Saterdagoggend het ’n ekster by my huis ingevlieg en ’n gebed beantwoord.
Hy het vrypostig ingekom – Bossie se maat, alleen op besoek, wat hy soms doen – en op die eetkamertafel gaan sit, waar ’n bakkie gerasperde kaas nog gestaan het van die oggend se plaatkoekies met esdoringstroop. ’n Paar happe, en toe gebeur iets vreemd: Hy vlieg die sitkamer in en sak reg agter die rusbank weg.
Om hom te bevry, stoot ek die rusbank opsy – en die hoek by die blinde kol waar die twee rusbanke mekaar ontmoet, skuif nét genoeg. En ek hét telkens onder die banke gekyk.
Daar lê my leesbril.
’n Week lank het ek daarna gesoek, meer as een keer op elke moontlike plek, en die saak uiteindelik oorgegee aan die enigste Een wat kon sien waar dit lê. En Hy – die God wat nasies gebied – het ’n voël gestuur. Nie reguit na die rusbank toe nie. Eers na die tafel, na die kaas, na die gewone oggend; toe agter die rusbank in, asof dit vir Hom doodgewoon is om die skepping te herlei ter wille van ’n leesbril – sommer op ’n Saterdag.
Toe, Maandagoggend, kom die Woord – ná die daad. Die Here is die Een van wie hier gepraat word: “Gaan deur, gaan deur die poorte; berei die pad van die volk; bou op, bou op die grootpad; ruim die klippe uit; hef ’n banier op oor die volke … en jy sal genoem word: Gesoekte, ’n Stad wat nie verlaat is nie” (Jesaja 62:10–12). Elke daad daarin is syne. God skuif die klippe, God bou die grootpad, God hef die banier op oor ál die volke, God kom met sy loon by Hom en sy werk gaan voor Hom uit – en God gee die naam: Gesoekte. Nie omdat ons groot is nie; geen eie grootheid kon dit verdien nie. Dit is sy wonderdade en sy Vaderliefde wat van ons gesoektes maak. Hierdie Woord het nie gunstelinge nie – dit is vir almal wat roep; en wie Hom aanroep soos ’n kind ’n pa roep, hulle word in daardie oomblik Gesoektes.
My eerste bundel, Buigbreek, het hierdie woorde op die agterplat:
die onvoorspelbare lewensreis van die mens as togganger, nomaad en pelgrim – oor berge, deur valleie, woestynsand en soms in boorde. Buig tot brekens toe, maar deur Sy hand hou Hy ons in stand.
Hy is die padmaker wat sand skuif in die woestyn en dit in stand hou. Hy bring die roesrooi môres een ná die ander, Hy versorg die boord waar vrugte tot rypheid kom.
Die God van die grootpad en die banier is dieselfde God van die rusbankkussing. Sy neerbuigende goedheid buig tot in ’n voorstedelike sitkamer, van die eindes van die aarde tot by ’n leesbril. Hy het ’n gelykenis in my meubels weggesteek: Wat ons ’n week lank in eie krag soek, lê in ’n blinde kol wat net Hý kan oopskuif – en ons is sy gesoektes. Hy Is die “klaarte in my kaatsing”.
God praat ekstertaal. Hy praat Afrikaans en Hebreeus en Engels. Hy praat in plaatkoekies en esdoringstroop, in agterplatte wat steeds waar word, in die geskuifde hoek tussen twee rusbanke. Hy tree op namens almal wat roep – terwyl ons nog besig is om meubels rond te stoot.
My hart loop oor en sit nou op my mou.



Kommentaar
Pragtig en treffend.