit sal leer ken nie (stelling ii). Dit kan selfs tot ’n identiteitskrisis lei, met gepaardgaande psigopatologie wat geleidelik ontwikkel. Daarteenoor toon navorsing oor aanneming sowel as bevrugting met die sperm van ’n anonieme skenker dat identiteitskrisisse nié noodwendig volg waar inligting oor die biologiese pa ontbreek nie. Kinders kan met verloop van tyd die onomkeerbaarheid van die situasie persoonlik verwerk en aanvaar (met of sonder professionele hulp), na gelang van hulle persoonlikheidstipe en ander verbandhoudende sielkundige faktore.
Wat erflatings betref (stelling iii), moet die betrokke bepalings van die erfreg dalk gewysig word indien dit sou blyk dat daar deur die uitskakeling van vaderlike erfporsies gediskrimineer word teen ’n kind wat deur middel van postume bevrugting gebore is.
Die standpunt in Israel
Volgens Ravitsky en Amir (2024) het die onlangse gebeure in Israel, veral die terreuraanvalle en moorde op 7 Oktober 2023, asook die vele soldate wat sedertdien in Operasie Swords of Iron gesterf het (Oreg en Taubman-Ben-Ari 2024), net wéér die soeklig gewerp op die dilemma van postume spermonttrekking. Uit ’n fenomenologiese oogpunt kan versoeke vir postume spermonttrekking by die gesneuwelde soldate beskou word as ’n behoefte om aan die gestorwe jong mans ’n simboliese onsterflikheid te verleen, op sowel ’n persoonlike as ’n nasionale vlak (Oreg en Taubman-Ben-Ari 2024).
Die verdraagsaamheid van Israel se benadering tot die kwessie is opvallend. Dit word aangevuur deur ’n plaaslike kultuur wat besondere waarde heg aan menslike voortplanting en die voortgesette herdenking en viering van oorledenes se lewe. Israel se beleid oor postume spermonttrekking is nie in amptelike wetgewing vasgelê nie, maar berus op die gesag van die riglyne wat die Israelse prokureur-generaal in 2003 uitgereik het. Hierdie riglyne laat postume spermonttrekking op versoek van die oorledene se weduwee en met die goedkeuring van gemagtigde medici toe.
Ofskoon dit betreklik liberaal is, is die Israelse benadering nie sonder beperkings nie (Ravitsky en Amir 2024). Eerstens verleen die riglyne slegs aan die oorledene se weduwee die reg om die spermherwinningsproses aan te voor; enige ander party (waaronder die oorledene se ouers) moet ’n hofbevel aanvra indien hulle op die reg sou wou aanspraak maak. ’n Hofbevel word ook vereis om die sperm vir postume bevrugting te gebruik. Voordat bevrugting mag plaasvind, moet daar bewys word dat dit wél die oorledene se begeerte was om ’n nageslag te hê of – meer indirek – dat dié begeerte geïmpliseer is.
Burgerlike inisiatiewe soos die “biologiese testament”, wat deur die New Family Organization bestuur word, probeer die onsekerheid met betrekking tot die prosedure uitskakel deur soldate vóór hulle ontplooiing aan die gevegsfront die geleentheid te bied om hulle wense oor voortplanting formeel op skrif te stel. Dít stel dan hulle familielede in staat om, indien hulle sou sneuwel, hulle sperm postuum te onttrek en vir voortplanting te gebruik (Ravitsky en Amir 2024).
Die riglyne van die Israelse prokureur-generaal is boonop onlangs gewysig om ook die ouers van gestorwe soldate toe te laat om ’n direkte versoek aan die gesondheidsministerie te rig om hulle seuns se sperm postuum te onttrek. Sodoende word die vereiste van ’n hofbevel omseil. Hierdie beleidswysiging of -toegewing het tot ’n toename in die getal postume spermonttrekkings gelei. Volgens ’n verslag wat die gesondheidsministerie op 7 Februarie 2024 aan die gesondheidskomitee van die Knesset voorgelê het, is daar sedert 7 Oktober 2023 suksesvolle spermonttrekkings op 110 gesneuwelde soldate en 10 gestorwe burgerlikes uitgevoer. 82 van die versoeke is deur ouers gerig en 28 deur eggenotes (Ravitsky en Amir 2024).
Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat die Israelse riglyne ad hoc opgestel is om die traumatiese gebeure van 7 Oktober 2023 en die omstandighede daarná op ’n strategiese wyse die hoof te bied. Daar was ’n dringende behoefte aan ’n vinnige, direkte reaksie op die groot getal slagoffers en die beperkte beskikbare tyd vir die onttrekkingsprosedure (24 tot 72 uur ná afsterwe).
