
Jou tweede digbundel Spiraal het onlangs verskyn en is op 18 September 2026 in Pretoria bekend gestel. Veels geluk daarmee! Vyf jaar gelede toe jy met Buigbreek gedebuteer het, het jy ’n ander naam gehad en op ’n ander kontinent gewoon. Hoe is die aanpassing in Australië?
Dankie. Die bekendstelling in Pretoria was ’n tuiskoms. ’n Mens trek nie net oor ’n oseaan nie; jy trek ook uit ’n naam en uit ’n klimaat. Om op my ouderdom, as ma en ouma, opnuut te leer hoe ’n landskap praat, het my gewys dat die bron waaruit ek skep dieselfde bly; net die materiaal is nuut. Ek het aan die Diamantkus by Alexanderbaai grootgeword. Hier op die grens van die ACT en Nieu-Suid-Wallis moes ek nuwe voëls, nuwe bome en ’n nuwe stilte leer ken. Die aanpassing het nie in die kop gebeur nie, maar in die gedigte. Toe die currawong in ’n gedig uit die bors van ’n boom roep, het ek geweet: Afrikaans het saam met my geëmigreer. Verplasing neem baie, maar dit gee ook ’n uitkykpunt. Van ver af sien jy die huis waaruit jy kom soms skerper, en leer jy onderskei tussen wat verbygaan en wat bly.
Jy skryf ook prosa soos nie-fiksie, maar dit skyn of die digkuns die medium is waarin jy veral tuis voel. Is dit ’n akkurate observasie of nie?
Ja. Ek skryf essays, asook teologiese en geopolitieke artikels, en dit is werk wat ek liefhet. Maar prosa is die werkswinkel; die gedig is die huis. In prosa moet ek verduidelik, argumente bou en elke tree regverdig. In ’n gedig dra die woord sy eie gewig en die stilte tussen die reëls praat saam. Tog voed die twee mekaar. Dikwels begin ’n essay by ’n reël uit ’n gedig, en soms hou ’n gedig vas wat geen essay kon sê nie.
Watter digters lees jy graag en beskou jy as inspirerend?
Ek is nie ’n kenner van ’n veelheid digters nie. Dalk het juis dit my eie stem beskerm.
TT Cloete het ek persoonlik ontmoet, en voor sy dood het ons per e-pos gekorrespondeer. Sy liefde vir sowel die wetenskap as die digkuns het by my aanklank gevind. By Sheila Cussons is dit die verwondering oor die natuurlike wat innerlik beslag kry; by Emily Dickinson die eerlikheid waarmee sy haar kyk oopbreek. NP van Wyk Louw en CS Lewis lees ek telkens weer. By Opperman is dit die eenvoud en helderheid waarmee hy komplekse beelde dra; “Klara Majola” het my nooit gelos nie, juis omdat hy die leser toelaat om die gedig verder te ontdek. Dan is daar Breyten se onverskrokkenheid en Joan Hambidge se meditasies oor mense en stede.
Ek lees ook wyd buite die poësie: oor wetenskap, astrofisika en wiskunde, oor geopolitieke bewegings deur die eeue en oor die motiewe van lande en regerings. ’n Digter hoef nie net gedigte te lees om ’n digter te wees nie. Die hele wêreld is materiaal.
Die Psalms lees ek telkens weer, omdat Dawid die volle menslike ervaring – vreugde, verlies, verwondering, skuld, hoop en verlange – in taal bring sonder om iets weg te steek. En die gelykenisse wys my hoe ’n groot waarheid in ’n eenvoudige beeld kan pas sonder om kleiner te word. Ek probeer nie ingewikkelde dinge eenvoudig maak nie; ek soek die beeld wat die ingewikkelde ding oopsluit.
Charles Bukowski se siening het my skryfwyse bevestig: Handel die gedig af, sonder om dit dood te slyp. Iemand het al vir my gesê: “Margaret, jy is nie Charles Bukowski nie.” My gedig “Vrye teuels”, wat op Versindaba verskyn het, spot juis hiermee.
Die spiraal was my eie tema van die begin af. Ek het agtergekom dat my verse wyd na buite beweeg en dan telkens intens na binne, tot by ’n stilpunt. Yeats se gyre het ek eers ná die voltooiing van die bundel deur navorsing raakgeloop. Sy spiraal kring na buite en implodeer. Myne wentel inwaarts en maak oop, na ’n plek waar iets nuuts gebore kan word.
Ek bly dankbaar teenoor my mentors by die Potchefstroomse Skryfskool, Bernard Odendaal, Hans du Plessis en Louis Esterhuizen, en teenoor Chris Brunette by LitNet en Marlies Taljard by Versindaba wat my gedigte vlerke gegee het.
Ten opsigte van Spiraal: Mens kry die indruk dat jy besonder hard gewerk het aan die bundel. Vertel bietjie van die kreatiewe proses en die afronding van die boek.
