...
Terwyl die president ’n lys suksesse van sy regering van nasionale eenheid uit die onlangse verlede aan die land voorgehou het, het hy sonder voorbehoud ook die menigte uitdagings uitgewys wat Suid-Afrika in die gesig staar.
...
Sarah Niemand van Buffeljagsbaai, buite Gansbaai, het geweet wat sy uit die 2026-staatsrede wou hê. Haar pleidooi het sy die dag tevore in die RSG-program Spektrum gelewer. Dit was ’n oproep in Overbergse Afrikaans aan president Cyril Ramaphosa om aandag te gee aan die lot van tradisionele “vissigsgemeenskappe” wat “hongig” ly weens die verlies aan visvangregte.
“My hart is so vol, want ons was so gelukkag 2023 toe ons die basket right ontvang het,” onthou sy. Dit het aan hulle kwotas vir die vang van sekere spesies toegeken. “Maar skielik kom die departement [van bosbou, visserye en die omgewing] en hulle vat stuk-stuk van ons spesies yt ons mandjies yt, en wat hulle ytvat, was baie hagrtverskeugrend.”
En harteloos. Hoe kon hulle? “Mense, visvang is ons bottig en ons bgrood. Ons kinnigs maak ons góót yt die see yt. [...] Hier is nie eens winkels nie. Ons kinnigs moet douvoordag opstaan om by die naaste skool te kom in Gansbaai, 35 kilometer ver. En waarvan leef ons kinnigs? Ons kinnigs leef yt die see yt. Nou daai [vang-] regte word gevat – en ons kinnigs en ons mense en ons gemeenskappe ly hongig. Ons sien ... ons sien ... hoe hongig ly ons gemeenskappe.”
Dit affekteer die kinders die ergste, sê sy: “En die marrag as die kinnigs uit die skool kom, is da’ nie eegs ’n stukkie bgrood nie.”
Die boodskap wat sy aan die president wou oordra, is dat die tyd aangebreek het dat hy en sy kabinet aan “vissigsdorpe” ’n besoek moet bring. Ramaphosa sou dan “met jou eie góót oë sien wat regtag in ons vissigsdorpe plek vat”. Maar toe die president sy staatsrede Donderdagaand in die Kaapstadse stadsaal lewer, was daar geen verwysing na die nood wat iemand soos Sarah Niemand hier verwoord nie.
Wat sy sou hoor, indien sy soos talle ander Suid-Afrikaners ingeskakel was, is hoedat die optrede van ander vroue 70 jaar vroeër, in 1956, by haar hedendaagse stryd aansluit. In ’n luide stem, het Ramaphosa gesê, het dié vroue – swart, wit en bruin – in 1956 na die Uniegebou opgemars om in geen onduidelike taal nie te verklaar: “Ons sal nie rus nie totdat ons vir ons kinders hul fundamentele regte van vryheid, geregtigheid en sekuriteit gewen het.”
Terwyl die president ’n lys suksesse van sy regering van nasionale eenheid uit die onlangse verlede aan die land voorgehou het, het hy sonder voorbehoud ook die menigte uitdagings uitgewys wat Suid-Afrika in die gesig staar. (Die volledige toespraak kan hier gelees word.)
Onder die prestasies tel die ekonomie wat groei, werkskepping, beleggingsvertroue wat aan die herstel is, korrupsie wat beveg word en verlede jaar se historiese matriekslaagsyfer van 88%. Onder die struikelblokke wat oorkom moet word, is die uitwissing van armoede, behoorlike gesondheidsdienste vir alle landsburgers, werkloosheid, meer tersiêre en opleidingsinstellings vir skoolverlaters, en dan waarskynlik op die oomblik vir die meeste mense die grootste bekommernis, naamlik die slegte, onstabiele toestand van munisipale bestuur en vrot dienslewering op plaaslike vlak, waarvan watervoorsiening deur Ramaphosa tot ’n nasionale krisis verklaar is.
Die uitdaging in die landbou met bek-en-klouseer gaan ook indringend aangespreek word, het Ramaphosa onderneem, wat waarskynlik die druk so ’n ietwat verlig op die skouers van John Steenhuisen, minister van landbou, wat uit radeloosheid oor hoe om dié ramptoestand te hanteer – en die druk wat dit op die DA se kiesersteun plaas – sommer onlangs sy beplande uittrede as DA-leier aangekondig het. Net sy verwydering uit die kabinetspos – na afloop van die DA se leierskongres in April – sal waarskynlik Steenhuisen se kritici stilkry, maar dit is ’n onderwerp vir ’n ander artikel.
Miskien was die volgende waarneming dan die mees opvallende aspek van Ramaphosa se toespraak: Geen tierlantyntjies hierdie keer nie, geen poësie of filosofiese aanhalings nie, geen “Thuma mina” nie. Net feite oor die vordering wat gemaak word, en daarmee saam koue, ongemaklike waarhede, kompleet asof hy ’n jaarverslag aan ons voorgelees het eerder as dat hy die nasie toespreek. Die inspirasie moes kom uit die planne wat gemaak word, het hy en sy toespraakskrywers seker gemeen. Nie uit mooipraatjies nie.