Landau (2004) spreek hom sterk uit teen die riglyne. Hy voer aan dat persoonlike outonomie sentraal in die dokument geplaas word, met die gevolg dat alle ander relevante etiese beginsels daardeur oorheers word. Hy beklemtoon verder dat inbreuk gemaak word op die regte van die oorledene en bevraagteken die legitimiteit daarvan om die veronderstelde wense van die oorledene postuum te probeer vasstel. Landau (2004) is ook gekant daarteen dat postume spermonttrekking primêr as ’n mediese prosedure in die riglyne omskryf word. Hy voer aan dat die mediese wetenskap nie verhef kan word bo morele respek vir die dooies nie.
Etiese, menseregte-, maatskaplike en verdelendegeregtigheidsimplikasies
Nietemin noodsaak hierdie ontwikkelings ’n dieper ontleding van en gesprek oor postume spermonttrekking en voortplanting in die algemeen. Etiese dilemmas sluit in die kwessie van toestemming en die outonomie van die oorledene. By gebrek aan uitdruklike toestemming bestaan die risiko dat die oorledene se wense nie gerespekteer word nie, wat op morele miskenning van die behoeftes van die gestorwene neerkom. Soos Shozi (2021) hier bo, beklemtoon Ravitsky en Amir (2024) ook die toekomstige belange van die ongebore kind wat sonder die biologiese pa moet grootword. Die moontlike emosionele en sielkundige impak op die kind is weliswaar ’n belangrike oorweging in die debat.
........
Die spanning tussen sekulêre wetgewing en die Joodse godsdienstige wette (Halacha) beklemtoon die uitdagings vir samelewings wanneer daar pogings aangewend word om moderne wetenskaplike praktyke met tradisionele waardes te versoen.
........
Menseregte-implikasies is kompleks. Die regte van die oorledene, die huweliksmaat, die ouers én die toekomstige kind moet almal gebalanseer word. Verskillende lande benader hierdie kwessies op uiteenlopende maniere, wat kan lei tot konflik oor watter land se wette van toepassing is ingeval die betrokkenes van verskillende nasionaliteite is. Duidelike en eenvormige wetgewing is van die allergrootste belang om regsonsekerheid uit die weg te ruim en alle betrokkenes se regte te beskerm.
Maatskaplike implikasies sluit in die invloed van en belangebotsings tussen kulturele en godsdienstige groepe met uiteenlopende waardes en norme. In Israel speel godsdienstige oortuigings byvoorbeeld ’n beduidende rol in die debat oor postume voortplanting. Die spanning tussen sekulêre wetgewing en die Joodse godsdienstige wette (Halacha) beklemtoon die uitdagings vir samelewings wanneer daar pogings aangewend word om moderne wetenskaplike praktyke met tradisionele waardes te versoen.
Laastens is daar die implikasie van verdelende/sosiale geregtigheid (distributive justice) – die vraag of spesiale voorregte aan spesifieke groepe, soos die gesinne van gesneuwelde soldate, toegestaan behoort te word. In wese gaan dit oor hoe samelewingshulpbronne verdeel en in watter mate individuele bydraes erken, waardeer en geëer behoort te word.
Die debat oor postume spermonttrekking is dus nie slegs tegnies nie, maar hou ook diepgaande implikasies in vir die waardigheid van gestorwenes, die belange van die lewendes en respek vir samelewings.
Kerngedagtes
- Postume (of nadoodse) spermonttrekking behels die herwinning van spermatosoa nadat ’n man reeds gesterf het. Sedert dit meer as vier dekades gelede die eerste keer in die mediese literatuur verskyn het, is dié praktyk al uit ’n etiese, mediese en regsoogpunt bespreek.
- Die tegnieke vir postume spermonttrekking sluit chirurgiese herwinning van spermatosoa uit die spermbuisstelsel in. Dit vereis die noukeurige bepaling van spermbeweging en -lewensvatbaarheid om suksesvol te wees. Foute kan tot regsgedinge lei en daarom is die korrekte hoeveelheid weefselonttrekking noodsaaklik.
- In Suid-Afrika kom voortplantingsregte ál hoe meer in die soeklig, veral met die opgang van geassisteerde reproduktiewe tegnologie. Die howe moes al uitspraak lewer oor hierdie komplekse nuwe ontwikkelings, waaronder die reg om sperm postuum te onttrek en vir voortplanting te gebruik.
- Die bevinding in NC v Aevitas Fertility Clinic het meer duidelikheid geskep oor oorlewende huweliks- of lewensmaats se reg om sperm postuum te gebruik, mits die oorledene voor sy afsterwe formeel toestemming gegee het. Hierdie saak het die regslandskap in dié verband help vorm en het onder meer beklemtoon hoe belangrik die doeltreffende bestuur van noodsaaklike dokumente en bewyse is.
- Op internasionale terrein is daar ’n wye verskeidenheid benaderings tot postume spermonttrekking en lande soos Israel het as gevolg van bepaalde omstandighede ’n meer verdraagsame beleid.
- Implikasies sluit in respek vir die oorledene se wense, die regte van die kind wat as gevolg van postume spermonttrekking gebore word en die versoening van moderne mediese praktyke met kulturele en godsdienstige waardes en beginsels.