Ek het uit meer as 200 gedigte eers tot meer as 80 uitgedun. Johann Lodewyk Marais het my aangeraai om streng te sny, tot sowat 45, en my te bepaal by die kosmologiese tema en die wentelinge van die spiraal. Dit was die beste raad wat ek kon kry. Dit het my gedwing om te onderskei tussen gedigte wat in die bundel se beweging staan en gedigte wat bloot langs die pad staan. Om geliefde gedigte te laat vaar was nie maklik nie, maar so het die bundel sy vorm gekry.
Naledi het 47 aanvaar. Daarna het vier gedigte hul plek opgeëis, en die bundel staan op 51. Met 50 gedigte word die boog van die spiraal voltooi; die 51ste, “Nou”, begin die wenteling opnuut.
Nini Bennett se keuring en Dietloff van der Berg se fyn oog was onskatbaar, en Nicola se houtskool-eklips op die omslag vang die bundel se beweging vas. Selfs die laaste proewe het my iets geleer: Toe die outokorreksie my weglatingstekens verkeerd gekrul het, het ek gesien hoe groot ons taal se kleinste woord kan word.
Dit was gepas dat Johann, wat aan die begin die sny aangeraai het, ook die gesprek by die bekendstelling gevoer het.
Jy skryf heelwat oor kunsmatige intelligensie (KI) in Spiraal. Wat dink jy kan digters oor KI sê wat wetenskaplikes en tegnoloë nie kan nie? Ek dink veral hier aan ’n vers soos vers 30 “Woorde wat hang” (briljante titel vir die vers, so terloops).
Wetenskaplikes en tegnoloë kan meet wat ’n masjien doen. ’n Digter kan aanwys wat dit nie het nie. Ek gebruik self KI as navorsings- en administratiewe hulpmiddel; ek vrees dit nie en ek demoniseer dit nie. Maar elke gedig in Spiraal is my eie, en dit is presies die onderskeid wat “Woorde wat hang” trek. ’n Masjien kan die goeie benoem, die taal van barmhartigheid rangskik, die vorm van skuld nadoen en berou grammatikaal verwoord, “maar dit kniel nie”. Dit het geen binnevertrek waar stilte terugpraat nie. Die gewete kom nie as kennis nie, maar as aanspreeklikheid. Die gedig is die plek waar daardie binnekant hoorbaar word. Die titel kom uit die gedig se slot: Vir die masjien is daar geen nag waarin woorde bly hang en swaarder word nie.
Ek is veral getref deur die liefdesverse in die bundel, soos vers 22 “Vertrek”. Die gedagte aan liefdesverse sou mens tipies op vlug wil laat slaan, maar ek dink tog in die geval van Spiraal nuanseer dit die bundel goed en die verse is vir my ook oortuigend. Enige kommentaar op hierdie stellings?
Die liefdesverse is nodig, juis omdat die bundel so ver reik, tot by die kosmologiese en die eskatologiese. Sonder die liefde, sou Spiraal ’n bundel van idees wees, nie van mense nie. Dit is nie jeugdige liefde nie, maar liefde wat deur die winter gegaan het.
In “Vertrek” staan die winter se ruite wyd oop en val daar ysreën, “maar jy is / vuur / wat hongerhout / tot as brand”. Die titel is ’n homoniem: ’n Vertrek is ’n kamer én dit is ’n weggaan. Die koue dring deur die oop ruite die kamer binne, maar die geliefde is die vuur wat dit weer bewoonbaar maak. Daarmee antwoord die gedig op “Woorde wat hang”: Waar die masjien geen binnevertrek het nie, maak die liefde een oop.
“Stroop my” begin by die mees aardse deel van die liggaam: “stroop my voete in die sagte kussings / van jou hande”. Die gedig is ’n reeks sagte versoeke. Die aanraking beweeg van die voete na die oë, die vel, die ken en die lippe, en breek dan oop na “haal my af van kruise”. Hier is die liefde nie net teerheid nie, maar verlossing.
“Pypry” is die mees speelse gedig in die bundel: ’n Gold Coast-liggaam wat landlangs oor die duine loop, in die vlakwater paddle en in ’n #wipeoutWednesday stort. Ná die swaar vrae oor KI, oorlog en dood, gee dit die bundel asem. Die val in die branders is nie ’n tragedie nie, maar ’n fees. Liefde mag ook lag.
Wat hoop jy gebeur met ’n leser wat Spiraal oopslaan?
Ek hoop die leser word saamgetrek in die beweging van die spiraal: nie uitwaarts in die verstrooiing nie, maar inwaarts na die middelpunt, van die alledaagse na die onsienlike. Spiraal is nie ’n godsdienstige bundel nie. Wetenskap en geloof loop daarin as stapmaats, en ek laat die leser self kyk. ’n Gedig het nie een vaste betekenis nie; dit hang af van die dag waarop jy dit ontmoet en van wat jy saambring. Die leser is deel van die digproses. Daarom hoop ek nie op ’n bepaalde reaksie nie, net dat die leser iets hoor wat hy nodig gehad het, al het hy nie geweet dat hy daarvoor luister nie. ’n Sirkel eindig in een punt; ’n spiraal wentel voort, ook in die leser.

