
Prent: https://pixabay.com/vectors/safe-locked-security-lock-575395/
Donor inseminations in the United States are estimated to result in approximately 60,000 births annually, producing a minimum of one million children since the 1950s. Egg donation is also on the rise, since its introduction in 1984, with the most recent estimate of 5,764 live birth deliveries producing a total of 8,044 live born children (due to multiples) in 2003. Parents in these families face a dilemma whether to share with their offspring the information about the circumstances of their conception or keep it a secret (Berger en Paul 2008: 553–4).
Alle inligting is nie altyd vir Jan Alleman maklik toeganklik en beskikbaar nie. Enkele voorbeelde van ontoeganklike inligting is die volgende: sekere argiefmateriaal bly vir spesifieke tydperke geslote vir die algemene publiek en navorsers; geklassifiseerde inligting in die weermag; inligting wat in verband staan met die aktiwiteite van intelligensie- en geheimedienste wat as ’n bedreiging vir die staat beskou word; besigheidsgeheime, asook vertroulike mediese en sielkundige inligting in verband met pasiënte en kliënte.
Gesinsgeheime vorm egter ’n aparte kategorie van ontoeganklike inligting en presenteer in uiteenlopende vlakke van intensiteit binne die gesinsverband. Die impak van geheimhouding kan wissel van uiters dramaties of katastrofaal tot byna geen noemenswaardige effekte of nadelige gevolge vir die draer van die geheim of die res van die gesin nie. Die gebruik van sogenaamde onskuldige, geheime segswyses of geheime grappies tussen ouers en kinders binne ’n gesonde gesinsverband kan dien as voorbeelde van gesinsgeheime wat op ’n humoristiese wyse selfs meehelp om gesinsbande te versterk.
Die spesifieke doel van hierdie artikel is om die rol en implikasies van geheimhouding en anonimiteit in gesinne waar ’n swangerskap met behulp van skenkerinseminasie (kunsmatige inseminasie met skenkersaad of KIS) geïnisieer is, kortliks te bespreek. Enkele internasionale navorsingstudies is vir dié doel deur middel van die databasis EbscoHost geselekteer deur die soekterme secrecy, anonymity en artificial insemination by donor te gebruik.
Die artikel is hoofsaaklik verkennend en sekondêr van aard.
Enkele algemene teoretiese oorwegings
.............
’n Gesin vorm altyd ’n komplekse sisteem. Die sielkundige belewenisse van die indiwidue wat deel van die sisteem uitmaak, staan in verhoudings tot mekaar met dinamiese interaksies as onderbou. Streng geheimhouding in verband met komplekse en traumatiese aangeleenthede binne gesinsverband kan gevolglik nooit heeltemal in isolasie plaasvind nie.
..............
’n Gesin vorm altyd ’n komplekse sisteem. Die sielkundige belewenisse van die indiwidue wat deel van die sisteem uitmaak, staan in verhoudings tot mekaar met dinamiese interaksies as onderbou. Streng geheimhouding in verband met komplekse en traumatiese aangeleenthede binne gesinsverband kan gevolglik nooit heeltemal in isolasie plaasvind nie.
Epstein (2019) beweer dat ernstige gesinskwessies dikwels geheim gehou word om gesinne teen negatiewe oordeel en kritiek te beskerm, asook om moontlike strafregterlike vervolging of ontnugtering weens foutiewe besluitneming in die verlede te voorkom. Hierdie uitgangspunt staan bekend as die verhoudingsgebaseerde motivering vir die bewaring van gesinsgeheime (Berger en Paul 2008).
Drie tipes gesinsgeheime is onderskeibaar naamlik indiwiduele, interne en gedeelde gesinsgeheime.
- Indiwiduele geheimhouding verwys na situasies wanneer geheime deur een lid van ’n gesin bewaar word, byvoorbeeld ’n buite-egtelike verhouding. Hierdie tipe geheim kom normaalweg neer op reëloortredings wat geheim gehou word ten einde die negatiewe gevolge van wilsbesluite en optrede wat daaruit voortvloei, te vermy.
- Interne geheimhouding ontstaan wanneer inligting deur ten minste twee persone in dieselfde gesin van die res van die gesin doelbewus weerhou word. Dit skep meestal ongesonde subgroeperings binne ’n gesin, met ander woorde die wat “weet” en die wat “nie weet nie”.