Eindnota
[1] Dankie aan Andreas van Wyk en Max Loubser vir hulle bydraes en kommentaar, wat die gehalte van hierdie artikel verbeter het. Die inhoud van die artikel is hoofsaaklik gegrond op die vertaling en parafrasering van uitgesoekte teksgedeeltes uit die bronne wat in die bibliografie verskyn, buiten die gedeeltes wat die skrywer se eie menings en oorspronklike denke verteenwoordig.
Wat leemtes in hierdie studie betref, sou ’n meer volledige teoretiese begronding in verband met die simboliese betekenis van menslike voortplanting (veral wat die politieke en genderdimensies betref), sowel as meer besonderhede oor die proksimale ouerskapstyl wat veral in Israel gewild is, regverdig kon word.
Bibliografie
Cherkassky, L. 2023. Incapacitous patients, assisted reproductive technology, and the importance of informed consent. Legal Studies, 43(4):676–94. https://doi.org/10.1017/lst.2023.10. https://www.cambridge.org/core/journals/legal-studies/article/abs/incapacitous-patients-assisted-reproductive-technology-and-the-importance-of-informed-consent/767BB8D4E0A95F874B028CB03A329C2A (17 Junie 2024 geraadpleeg).
Jequier, A.M. en M. Zhang. 2014. Practical problems in the posthumous retrieval of sperm. Human Reproduction, 29(12):2615–19. https://doi.org/10.1093/humrep/deu185. https://academic.oup.com/humrep/article/29/12/2615/628043 (20 Junie 2024 geraadpleeg).
Landau, R. 2004. Posthumous sperm retrieval for the purpose of later insemination or IVF in Israel: an ethical and psychosocial critique. Human Reproduction, 19(9):1952–56. https://doi.org/10.1093/humrep/deh360. https://academic.oup.com/humrep/article/19/9/1952/782272 (1 Augustus 2024 geraadpleeg).
Loubser, M. 2024. Persoonlike kommunikasie. 1 Augustus, Stellenbosch.
Oreg, A. en O. Taubman-Ben-Ari. 2024. Understanding posthumous sperm retrieval during war through a terror management theory perspective. Social Science and Medicine, 349:116870. https://doi.org/10.1016/j.socscimed.2024.116870. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0277953624003149 (15 Junie 2024 geraadpleeg).
Ravitsky, V. en R. Amir. 2024. Redefining remembrance: Posthumous sperm retrieval in Israel after 7 October. Progress Educational Trust. https://www.progress.org.uk/redefining-remembrance-posthumous-sperm-retrieval-in-israel-after-7-october/ (20 Junie 2024 geraadpleeg).
Rothman, C.M. 1980. A method for obtaining viable sperm in the postmortem state. Fertility and Sterility, 34(5):512. https://doi.org/10.1016/S0015-0282(16)45147-2. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0015028216451472 (16 Junie 2024 geraadpleeg).
Shozi, B. 2021. Legal issues in posthumous conception using gametes removed from a comatose male: The case of Ex Parte SN. South African Journal of Bioethics and Law, 14(1):28–32. https://doi.org/10.7196/SAJBL.2021.v14i1.728. http://www.sajbl.org.za/index.php/sajbl/article/view/672/667 (21 Junie 2024 geraadpleeg).
Thaldar, D.W. 2018. Posthumous conception: Recent legal developments in South Africa. South African Medical Journal, 108(6):471–3. https://doi.org/10.7196/SAMJ.2018.v108i6.13182. http://www.samj.org.za/index.php/samj/article/view/12310/8498 (20 Junie 2024 geraadpleeg).
Van Niekerk, C. 2017. Assisted reproductive technologies and the right to reproduce under South African law. Potchefstroom Electronic Law Journal, 20(1). http://dx.doi.org/10.17159/1727-3781/2017/v20n0a1305. https://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S1727-37812017000100023 (20 Junie 2024 geraadpleeg).
Vidua, R.K., N. Dubey, T. Budholia, A. Tandon, A. Arora en M. Patnaik. 2024. Ethical considerations in post-mortem sperm retrieval: A comprehensive review. JBRA Assisted Reproduction, 28(2):349–52. https://doi.org/10.5935/1518-0557.20240022. https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/38530764/ (17 Junie 2024 geraadpleeg).
Waler, N. en R. Ramasamy. 2016. Policy on posthumous sperm retrieval: Survey of 50 major academic medical centers. American Society for Reproductive Medicine Abstracts, 106(3):e44. https://www.fertstert.org/article/S0015-0282(16)61550-9/pdf (10 Junie 2024 geraadpleeg).
Wessels, T. The law on posthumous reproduction. s.j. https://www.traceyleighwessels.com/posthumous-reproduction/law-posthumous-reproduction/ (19 Junie 2024 geraadpleeg).
Die multidimensionele aard van spermskenkings en kunsmatige spermskenkerinseminasie

