Skoleseminaar: Skooltoelatingsvereistes vra vir diepgaande besinning

  • 0

Foto: ©Nathan Cima op Unsplash, gepubliseer op 27 Februarie 2025.

Die botsing tussen die portefeuljekomitee vir basiese onderwys en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) oor toelatingsbeleide plaas dié kwessie opnuut onder die soeklig. Michael le Cordeur het die wet herbesoek en lewer verslag.

Die toelatingsbeleide van sommige openbare skole in die Wes-Kaap diskrimineer teen swart leerders (Die Burger, 22.08.2026). Dit is die bevinding van die Departement van Basiese Onderwys (DBO). Volgens die voorsitter van die portefeuljekomitee oor basiese onderwys, Joy Maimela, is die komitee bekommerd oor die toepassing van die toelatingsvereistes nadat die DBO sy monitering en evaluering van leerdertoelatings in al nege provinsies afgehandel het.

Die komitee is van mening dat van hierdie “vereistes”, waaronder akademiese prestasie, onderhoude met leerders, toelatingstoetse, puntestate van top presteerders, deelname aan sport, leierskapsrolle en foto’s, is onwettig en lei tot diskriminerende praktyke en rasprofielsamestelling. Lede van die portefeuljekomitee oorweeg dit nou om die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, te nader om die WKOD te verplig om hierdie vereistes van die leerdertoelatingstelsel te verwyder.

Die komitee voer aan dat alhoewel die WKOD well oor ’n aanlyn aansoekplatform beskik, die finale besluit oor of ’n leerder afgekeur word of nie, berus by die beheerliggaam wat hul eie toelatingskriteria toepas. Die WKOD ontken dit ten sterkste. Dit was dus raadsaam om weer na die betrokke artikel 5 van die SA Skolewet van 1996 te kyk (die toelating tot openbare skole-artikel). Hier is die feite:

Die regulasies

Die regulasies word eenvormig deur alle departemente en alle openbare skole toegepas. Waar ’n provinsiale toepassing van leerdertoelatings teenstrydig is met die regulasies, kry die bepalings van hierdie regulasies voorkeur. ’n Openbare skool se toelatingsbeleid moet belyn word met die Grondwet, die SA Skolewet en hierdie regulasies.

Die departementshoof (DH) van die provinsiale onderwysdepartement, en nie die beheerliggaam nie, is verantwoordelik vir die koördinering van leerdertoelatings in openbare skole. Kragtens artikel 5(9) van die SA Skolewet is sodanige gesag egter ondergeskik aan besluite deur die Lid van die Uitvoerende Raad (LUR). Belangrik is dat die proses in samewerking met skoolbeheerliggame moet geskied. Volgens wet is die skoolhoof as afgevaardigde van die DH verantwoordelik vir die toelating van leerders volgens die toelatingsbeleid (soos bepaal deur die beheerliggaam) om te verseker dat die proses betyds en effektief geskied.

Die toelatingsproses

Hoe werk hierdie proses? Die DH moet die jaarlikse toelatingsperiode bepaal en ’n duidelike proses met inbegrip van ondersteuning instel vir die hantering van aansoeke. Alle openbare skole moet hul toelatingsprosesse en -praktyke met die amptelike prosedures en tydskale van die DH belyn. Die proses moet voor die einde van Mei in die jaar voor die komende skooljaar gefinaliseer word.

........
Hoe werk hierdie proses? Die DH moet die jaarlikse toelatingsperiode bepaal en ’n duidelike proses met inbegrip van ondersteuning instel vir die hantering van aansoeke. Alle openbare skole moet hul toelatingsprosesse en -praktyke met die amptelike prosedures en tydskale van die DH belyn. Die proses moet voor die einde van Mei in die jaar voor die komende skooljaar gefinaliseer word.
..........

Aansoeke vir toelating tot toegangsgrade moet óf aanlyn óf by skole ooreenkomstig die proses wat deur die DH bepaal is, ingedien word. Skoolhoofde moet bystand verleen aan ouers by die voltooiing van die aansoekvorms. ’n Openbare skool se toelatingsbeleid moet aan die ouers en die Departement op versoek beskikbaar gestel word. Waar spasie beperk is, kry leerders van verpligte skoolgaande ouderdom voorkeur.

Dit is belangrik om te onthou dat die beste belang en behoeftes van die leerder altyd in ag geneem moet word, met inbegrip van die leerder se ouderdom en onderrigondersteuning wat benodig word. Faktore wat die DH moet oorweeg wanneer ’n besluit geneem word, sluit in die skool se toelatingsbeleid, hulpbronne beskikbaar by die skool en in die Departement om die leerder te akkommodeer; die kapasiteit beskikbaar in die skool en alternatiewe nabygeleë skole in ooreenstemming met die skole se norme-en-standaarde-regulasies.

