Die multidimensionele aard van spermskenkings en kunsmatige spermskenkerinseminasie

  • 1

Originally, privacy about donor sperm use was encouraged as a way to normalize the conception by obfuscating male infertility and to protect the child from the stigma of this nontraditional form of conception. In the past 20 years, there has been a movement from recipients and others advocating for more information sharing between donors, recipients, and donor-conceived children. (Klock 2013)

Die toepassing van kunsmatige skenkerinseminasie (KIS) binne die konteks van geassisteerde voortplantingstegnologie (Assisted Reproductive Technology, of ART) behels die professionele en kliniese bestuur van ’n reeks kritieke veranderlikes wat binne ’n dinamiese en komplekse sisteemverband funksioneer.

38 jaar gelede skryf die navorsers Brand en Saayman (1986:35) soos volg oor spermskenkers se etiese posisie:

[D]ie [anonieme] skenker het die minste verdedigbare posisie in die KIS-prosedure. Die vernaamste beswaar is dat die [anonieme] skenker van sy voortplantingsvermoëns misbruik maak, sonder om sy vaderlike verantwoordelikhede te aanvaar. Die morele en potensiële verpligting teenoor nasate bly die skenker se verantwoordelikheid en teenstanders van KIS (veral op morele gronde) is nie tevrede dat iemand anders, in hierdie geval die ontvanger-egpaar, die skenker se verantwoordelikhede oorneem nie.

Sedertdien het daar reeds baie water in die see geloop en het die ART-toneel in wese betekenisvol verander. In watter opsigte het wesenlike veranderinge in die persepsies van kundiges teenoor spermskenkers plaasgevind? Watter onderliggende faktore sou moontlik ’n bydrae kon gelewer het tot hierdie veranderinge? Die tradisionele beskouings oor spermskenkings en die ontwikkeling van tegnologie het waarskynlik oor dekades heen gegroei in ’n moderne, komplekse meerdimensionele konstruk.

ART sluit deesdae twee belangrike behandelingstrategieë in, naamlik in vitro-fertilisasie (IVF) en kunsmatige inseminasie (KI). Tydens IVF vind kunsmatige bevrugting buite die liggaam plaas, waarna die sigoot (wat uit die samesmelting van twee gamete ontstaan) na die baarmoeder oorgeplaas word. In KI word skenkerspermatosoa gebruik vir intra-uterus inseminasie (IUI), intraservikale inseminasie (ISI) en intravaginale inseminasie (IVI), wat as in vivo-bevrugtingsprosedures bekendstaan.

As gevolg van verskille tussen dié twee kunsmatigebevrugtingsprosesse, toon IVF ’n hoër bevrugtingsukseskoers as KI, maar dit is meer ingrypend (“invasive”) as KI. Die betreklik hoë sukseskoers is die hoofrede dat die IVF-opsie in baie lande ’n meer gewilde keuse is onder pasiënte met ’n diagnose van infertiliteit/steriliteit (Luo, Wu, Ji, Tang, Zhou, Huang, Liu, Fan, Huang en Zhu 2023).

In hierdie artikel word die rol, houdings, motivering, voorkeure en moreel-etiese verantwoordelikhede van spermskenkers kortliks bespreek deur te verwys na die resultate en metodologie van ’n geselekteerde groep goed gekontroleerde navorsingstudies wat in hierdie verband uitgevoer is. Die inligting op die navorsingsplatform Ebscohost is vir hierdie doel benut.

Hierdie artikel is hoofsaaklik van ’n verkennende aard (dit kan met ander woorde ook as ’n loodsstudie beskryf word) met die doel om die navorsingsterrein te verken en sodoende ’n basis te skep waarop verdere ontledings gedoen kan word. Weens die beperkte omvang van fokus van hierdie artikel word die rol en gedrag van vroulike gameetskenkers en surrogaatmoederskap nie bespreek nie.

Sugihara en sy medewerkers (2023) wys daarop dat die doeltreffende seleksie van spermskenkers van uiterse belang is, veral omdat IUI met skenkersperm (IUI-D), veelvuldige in vitro-manipulasies, soos deeglike spermseleksie en kriopreservering (bevriesing), vereis waartydens spermatosoa blootgestel kan word aan oksidatiewe stres en ander faktore wat moontlik skade kan veroorsaak, insluitend sperm-DNS-fragmentasie (skade aan die genetiese materiaal waaruit spermselle bestaan).