- Gedeelde geheime is bekend aan die hele gesin, terwyl dié inligting terselfdertyd nie aan die buitewêreld bekend is nie. Dit skep die potensiaal vir die ontwikkeling van grense tussen die gesin en die buitewêreld. Dié soort gedrag kan aan die een kant soms voordelig wees, maar word aan die ander kant gewoonlik met taboesituasies geassosieer.
In die alledaagse lewe word mense dikwels aangemoedig om persoonlike geheime te onthul. Welmenende bystanders se opmerkings soos “kry dit van jou skouers af” of “bekendmaking is goed vir liggaam en siel” (Kelly en McKillop 1996) is aan die orde van die dag. In aansluiting hierby beklemtoon sommige sielkundiges dat verborge persoonlike inligting fisies en psigies skadelik vir die indiwidu is. Veral Sigmund Freud se psigoanalitiese raamwerk was destyds gebou op die aanname dat die verbalisering van diep geheime tydens die psigoterapeutiese proses van kardinale belang vir persoonlike groei en insigvorming is. Hierdie uitgangspunt het steeds bly voortbestaan en het in verskeie moderne psigoterapeutiese modaliteite neerslag gevind. Die konsep hiper-toeganklikheid (hyperaccessibility) van onderdrukte inhoude is hier van toepassing. Dit beteken (ironies genoeg) dat die onderdrukking of repressie van inhoude na die onbewuste sulke inhoude juis meer toeganklik tot die bewussyn maak.
Die persoonlike belewenis van en gepaardgaande emosies met diep geheime is beslis uiters kompleks en differensieel van aard. Persoonlikheid- en waardeoordeelverskille tree op as tussenkomende veranderlikes wat die akkurate voorspelling kompliseer hoedat ’n bepaalde persoon op die openbaarmaking en/of repressie van ’n geheim sou reageer.
Sekere verborge ervarings kan erg traumaties wees sodat die vraag ontstaan of dit enigsins wenslik is om dit wel openbaar te maak. Die situasie mag byvoorbeeld ontstaan dat ’n dogter die jarelange seksuele misbruik deur die vader aan die moeder openbaar maak en dat die moeder onverwags weier om haar eie kind te glo. ’n Aangenome adolessent kan byvoorbeeld konstant probeer om sy biologiese moeder of vader op te spoor net om uit te vind dat hul volstrek weier om hom/haar te woord te staan of enige verdere kontak te hê. Die voorbeelde kom neer op ’n “wrede paradoks”, met ander woorde die sielkundige las om ’n geheim oor tyd alleen te akkommodeer aan die een kant en aan die ander kant die blootstelling aan risiko’s van moontlike verwerping, of selfs vervreemding wat gepaard gaan met die openbaarmaking van die geheim.
In aansluiting hierby sê Kelly en McKillop (1996) daar is spesifieke omstandighede wanneer dit verstaanbaar en selfs voordelig kan wees vir ’n persoon om nie die inhoud van ’n geheim bekend te maak nie. Daar is altyd ’n kans dat ’n indiwidu se openbaarmaking van sy geheim onverwagte of negatiewe response deur bekende of onbekende luisteraars kan ontlok. Die geheimdraer kan byvoorbeeld nie in staat wees om sy dilemma duidelik genoeg of met opregte oortuiging te artikuleer nie, met die gevolg dat dit feitlik onmoontlik vir luisteraars is om op ’n gepaste wyse te reageer. Die beste opsie sou wees indien die openbaarmaking binne ’n professionele konteks plaasvind, omdat praktisyns soos medici, sielkundiges en predikante opgelei is om sulke situasies met aanvaarding, empatie en binne ’n etiese raamwerk te hanteer.
Indien ’n geheim nie ernstige sielkundige probleme vir die betrokkene skep nie, blyk ’n realistiese uitgangspunt te wees om dit eerder te bewaar sodat ’n gewaarwording van persoonlike of ego-grense en outonomie geskep word en terselfdertyd blootstelling aan onnodige sosiale konflik vermy word. Berger en Paul (2008) verwys hierna as indiwidueelgebaseerde motivering om persoonlike geheime te bewaar. Aan die ander kant, indien ’n geheim intrapsigiese konflikte skep, behoort die persoon ’n besluit te neem om ’n gepaste en ervare deskundige te raadpleeg sodat ’n terapeutiese proses van stapel gestuur kan word.
