
Grafika vanaf Canva, en gepubliseer onder Canva se gratis lisensieooreenkoms.
Daar is baie maniere om jouself as digter te verneder. Jy kan jou uitgewer se naam verkeerd spel. Jy kan Van Wyk Louw aanhaal en dit aan Opperman toeskryf. Dít is eerlike, menslike flaters, en die letterkunde vergewe hulle, want elkeen het sy eie.
Wat met my gebeur het, was erger, want ek was, soos die hof later sou bevind, grotendeels nalatig maar tog ietwat onskuldig. Laat ek dit vir julle vertel – deels om die gebeure te verwerk, deels om hierdie lastigheid met julle te deel en sodoende my las te verlig.
Die pasiënt
In die laaste week voordat my tweede digbundel druk toe is, het ’n virus hom by my tuisgemaak soos familie wat vir die naweek kom kuier en teen die derde week nog vra waar die koffie is. Ek het opgegooi met die stiptelikheid van beurtkrag: presies volgens skedule, of jy gereed is of nie. Ek was koorsig, pap, horisontaal – en ek het één taak op aarde oorgehad: die laaste korreksies. ’n Komma hier. ’n Woord daar. En een apostroof.
Nie sommer ’n apostroof nie. Dié apostroof. Die ’n is ons taal se kleinste woord. Hy weeg minder as ’n doudruppel, maar dra ’n hele geskiedenis op sy rug. En hy is die enigste woord wat met ’n krul begin. Daardie krul moet na links buig, want dit is ’n weglatingsteken: die spook van een. En spoke, soos almal weet, kyk agtertoe.
Die beskuldigde
My man se rekenaar is Engels. Nie net in taal nie – ook in wêreldbeskouing. Hy glo vas dat beskawing wes van Dover begin en dat elke apostroof wat voor ’n woord staan, besig is om Shakespeare oop te maak. Ek wil versigtig wees, want my man is ’n goeie man en dit is ’n goeie masjien, en nie een van die twee het ’n vorige veroordeling nie. Maar die masjien kyk na ’n Afrikaanse ’n soos ’n doeanebeampte na iemand met drie paspoorte: met onmiddellike agterdog. En dan swaai hy die krul om. Regs.
Sonder foutboodskap. Sonder ’n dialoogkassie wat vra: Is u seker u wil ’n taal van miljoene beledig? Net die sagte, onsigbare klik van outokorreksie wat doen waarvoor hy gebou is: om die wêreld reg te maak. In Engels.
Die verhoor
Die keurder – ’n vrou met die proefleesoog van ’n roofvoël – stuur die manuskrip terug.
Die krul is verkeerd.
Ek maak reg. Linkskrul. Pragtig. Ek stoor. Ek stuur.
Sy stuur dit terug. Die krul is verkeerd.
Onmoontlik. Ek maak wéér reg. Stoor. Stuur.
Terug kom dit. En weer. En weer. Vier keer het ek daardie apostroof reggemaak en vier keer het hy in haar posbus aangekom met sy krul agterstevoor – soos ’n kleuter se kroon in ’n kleuterskoolkonsert.
.......
Terug kom dit. En weer. En weer. Vier keer het ek daardie apostroof reggemaak en vier keer het hy in haar posbus aangekom met sy krul agterstevoor – soos ’n kleuter se kroon in ’n kleuterskoolkonsert.
........
Teen die vierde rondte het ek nie meer geredigeer nie. En ek het gedoen wat enige wanhopige, koorsige vrou doen wanneer sy die werklikheid self van knoeiery verdink: Ek het bewyse versamel. Ek het die krul reggemaak en ’n skermskoot geneem. Fotografiese bewys. Bewysstuk A. Ek stuur die manuskrip aan die keurder en die uitgewer; my skermskoot hoog gelig soos ’n fakkel van regverdiging.
Die keurder se antwoord het gekom met die sagtheid wat keurders bêre vir die werklik verlorenes:
Ja, ek is bly jy het ’n foto geneem. Want dit is verkeerd. Vat asseblief ’n boek van die rak af en kyk hoe lyk die ’n.
Ek het ’n boek van die rak afgehaal.
Ek het gekyk.
Leser, my skermskoot – my bewys, my fakkel – was ’n hoëresolusie-foto van die verkeerde krul. Ek het my eie misdaad gedokumenteer en dit aan die aanklaer gepos. Vyf rondtes lank het die masjien my korreksie omgeswaai die oomblik toe ek dit maak, en ek, siek en seker, het die omswaai trots afgeneem.
Bewysstuk B: hoe dit móés gelyk het.