Verpligte toelating

Geen kwalifiserende leerder mag toegang tot ’n openbare skool geweier word nie, tensy daar ’n strafregtelike beperking op die leerder is. ’n Leerder mag nie weens onregverdige diskriminasie, met inbegrip van ras, etniese of sosiale herkoms, nasionaliteit, kleur, geslag, ouderdom, gestremdheid, seksuele oriëntasie, geloof, kultuur, taal, swangerskap, MIV-en-Vigs-status, of enige ander siekte, toelating geweier word nie. Voorts moet ’n leerder tot die totale skoolprogram toegelaat word. Na toelating mag ’n leerder nie van klasse geskors, toegang tot kulturele, sport of sosiale aktiwiteite van die skool geweier word nie.

Leerders mag ook nie die reg om eksamen te skryf, ’n skoolrapport of oorplasingsertifikaat geweier word nie, of enige ander vorm van diskriminasie omdat ouers nie die vereiste skoolfonds betaal het nie, of vrywaring vir die betaal van skoolfonds ontvang het nie. Daar mag ook nie teen ’n leerder gediskrimineer word as hy of sy nie die skool se waardes onderskryf weens kulturele oortuiging of godsdienstige praktyke nie, of mediese omstandighede, of enige ander redelike aspek soos deur die ouers verklaar, nie.

Sodra ’n leerder se aansoek om toelating tot die skool goedgekeur is, moet die skool die ouer binne 14 dae skriftelik, of op ’n wyse soos deur die DH bepaal, van sodanige besluit in kennis stel. Indien ’n leerder se aansoek om toelating afgekeur word, moet die skool ook die ouer binne 14 dae skriftelik in kennis stel.

Toelating van leerders wat nie Suid-Afrikaanse burgers is nie 

Die reg op basiese onderrig sluit almal binne die grense van Suid-Afrika in, ongeag hul land van herkoms en immigrasiestatus. Nie-Suid-Afrikaanse burgers is die volgende: (1) buitelanders in besit van ’n tydelike verblyfsvisum, permanente verblyfspermit of enige ander spesiale vergunning en verblyfsdokument wat deur die Departement van Binnelandse Sake kragtens die Immigrasiewet nr 13 van 2002 uitgereik is; en (2) buitelanders in besit van ’n asielaansoekvisum of vlugtelingvisum wat deur die Departement van Binnelandse Sake ooreenkomstig die Wet op Vlugtelinge (Wet nr 130 van 1998) uitgereik is.

Waar die ouers van ’n leerder buitelanders is, en permanente of tydelike verblyfspermitte het, moet die tersaaklike dokumentasie as deel van die aansoek vir toelating van die leerder tot ’n openbare skool ingedien word. Dit sluit in ’n gesertifiseerde afskrif van die leerder se geboortesertifikaat uitgereik deur sy of haar geboorteland; of in die geval van vlugtelinge, ’n gesertifiseerde afskrif van die vlugtelingspermit uitgereik kragtens die Wet op Vlugtelinge of ‘n asielaansoekvisum en gesertifiseerde afskrifte van die ouers se vlugtelingspermitte.

Leerders sonder geldige dokumentasie is net so geregtig op toelating tot openbare skole, met dien verstande dat hul ouers binne die voorgeskrewe tydperke hul aansoek saam met al die vereiste dokumente wat beskikbaar is, of ’n beëdigde verklaring wat verduidelik hoekom hul nie in staat is om sodanige dokumente te voorsien nie, indien by die skool. Die hoof van ’n openbare skool moet binne sewe werksdae van toelating aan die DH of aangewese kringbestuurder verslag lewer van gevalle waar ’n leerder sonder geldige dokumentasie toegelaat word. Die kringbestuurder moet die ouers van sodanige leerder aanspreeklik hou om ’n geboortesertifikaat van sodanige leerder te bekom. Ouers moet bystand ontvang, met inbegrip van skakeling met die naaste kantoor van die Departement van Binnelandse Sake.

Leerders met spesiale onderwysbehoeftes

’n Gewone openbare skool moet sover dit binne hul vermoë is, leerders met spesiale fisieke onderwysbehoeftes toelaat. Die DH moet die nodige reëlings tref, waar redelik uitvoerbaar, om te verseker dat fasiliteite en ondersteuning by gewone openbare skole toeganklik is vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes. Waar die nodige fasiliteite en ondersteuning wat nodig is om die integrasie van ’n leerder met spesiale onderwysbehoeftes in ’n gewone openbare skool te fasiliteer nie deur die Departement voorsien kan word nie, moet die skoolhoof van die openbare skool die aansoek vir toelating na die DH verwys om toelating vir die leerder te reël by ’n gepaste openbare skool in die betrokke provinsie. 