Skenkerinseminasie
Claes (2022), ’n navorser verbonde aan die Universiteit Leuven, België verduidelik dat by KIS geheimhouding die instandhouding van ’n algehele stilte oor die wyse waarop konsepsie plaasvind, beteken, terwyl anonimiteit daarenteen verwys na die identiteit van die skenker. Almal (familie, vriende en die kind self) word dus in die duister gehou. Fertiliteitspesialiste het aanvanklik van die standpunt uitgegaan dat geheimhouding die mees realistiese opsie is. Daar is geredeneer dat die gesin weldra sal vergeet van die kunsmatige prosedure (met ander woorde dat die baba geneties-onverwant aan die eggenoot is) en eenvoudig sal voortgaan om as ’n “normale” gesin te funksioneer.
Ten spyte van die sluier van geheimhouding wat oor KIS getrek word, is daar natuurlik altyd ’n moontlikheid dat ’n persoon wat deur middel van KIS gebore is, op ’n latere stadium wel inligting kan bekom oor die man van wie hy/sy biologies afstam.
Veranderinge het egter geleidelik op internasionale gebied ingetree. Drukgroepe het geagiteer dat vertroulike skenkerinseminasie skadelik en verouderd is. Gedurende 2019 het die Europese parlement ’n aanbeveling aanvaar dat die anonimiteit van alle toekomstige gameetskenkings opgeskort word, sodat persone wat gebore is deur middel van geassisteerde reproduktiewe tegnologie, voortaan in staat sal wees om hul genetiese oorsprong te kan naspeur.
Daarna het die Sweedse Inseminasiewet van 1984 gevolg op grond waarvan die KIS- persoon die reg toegestaan is om die identiteit van die skenker na te gaan. Daarna het ’n reeks ander lande (onder andere Duitsland, Oostenryk, Switserland en Nieu-Seeland) soortgelyke wetgewing die lig laat sien.
Wat Suid-Afrika betref, word KIS deur afdelings 26, 40 en 41 van die Kinderwet (nommer 38) van 2005 gereguleer, en deur die Nasionale Gesondheidswet van 2003 soos gewysig in 2016. As ’n algemene reël het die spermskenker geen regte of verantwoordelikhede ten opsigte van ouerskap van ’n kind wat gebore is op grond van sy skenkersemen nie. In Augustus 2017 het die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie ’n dokument “Die reg om jou eie biologiese oorsprong te ken” gepubliseer, wat in botsing kom met die wetgewing wat bepaal dat skenkers anoniem moet bly.
Die konsep skenkeranonimiteit het internasionaal ontwikkel vanaf ’n begronding in die erkende mediese etiekbeginsel van vertroulikheid as ’n fondament van professionele kliniese praktykvoering tot vandag, waar die proses (deur sommige) beskou word as ’n kontroversiële oorblyfsel uit die verlede.
Die implikasies van die breë teoretiese konsepte sosiale ouerskap versus biologiese ouerskap wat uit KIS voortspruit, bly egter steeds uiters relevant en is ’n onderwerp waaroor navorsing wêreldwyd gedoen word. ’n Seleksie van toepaslike navorsing wat die kompleksiteit toelig, word hieronder bespreek.
Enkele geselekteerde voorbeelde van navorsingstudies
- Adair en Purdie (1996) van die Universiteit Auckland, Nieu-Seeland voer ’n studie uit met 30 gesinne wat voorheen KIS ontvang het en nege skenkers wat semen met betrekking tot die swangerskappe geskenk het. Dit kom neer op responskoerse van onderskeidelik 38% en 41%. Die gemiddelde ouderdom van die skenkers was 39.4 jaar, en agt van die skenkers het kinders van hul eie gehad tussen die ouderdomme van twee tot 38 jaar. Drie skenkers is spesifiek versoek om semen te skenk en ses het vrywillige skenkings gemaak. Nie meer as twee babas per ontvanger is gebore deur middel van enige skenker nie.
Slegs een skenker en een ontvanger het die KIS-prosedure geheim gehou. Die res het tussen twee en meer as 70 persone ingelig oor die KIS-swangerskap. 75% van die ontvangers het gesê dat ’n sterk en positiewe verhouding met die skenker tans gehandhaaf word, terwyl 25% van mening was dat die verhouding stresvol en negatief was.
Die hoofrede vir die keuse van ’n persoonlike skenker wat bekend aan die gesin is (byvoorbeeld ’n familielid), is as die bekendheid van die genetiese band beskryf. Veral die mans het voorkeur gegee aan ’n skenker uit dieselfde genetiese poel as hulself.
