
Giuliette Price
- Foto’s: Clifford Roberts
Routes of sound is die afgelope naweek vir slegs vier vertonings by Spier-wynlandgoed buite Stellenbosch aangebied. Ses musikante speel sonder orkes, sonder fênsie klank, sonder kolligte en rook. Eerlik en rou, soms só sag dat jy moet inleun om te hoor. Wiegend, peinsend en helend.
Ons aand begin vroeg op die nuwe Spier-hotel se restaurantdak met ’n glas Cap Classique.
Onder by die swembad geniet toeriste wyne uit ons kelders, peusel aan kos uit ons erfenis-resepteboeke en kinders baljaar tussen kunswerke van ons beeldhouers.

Ons aand begin vroeg op die nuwe Spier-hotel se restaurantdak met ’n glas Cap Classique.
Die musikante begin een na die ander arriveer, instrumente oor hul skouers, op pad na ’n hoekie op die plaas wat in ’n klein, intieme teatertjie omskep is.
Die ses musikante Luh’ra, Giuliette Price, Taleswapper, Ntokozo Zwane, Odwa Bongo en Jak Thomas se musiek, agtergronde en persoonlikhede só uiteenlopend soos die mense wat kaartjies gekoop het.
Hoe veelsydig en divers is hierdie land van ons nie? ’n Kroegmeisie maak vuur in ’n pragtige vuurdrom; die liggies in die tuin kom met skemer aan; en die hemele verkleur met spatsels oranje, pienk en blou met die Hottentots-Hollandberge wat alles omsoom. Onder in die restaurant Veld is sjef Craig Paterson besig met die laaste afrondings voor aandete en elders op die plaas is personeel besig om glase, wyn en handgemaakte sjokolade uit te pak in afwagting van die kuiermense wat op pad is.

Die spesiale spyskaart wat by Veld vir konsertgangers aangebied is en ’n glas Creative Block-wyn van Spier insluit.
Want dis presies hoe hierdie ervaring vir my verlede jaar gevoel het: asof jy in ’n vriend se woonstel of voorkamer kuier, eerder as in ’n teater.
Ek kan dus nie wag om die tweede jaar van hierdie unieke klankroete te gaan ervaar nie.
Ons vergader by The Yellowwood Lounge in die middel van die plaas.
Die meesterbrein agter dié aanbieding Brett Bailey en Third World Bunfight gee ons weer toegang tot sommige van Spier se mees atmosferiese ruimtes – die historiese Herehuis, die Ou Wynkelder, die Soil Room in The Cowshed en ander karaktervolle hoekies.
........
“Die konsep speel op beide roetes (routes) en wortels (roots) – die paaie wat jy sal neem en die terugkeer na hoe musiek in die pre-elektriese era gehoor is: rou en ontkoppel.” – Brett Bailey
........
Brett verwelkom ons en sê die klein groepies van slegs 30 mense het elk ’n ander kleur kralebandjie om hul arm en word deur ’n gids met ’n flits gelei. Elke groep sien drie kunstenaars vir 30 minute elk en by elke venue kry jy ’n handgemaakte sjokolade en glas Creative Block-wyn van die plaas.
“Musiek het nog altyd ’n tuiste by Spier gehad. Na die ekstatiese ontvangs van verlede jaar se ervaring, is dit heerlik om weer ’n intieme, musikale reis oor die plaas aan te bied,” vertel hy.
“Die konsep speel op beide roetes (routes) en wortels (roots) – die paaie wat jy sal neem en die terugkeer na hoe musiek in die pre-elektriese era gehoor is: rou en ontkoppel.
“Die kollig is op deurdagte, narratiefgedrewe musiek wat jy waarskynlik nie elders sou teëkom nie – ’n ongewone, verrykende aand van ronddwaal en luister, wat gedagtes oopmaak vir buierige, poëtiese klanke uit die Kaap. Die geleentheid vorm deel van ons ‘Growing for good’-leuse, wat die kunste gebruik om positiewe sosiale en omgewingverskille te bewerk.”
Met ons groen bandjies, koue water en opwinding, soek ons ons gids.
Dié klankroete laat ons soos zombies agter die fluitspeler van Hamlin aanloop, vertel my liefde laggende.

Jak Thomas se amper country-agtige musiek laat dink my aan ons besoek aan Nashville baie jare gelede.
Ons luister eerste na Jak Thomas. Hy is omring deur hooibale, gevlegte mandjies met gedroogde skaapbos en gerwe in. Die geure van die veld kom sit in jou neus, terwyl sagte lig die ruimte in sagtheid omhul.
Hy vertel daar is baie liedjies oor sy innerlike kind vanaand en in die stiltes tussen sy gestroopte liedjies hoor jy die paddakoor buite. Die natuur en musiek neem hande op ’n wolklose sterrenag.

Taleswapper
In die Soil Room sit ons op kelims en kussings en luister na die amper fluisterende Luh’ra. Haar stem strelend en dansend, met die reuk van paraffienlampies en die herinnering aan vervloë dae toe dinge eenvoudiger was. Sy sê op een plek: “Ek weet nie waaroor hierdie liedjie gaan nie, want dis wat gebeur as jy liedjies skryf. Hulle skryf amper hulself.” Daar is baie kopknippe in die vertrek – baie kreatiewe mense verstaan heeltemal waarvan sy praat.

In die Soil Room sit ons op kelims en kussings en luister na die amper fluisterende Luh’ra.
Ons laaste stop is by Odwa Bongo. Hy speel op ’n Uhadi-kalbas met ’n strykstok en snaar, ’n tradisionele Xhosa-instrument. Die klanke is melankolies en strelend en voer jou ver heen, terwyl die kerse in die hoeke flikker.
Die rooiwyn in die amper donkerte, die perfekte pasmaat vir sy klanke.
Na 90 magiese minute is ons terug by The Yellowwood Lounge. Die luggie is koud en die soet, warm glühwein is net die regte medisyne vir die finale konsert, ’n samestelling van verskeie musikante onder leiding van die saksofoonspeler Buddy Wells.

Ons laaste stop is by Odwa Bongo.
Die kunstenaars se gesigte met hul unieke QR-kodes teen die muur beteken dat jy hul musiek op pad huis toe kan luister en die melankolie en saligheid jou langer soos ’n geliefde kombers kan omvou.
........
Ons mense, ons musiek, ons kos, ons wyn, ons erfenis is alles op een aand in al sy uiteenlopende heerlikheid gevier.
........
Mens kan nie anders as om met ’n vol hart en verkwikte siel huis toe te gaan nie. Ons mense, ons musiek, ons kos, ons wyn, ons erfenis is alles op een aand in al sy uiteenlopende heerlikheid gevier.
Ek dink weer aan Brett se woorde van roetes (routes) en wortels (roots) – die paaie wat jy sal neem en die terugkeer na hoe musiek in die pre-elektriese era gehoor is: rou en ontkoppel.
Hoe groot die voorreg om vir ’n aand weer net te kon stil word en luister.

Na 90 magiese minute is ons terug by The Yellowwood Lounge. Die luggie is koud en die soet, warm glühwein is net die regte medisyne vir die finale konsert, ’n samestelling van verskeie musikante onder leiding van die saksofoonspeler Buddy Wells.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n onderhoud oor Zoid Psalms
Die Reünie in die Kelder: Valiant Swart en die Akkedis Band: ’n onderhoud met Rudi Dennis