Maar ’n mens sou reken dat die president darem tog na die afsterwe van Diana Ferrus kon verwys het. Sy wat die Khoi-ikoon Saartjie Baartman se lydingsverhaal en tuiskoms uit Frankryk in ’n gedig verewig het. Dit sou goed aansluit by ’n ander historiese verwysing in sy toespraak, naas die vroue-optog, naamlik die 50ste herdenking vanjaar van die Soweto-opstande in 1976 teen die gedwonge instelling van Afrikaanse onderrig vir swart leerders.
Omgekeerd wys Ferrus se gedig, wat oorspronklik in Afrikaans geskryf is, hoedat die taal wat histories vir verdrukking ingespan is, ook vir ’n hedendaagse bevrydingsprojek aangewend kon word. Ramaphosa het egter wel ’n ander stuk pynlike Kaapse geskiedenis onder die aandag van sy gehoor gebring: dat dit vanjaar 60 jaar is sedert die ou Distrik Ses ingevolge die Wet op Groepsgebiede as ’n wit gebied verklaar is – en die gepaardgaande gedwonge verskuiwing van nagenoeg 60 000 inwoners na gebiede soos die Kaapse Vlakte.
Oor hierdie vlaktes, het oudpresident Thabo Mbeki in 1996 met die aanvaarding van die nuwe Grondwet gesê, nou presies drie dekades gelede, spook die verlate siele van ons Khoi-voorouers wat die slagoffers was van “die mees gewetenlose volksmoord wat ons land al ooit aanskou het”. Dié Grondwet, het Ramaphosa in sy toespraak gesê, “weerspieël die aspirasies van die mense van Suid-Afrika vir ’n nasie wat verenig is en in vrede saamleef; ’n nasie wat die boeie van verdrukking en ’n verdeelde verlede afgeskud het”.
In dieselfde asem hou die Grondwet egter alle Suid-Afrikaners aanspreeklik vir die regstelling van die onregte van die verlede, het hy bygevoeg, tesame met die verwesenliking van almal se reg op behuising, gesondheidsorg, kos, water, maatskaplike sekerheid, opvoeding en ’n beter en voorspoedige lewe vir almal.
Tyd vir grappies maak was daar daarom beswaarlik in sy staatsrede – behalwe reg aan die begin toe hy die BBP’s verwelkom en geskerts het oor hoe bekommerd die Kaapstadse burgemeester, Geordin Hill-Lewis, was dat hy sy naam verkeerd sou uitspreek. (Skrywersnota: Dit is nie “Gordon” soos in Gordonsbaai nie, maar “Jordan” soos in die Jordaanrivier.)
Dit het dalk van die lewering van die toespraak ’n vaal, eentonige affêre gemaak, maar dit het beslis die indruk gelaat dat die president ernstig is; dat hy besef ons land is dieper in die knyp as wat hy dalk self tot nou wou toegee. En hierdie keer het hy weer nie geskroom om die ding op sy naam te noem nie: Staatskaping was met sy oorname in 2018 die groot kopseer. Agt jaar later is dit georganiseerde misdaad, sowel as korrupsie in polisiegeledere, waarvan die getuienis voor die Madlanga-kommissie genoeg bewys is. “Ons kan dit nie duld nie,” sê Ramaphosa, wat dringende ingrypings aangekondig het, waarvan beter beskerming van fluitjieblasers een is.
Na die voorbeeld van die vrouestryders van 1956, die jeug van 1976 en die inhoud van die Grondwet van 1996, moet 2026 die jaar wees van “transformerende verandering”. “Hierdie is die jaar waarin ons Suid-Afrika sterker maak,” aldus die president. Plaaslike regering moet herstel word. Misdaad en korrupsie moet beveg word en vertroue in die strafregstelsel moet herstel word. Werk moet geskep word, asook beter lewensomstandighede vir elke Suid-Afrikaner – en die staat moet gesien word as dat dit wérk vir die mense van die land.
“Boweal moet hierdie stygende gety elke Suid-Afrikaner oplig,” het Ramaphosa bygevoeg. “Soos wat die ekonomie groei, moet dit almal begin insluit wat vir dekades op die kantlyn geleef het.” Die Grondwet vereis dat ’n samelewing geskep word waarin elkeen ’n regverdige kans op die verbetering van hul lewe het, het hy ook gesê; en verduidelik dat dit beteken “elke kind moet ordentlike onderwys en ’n geleentheid om te werk en te floreer kry”.
Selfs al het Ramaphosa nie regstreeks oor die lot van Sarah Niemand en haar gemeenskap gepraat nie, sou sy tog moed kon skep uit die aanhalings in die vorige paragraaf. Maar die beste bewys dat die president ’n erns hieroor het, sal steeds vir haar wees as hy die dag, soos sy op RSG gepleit het, met sy “eie góót oë” kan kom kyk hoe die lewe hulle op Buffeljagsbaai behandel.