Die meeste skenkers en ontvangers het saamgestem dat dit in die beste belang van die kind sou wees indien die identiteit van die skenker bekendgemaak sou word. Die redes was om gesinsgeheime te voorkom en uit te skakel, sowel as die kinders se reg om kennis te dra van hul genetiese herkoms.
Daar was eenstemmigheid onder die ontvangers en skenkers dat die kinders wat uit KIS gebore is, kennis behoort te dra van die bestaan van hul halfbroers en -susters. Die nadele van die gebruik van persoonlike skenkers was drieërlei van aard: die verhouding tussen ontvangers en skenkers sou moontlik in die toekoms kon versleg; die ontvangers se privaatheid kan in die gedrang kom; en die skenker sou onredelike of opportunistiese aansprake op die kind kon maak.
- Berger en Paul (2008) bestudeer ’n gerieflikheidsteekproef van 69 Amerikaanse jong volwassenes wat met behulp van KIS gebore is. ’n Demografiese vraelys en verskeie psigometriese vraelyste is voltooi. Die resultate dui daarop dat beide die ouers geneig was om die onderwerp van skenkerinseminasie meer dikwels te vermy as ander onderwerpe. Die moeders was geneig om dié sensitiewe onderwerp minder as hul mans te vermy. Die vermyding van die KIS-onderwerp het negatief verband gehou met die kwaliteit van gesinsfunksionering. Beide ouers se gesamentlike bereidwilligheid om die KIS-onderwerp te bespreek, het verband gehou met hoër kwaliteit van gesinsfunksionering.
- Birenbaum-Carmeli, Carmeli en Yavet (2000) maak gebruik van ’n steekproef bestaande uit 285 Israeli respondente insluitend getroude pare, saamblypare en ongetroude vroue wat KIS by vier verskillende spermbanke ontvang het. Joodse tradisionele wetgewing plaas ’n verbod op die gebruik van ’n Joodse manlike skenker tydens die KIS-prosedure. Vir die doeleindes van hierdie studie was die skenkers dus almal nie-Joods.
Die resultate dui aan dat die meeste ontvangers van KIS die prosedure streng geheim gehou het en geensins die proses met vriende en familie bespreek het nie. Vroue was meer bereidwillig om die gebeurtenis ekstern te kommunikeer as mans. Die mans wat openlik oor die situasie gekommunikeer het, was ook bereid om op die manlike faktor as oorsaak van die infertiliteitsprobleem te wys. Die ontvangers wat hoegenaamd bereid was om KIS ekstern te bespreek, het die openbaarmaking streng tot familielede beperk.
Die resultate word geïnterpreteer in terme van die kind-gesentreerde, pronatalistiese kultuur wat aan die orde van die dag is in Israel, met die gevolg dat die stigma wat aan KIS as ’n behandelingstegniek gekoppel word, steeds sterker is as wat in die Weste die geval is.
- ’n Navorsingspan bestaande uit Brewaeys, Golombok, Naaktgeboren, De Bruyn en Van Hall (1997) voer ’n vergelykende studie uit met 38 Nederlandse egpare met kinders tussen vier- en agtjarige ouderdom wat deur middel van KIS gebore is. Die response van die steekproef is vergelyk met gesinne wat van in-vitrofertilisasie (IVF) gebruik gemaak het, sowel as met gesinne by wie die moeder op ’n natuurlike wyse swanger geraak en geboorte geskenk het. Geheimhouding het betekenisvol verband gehou met die KIS-status en nie met die IVF-status nie. 74% van die KIS-ouers was vasbeslote om nie hul kinders van hul herkoms in te lig nie, terwyl geen van die IVF-ouers sulke voornemens gehad het nie.
57% van die KIS-ouers het ’n anonieme skenker verkies; 31% was voorstanders van toegang tot nie-identifiserende besonderhede van die skenker; 9% was van mening dat identifiserende besonderhede van die skenker geregistreer moet word, terwyl 3% onseker oor die aangeleentheid was. Meer emosionele en/of gedragsprobleme het onder die KIS-kinders voorgekom as by die kinders met ’n natuurlike geboortegeskiedenis. Geen statisties-beduidende verband tussen geheimhouding en die aanwesigheid van emosionele of gedragsprobleme by die kinders van KIS-gesinne kon aangetoon word nie.
...........
