Hoe om pa’s te word: gay mans en surrogaatskap

  • 0

...
“Ons soek nie spesiale behandeling nie. Ons soek gelyke behandeling. Behandel my soos jy enige ander mens sou behandel.”
...

Op 28 Februarie 2024 het Huisgenoot berig dat Zavion Kotze-Brereton en sy man, John Brereton, hul eersteling se geboorte gevier het. Uit die kommentaar op sosiale media blyk dit dat daar ’n groot wanpersepsie is van hoe gay paartjies (veral mans) ’n kind die lewe in kan bring.

Ek het met twee pa’s, Al en Nico Troskie, gaan praat oor die proses agter die aansoek vir ’n surrogaatma, hul familie se reaksie en ander dinge wat uniek is aan gay paartjies wat ouers is.

Al en Nico het toe hulle begin uitgaan het, reeds die kwessie van kinders bespreek. Dit was iets wat hulle albei wou hê later in die lewe. Eers ’n paar jaar na hulle getrou het, het hulle ernstig begin dink oor kinders.

“Een van my vriendinne was op daardie stadium swanger,” vertel Nico. “Sy het om en by haar bevalling vir my vertel dat sy surrogaat sou wees, indien ek en Al ooit kinders wou hê.”

Hierdie inligting het in die Troskies se guns getel, want dit is bitter moeilik om ’n onbekende surrogaat te kry.

Ek was nuuskierig oor die stappe wat geneem moet word om ’n surrogaatma te kry. Ek het groot geskrik toe ek die woord hofbevel hoor.

“Jy kan niks regkry sonder die hofbevel nie. Die hofbevel sê dat die paartjie nie op ’n ander wyse kan kinders hê nie en dat ’n surrogaatma aangewys kan word. Dan is daar allerlei bloedtoetse wat gedoen moet word (seksueel oordraagbare siektes en ander dinge) voordat die eier bevrug en ingeplant kan word,” vertel Nico verder.

“Ons het ’n anonieme eier gebruik. Ek’t ’n familielid gehad wat ’n eier wou skenk, maar dit het nie realiseer nie,” voeg Al by. “Die anonieme eier verseker dan dat die surrogaat geen genetiese verbintenis het aan die kind nie. Ek en Nico is ook aangedui op die geboortesertifikaat as ‘parent 1’ en ‘parent 2’.”

Om swanger te wees, is nie grappies nie. Ek het gewonder wat die kostes van surrogaatskap is.

“Soos dit aan ons verduidelik is, mag die paartjie of die surrogaat nie ’n wins maak uit hierdie situasie nie. Ons het wel betaal vir ons surrogaat se mediese onkostes, nuwe klerasie, ’n huishulp toe sy nie meer dinge self kon doen nie... Ons het tot lewensversekering moes uitneem toe die bal uiteindelik aan die rol gekom het,” verduidelik Nico. Dit was ’n redelike duur proses gewees, hoewel daar nie ’n spesifieke syfer genoem is nie. Kostes kon darem almal gedek word, omdat die Troskies beide professionele mense is.

Dit het my laat wonder of hulle ooit aanneming oorweeg het. Die Troskies het gesê dat aanneming sy eie probleme en uitdagings het.

“Ons grootste oorweging met die hele aanneem versus surrogaat was die genetika van die kind. Met ’n anonieme skenker kry jy inligting oor die genetika van die skenker. As jy ’n kind aanneem, het jy nie altyd toegang tot sulke inligting nie. Jy weet nie waarvoor jy jouself inlaat nie. Ook omdat ons reeds ’n gewillige persoon gehad het om surrogaat te wees, was dit die korter pad om te vat.”

Die besluit om ’n kind die wêreld in te bring is dus nie een wat sommer net uit die bloute gekom het nie. Dit is goed beplan, goed befonds en ook goed nagevors. Ek vra toe wat die reaksie was van hul familie en vriende toe hulle aangekondig het dat hulle pa’s gaan word.