Die vonnis
Ek het die res van daardie dag opgegooi en ek kon nie meer vir jou sê watter siekte watter een is nie. Die virus was in my maag; die apostroof in my hart. Wat die hoogtepunt van die hele reis moes wees – die finale wegstuur van vyf jaar se gedigte – was ’n mislukte sabrage waarvan die glasstukke saam met die vonkelwyn op die vloer lê.
Die appèl
Maar noudat die koors gesak het en die bundel by die drukkers is met sy krul die regte kant toe – so verseker hulle my, met bewyse dié keer – verstaan ek iets. Sedertdien vertrou ek nie meer skermskote nie. Hulle is soos ooggetuies: vol selfvertroue en dikwels verkeerd.
Ek het nie teen ’n apostroof verloor nie. Ek het teen ’n aanname verloor.
Iewers, jare gelede, het ’n programmeerder ’n reël geskryf: ’n Apostroof aan die begin van ’n woord is ’n openingsaanhalingsteken. Dis ’n volkome sinvolle reël – in Engels. En omdat Engels die taal is waarin sagteware droom, patrolleer daardie reël nou elke sleutelbord op aarde en vryf die afwykendes stilweg reguit. Afrikaans is dalk die enigste taal ter wêreld waarvan een van die algemeenste woorde met ’n weglatingsapostroof begin.
Wat beteken: Elke Afrikaanse skrywer wat leef, veg my oorlog – meestal stil, meestal verloor hy, elke dag. Die gemeentebriewe. Die munisipale kennisgewings. Gaan kyk gerus: Die verkeerde krul is oral en hy teel aan.
Ons praat ernstig oor die oorlewing van klein tale en ons dink die bedreigings is groot dinge: beleid, skole, emigrasie, die stadige suigkrag van Engels. Maar die oorlog om Afrikaans gaan waarskynlik nie met kanonne verloor word nie. Hy gaan verloor word deur miljoene klein krulletjies wat elke nag stilweg regs toe omgedraai word terwyl ons slaap – totdat ’n geslag grootword wat glo dis maar hoe mens dit skryf, want dis hoe die masjien dit skryf.
........
Ons praat ernstig oor die oorlewing van klein tale en ons dink die bedreigings is groot dinge: beleid, skole, emigrasie, die stadige suigkrag van Engels. Maar die oorlog om Afrikaans gaan waarskynlik nie met kanonne verloor word nie. Hy gaan verloor word deur miljoene klein krulletjies wat elke nag stilweg regs toe omgedraai word terwyl ons slaap – totdat ’n geslag grootword wat glo dis maar hoe mens dit skryf, want dis hoe die masjien dit skryf.
..........
Ek is dus nie meer verleë nie. Ek is geradikaliseer. My vyf teruggestuurde manuskripte was nie vernedering nie; dit was veldwerk. Die keurder het my nie reggehelp nie; sy het die sagteware reggehelp, déúr my – soos die posbode wat oor Bossie se duikvlugte by mý kom kla: Die instink is die voël s’n, maar die adres is myne.
En die skermskoot – my pragtige, verdoemende skermskoot – hou ek. Dit is die stigtingsdokument van ’n weerstandsbeweging.
Die krul buig na links. Die spook van een kyk agtertoe, terug na waar hy vandaan kom – soos ons almal, maar min van ons erken dit.
En as jy my ooit weer met ’n apostroof sien stry, moet asseblief nie dink ek is puntenerig nie. Ek verdedig bloot die kleinste woord in Afrikaans.
Iemand moet.
En ja, ek het die krul nagegaan.
Lees ook:
The Saturday birds – a memoir-essay in answer to Edgar Allan Poe


Kommentaar
Heerlike lees, Margaret. Dankie.
Heerlike storie, soos heerlike koffie. Maklik om te sluk. Hoop daar staan nog op jou spensrak, Margaret
Dit is in die aard (en in die taakbeskrywing) van taalpraktisyns om perfeksionisties te wees. Hulle beskerm immers die reputasie van uitgewers en skrywers. Dit is tog die klein jakkalsies wat die wingerd verniel. Vra Meta hoe om die linkskrul op 'n "Engelse" rekenaar reg te kry. As dit reg gedoen word, sal auto correct nie inskop nie. Dit is vir my as taalpraktisyn een van die irriterendste foute wat in tekste voorkom en kan só maklik reggestel word.
Dankie Gerard.😊
Dankie Marlies.
Dankie vir julle geduld met my — altyd.
My redigeerder was ook uiters professioneel, geduldig en behulpsaam.
Ek moes noodgedwonge destyds my manuskrip vir my eerste bundel — Buigbreek, op my foon doen tydens my omswerwinge.
Dit is nou tyd om my te vergewis met al die eise van die tegnologie.
Inderdaad!