........
Altruïsme behoort ’n grondliggende rol in eerlike skenkerskap te speel, aangesien dit skenkers sou motiveer om skenkings te doen sonder om verdere teenprestasies te verwag as bloot die bevrediging om te weet dat hul skenking ’n positiewe verskil in die lewens van ander individue maak.
........

 

Spermskenkers

Die algemene teoretiese beginsels waarop verantwoordbare skenkerskap berus en waaraan van individue en organisasies verwag word om te voldoen wanneer skenkings gemaak word, kom daarop neer dat daar ooreenstemming moet wees tussen die skenker se waardes, sy houdings en die beoogde doel met die skenking. Betroubare inligting oor die identiteit van die skenker moet beskikbaar wees. Skenkers moet die waardigheid, outonomie en kulturele waardes van die ontvangers respekteer en paternalistiese houdings vermy. Skenkers behoort hulle tot langtermynbetrokkenheid met ontvangers te verbind om sodoende volhoubare persoonlike verhoudings en deurlopende ondersteuning te bevorder. Altruïsme behoort ’n grondliggende rol in eerlike skenkerskap te speel, aangesien dit skenkers sou motiveer om skenkings te doen sonder om verdere teenprestasies te verwag as bloot die bevrediging om te weet dat hul skenking ’n positiewe verskil in die lewens van ander individue maak.

Die vraag ontstaan egter op watter wyse finansiële vergoeding aan spermskenkers teen die agtergrond van die verband tussen vrywillige skenking en altruïsme verduidelik kan word. Volgens die gouemiddeweg-benadering word gewoonlik gesê dat alhoewel spermskenkers vergoeding vir hul dienste sou kon ontvang, hul outonomie steeds gehandhaaf word deur vrywillig te kies om aan die skenkingsprogram deel te neem al dan nie. Hul vergoeding dien dus bloot as erkenning van die tyd, moeite en die potensiële ongerief wat met die skenkingsproses gepaardgaan.

Dit is egter belangrik om daarop te let dat sekere moreel-etiese oorwegings ten opsigte van vergoeding wat aan spermskenkers betaal word, tussen waarnemers kan verskil. Gilman (2018) verwys selfs na “toksiese geld” wat spermskenkers ontvang wat op “toksiese altruïsme” gebaseer is. Buitensporige finansiële aansporings bring die vrywillige aard van skenkings in die gedrang en kan selfs tot elemente van uitbuiting aanleiding gee.

 

Enkele onlangse navorsingstudies

  • Die aard en eienskappe van die spermskenkerpopulasie verander voortdurend (Pennings, Rothmar-Herrmann, Skytte, Burke en Pacey 2021). Dit spruit voort uit veranderinge in die regulasies van sekere lande en nuwe ontwikkelinge in die samelewing in die algemeen. ’n Voorbeeld van so ’n ontwikkeling is die moontlikheid vir alle rolspelers (naamlik die skenker-verwekte nageslagte, ontvangers van spermskenkings en die spermskenkers) om die betrokke skenkerpartye deur middel van die beskikbaarheid van genetiese databasisse op te spoor. ’n Verdere ingrypende verandering is die toepassing van draersiftingstoetse op gameetskenkers. Draersiftingtoetse (met ander woorde die identifisering van draers van geneties oordraagbare siektes) bring veral regskwessies (verskillende interpretasies van regsreëls) en etiese kwessies (moontlike gevolge vir spermskenkers) na vore.

Hierdie veranderinge kan ’n wesenlike impak hê op voormalige skenkers asook wat die werwing van nuwe kandidaatskenkers betref (Pennings ea 2021). Dit is veral kommerwekkend dat die toepassing van draersiftingstoetse soms sonder behoorlike konsultasie met skenkers en kandidaatskenkers uitgevoer word. Die meeste lande vind dit problematies om in die vraag na skenkerspermatosoa te voorsien. Hierdie tekorte manifesteer in die verskynsel dat infertiliteitspasiënte landsgrense oorsteek om toegang tot IVF en KI te kry. Groot getalle buitelandse pasiënte het byvoorbeeld gedurende 2017 in Spanje hulp ontvang met kunsmatige skenkerinseminasie, terwyl België op daardie stadium ongeveer 60% van sy skenkerspermvoorraad uit Denemarke ingevoer het.

