
Noem jy die naam Charl du Plessis, is die beelde wat opdoem van dié talentvolle musikant in sy swart pak en das, as klassieke en jazzpianis vir die bekroonde kunstenaar, Nataniël, en ook as pianis vir die Charl du Plessis Trio, met Werner Spies (bas) en Peter Auret (dromme).
Vanjaar doen hy verskeie interessante projekte by Momentum Aardklop: een saam met Nataniël, NATANIËL + CHARL: 25, en Charl du Plessis se Surf & turf.
Dis egter die Surf & turf wat my oog vang. Dit word in die feesgids beskryf as “klassiek en crossover-klassiek”.

The Scullery Quintet (Foto: Verskaf)
Charl du Plessis is die aanbieder wat met The Scullery Quintet en Ethereal Voices die feesgangers op ’n insiggewende, sjarmante en soms humoristiese manier bekend sal stel aan twee uiteenlopende ensembles, wat elk ’n verkorte weergawe van 20 tot 30 minute uit hul volledige konserte – wat deel van die feesprogram is – sal aanbied.
Hierdie Vrystaatse klong het ’n lys toekennings op sy kerfstok: bykans soveel as die klawers op die pikswart vleuelklavier wat hy so mooi tokkel! Hy was nie net in 2010 die jongste pianis in Afrika om ’n Steinway-kunstenaar te word nie, hy het ook verskeie SAMAS op sy naam en as deel van die Charl du Plessis Trio ’n Ghoema-musiektoekenning vir beste instrumentele album en ’n Fiësta-toekenning vir beste musiekproduksie gewen.
Charl het op Klavierdag 2017 (wat jaarliks op die 88ste dag van die jaar gehou word – 29 Maart in gewone jare en 28 Maart in skrikkeljare) die eerste pianis ooit geword wat ’n konsert bo-op Tafelberg aangebied het.
By die 2019-Aardklop het hy drie toekennings vir sy solovertoning ingepalm, waar sy eerste soloalbum, Freehand, bekend gestel is.
The Scullery Quintet is ’n bekroonde ensemble wat nuwe, oorspronklike verwerkings van klassieke, jazz- en popmusiek met hope improvisasie en unieke, kontemporêre, musikale temas speel. Hul besondere aanslag maak die konsert toeganklik vir alle ouderdomsgroepe.
Die groep bestaan uit Hana Yim-Wahl (viool), Waldo Luc Alexander (viool), Tiisetso Mashishi (altviool), Viwe Mkizwana (basviool) en Peter Auret (tromme en perkussie).

Ethereal Voices (Foto: Verskaf)
Ethereal Voices – Ilze van Staden (sopraan), Malané Hofmeyr-Burger (fluit) en Sonja van Zyl (klavier) – bied die kombinasie van sopraan, fluit en klavier. Die program sluit in die “Pie Jesu”, “Ave Maria” deur Caccini, “Flower duet” en “Barcarolle”. Die konsert bereik ’n hoogtepunt met die “Waansintoneel” uit Lucia di Lammermoor.
Alexa Strachan is die vervaardiger en erken dat die vertoning “een van daai mal idees [is] wat ek in die middel van die nag uitgedink het, en toe net geweet het ek kan dit nie sonder Charl doen nie”. Mal, maar lekker, is al hoe dit vir my klink en ek glo geen feesganger sal van my kan verskil nie.
Ek gesels met Alexa (AS) en Charl (CdP) voor die eerste vertonings:
MR: Vertel my meer van daardie mal idee – wat het die vonkie in die kruitvat laat spat en hoe het jy aanvanklik begin?
AS: My kommer bly dat klassieke musiek as genre se gehore besig is om te kwyn. Dit bly egter vir ons by Aardklop ’n bitter belangrike genre, ook omdat dit taal- en kultuurgrense oorskry (baie soos visuele kunste). Ons het terloops so bietjie van ’n konsep by my gerespekteerde kollega Jana Hattingh by Suidoosterfees geleen en aangepas vir ons doeleindes in die verband.
MR: Hoeveel insae het Charl gehad en wat het hy na die tafel gebring om die finale produksie te ontsluit?
AS: Aardklop se programsamestelling is nie ’n eenvrou-besluit nie. Ons het verskeie raadgewers in die verskillende genres wat hul eie tyd en kennis met ons deel, sonder betaling. (Ek oorskat myself in elk geval nooit om te dink ek weet die beste nie.) Rakende die klassieke musiek, spesifiek, is Aardklop geseënd om onder andere op die kennis en raad te kan staat maak van veral: Conroy Cupido (director of the School of Music, North-West University, professor in singing and opera, director on the board of Cape Town Opera, president of the National Association of Teachers of Singing [South Africa Chapter]) en Charl du Plessis.
MR: Hoekom Charl?
AS: Ter agtergrond: Ons en Charl stap al ’n lang pad. Tydens Covid, byvoorbeeld, het Nataniël my bly die opdrag gee: “Doen iets rakende die klassieke musiek!” Ek en Charl het saam die uitdaging aangepak en op die ou end ’n baie suksesvolle, broodnodige, maandelikse reeks uitvoerings, Aardklop Aubade, saam met die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria aangebied, vanaf 2020–2023, totdat dinge na normaal kon terugkeer.