Toelatingsgebiede 

Die DH moet na oorleg met beheerliggame die toelatingsgebiede vir openbare skole bepaal om beheer uit te oefen oor leerdergetalle. Hierdie toelatingsgebiede hoef nie geografies aangrensend aan die skool of aan mekaar te wees nie. Die DH neem faktore in ag soos die kapasiteit van die skool of skole in die area, bevolkingsdigtheid, koshuisfasiliteite, asook die kurrikula en taal wat by skole in die omgewing aangebied word.

’n Leerder wat buite die toelatingsgebied woon, word nie belet om toelating te soek by enige skool wat hy of sy verkies nie, afhangende van die taal en vakkeuses. ’n Skool met ’n spesifieke veld van spesialisering, soos ’n tegniese skool, moet ’n veel groter toelatingsgebied hê om leerders van elders wat na daardie vaardighede hunker, te akkommodeer.

’n Leerder wat binne die toepassingsgebied van A woon, moet na die nabygeleë skool B verwys word indien skool A oorvol is. Indien skool B ook oorvol is, moet die DH (of sy gesant, gewoonlik die kringbestuurder) ’n alternatiewe skool binne ’n billike afstand vir die leerder vind. Toelatingsgebiede moet, soos alle beleide, gereeld hersien word namate omstandighede verander.

Pligte van ouers 

Die beheerliggaam moet gereeld die ouers van toegelate leerders op ’n ondubbelsinnige wyse inlig oor hul regte, maar ook hul verantwoordelikhede. Sodanige inligting behels dat skoolbywoning verpligtend is; dat geldige dokumentasie benodig word; die sleutelaspekte van die skool se bestuur en werksaamhede; die skoolbegroting; die vrystelling van skoolfondse; hoe om teen besluite van die beheerliggaam te appelleer; besluite by ouervergaderings oor skoolfondse geneem; en leerders se gedragskode. 

Reg op appèl

Wanneer ’n besluit deur die DH geneem is, moet hy die beheerliggaam van die skool skriftelik in kennis stel. Die beheerliggaam se reg om kragtens artikel 5(11) van die Wet teen die besluit te appelleer moet beklemtoon word. Wanneer die LUR ’n appèl ontvang, moet ’n afskrif van die appèl aan die skoolhoof en die beheerliggaam van die betrokke skool verskaf word. Hulle moet daarop gewys word dat hul die reg het om binne vyf dae skriftelike vertoë te rig indien daar ongelukkigheid is of indien meer duidelikheid verlang word.

Hersiening 

Indien die DH van mening is dat ’n openbare skool se toelatingsbeleid nie voldoen aan die SA Skolewet se regulasies nie, moet die beheerliggaam versoek word om hul beleid te hersien. Die skriftelike versoek aan die beheerliggaam moet die redes vir die hersiening en die probleemareas duidelik uiteensit.

Wanneer ’n toelatingsbeleid opgestel of gewysig word, moet die beheerliggaam verseker dat die beleid billik en regverdig is en leerders se beste belang in ag neem. Die demografie en onderwysbehoeftes van die omliggende gemeenskap, taalvoorkeure, die aantal leerders van verpligte skoolgaande ouderdom, die kapasiteit van die skool en nabygeleë skole, asook die hulpbronne en infrastruktuur in die skool, moet in ag geneem word. Enkelgeslagskole mag inskrywings tot die aangewese geslagsfokus beperk.

Groter prentjie

Laastens: Die botsing tussen die portefeuljekomitee vir basiese onderwys en die WKOD is dalk nog nie verby nie; maar dit is nietemin belangrik dat wanneer hierdie bepalings toegepas word, almal (departementele amptenare, skoolhoofde, beheerliggame en ouers) te goeder trou saamwerk. Die beste belang van leerders moet altyd vooropgestel word deur sover moontlik alles moontlik te doen om geskille te vermy ten einde die wetlike grondslag van die Grondwet te respekteer.

Dit vra vir ’n onselfsugtige houding waar “ek” of “ons” verdwyn ter wille van die groter prentjie van ’n harmonieuse samelewing in ’n demokratiese Suid-Afrika.

  • Michael le Cordeur was hoof van ’n Stellenbosse hoërskool en kringbestuurder van die Stellenbosch-onderwysdistrik voordat hy professor en visedekaan van Opvoedkunde geword het aan die Universiteit Stellenbosch.

Lees ook:

Indeks: notas, toetse en vraestelle

Solidariteit en AfriForum Afrikaanse Onderwysberaad: ’n beraad wat uitsluit?

Die leeskrisis: ’n uitdaging wat ons almal raak

Skoleseminaar: Alles begin by een doodgewone dag in die skoolhoof se kantoor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top