Geen statisties-beduidende verband tussen geheimhouding en die aanwesigheid van emosionele of gedragsprobleme by die kinders van KIS-gesinne kon aangetoon word nie.
.............
- ’n Dwarssnit, vraelysgebaseerde ondersoek met 460 infertiele egpare is in Nigerië deur Ezugwu, Eleje, Iyoke, Mba, Nnaji, Enechukwu en Nkwo (2018) uitgevoer. 69.2% van die deelnemers het vooraf kennis gedra van KIS. Die aanvaarbaarheidkoers was 62.7%. 84% was ten gunste daarvan dat die kind nooit ingelig behoort te word van sy KIS-oorsprong nie, terwyl 92% aangedui het dat die identiteit van die skenker nooit aan die kind bekendgemaak moet word nie. Vrese is uitgespreek dat ’n bekendmaking van skenkeridentiteit ’n skadelike effek op die kind sou kon hê, asook dat die vader dalk sal weier om ’n soektog te loods om die skenker op te spoor.
- Gottlieb, Lalos en Lindblad (2000) het 194 Sweedse egpare bestudeer by wie kinders met behulp van KIS gebore is. Almal is gebore nadat die Sweedse wetgewing in 1985 in werking getree het, wat die reg verleen aan ’n kind om toegang te verkry tot die identiteit van ’n spermskenker, ná 18-jarige ouderdom. Die deelnemers moes ’n vraelys beantwoord wat handel oor die bekendmaking van die identiteit van die skenker.
89% van die ouers het nie die KIS-proses met hul kinders bespreek nie, terwyl 59% ’n buitestander daaroor meegedeel het. Sommige ouers was van plan om hulle kinders op ’n later stadium wel in te lig, ander was nie seker hoe om so ’n gesprek aan te pak nie, en ander het botweg geweier om enige gesprek oor die onderwerp te voer.
- Die doel van Mahlstedt, La Bounty en Kennedy (2010) se studie was om ’n in-diepteanalise te doen van ’n groep kinders wat deur middel van KIS gebore is, se houdings teenoor hul geboorteproses, sowel as teenoor skenkerinseminasie as ’n behandelingstegniek.
Die steekproef het bestaan uit ’n groep van 85 respondente wat met behulp van die internet gewerf is vir die studie. 81% van die steekproef was Amerikaners en die res was afkomstig van Australië, Groot Brittanje en Kanada. Die oorgrote meerderheid respondente was vroue, terwyl slegs 13 mans was. Die ouderdomme het gewissel tussen 18 en 37 jaar. 88% van die biologiese moeders was getroud tydens konsepsie met behulp van KIS.
Die meeste KIS-afstammelinge het na afloop van hul 18de verjaarsdag bewus geraak van hul geboortegeskiedenis en wel tydens ’n voorafbeplande gesprek. Die identiteit van die skenker was onbekend aan die meerderheid. Hulle het die skenker as hul “biologiese vader” beskou. Daar was ’n sterk behoefte om hul halfbroers en -susters, asook die skenker te ontmoet. Hulle was sterk ten gunste van die beskikbaarstelling van identifiserende besonderhede van die skenker in die KIS-praktyk. Die respondente se houding teenoor hulle geboorteproses was gelykmatig versprei vanaf “baie positief” tot “uiters negatief”.
Samevatting
Indien KIS as ’n oplossing vir ’n infertiliteitsprobleem gekies word, ontstaan ’n delikate situasie wat die implikasies van sosiale ouerskap versus biologiese ouerskap betref, sowel as implikasies in verband met die identiteit van die skenker.
............
Indien KIS as ’n oplossing vir ’n infertiliteitsprobleem gekies word, ontstaan ’n delikate situasie wat die implikasies van sosiale ouerskap versus biologiese ouerskap betref, sowel as implikasies in verband met die identiteit van die skenker.
................
Ouers wat van KIS as ’n behandelingsmetode gebruik maak, word verplig om komplekse besluite te neem. Dit is logies dat onsekerhede oor vertroulikheid en geheimhouding versus openheid die gesinsdinamika op uiteenlopende maniere sal beïnvloed.
Enkele studies waarin hierdie kwessies bespreek word, is vir die doel van hierdie artikel geselekteer. Die resultate van navorsingstudies uit Amerika, Europa, Afrika en Israel is kortliks bespreek. Die studies was hoofsaaklik vraelysgebaseerd, en gerieflikheidsteekproewe van aanvaarbare grootte is meestal gebruik.
