Speelgoed van glas: ’n teaterresensie

  • 0

Anna-Mart van der Merwe en Ben Albertyn in Speelgoed van glas (foto: Jeremeo le Cordeur)

Speelgoed van glas / The glass menagerie: Interessante nuwe baadjie vir bekroonde toneelstuk

Speelgoed van glas, Nico Scheepers se bekroonde verwerking en vertaling van Tennessee Williams se Engelse meesterstuk, kry ’n interessante nuwe baadjie by die Baxter-teater in Kaapstad. Die gelyknamige The glass menagerie is Nico se nuwe hervertaling van sy oorspronklike Afrikaanse interpretasie en is van 31 Julie tot 7 Augustus op die planke. Daarna volg die veelbesproke Afrikaanse weergawe, wat op aparte bene staan, van 8 tot 16 Augustus.

In die persvrystelling word vertel die karakters ontknoop die fyn web van liefde en verlies, gespin deur ’n matriarg om haar gesin tot elke prys bymekaar te hou – en hoe graag elkeen van hulle wil ontsnap. Speelgoed van glas is ’n boeiende, hartroerende uitmekaarskeurverhaal, ’n meesleurende verkenning van broosheid, verlange en die feilbaarheid van familie.

En as mens ’n gesoute regisseur soos Nico Scheepers se woord aanvaar, word die stuk met elke vertoning net beter.

Hy gee ’n bietjie meer insig in die terugvertaling na Engels: “Ek dink die interessante ding is dat ek nie net die oorspronklike Amerikaanse Engels kon gebruik nie, omdat ek die produksie heeltemal verwerk het en verplaas het na die negentigs in Suid-Afrika, rondom ’n Afrikaanse gesin met ’n Engelse gas wat kom aanklop,” verduidelik Nico.

“So ek moes die hele teks weer terugvertaal na Engels met my verwerking as basis, met al die verwysings en taalgebruik. Ek het gedink die suksesvolste manier om dit in Engels te doen is om hulle nog steeds te hanteer as ’n Afrikaanse gesin. Die akteurs praat met Afrikaanse aksente en daar is steeds Afrikaanse woorde in die produksie, sodat dit nog steeds outentiek Suid-Afrikaans is. Amper asof hulle Anglikaans praat, sodat die Engels wat hulle gebruik, half as onderskrifte in die mond dien vir Engelse gehoorlede, en nie as ’n Engelse gesin nie, want anders gaan die verwerking nie werk nie. Sodat Jim wat in die tweede helfte opdaag, steeds voel soos ’n Engelse persoon wat by ’n Afrikaanse gesin kom kuier, al praat almal Engels.”

......
Daar is geen pa teenwoordig nie, en die ma, Amanda (Anna-Mart van der Merwe), probeer haar bes om die gesin gelukkig en bymekaar te hou, maar die ongemak wat die gehoor verduur, is bewys dat alles skyn is, en so breekbaar soos glas.
......

Vir die Afrikaanse interpretasie bly die ensemble getrou aan die produksie wat sukses by die onderskeie kunstefeeste geniet het, vertel Nico.

“Dit is ’n voorreg om ’n produksie soveel keer na mekaar te kan doen, om te sien hoe die vertolkings van die akteurs verdiep en regtig prut. Hul laaste vertoning by Innibos onlangs was seker die beste vertoning van Speelgoed van glas tot nog toe,” meen Nico.

Speelgoed van glas het verlede jaar by die Toyota Stellenbosch Woordfees gedebuteer. Die gehoor het weerskante van die verhoog gesit en dit was ’n interessante ervaring om nie net die akteurs op die verhoog dop te hou nie, maar om ook die gehoor se reaksie oorkant – anderkant die storie – te volg.

Die verhewe verhoog het ook die gevoel versterk dat die gesin afgesonderd woon – amper asof op ’n eiland, heeltemal afgesny van die buitewêreld, behalwe Tom, wat bedags ’n siellose beroep beoefen. Hul isolasie van mekaar is ook duideliker. Glasdiertjies omsoom die verhoog.

Carla Smith en Anna-Mart van der Merwe in Speelgoed van glas (foto: Gys Loubser)

Daar is geen pa teenwoordig nie, en die ma, Amanda (Anna-Mart van der Merwe), probeer haar bes om die gesin gelukkig en bymekaar te hou, maar die ongemak wat die gehoor verduur, is bewys dat alles skyn is, en so breekbaar soos glas. Amanda bly skets haar afwesige man as ’n “mooi man” en sy foto in die sitkamer hou hom lewend – al is dit net in Amanda se verbeelding.

Sy hunker terug na haar grootwordjare en die gemak daarvan en is baie deeglik bewus dat hul finansiële situasie haar kinders van baie gemak ontneem. Die twee kinders, Laura (Carla Smith) en Tom (Ben Albertyn), is soos voëltjies in ’n koutjie en probeer om van hul ma se skynwêreld te ontsnap, maar sonder sukses. Tom verdwyn elke aand na middernagtelike filmvertonings, maar sy afwesigheid bring wrywing tussen hom en sy ma.