Die sistematiese vergelyking van spermskenkertipes (Pennings ea 2021) dui daarop dat twee hoofgroepe skenkers bestaan en uiteenlopende houdings handhaaf teenoor verskeie aspekte van hul spermskenkings. Die resultate toon byvoorbeeld dat nie-identiteitvrystellingskenkers verkies om nie in die onmiddellike toekoms identiteitvrystellingskenkers te word nie.

Identiteitvrystellingskenkers het beduidend verskil van nie-identiteitvrystellingskenkers in verskeie opsigte rakende hul spermskenkings. Hulle was onder andere voorstanders van direkte kommunikasie en oop verhoudings met die nageslag wat op grond van hul skenkings verwek is. Daar was ook ’n opregte bereidwilligheid om wedersyds persoonlike inligting met alle betrokke partye te deel.

Die moontlikheid om óf die identiteitvrystelling- óf die nie-identiteitvrystelling-opsie te kies lok meer potensiële skenkers as wanneer slegs een opsie beskikbaar is. Die algemene houding van skenkers teenoor genetiese toetsing en draersiftingtoetse (soos in hierdie studie na vore kom) was besonder positief. Verdere navorsing in verband met die houdings van kandidaatskenkers en veral hul kennis van en insig in die implikasies van genetiese databasisse en genetiese siftingstoetse is egter ’n noodsaaklikheid.

  • Die Belgiese navorsingsgroep Mahieu, Decleer, Osmanagaoglu en Provoost (2019) wys daarop dat Belgiese wetgewing streng anonieme spermskenkings, sowel as nie-anonieme spermskenkings toelaat. Laasgenoemde is slegs van toepassing wanneer ontvangers en skenkers vooraf goeie kennisse van mekaar is. Gedurende 2019 is ’n wysiging in die wetgewing goedgekeur om spermskenkernageslagte (vanaf 18-jarige ouderdom) die reg te gee om identifiserende inligting oor hul spermskenkers te bekom.

Die doel van Mahieu ea (2019) se studie was drievoudig, naamlik (i) om die motivering van ’n groep spermskenkers teenoor hul bereidwilligheid om skenkings te doen te ondersoek; (ii) om hul persepsies oor die implikasies van die bekendmaking van hul persoonlike identifiserende inligting na te gaan; en (iii) om te bepaal of hulle bereid sou wees om spermskenkings te doen indien anonimiteit wetlik verbied word. Die proefgroep het bestaan uit alle mans (N=242) wat oor ’n gegewe periode as spermskenkers deur die Jan Palfijn Hospitaal (Gent, België) aanvaar is. Die deelnemers is versoek om elkeen ’n anonieme aanlyn vraelys te voltooi. Die responskoers was 65,5%. Een uit elke vyf respondente (20,1%) was bereid om steeds toekomstige spermskenkings te doen indien identifiseerbare skenkings wetlik vereis word. Drie uit vier skenkers (75,2%) het ingestem om basiese nie-identifiseerbare inligting oor hulself te verskaf en een uit drie (32,9%) was bereid om addisionele nie-identifiseerbare inligting (soos ’n babafoto of ’n persoonlike brief) te verskaf. Byna die helfte van die skenkers (45,6%) het ingestem om skenkings te doen binne ’n stelsel van vrye keuse, waar die hospitaal (op grond van versoeke deur afstammelinge) skenkers sou kon opspoor en met die skenkers in verbinding kon tree, maar dit terselfdertyd aan die skenker se diskresie oorlaat om self te besluit of daar direkte kontak met die skenkerafstammeling(e) sal wees al dan nie.

