Aardklop 2017: Charl du Plessis oor 40 Vingers en Stemme vir môre

  • 0

Liné Enslin gesels met Charl du Plessis oor sy produksies 40 Vingers en Stemme vir môre, wat eersdaags by Aardklop (2 tot 8 Oktober) te sien is.

Hallo Charl. Baie dankie dat jy bereid is om met my te gesels – ek is seker jy is besig met baie voorbereidingswerk met Aardklop wat om die draai is. Ek sien jy is vanjaar betrokke by twee produksies, 40 Vingers en Stemme vir môre. Sal jy asseblief kortliks iets van die produksies vertel?

40 Vingers is ’n wonderlike eerste vir my, omdat dit ’n geveg by die klawers is tussen vier pianiste se 40 vingers wat probeer plek vind vir al die note. Ek het die projek aanmekaargesit vroeër vanjaar en ons het meer as 500 000 FB-kykers gehad wat ons video gesien het binne ’n week. Die musiek is natuurlik waaroor die produksie gaan, so ek het verwerkings gemaak van John Lennon tot Piazzolla en daar is selfs rock en pop en blues ook in. Toe vra ek drie van my gunsteling-kollegas met wie ek nog nooit op die verhoog gespeel het nie om deel te wees. Hulle is die beeldskone en talentvolle Elna van der Merwe, Pieter Grobler en Albie van Schalkwyk. Gehore sal Elna van die “Blondes”-faam ken en Pieter is die hoof van die Endler en Konservatorium in Stellenbosch en ’n wonderlike vriend wat destyds saam met my by UP studeer het. Albie is al vir lank my ad hoc-onderwyser wat ek dink een van die slimste mense op die planeet is.

Ek het al die verwerkings nuut gemaak, sodat gehore nie dink dieselfde beperkte repertorium word oor en oor by sulke konserte gespeel nie. Dis deur my hele loopbaan nog altyd iets belangrik vir my: nuut en vars liewer as herhaling van ou bekende musiek.

Charl du Plessis, Albie van Schalkwyk, Elna van der Merwe en Pieter Grobler

40 vingers wat gesinkroniseer moet word om ’n sinvolle geheel te vorm klink vir my na ’n uitdaging. Wil jy dalk meer vertel van jou samewerking met Pieter Grobler, Elna van der Merwe en Albie van Schalkwyk en hoe julle dit regkry om elkeen jul regmatige plek agter die klawers in te neem sonder om mekaar met jul elmboë by te kom?

Die plekmaakgevegte is altyd lekker, want pianiste werk meestal alleen – veral by die klavier. Soms is daar ’n sanger of ’n instrumentalis, maar die klawers en die omgewing daarom heen is so ’n bietjie soos ons elkeen se private ruimte. En nou word dit binnegedring deur nie een nie, nie twee nie, maar drie kollegas. Ek moet noem ons speel op twee klaviere by tye – met ander woorde twee spelers per instrument en soms alleen en soms drie of vier op een klavier, so die gehoor kan lekker variasie verwag.

Duetspel of om met meer as een pianis te werk is vir my soos troukoek – iets wat jy net nou en dan die heerlike smaak van kan geniet. Die samesyn en fisieke kontak is vir my heerlik en om musiek te kan speel en dit so te geniet maak die produksie een van my gunstelinge van die afgelope 10 jaar. My kollegas se ervaring, professionele houding by die konserte en repetisies, asook die absolute vrees om al my regte note te speel is ’n wenkombinasie vir die produksie. Ek spot net – hulle weet ek skryf sodat hulle kan verbeter waar nodig en kan verander soos wat iets gemakliker lê onder hulle bekwame hande. Ons glimlag die heeltyd en dit voel nie soos werk nie. Alhoewel daar ‘n klompie moeilike oomblikke in die musiek is, bly die genot en die kommunikasie daarvan aan die gehoor vir ons ’n prioriteit.

