Staatsriede 2026

  • 2

Foto via Youtube

  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
...
En while djy daai soe siepglad noem, wonne ek hoevel byrie actual projects gan ytkom narat allie comrades hulle cut gevat het.
...

Mornings Uncle Cyril

Hoe vaar die siel? Ôs het nogals lanklaas bietjie gechat, maa’ na daai staatsriede van giste’ moet ek net wee’ incheck.

Uncle, djy was on fire. Presidential, baas vannie plaas, die man mettie plan. En daai blou tie was nogals mooi, hoo’. Djy het somma vroeg al lat vestaan niemand vat ôs land Suid-Afrika vi poppe nie. Maa soes ie speech angegan het, het it ampe beginne voel djy vat ôs vi poppe. High speed trains, wanne die normal treine dan nie ees op tyd issie? Haai nie, Uncle. Ek wiet is djou passion project, but still. Toegegie, daa loep nou mee treine as ees.

Daa was nogals baie goeie nuus oek in djou speech. It was lank, ampe twie ure, maa ek het heelpad gesit en lyste. Is djou stem orraait ve’oggend? Het djy Strepsils gesyg of iets?

Ek het nogals gedink ôs moet vi Trump ’n briefie skryf om dankie te sê. Van hy djou try ambush het innie Whitehouse, issit ampe of djy nuwe vuu gekry het.

Uncle, ek sien djy try om daai unity ding allie pad dee te trek. Het nogals my hart choklits lat pomp toe daai Khoisan-gedig annie begin voo’gedra was, al het ekkie ’n woo’d vestaan ie. En toe djy die Khoisan leaders insluit by traditional leadership. Hai, daai was nogals mooi.

Maa Uncle, even ie mense innie stadsaal het djou nie gegloe toe djy sê die korrupte mense gan vevolg wôd ie. Ôs hoo’ daai song nou al hoevel djare, en dololo. Niks. Ek dink djou speech writers cut en paste sieke maa nou elke kee daai stukkie innie speech. Het djy gehoo’ hoe boo hulle djou? Ôs is nou moeg van speeches; ôs wil nou aksie beginne sien.

Especially toe djy beginne brag oo hoevel investment commitments inkom vi projects, en hoevel ôs gan spend. R150 miljard vi wate’ en sanitation oo drie jaar. Daais R50 miljard ’n jaa. R54 miljard virrie metro’s om infrastructure reg te maak. R1 triljoen vir general infrastructure. Daais mee nulle as wat ek wiet hoe om te maak. R50 miljard vi data centres. R250 miljard virrie green economy. En while djy daai soe siepglad noem, wonne ek hoevel byrie actual projects gan ytkom narat allie comrades hulle cut gevat het. Let’s be real, soelank hulle wiet hulle gannie consequences voel ie, gan hulle anhou met hulle hand innie cookie jar. Daas dan soevel gel, en soevel ways om it in hulle se sakke te kry, en soelank hulle political connections het, soe min consequences.

Die crowd was baie happy toe djy sê djy stuur die army innie Flatse in en byrie illegal miners. Maa Uncle, wil djy rêrag die army instuur om polisiewêk te loep doen? Djy hou niks van Trump ie, maar die imagery wat gan kom, gan wies soes Trump se “boots on the ground” in Minneapolis. At least is ôse soldate nie soe trigger happy soes daai Americans ie.

Gepraat van Trump, djou hardline attitude oor immigrasie klink dan oek soe reg ytie Trump playbook. Annie een kant wil djy e-visas met 24-hour turnaround time hê, maa at the same time praat djy van drones oppie border.

Djou gun violence planne is sensible. Is soe, die regulations moet streng toegepas wôd. En is soe, die problem is illegal guns, nie die legal firearms ie.

Maa Uncle, ek wiet ie wie djou adviser was oppie alkoholplanne nie. Daai een vestaan nie ôse mense nie. Is fine om te sê density of outlets moet control wôd. Is fine om te sê trading hours moet change. Is fine om te sê moenie large containers alkohol vekoep ie. Maa Uncle, ek invite djou: Kô sit een weekend by my oppie stoep en kyk hoe wôd daai swat municpal vullisdromme gebryk om kiste bier te transport na sjebiens toe. Het djy hulle ingetel by djou outlets, Uncle? Wan ek kan guarantee, al wat djou regulations gan maak, is om hulle mee biesagheid te gie, en die outlets wat tax betaal, see te maak, Nieman gan ophou drink ie. Hulle gan net anne plekke drink.

At least is djy ernstag oorie water crisis. Maa hoekom wag tot ie krane in Jo’burg droeg is voo djy djou ministers instuur? Maybe is ek cynical, maa dit het bietjie gevoel ôs wôd gemanage toe djy sê hulle issie ees byrie Sona nie, so ernstag vat djulle die situasie.

Ek wietie hoe happy die veeboere met djou issie. Maande om vaccines by hulle te kry, whilst hulle dit binne dae of wieke op hul eie kon kry? Hoevel vee gaan vrek voo hulle die vaccine kry? Is fine om te sê it moet centrally coordinate wôd, maa kry dan bietjie spoed. Wieke, nie maande nie, is wattie boere norag het.

Is genuine goeie nuus van loadshedding. Daai gan klompie investments inbring. Hoep net sommige van dai gel kom by ôse mense yt.

Maa Uncle, die brief raak lank. Sorrie as ek negative klink, maa maybe wil mens ’n slag results sien en nie net promises hoorie.

Till next time.

Lees ook:

Sarah Niemand van Buffeljagsbaai, buite Gansbaai, en vanjaar se Sona

Wat wil jy vir Cyril sê? Wen ’n geldjie met jou antwoord.

Wat sê Bettina? Is een tree vorentoe en twee treë terug ’n cha-cha, Uncle Cyril?

Talk is cheap, maa money koep ie whiskey, uncle Cyril

  • 2

Kommentaar

  • Mooi geskryf, Bettina! En wat my betref is investments wat deur die regering beheer word gelyk aan korrupsie. Die kaders kan maar net nie hulle handjies van die staat en die publiek se geld af hou nie. As dit nie vir die megamega korrupsie en diefstal was wat destyds begin is in die Zuma-era nie en nou nog volstoom voortgaan nie, was miljoene armes al baie beter daaraan toe. Maar die ANC manipuleer kiesers met belastinggeld om aan bewind te bly. Dis die strategie.

  • Julio Agrella

    Volpunte, Bettina!
    Sou dit nie wonderlik gewees het as ons sogenaamde leiers (van alle partye) tussen die regte mense geleef het, eerder as om (gewoonlik stemwerwende) besoekers te wees nie.
    Ek wonder maar net.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top