  • In die Verenigde Koninkryk is enige persoon wat deur middel van skenkergamete of embrioskenking gebore is, geregtig daarop om vanaf sestienjarige ouderdom navraag te doen oor die identifiserende besonderhede van die skenker(s). Die inligting word egter nie bekendgemaak voordat hulle 18 jaar oud is nie Die wetgewing het in 2005 verander om te verseker dat almal ’n reg het op inligting oor hul genetiese oorsprong.

Teen hierdie agtergrond stel ’n groep Britse navorsers, Shukla, Deval, Jansa Perez, Hamoda, Savvas, en Narvekar (2013) die navorsingsvraag of die (April 2005-) veranderinge in die Britse skenkeranonimiteitswetgewing die werwing van spermskenkers enigsins beïnvloed het. Tweedens wou hulle bepaal of die wysigings ’n impak sou hê op die houdings van praktisyns wat kunsmatige skenkerspermbehandelingdienste lewer. Daar is bevind dat beduidend minder IUI- en IVF-prosedures met skenkersperm na die implementering van die gewysigde wetgewing uitgevoer is. Daarteenoor is ’n algehele toename in kandidaatspermskenkers waargeneem wat van voorneme was om toekomstige skenkings te doen, insluitend ’n klein toename in kandidaatskenkers wat etniese minderhede verteenwoordig.

  • Volgens Klipstein, Chen en Samplaski (2020) het Amerikaanse spermskenkingsprosedures histories gesproke amptelik anoniem plaasgevind. Hierdie voorafveronderstelling van anonimiteit is gedurende die afgelope paar jaar uitgedaag met die ontwikkeling van DNS-toetse wat direk aan verbruikers (DAV) beskikbaar gestel word. Die toetse skep die moontlikheid dat geneties verwante individue mekaar kan identifiseer. Dit beteken dat toenemend meer "anonieme" spermskenkers tans deur hul genetiese nageslag geïdentifiseer word.

Hierdie situasie het verreikende etiese en sielkundige kwessies tot gevolg vir spermskenkers, sowel as vir kinders wat deur spermskenkings gebore is, ouers, broers en susters en ander geneties verwante familielede, sowel as die spermbanke wat deel van die sisteem uitmaak. Terwyl kommersiële spermbanke voortgaan met pogings om anonimiteit na die beste van hul vermoë te verseker, het magte buite hul beheer die landskap van spermskenking sodanig verander dat streng anonimiteit nie meer gewaarborg kan word nie. Die getal individue wat genetiese DAV-DNS-toetse aanvra, neem steeds toe. In 2016 het ongeveer drie miljoen Amerikaners DAV-DNS-toetse afgelê, en teen 2019 meer as 30 miljoen. Dit word verwag dat 100 miljoen mense die prosedure teen 2023 sal volg. Boonop is privaatorganisasies gestig om skenkerafstammelinge, hul gesinne en skenkers te help identifiseer. Hierdie tendense laat die vraag ontstaan of spermskenkers se houding teenoor hul skenkings sal verander in die afwesigheid van gewaarborgde anonimiteit.

Die gegewens soos deur Klipstein ea (2020) verkry en wat gebaseer is op die terugvoer van 118 respondente wat ’n anonieme aanlyn vraelys voltooi het, dui daarop dat ondanks die moontlike verlies aan anonimiteit, die meerderheid spermskenkers geensins spyt was oor hul geskiedenis van skenkings nie en oortuig was dat hulle dit beslis weer sou doen. Hierdie bevindings is hoogs gerusstellend vir die toekomstige gebruik van spermskenkings in die VSA. Terwyl die “ontploffing” van DAV-DNS-toetse voortduur, moet skenkers dit egter oorweeg of hulle gemaklik is met hul verlies aan anonimiteit. Genetiese data kan dit moontlik maak om nie alleen spermskenkers op te spoor nie, maar ook om huidige en toekomstige genetiese familielede van die skenker te identifiseer en ’n komplekse web van geneties onderling verwante individue te skep.

  • ’n Groep akademici verbonde aan die Universiteit van Leuven, België, bestaan uit Van den Broeck, Vandermeeren, Vanderschueren, Enzlin, Demyttenaere en D’Hooghe (2013). Hulle doen ’n sistematiese oorsig van die spermskenkerliteratuur met die doel om die huidige beskikbare demografiese, institusionele en psigososiale inligting oor spermskenkers te integreer. Die sekondêre doelwit was om te bepaal wat die werklike persoonlike belewenisse van spermskenkers is en om hul houdings teenoor toekomstige skenkings na te gaan.

