Pianis Charl du Plessis gesels oor eerste solo-album

  • 0

Charl du Plessis

“Ek staan telkens verstom voor die vermoë wat musiek het om ons uit ons onmiddellike omgewing te laat ontsnap en ons buie te beïnvloed.”

Só vertel bekende pianis Charl du Plessis oor wat musiek vir hom beteken.

Charl se produksie SOLO het onlangs behoorlik die aandag gevang by Aardklop, waar die produksie met drie toekennings bekroon is. Die produksie was ’n bekendstelling van Charl se eerste solo-album, Freehand, waarmee hy nog verder deur die land gaan toer. Boonop word sy trio se nuwe album, Imagine, volgende jaar by die US Woordfees bekendgestel.

In 2020 vier Charl du Plessis ook 20 jaar as Nataniël se pianis, maar dis nie al waarvoor dié talentvolle man bekend is nie.

Charl vertel meer oor alles waarmee hy doenig is.

Charl, jy vanjaar by Aardklop die toekenning vir grensverskuiwende werk vir jou produksie SOLO ontvang. Wat beteken hierdie erkenning vir jou?

Die produksie was die bekendstelling van my eerste solo-album, Freehand, en daarom was ek des te meer bly oor die drie toekennings wat ek by Aardklop ontvang het. Dit beteken die gehoor en die beoordelaars kon dadelik aanklank vind by hierdie nuwe musiek wat my eie materiaal is. Die grensverskuiwende element in hierdie produksie was vir my meer intern as ekstern, omdat dit my gedwing het om op artistieke vlak met iets baie meer persoonlik en sensitiefs om te gaan as wanneer ek klassieke of jazz-musiek leer en dit uitvoer. Ek en die gehoor het dus ’n unieke ervaring gehad.

Dink jy dis belangrik vir kunstenaars om vereer te word vir die werk wat hulle doen?

Ja. Vir my is hierdie soort verering ’n meevaller wat ek mateloos waardeer. Ek dink egter dit kan gevaarlik word wanneer kunstenaars pryse as motivering vir hul artistieke uitsette gebruik. Ek speel nie om te wen nie; ek speel om uitdrukking aan my eie kreatiewe drange te gee en om die gehoor te vermaak.

Vertel asseblief meer oor SOLO? Wat was die inspirasie vir die produksie?

Ek wou graag ’n projek saamstel waarvan die nukleus impulsiewe en vrye improvisasie is. Dit het alles begin by my gewoonte om saans laat by die klavier te sit en vir myself te speel, met geen druk of selfbewustheid of kritiek nie, net mooi musiek. Hierdie soort spel beskryf ek as freehand playing en het in Maart vanjaar tot uiting gekom tydens drie dae van opnames in die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg. Ek kon speel wat ek wou en die produksie, sowel as die album, bevat musiek van uiteenlopende style en emosies wat val onder die kategorie “easy listening”.

Wat was die uitdagings daaraan verbonde om hierdie produksie op die been te bring?

Die vrees om op die verhoog te stap en te weet dat baie van die musiek nie geoefen of vooraf uitgewerk is nie, was oorweldigend, maar het ook as inspirasie gedien om te kon skep. Om hierdie produksie te bemark was ook ’n uitdaging, omdat feesgangers iets anders sou ervaar as my trio in vorige jare. Soms is die fisieke elemente ook ’n uitdaging en die feit dat ek op die oggend van die eerste uitvoering uit China geland het en toe Potchefstroom toe moes ry, het dinge ietwat gekleur.

Charl, wat beteken musiek vir jou? Waar kom jou liefde daarvoor vandaan?

Ek staan telkens verstom voor die vermoë wat musiek het om ons uit ons onmiddellike omgewing te laat ontsnap en ons buie te beïnvloed. Musiek was nog altyd die “aangename” bykomstigheid in my ouerhuis, waar ons graag na mooi musiek geluister het. Alhoewel my ouers nie musikaal was nie, het hul voorliefde vir goeie musiek as belangrike invloed en leerskool gedien.

Kan jy die eerste keer onthou wat jy klavier gespeel het? Vanwaar jou liefde vir dié instrument?

Nee, ek kan helaas nie, maar vandat ek kan onthou was die Steinway in ons huis en het ek graag liedjies opgemaak en gespeel. Om eerlik te wees, het geen ander instrument in my lewe gefigureer tot en met heelwat later nie. Alhoewel ek elke Sondag die orrel in die kerk gehoor het, was dit grootliks ’n ongesiene ervaring en daarom was klavier vir my die voor die hand liggende keuse toe ek met musiekonderrig begin het. Tot vandag toe glo ek dat dit die koning van alle instrumente is.

Jy spits jouself veral toe op die klassieke en jazz-genres. Wat is dit omtrent hierdie genres wat met jou praat?

Ek vind aanklank by die dissipline, struktuur en kreatiwiteit wat binne hierdie streng, formele grense kan geskied. Die intellektuele aard van beide hierdie style spreek tot my en in my unieke vermenging daarvan het ek nog altyd gepoog om die gaping en skeidslyn tussen hierdie twee style te verwyder.

Jy is geen vreemdeling in die bedryf nie. Wat is enkele hoogtepunte van jou loopbaan?

Toe ek in 2010 aangewys is as ’n Steinway-kunstenaar; om die eerste mens ter wêreld te word wat bo-op Tafelberg kon klavier speel; en om in die grootste konsertsale te kon speel – van Sjanghai, Londen en Berlyn tot New York – bly onvergelykbare ervarings.

Met watter projekte is jy alles op die oomblik doenig?

Ek gaan verder toer met my Freehand-album. My trio se nuwe album, Imagine, verskyn aanstaande jaar en word by die Woordfees bekendgestel. In 2020 vier ek twee dekades as Nataniël se pianis met spesiale konserte regdeur die land. Beethoven sou volgende jaar 250 jaar oud gewees het en daarom speel ek saam met verskeie orkeste en dra ook soloprogramme aan hierdie groot meester op.

Wat hou die toekoms vir jou in?

Die uitdaging om as konsertpianis in Suid-Afrika ’n produktiewe en kreatiewe bestaan te voer, word al groter. Ekonomiese druk, wat gehore noop om minder konsertkaartjies te koop, motiveer my om meer kreatief te wees as bemarker en bestuurder van my eie musiek en om in die motor te spring om in die platteland te gaan speel. Om die vraag meer spesifiek te antwoord: My toekoms sal beslis nie vervelig of sonder uitdagings wees nie, maar ek geniet wat ek doen en sien dit as ’n voorreg om dit met mense te kan deel.

  • Foto's: verskaf
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top