Hoe het dit gebeur dat jy, Vuvu Mpofu en Bongani Kubheka by mekaar uitgekom het om die Stemme vir môre op die planke te bring?

Ek is deur Aardklop genader om ’n produksie vir die operaliefhebber bymekaar te sit en het die twee sangers voorgestel. Ek het nog nie saam met een van hulle gewerk nie, maar net gehoor en sien vreeslik uit na die produksie.

Bongani Kubheka

Wanneer jy ’n verwerking van ou gunstelinge doen, waar lê die skeidslyn tussen jou eie interpretasie en die behoud van die oorspronklike stuk vir jou?

In 40 vingers is alles herverwerk, soos ek genoem het, maar in Stemme vir môre is alles oorspronklik en geen verwerkings is gedoen nie. Ons vul die program met opera-arias vir elke smaak – daar is bekende Romantiese en Klassieke arias van komponiste soos Mozart, Rossini, Verdi en Donizetti.

Vir die verwerkings wat ek vir 40 vingers gemaak het, of soos die verwerkings vir my trio se Baroqueswing-reeks, probeer ek altyd die integriteit van die oorspronklike behou. Natuurlik probeer ek my eie stempel daarop afdruk, maar net as ’n beskouing vanuit my instinktiewe en subjektiewe musikale belewenis van die musiek. Die vertolking van musiek maak dit altyd jou eie interpretasie en daarom is dit so moeilik, of bykans onmoontlik, om iemand anders se weergawe te speel – ek sou dit nooit kon doen nie: dis soos plagiaat en bitter vervelig. Ek dink daar is baie ruimte vir die individu in die musiek wat ons na Aardklop bring.

Dink jy musiekproduksies wat nie deel is van die hoofstroom Suid-Afrikaanse musiekbedryf nie, word genoeg ondersteun by kunstefeeste? Is daar genoeg belangstelling?

Natuurlik kan die ondersteuning altyd meer wees, maar ek dink gehore besef ook algaande dat feeste soms musiek en toneel en kuns op die planke bring wat die res van die jaar nie beskikbaar is nie, en noop hulle dan om te spring vir kaartjies. Dis presies die geval met dié twee produksies, wat nêrens anders vanjaar gesien sal word nie. Ek is dankbaar om te kan sê dat die meeste konserte wat ek per jaar speel, bykans vol is en die genot van die musiek iets is wat mense oor die hele land en in die res van die wêreld altyd in die konsertsaal kom soek.

Is jy ewe gemaklik met jou rol agter die skerms as regisseur as op die verhoog (en agter die klavier)?

Ja, ek is. Ek verkies dit om in beheer te wees, omdat ek na al die jare beter verstaan wat verkoop en wat werk goed op die verhoog vir die mark waarvoor ek speel. Dis ’n nismark wat baie goeie smaak het en gehalte verlang, maar ook van iets buitengewoon hou en graag wil ontspan en geniet en selfs lag by tye. Die ernstige musiekkonserte is belangrik op ’n fees, maar daar is gewoonlik genoeg aanbieders van sulke programme. Ek hou van die konseptualisering, verwerking, notering en repetisies en natuurlik die administrasie, soos vlieg, verblyf, bemarking en om naels te kou oor kaartjieverkope. Dis vir my alles deel van die proses om iets op die planke te bring.

Met watter ander projekte is jy op die oomblik besig, buiten jou betrokkenheid by die Aardklop-produksies?

Ek vertrek aan die einde van die jaar vir solokonserte na Switserland en my trio gaan in Januarie na China. Ons het so pas ons derde Baroqueswing-CD ontvang en begin dan met die vrystelling in Januarie. Die nuwe CD het ook ’n DVD by van konserte in die Switserse Alpe en dis ’n produk waarop ek trots is van Claves Records. Benewens dit gaan konserte vir Nataniël se 30ste herdenking op die verhoog op toer deur die land en maak ek opnames vir my eerste solo-CD in Desember.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top