Inligting soos deur middel van elektroniese databasisse (PUBMED, CINAHL, PsycINFO, Embase en Web of Science) verkry, is sonder datumbeperkings deurgewerk deur ’n spesifieke soekstrategie te gebruik wat deur ’n sneeubalstrategie opgevolg is. Engelstalige ewekniegeëvalueerde abstrakte en volledige tekste is vir geskiktheid gekeur. Die risiko vir vooroordeel is op grond van 15 kriteria beoordeel. Beoordeling van die geskiktheid van inhoud en kwaliteit van metodologie van die artikels, sowel as die data-onttrekking, is deur twee onafhanklike navorsers uitgevoer.

Deur middel van die aanvanklike soektog is 857 studies opgespoor. Na afloop van kwaliteitsbeoordeling is 29 studies vir data-onttrekking behou. Data van nege lande is verkry. Daar was verskille sowel as ooreenkomste tussen werklike en potensiële spermskenkers wat demografiese eienskappe, finansiële vergoeding en houdings teenoor anonimiteit betref, asook openbaarmaking van identiteit en die verskaffing van inligting aan ’n potensiële nageslag.

Die psigososiale behoeftes en ervarings van spermskenkers (veral wat doeltreffende opvolgstrategieë en voorsiening van professionele berading betref) ontvang te min aandag in die literatuur. Dit blyk ’n belangrike faset te wees wat grootliks afgeskeep word.

In hierdie literatuuroorsig is belangrike sleutelkwessies geïdentifiseer op grond waarvan die huidige spermskenkerspraktyk sinvol geïnformeer kan word. Die inligting kan ook meehelp om die verdere ontwikkeling van meganismes vir persoonlike ondersteuning (pathways of care) vir spermskenkers te skep, wat die multidimensionele aard van spermskenking verder uitlig en beklemtoon.

  • Sascha Wodoslawsky en haar medewerkers verbonde aan die Sidney Kimmel Mediese Kollege, Thomas Jefferson Universiteit, Philadelphia, maak gebruik van ’n proefgroep spermskenkers (N=408), wat altesaam reeds 1 046 skenkings agter die rug het (Wodoslawsky ea 2021). Tydens die aanvanklike skenkings het 33,9% van die respondente skenkeranonimiteit verkies. Finansiële vergoeding (40,0%) en altruïsme (34,5%) was die hoof- motiverende faktore om spermskenkings te doen. Die meeste skenkers (86,9%) het hul skenkings aan hul lewensmaats bekend gemaak, maar veel minder (55,5%) het die inligting met familielede of hul eie genetiese kinders (25,6%) gedeel. Die meeste skenkers (71,3%) het nie op eie versoek DAV-DNS-toetsing afgelê nie, terwyl slegs 14,4% geweier het om nie aan die skenkerontwikkelde nageslag identifiseerbaar te wees nie. Van die groep skenkers wat aan DAV-DNS-toetsing deelgeneem het, het 35,8% afkomsinligting van die ontvangers aangevra en 28,8% was oor die algemeen nuuskierig daaroor, maar het nie formeel inligting aangevra nie. Slegs 5,4% van die skenkers was bereid om hulself aan die skenkerontwikkelde nageslag identifiseerbaar te maak. Skenkers het gesê dat hulle ietwat of uiters ongemaklik is (33,6%) met DAV-DNS-maatskappye wat die identiteit van geneties verwante persone deel, en 36,6% was ietwat of uiters gemaklik daarmee. Die meerderheid skenkers (45,8%) wat op ’n later stadium deur ontvangers gekontak is, is met behulp van DAV-DNS-dienste geïdentifiseer. Van die skenkers wat op ’n later stadium deur ontvangers gekontak is, het 60,8% hierdie kontak as positief of baie positief ervaar. Sommige het selfs blywende verhoudings met die oorspronklike ontvangergesinne aangeknoop, terwyl 11,8% van die skenkers die ontmoetings as negatief ervaar het. Dit was ook opmerklik dat 61% van die skenkers weer bereid was om spermskenkings te doen ongeag DAV-DNS-toetsing, terwyl 23,0% onseker hieroor was.