“Daar was nie enige teenkanting of negatiwiteit nie. Al se ouers was baie opgewonde. My ma het bietjie gesukkel, want toe ek uitgekom het, het sy seker vrede gemaak daarmee dat sy nie ouma sal wees nie.”

Dis goed en wel om nie teenkanting te kry binne jou familie of van jou vriende af nie, maar ons almal leef saam in ’n breër gemeenskap wat nie altyd so liberaal of veilig is nie. Die Troskies het albei genoem dat hulle liefs na plekke soos Brooklyn Mall toe gaan as ander plekke, juis omdat dit vir hulle veiliger voel.

“Dis iets waaraan straight mense eintlik nie dink nie: Die feit dat ons moet seker maak of ons as ’n ‘alternatiewe familie’ veilig gaan wees op ’n plek of nie. Ons kry nie snaakse kyke of mense wat sommer vir ons kom preek nie, maar dit kan gebeur. Ons moet versigtig beweeg nie net vir ons nie, maar ook vir ons kind se veiligheid.”

Dis nie net op eie bodem waar sulke oorwegings ’n rol speel nie. In Kanada, byvoorbeeld, sou die Troskies nie snaaks aangekyk word nie. Die saak is heelwat anders in ander dele van die wêreld waar daar pogings aangewend word om die LGBT+ gemeenskap stil te maak, soos in Rusland, Ghana, Uganda en sekere deelstate in die VSA. Wetgewing wat tans in die deelstaat Florida van krag is, sou dit onwettig maak vir die Troskies se dogter om te sê dat sy twee pa’s het.

Studies het bevind dat daar geen beduidende verskil is tussen kinders wat deur gay paartjies grootgemaak word en kinders wat deur heteroseksuele paartjies grootgemaak word nie. Daar is wel bevind dat hierdie kinders soms die slagoffers is van homofobie (Bédard, Cossette, Chamberland, Blais en Caron 2023; Suárez, Stackhouse, Keese en Thompson 2023).

Al en Nico het nie self die kommentare op die Kotze-Brereton-baba se aankoms gelees nie. Hulle vermy liefs negatiewe kommentare en interaksies. Nico het wel een laaste ding te sê gehad.

“Ons soek nie spesiale behandeling nie. Ons soek gelyke behandeling. Behandel my soos jy enige ander mens sou behandel.”

Verdere leeswerk

Janyaru, J. 2023. Glanspaar Zavion en John se kleine Quinn is eindelik hier: ‘Sy is lief, pragtig en net perfek’. Netwerk24, 29 Maart 2023. https://www.netwerk24.com/huisgenoot/bekendes/glanspaar-zavion-en-john-se-kleine-quinn-is-eindelik-hier-sy-is-lief-pragtig-en-net-perfek-20240228.

Diaz, J. 2022. Florida’s governor signs controversial law opponents dubbed ‘Don’t Say Gay’. NPR, 4 Maart 2024. https://www.npr.org/2022/03/28/1089221657/dont-say-gay-florida-desantis.

Bédard, I., L. Cossette, L. Chamberland, M. Blais en P.O. Caron. 2023. Homophobic Victimization and Psychosocial Adjustment Problems among Youth of Lesbian and Gay Parents. LGBTQ+ Family: An Interdisciplinary Journal, 19(3):262–74, DOI: 10.1080/27703371.2023.2187000.

Suárez, M.I., E.W. Stackhouse, J. Keese en C.G. Thompson. 2023. A meta-analysis examining the relationship between parents’ sexual orientation and children’s developmental outcomes. Journal of Family Studies, 29(4):1584–605, DOI: 10.1080/13229400.2022.2060121.

Lees ook:

Die multidimensionele aard van spermskenkings en kunsmatige spermskenkerinseminasie

Gesinsgeheime: taboe of bate?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top