Laura stap met ’n effense mank been en sy is geestelik broos. Haar minderwaardigheidskompleks hou haar aan die woonstel gekluister, maar haar glasdiertjies skep ’n wonderwêreld in haar kop, waarheen sy met haar diertjies kan ontsnap.

Met die besoek van ’n jong Engelsman, Jim (Mark Elderkin), kom daar ’n sprankie hoop by ma en dogter dat Laura kan trou en die koutjie kan verlaat. Maar die teleurstelling is groot as die ware toedrag van sake na vore kom.

Mens wonder of die afwesige pa die oorsaak van die familie se breekbaarheid is en of hul broosheid die oorsaak van sy vertrek was.

......
[D]ie toneelstuk – een wat Tennessee Williams in die veertigs ’n ster-teksskrywer gemaak het – is eintlik ’n bietjie van ons almal se storie. Scheepers se oorspronklike vertaling in Afrikaans het dieper gesny as wat ek aanvanklik sou besef.
......

Hoe dit ook al sy, die toneelstuk – een wat Tennessee Williams in die veertigs ’n ster-teksskrywer gemaak het – is eintlik ’n bietjie van ons almal se storie. Scheepers se oorspronklike vertaling in Afrikaans het dieper gesny as wat ek aanvanklik sou besef.

Ek het met sulke kinders skoolgegaan in die negentigs, smiddae by hul huise gaan speel en daardie selfde ongemak en broosheid ervaar – natuurlik as skoolkind heeltemal onbevoeg om te begryp óf te help. Later hou mens op kuier, want die somberheid en hartseer skuil in elke hoekie.

Carla Smith en Mark Elderkin in Speelgoed van glas (foto: Llewellyn de Wet)

Ek het amper simpatie gehad met Jim en sy oorhaastigheid om huis toe te gaan – mens voel die desperaatheid aan jou vel.

Vir daardie uur is ek teruggevoer na my eie kinderdae en die paniekerigheid wat ek destyds in sulke huise gevoel het. Toe is daar agter grootmenshande gefluister oor die Amandas van die wêreld – die hopeloosheid van haar omstandighede en hoe die sirkel van wanhoop in haar kinders herhaal word. En mense het min simpatie vir die Amandas gehad – dit altyd laat klink asof sy op een of ander manier vir daardie wanhoop en verlatenheid gevra het.

Vandag wil mens help, probeer verstaan hoe dinge só sleg kon skeefloop wanneer jy dit om jou bespeur. Maar steeds voel dit of jou hande vasgemaak is – ander hindernisse hou jou nou terug.

......
En as jy kans kry, gaan kyk beide die Afrikaanse en die Engelse stuk – dit sal twee verskillende gewaarwordinge meebring.
......

Speelgoed van glas – ’n Toyota Stellenbosch Woordfees-produksie, ondersteun deur NATi en die Baxter-teater – is met Woordtrofee-toekennings vir beste toneelstuk, beste regisseur (Nico Scheepers), beste vroulike byspeler (Carla Smith) en beste manlike byspeler (Mark Elderkin) bekroon. Elkeen ’n waardige wenner, want hulle word daardie karakters en mens wil ná die handeklap bedaar het, vir Laura en haar ma gaan druk en fluister dat alles sal uitwerk – selfs al glo jy dit nie.

Ek dink ook dat Anna-Mart se hopeloosheid as ma wat die greep op haar gesin – en die werklikheid – verloor het, ’n toekenning verdien. Mens se hart breek vir haar wat in die groot see ronddobber.

Ek stem saam met die joernalis en fotograaf Neels Jackson wat gesê het: “Speelgoed van glas is nie ligte vermaak nie, maar dis briljant.”

En as jy kans kry, gaan kyk beide die Afrikaanse en die Engelse stuk – dit sal twee verskillende gewaarwordinge meebring.

The glass menagerie / Speelgoed van glas

Met: Anna-Mart van der Merwe, Carla Smith, Ben Albertyn, Mark Elderkin
Regie, vertaling en ontwerp: Nico Scheepers
Verhoogbestuurder: Nell van der Merwe
Duur: 60 minute
Ouderdomsbeperking: 13 met ouerbegeleiding
Baxter-teater, Kaapstad

The glass menagerie – 31 Julie tot 7 Augustus
Speelgoed van glas – 8 tot 16 Augustus.

  • Weeksaande om 19:30 en Saterdagmiddae ook om 15:30.
  • Kaartjies teen R160 tot R210 deur Webtickets.
Lees ook:

KKNK: The glass menagerie vertaal deur Nico Scheepers as Speelgoed van glas

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Carla Smith

Persverklaring: Woordtrofees-wenners 2024

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top