Direk-na-verbruiker- genetiese toetsing speel ’n uiters belangrike rol in spermskenkeridentifikasie, alhoewel spermskenkers bereid is om weer skenkings te doen ten spyte daarvan dat hul anonimiteit in die gedrang kan kom. Professionele berading met betrekking tot die implikasies van toekomstige skakeling en kontak tussen die partye behoort as ’n gegewe standaardprosedure beskikbaar te wees vir potensiële skenkers voor spermskenkings oorweeg word.

  • Die doel van ’n onlangse Deense studie (Lassen, Schiøler-Kesmodel, Bay en Skytte 2024) was om die motivering en houdings teenoor spermskenking onder Deense spermskenkers te bestudeer. Die veranderlikes het die volgende ingesluit: anonimiteit, altruïsme, die deel van inligting, houdings teenoor skenker-ontvanger-afstammelinge, die wenslikheid van spermskenkings vir gebruik deur verskillende kultuurgroepe, sowel as die sielkundige faktore wat verband hou met spermskenkings. Die ontwikkeling en veranderinge in houdings en motivering rakende spermskenkings oor ’n tydperk van vier dekades word in die ondersoek beskryf. Spermskenkers wat in 2022 gewerf is, was meer gewillig om hul identiteit bekend te maak en inligting oor hulself te deel in vergelyking met vorige dekades. Die gevolgtrekking word gemaak dat die respektering van spermskenkers se menings rakende uitruiling ’n belangrike veranderlike in die proses is.

Skenkers se inligtingsbehoeftes, veral rakende die gesondheidstatus van babas wat na kunsmatige skenkerinseminasie gebore is, die voorkoms van genetiese afwykings en besonderhede oor suksesvolle swangerskappe, sowel as die getal kinders wat deur spermskenkings verwek is, moet beslis in ag geneem word. Dit is belangrik om daarvan bewus te wees dat individuele spermskenkerprofiele diverse behoeftes verteenwoordig wat sodoende sal meehelp om ’n volhoubare skenkerpopulasie doeltreffend te bestuur en in stand te hou. Gegewe hierdie bevindinge, word veral die uitruil van inligting tussen skenkers en ontvangers besonder sterk aangemoedig.

........
Uit ’n moreel-etiese perspektief bestaan daar geen eenstemmigheid of die finansiële vergoeding wat spermskenkers ontvang, op grond van ware en suiwer altruïsme regverdig kan word nie.
........

 

Samevatting

Sedert die laat sewentigerjare het heelwat ingrypende veranderinge plaasgevind op die terrein van kunsmatige inseminasie met skenkersperm as ’n spesialisgebied binne die konteks van geassisteerde voortplantingstegnologie.

In sekere opsigte illustreer die simboliek soos geïllustreer word in die foto hier bo (inleidend tot die teks) die situasie baie treffend. Die belynde vingers van ’n volwassene en jonger kind sou kon dui op positiewe wedersydse uitreiking, toegeneentheid of ’n behoefte aan kontak. Indien meer konkreet daarna gekyk word, kan die wys van vingers ook die nakoming van wedersydse verantwoordelikhede impliseer, of letterlik op potensiële konflik dui.

Uit ’n moreel-etiese perspektief bestaan daar geen eenstemmigheid of die finansiële vergoeding wat spermskenkers ontvang, op grond van ware en suiwer altruïsme regverdig kan word nie.

Dit blyk uit die geraadpleegde literatuur dat moderne metodes soos die beskikbaarheid van genetiese databasisse en draersiftingstoetse ’n beduidende impak op die werwing van kandidaatspermskenkers sowel as die doeltreffende bestuur van spermbanke het. Die feit dat die anonimiteit van skenkers in die gedrang kan kom, is ’n faktor waarmee rekening gehou moet word. Identiteitvrystellingskenkers kan verskil van nie-identiteitvrystellers wat verskeie aspekte rakende hul spermskenkings betref. Dit is aangetoon dat sommiges selfs voorstanders kan wees van direkte kommunikasie en oop verhoudings met die nageslag wat uit hul spermskenkings gebore is.