Die artikel is hoofsaaklik eksploratief van aard en daarom word die klem geplaas op onderstaande breë, algemene beginsels wat uit die resultate na vore tree:
- Indien die skenker bekend is aan die gesin skep dit unieke uitdagings. Sou ’n familielid as skenker gebruik word, beskik die besluit oor die potensiaal om die gesinsverhoudings in die toekoms te kompliseer en te verwar. Dit kan ook ’n rede wees waarom kinders in hierdie situasie nooit ingelig word oor hulle herkoms nie, as ’n soort waarborg dat die gesinseenhede behoorlik as aparte eenhede kan funksioneer.
- Dit is moontlik dat die gesinsdinamika met verloop van tyd kan verander. Beide ouers kan geleidelik tot die insig kom dat dit beter sou wees om eerder die onderwerp te vermy en die kind nie oor sy geboortegeskiedenis in te lig nie. Dit kom neer op ’n indiwidueelgebaseerde verdedigingsmeganisme om persoonlike geheime te bewaar en om veilige ego-grense te skep.
- Kulturele verskille speel duidelik ’n rol in die vorming van sekere houdings teenoor en reaksies op KIS. In die Westerse konteks is daar ’n geleidelike beweging na groter openheid wat skenkerinseminasie betref, terwyl streng geheimhouding steeds in ander kulture van toepassing is.
- Navorsing oor die voorkoms van emosionele en gedragsprobleme by kinders wat met behulp van KIS gebore word, vereis noukeurige metodologie en seleksie van betroubare en geldige psigometriese instrumente sodat geloofwaardige afleidings en gevolgtrekkings gemaak kan word.
- Die houdings, persepsies en belewenisse van volwassenes wat deur middel van die KIS-prosedure gebore is, behoort deeglik en meer dikwels binne kultuurverband nagevors te word.
Baie pertinente vrae oor die impak van die gebruik van skenkerinseminasie bly steeds onbeantwoord. Dit word aanbeveel dat meer navorsing oor die onderwerp, veral plaaslik in Suid-Afrika gedoen word, en dat doeltreffende en ondersteunende ouervoorligtingsprogramme vir KIS-ouers en -kinders ontwikkel word.
Bronnelys
Adair, V.A. en A. Purdie. 1996. Donor insemination programmes with personal donors: issues of secrecy. Human Reproduction, 11(11):2558–63.
Berger, R. en M. Paul. 2008. Family secrets and family functioning: The case of donor assistance. Family Process, 47(4):553–66.
Birenbaum-Carmeli, D., Carmeli, Y.S. en H. Yavet. 2000. Secrecy among Israeli recipients of donor insemination. Politics and the Life Sciences, 19(1):69–76.
Brewaeys, A., Golombok, S., Naaktgeboren, N., De Bruyn, J.K. en E.V. van Hall. 1997. Donor insemination: Dutch parents’ opinions about confidentiality and donor anonymity and the emotional adjustment of their children. Human Reproduction, 12(7):1591–97.
Claes, T. 2022. How silence became “outdated”: Secrecy, anonymity and artificial insemination by donor in Belgium, 1950s–1990s. Journal of Family History, 1–20. https://doi-org.ez.sun.ac.za/10.1177/03631990221126697.
Epstein, S. 2019. Three types of family secrets and how they drive families apart. Psychology Today, 14 January. https://www.psychologytoday.com/za/blog/between-the-generations/201901/3-types-family-secrets-and-how-they-drive-families-apart.
Ezugwu, E.C., Eleje, G.U., Iyoke, C.A., Mba, S.G., Nnaji, H.C., Enechukwu, C.I. en P.O. Nkwo. 2018. Preference for anonymity in sperm donation for artificial insemination: an experience from low-resource settings in Nigeria. Patient Prefer Adherence, 12:499–504.
https://doi-org.ez.sun.ac.za/10.2147/PPA.S152868.
Gottlieb, C., Lalos O. en F. Lindblad. 2000. Disclosure of donor insemination to the child. Human Reproduction, 15(9):2052–6.
Kelly, A.E. en K.J. McKillop. 1996. Consequences of revealing personal secrets. Psychological Bulletin, 120(3):450–65.
Mahlstedt, P.P., La Bounty, K. en W.T. Kennedy. 2010. The views of adult offspring of sperm donation: essential feedback for the development of ethical guidelines within the practice of assisted reproductive technology in the United States. Fertility and Sterility, 93(7):2236–46.

