Charl du Plessis het roem verwerf toe hy die jongste pianis in Afrika was om ’n Steinway-kunstenaar te word. Sedertdien het hy ’n internasionale loopbaan gebou as beide klassieke en jazz-pianis wat musiek van Bach tot Billy Joel vir ’n nuwe generasie luisteraars toeganklik maak.
Ná debuutuitvoerings in Londen se Royal Albert Hall, Berlyn se Filharmoniker (saam met Chick Corea) en Sjanghai se Oriental Art Centre, het Charl du Plessis in 2017 die eerste pianis ooit geword om’n klavieruitvoering bo-op Tafelberg te gee en is hy ook genooi om saam met mede-Steinway-kunstenaar, Lang Lang, by die opening van Steinway Hall in Beijing op te tree. Konserttoere na die VSA, Europa en die Verre-Ooste het daartoe gelei dat die media Du Plessis as ’n “kultuspianis”, “edutainer” en ’n pianis met die “x-faktor” gedoop het.
Sedert hy besluit het om in 2006 sy eie jazz trio te stig, het Charl du Plessis gehore se aandag gevestig op die kompleksiteite en diepte wat die kombinering van jazz en klassieke musiek kenmerk. Die trio het twee SAMA’s, ’n Ghoema en ’n Fiësta gewen en het al by groot internasionale feeste opgetree.
Vir die afgelope 19 jaar tree hy in meer as 60 konserte per jaar saam met die Suid-Afrikaanse sanger en ikoniese vermaaklikheidster, Nataniël, op.
Charl du Plessis woon in Pretoria, Suid-Afrika, waar hy sy tyd verdeel tussen konsertlewe, kamermusiek en, vir die afgelope 12 jaar, ’n lektorspos by die Universiteit van Pretoria. Hy is in meer as 130 konserte per seisoen en streef na ’n omvattende benadering tot die musikale professie, waar hy ook sy eie bestuur behartig en opnames onder sy eie onafhanklike handelsmerk maak. Meer onlangs het hy saam met die Switserse platemaatskappye, Claves Records en Stenheim, opnames gemaak. Hy het 10 CD’s en twee DVD-opnames uitgereik, waarvan die Baroqueswing-reeks die mees suksesvolle tot op datum is. Charl se debuutsolo-album, Freehand, is pas vrygestel.
Charl du Plessis het onder die klaviermeester Joseph Stanford aan die Universiteit van Pretoria studeer en was die eerste student ooit om ’n doktorsgraad in uitvoering van beide klassieke en jazz-klavier te behaal. Bekende musici soos György Sebök in Ernen, Switserland, Dan Haerle en Stefan Karlsson by die Universiteit van Noord-Texas en Ulrich Koella by die Musikhochschule Winterthur, Switserland was van sy ander leermeesters. Hy is die ontvanger van groot pryse by internasionale studiebeurskompetisies van die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) en die Suid-Afrikaanse Musiekregte-organisasie (SAMRO).