Rakende Surf & turf: Ons het almal saamgestem dat Charl se ongelooflike kennis, sjarme en gewildheid die logiese keuse as aanbieder en “gom” moet wees. Dankie tog hy het ingestem.
MR: Hoe moeilik of maklik is dit om gehore geïnteresseerd te hou in klassieke musiek en wat is die doel van “crossover-klassiek” na jou mening?
AS: Ek dink ek het reeds deels bo geantwoord, maar om by te voeg: Crossover-klassiek maak klassieke musiek juis vir gehore meer toeganklik. Soos wat die Charl du Plessis Trio by uitstek bewys.
MR: Waarna sien jy veral uit met hierdie aanbieding en waarheen sal dit ná Aardklop reis?
AS: Dit gaan nêrens nie; dis óns projek. Die enigste uitdaging is om vir die agbare Charl langer in die land te hou, sodat hierdie reeks wat die jaar klein afskop, bloot van krag tot krag sal gaan, jaarliks sal bly groei; sodat klassieke en crossover-kunstenaars wat nie noodwendig so bekend aan die breër publiek is nie, geprikkel word om dan hul volledige uitvoerings later in die week tydens Aardklop ook by te woon.
MR: Toe Alexa jou nader, wat was jou indrukke en gevoel oor haar voorstel?
CdP: Alexa het meer klassieke vertonings gehad om in te pas as wat die skedule toegelaat het en toe kom ek met die voorstel na vore om twee in een vertoning te kombineer. Ek het spottenderwys genoem dis soos surf-en-turf vir wanneer jy nie kan besluit wat om te eet nie, en toe het Alexa die titel wraggies behou.
MR: Het julle baie getimmer en geskaaf of was haar plan van die begin af sommer nommerpas?
CdP: Die inhoud van die twee vertonings is aan die diskresie van die kunstenaars oorgelaat en ek dink dis niks minder as reg nie om hulle die vryheid te gee om self te besluit watter materiaal die beste impak sal hê vir ’n “halwe” konsert.
MR: Wat is vir jou anders/opwindend aan hierdie tipe produksie wat jy nie in jou Trio of werk saam met Nataniël ervaar nie?
CdP: Ná 25 jaar is dit steeds bewonderenswaardig om te sien hoe Nataniël se brein werk en hoe ongelooflik kreatief hy is. Ek het die voorstel gehad om 25 jaar saam op die verhoog te vier en hy was dadelik vasbeslote dit moes by Aardklop wees en toe het ons begin breinstorm met konsepte. Hierdie vertoning is anders, omdat ons nie net terugkyk nie, maar nuut en vars die toekoms ingaan, soos wat dit Nataniël betaam.
MR: Hoe het julle op die twee groepe besluit?
CdP: Ek en Alexa het gekyk na wie die beste kontras sou bewerkstellig en watter twee groepe mees uiteenlopend van aard is, sodat die luisteraar met ’n wonderlike smörgåsbord van klanke en style begroet word.
MR: Wat is die grootste uitdaging van ’n vertoning met soveel mense op die verhoog?
CdP: Om die oorgang so glad moontlik te laat verloop en ’n sin vir kontinuïteit te bewerkstellig. Dit is waar my betrokkenheid op die verhoog sin maak as aanbieder en kontinuïteitsregisseur.
MR: Hoe hou jy kop as jy by verskillende produksies op een fees betrokke is?
CdP: Hoe meer, hoe beter, is my leuse. Ek ken van rondhardloop en hard werk en ek dink ’n F1-motor is op sy beste as hy vinnig ry. Ek maak seker die voorbereiding is onberispelik en natuurlik is die span by Aardklop – die admin, maar meer belangrik tydens die fees die wonderlike tegnici en verhoogpersoneel – die rede waarom alles vlot verloop. Ek berus my op hulle.
MR: Waarna sien jy veral uit met hierdie aanbieding?
CdP: Dis ’n eerste vir Aardklop en ek sien uit om die gehoor se terugvoer en reaksie te beleef. Ek sit tussen hulle en kan die energie aanvoel.
MR: Voel jy daar is ’n herlewing in die belangstelling in klassieke musiek onder feesgangers en teatergehore en waaraan skryf jy dit toe? Indien nie, wat kan musikante doen om die herlewing te bewerkstellig?
CdP: Klassieke musiek is nie meer oral en in skole en in kerke soos 50 jaar gelede nie – mense besef nou jy moet soek daarvoor of moeite doen as jy kwaliteit wil beleef en dis hoekom dit so belangrik is dat die aanbod van klassieke musiek by Aardklop van hoogstaande gehalte moet wees en dat die gehore dit sterk moet ondersteun, anders verdwyn die aanbod as die aanvraag verdor.
- Die vertoning duur 90 minute en is ideaal vir die hele gesin en meertalig. Dis op 8 Oktober om 14:00 by NG Kerk Vyfhoek. Kaartjies by Webtickets teen R180 (hartsvriende) en R200.