Die psigososiale behoeftes en ervarings van spermskenkers, veral wat doeltreffende opvolgstrategieë en voorsiening van professionele berading (of selfs psigoterapie) betref, ontvang te min aandag in die literatuur.

Die ooglopende tekortkominge van hierdie studie is die volgende: Dit is bloot verkennend / ondersoekend / hipotese genererend van aard; nie alle vorme van gameetskenkings is in die ontleding ingesluit nie; en daar is selektief met ’n baie beperkte aantal navorsingstudies te werk gegaan. Alle tekortkominge behoort egter teen die agtergrond van realistiese afbakening en uitvoerbaarheid gesien te word.

 

Bibliografie

Brand, HJ en E Saayman. 1986. Standpunte rondom kunsmatige skenkerinseminasie. Stellenbosch: Universiteit-Uitgewers en Boekhandelaars.

Gilman, L. 2018. Toxic money or paid altruism: the meaning of payments for identity-release gamete donors. Sociology of Health and Illness, 40(4):702-17. https://doi.org/10.1111/1467-9566.12718.

Klipstein, S, A Chen en M Samplaski. 2020. The effect of loss of anonymity from direct-to-consumer DNA databases on sperm donation attitudes and practices of American sperm donors. Journal of Urology, 204:1125–6. https://doi.org/10.1097/JU.0000000000001141.

Klock, S. 2014. A survey of sperm donors' attitudes: a much-needed perspective. Fertility and sterility, 101(1):43–4. https://www.fertstert.org/article/S0015-0282(13)03114-2/pdf.

Lassen, E, U Schiøler-Kesmodel, B Bay en A Skytte. 2024. Four decades of sperm donation: motivation and attitudes among donors. Fertility and sterility, 121(2):349-52. https://doi.org/10.1016/j.fertnstert.2023.11.014.

Luo, XF, HL Wu, XR Ji, YL Tang, WJ Zhou, ZH Huang, Q Liu, LO Fan, C Huang en WB Zhu. 2023. Comparison of clinical outcomes, risks, and costs for 20,910 donor in vitro fertilization and 16,850 donor artificial insemination treatment cycles: a retrospective analysis in China. Journal of Clinical Medicine, 12:954. https://doi.org/10.3390/jcm12030954.

Mahieu, F, W Decleer, KK Osmanagaoglu en V Provoost. 2019. Anonymous sperm donors’ attitude towards donation and the release of identifying information. Journal of Assisted Reproductive Genetics, 36:2007–16. https://doi.org/10.1007%2Fs10815-019-01569-9.

Pennings, G, E Mocanu, J Rothmar-Herrmann, A Skytte, C Burke en A Pacey. 2021. Attitudes of sperm donors towards offspring, identity release and extended genetic screening. Reproductive BioMedicine Online, 43(4):700–7.

Sugihara, A, U Punjabi, T Chimienti, I Goovaerts, K Peeters, J Bouziotis en D De Neubourg. 2023. Sperm DNA fragmentation after cryopreservation and sperm selection has no implications for clinical pregnancies and live births after intrauterine insemination with donor sperm. Journal of Personalized Medicine, 13:1668. https://doi.org/10.3390/jpm13121668.

Van den Broeck, U, M Vandermeeren, D Vanderschueren, P Enzlin, K Demyttenaere en T D’Hooghe. 2013. A systematic review of sperm donors: demographic characteristics, attitudes, motives and experiences of the process of sperm donation. Human Reproduction Update, 19(1):37–51.

Wodoslawsky, S, J Fatunbi, R Mercier en A Mechanick-Braverman. 2021. Sperm donor attitudes and experiences on direct-to-consumer genetic testing. Fertility and sterility, 116(3):e37, Supplement. https://doi.org/10.1016/j.fertnstert.2021.07.110.

 

Lees ook:

Gesinsgeheime: taboe of bate?

  • 1

Kommentaar

  • Hendrik Nolte

    Dis belangrik om te weet dat skenkings al jare bestaan sonder kunsmatige metodes. Watter rol speel "ras" in KI en het ontvangers 'n keuse?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top