Charl du Plessis, Suid-Afrika se "Piano Man"

  • 3

Charl du Plessis is ’n talentvolle pianis uit eie reg. Hy is ook bekend daarvoor dat hy al 13 jaar lank Nataniël se begeleier is. Naomi Meyer het hom oor sy loopbaan uitgevra.

Hallo Charl, en dankie dat jy kans kry om te gesels. Anderdag sê iemand vir my dis eers behoorlik Kersfees as sy vir Nataniël by die Oude Libertas gesien het. En daarmee impliseer sy jou trio ook. Hoe lank is julle al ’n span (ekskuus, klink dit soos rugby?).

Hallo Naomi en dankie vir jou tyd.

Ek en het die trio in 2006 gestig met die oog op ’n nismark in die plaaslike musiekbedryf. As klassieke pianis is ek opgelei om vir klassieke gehore te speel en slegs klassieke repertorium. Dit word egter baie eendimensioneel en mense se maak is deesdae baie meer verspreid en vol nukke en grille wat by elke bui moet pas. Om hierdie rede het ek gedink dat die vermenging van jazz en klassiek en watter ander dergelike style ons ook al in speel, die antwoord kan wees om die gesofistikeerde gehore te behou, maar ook nuwe luisteraars te lok.

Kom ons begin by jou agtergrond. Jy self is ’n talentvolle sanger, weet ek mos van my eie dae in die Bloemfonteinse Kinderkoor saam met jou. Wanneer het klavier vir jou ’n ernstige saak geraak?

Ja, ons het goeie tye in die Kinderkoor beleef en jy sal my dalk nie glo nie, maar soveel van hoe ek vandag werk en beplan het ek reeds toe by Huibrie Verster geleer. Aspekte soos professionaliteit, respek en dissipline is alles daar in my ingedril en onderskei my van sommige kollegas wat die lewe baie meer ontspanne benader.

Klavier het meer ernstig geraak toe my stem breek hier rondom 14. Ek was verslae dat die instrument waarop ek nog altyd kon staatmaak, nou ewe skielik nie meer daar was nie. Toe was klavier reeds daar in die agtergrond, maar ek wou toe my energie fokus op ’n instrument wat nie met hormone te doen het nie.

Wat het jy studeer? 

Ek is na skool Pretoria toe om by die bekende Joseph Stanford te studeer en het tot my uitvoerende doktorsgraad by hom gebly.

En wanneer het jou uitvoerende loopbaan in alle erns afgeskop?

Ek het in 2005 my eerste soloproduksie aangebied en van daar begin bou aan ’n loopbaan wat oor menige genre verspreid is.

Is klavier vir jou ’n ernstige saak? Of is dit pret?

Dit is vir my ’n passie. Ek is so mal oor klaviere en hoe dit gemaak en veral in stand gehou word, asook die lewe van pianiste en die rondreis en senuwees en natuurlik geheue.

Hoeveel ure oefen jy per dag?

Dit hang af, maar ek probeer om minstens drie ure per dag by die instrument te spandeer. Sommige dae gaan dit goed en kan ek tot agt ure inkry, maar wanneer ’n mens vlieg en die besigheid-sy van hierdie werk behartig, gaan daar natuurlik heelwat van hierdie tyd verlore.

Jou trio se naam word dikwels aan Nataniël gekoppel. Maar jy tree ook individueel op. Hoe lyk jou tipiese program jaarliks?

Ja, ek is regtig bevoorreg om die werk by Nataniël te kan hê. Ek speel in 2013 reeds vir die 14de jaar vir hom. Ek het destyds saam met die bestaande musikante gespeel wat vir hom gewerk het, maar soos wat ek en die trio as ’n musikale eenheid nader aan mekaar begin groei het, was dit die beste besluit om hulle te inkorporeer in Nataniël se vertonings, aangesien ek alreeds daar was. Die lede van my trio is Werner Spies (kontrabas) en Hugo Radyn (tromme).

My jaarlikse program het iets van alles in en dis wat my werk vir my so opwindend maak. Ek is ’n deeltydse klavierdosent in klassieke en jazzklavier by Tukkies. Ek het in 2012 die voorreg gehad om as solis saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes en die Johannesburgse Filharmoniese Orkes te speel, asook die Suid-Afrikaanse Jeugorkes en Tukkies Simfonieorkes. Daarbenewens het ek met my trio na China getoer en meesterklasse in China, Switserland en Finland aangebied. Saam met Nataniël het ek 84 konserte gespeel en daar was nog vier solo-uitvoerings waar ek alleen gespeel het. Ek en die violis Zanta Hofmeyr het vyf Beethoven-tango-konserte saam gehad, wat ook een van my idees was om klassiek en kontemporêr te vermeng. Buiten hierdie konserte het ek vir die eerste keer vir Amanda Strydom gespeel en toer binnekort na Nederland saam met haar. So, soos jy kan sien is die verskeidenheid werklik groot.

Wat is vir jou die lekkerste van optree by die Oude Libertas-teater?

Ek het die voorreg gehad om in 2012 my eie produksie, Gershwin Songbook, by die Oude Libertas aan te bied en ook vir Nataniël in sy Kersproduksie te speel. Die Steinway by die Oude Libertas is ’n eiesoortige instrument wat in 1977 gebou is en dis toevallig ook my geboortejaar. Dis die enigste teater met die sterre, vriendelike personeel, gehore uit die hemel en my gunsteling-klavier.

Waarna kan jy hierdie jaar uitsien as jy iets kan uitsonder?

2013 gaan propvol wonderlike musiek wees. Ek het ’n nuwe CD en DVD wat in Maart verskyn: Pimp my piano is in 2012 lewend opgeneem in die Sand Du Plessis-teater in Bloem. Daarbenewens gaan my trio weer in Switserland en China speel en ek is uitgenooi om saam met die Pretoriase Simfonieorkes te speel met Beethoven se Keiserkonsert in November. Daar is ook konserte by groot feeste regoor die land en ek en die trio-manne  vertrek op ’n toer in Junie waar ons 14 klein dorpies gaan vermaak in die Vrystaat en Oos-Kaap. Nataniël is net so besig en ons het so pas ’n twee week lange speelvak by die Centurion-teater voltooi en begin volgende met Factory, sy nuwe vertoning wat ses weke aanmekaar speel by Emperor’s Palace.

  • 3

Kommentaar

  • Berning en Gretna Bredenkamp

    Charl
    Wat 'n heerlike ervaring en voorreg om na jou en jou wonderlike talente te kan luister en ook in beeld te kan ervaar. En dan nog gedeel met sulke begaafde kunstenaars Zanta, Nataniël en al die ander met soveel talent en oop en spontane persoonlikheid.
    Groetnis en alle sukses.
     Semper Veritas

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top