Skoleseminaar: Alles begin by een doodgewone dag in die skoolhoof se kantoor

  • 0

Foto-erkenning: @mockupapp, Canva (gebruik onder die gratis lisensievoorwaardes: https://www.canva.com/policies/content-license-agreement/)

’n Regsprobleem in ’n skool begin selde met ’n hofsaak.

Dit begin eerder by die ontvangs. In die skoolhoof se kantoor. In ’n ouer se dringende e-pos. In ’n dissiplinêre gesprek. In ’n besluit oor toelating. In ’n foto wat op ’n skool se sosialemediaplatform gedeel word. In ’n veiligheidsvoorval op die speelgrond.

Op daardie oomblikke wanneer die besluit geneem word, lyk dit nog soos gewone skoolbestuur op ’n doodgewone skooldag.

Dit is juis waar die probleem lê.

Baie skoolbesluite lyk aanvanklik soos ’n brug wat vinnig gebou moet word. ’n Leerder moet aangespreek word. ’n Ouer wil dringend antwoorde hê. ’n Personeellid het moontlik verkeerd opgetree. ’n Kind is beseer. ’n Toelatingsaansoek moet hanteer word. ’n Beleid van die skoolbeheerliggaam moet toegepas word.

Die probleem moet so gou moontlik hanteer word en die saak moet vorentoe beweeg.

Tot daar druk op die brug geplaas word. ’n Ouer vra vir redes. ’n Leerder betwis die situasie of proses. ’n Personeellid kla oor onbillike optrede. ’n Departementele amptenaar vra vir dokumentasie. ’n Prokureursbrief beland op die skoolhoof se lessenaar.

Eers dan word dit duidelik of die brug sterk genoeg staan en die fondasie stewig genoeg is.

Dan gaan dit nie meer net oor wát die skoolhoof besluit het nie. Dit gaan oor hóé die besluit geneem is. Was die skool of skoolhoof bevoeg om so op te tree? Was die proses billik? Is die regte persone gehoor? Is daar voldoende redes gegee? Was daar rekord gehou? Het die skool regmatig, billik en verantwoordbaar opgetree?

Die onsigbare regsgewig van gewone besluite

Dít maak skoolbesluite moeilik. Nie elke regsprobleem lyk aan die begin soos ’n regsprobleem nie.

Die kompleksiteit lê ook daarin dat skoolhoofde nie net tussen reg en verkeerd moet kies nie. Skoolhoofde moet dikwels besluite neem te midde van mededingende regte, pligte en belange. ’n Toelatingsbesluit gaan nie net oor ’n stoel in ’n klas nie. Dit raak direk aan toegang tot onderwys. ’n Dissiplinêre besluit gaan nie net oor orde handhaaf by die skool nie. Dit raak aan billike prosedures. ’n Veiligheidsbesluit gaan nie net oor wat op die speelterrein gebeur het nie. Dit gaan oor die skool se sorgsaamheidsplig. ’n Besluit oor ‘n leerder se inligting gaan nie net oor kommunikasie nie. Dit raak aan privaatheid. ’n Beleid van die skoolbeheerliggaam gaan nie net oor interne reëls nie. Dit raak aan bevoegdhede, verantwoordelikhede en grondwetlike regte.

Doodgewone skoolbesluite dra dus dikwels ’n onsigbare regsgewig.

Dit plaas skoolhoofde in ’n moeilike posisie. Hulle word nie as regsgeleerdes aangestel nie. Tog moet hulle gereeld optree in situasies waar regsgevolge moontlik is. Hulle moet vrae vra, prosesse inisieer, besluite neem en goed gegronde redes gee. Die eerste optrede of besluit van ’n skoolhoof kan later bepaal of ’n saak bedaar, vererger of in ’n formele geskil ontwikkel.

Die reg as deel van die skooldag

Die regsraamwerk waarin skole funksioneer, word ook nie eenvoudiger nie. Die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Wet 32 van 2024), meer bekend as die BELA-wet, het opnuut aandag gevestig op toelating, taalbeleid, skoolbywoning, gedragskodes, skoolbeheerliggaamfunksies en die verhouding tussen skole en onderwysdepartemente. Selfs waar hierdie wet nie die enigste bron van spanning is nie, wys dit op ’n groter werklikheid: Skoolbestuur gaan lankal nie meer net oor die daaglikse werking van die skool, personeelbestuur en akademiese prestasie nie.

Die reg is toenemend deel van die alledaagse skooldag.

Dit beteken nie dat elke skoolhoof elke wet, artikel of hofsaak uit die kop moet ken nie. Dit beteken wel dat ’n skoolhoof moet weet wanneer ’n besluit regsgevolge kan hê en hoe om daarna regmatig, billik en verantwoordbaar op te tree.

Regskennis gaan dus nie net oor die weet nie. Dit gaan oor die doen.

In die praktyk beteken dit dat ’n skoolhoof moet kan vra of die skool bevoegd is om die besluit te neem, of die proses billik is, of die leerder gehoor is, of die ouer behoorlik ingelig is, of die skoolbeleid met die wet ooreenstem, of daar redes vir die besluit is en of verdere leiding nodig is voordat daar opgetree word.

Hierdie vrae klink redelik eenvoudig. In ’n besige skooldag raak dit egter vinnig ingewikkeld. Skoolhoofde werk met beperkte tyd, personeeltekorte, ouerdruk, departementele verwagtinge, leerderprobleme en gemeenskapskonflik. Besluite moet soms vinnig geneem word. Die reg wag egter nie vir ’n rustige dag of oomblik nie.

Daarom behoort dit nie net oor aanspreeklikheid te gaan nie. Dit behoort ook oor professionele toegerustheid te gaan.

Professionele toegerustheid voor die krisis

Wanneer iets verkeerd loop, vra mense maklik: Wat het die skoolhoof verkeerd gedoen?

Die moeiliker vraag is egter: Wie het die skoolhoof voorberei om die brug reg te bou voordat leerders, ouers, personeel en die skoolgemeenskap daaroor moes loop?

Dít is die versteekte probleem.

In skole word die brug te dikwels versterk eers nadat ’n voorval reeds plaasgevind het. Ná die ouer se klagte. Ná die prokureursbrief. Ná die departementele ondersoek. Ná die mediaberig. Ná die vertroue tussen die skool en die gemeenskap reeds skade gekry het.

Teen daardie tyd is die eerste besluit reeds geneem. Die brug is reeds onder druk.

As die fondament swak was, begin dit nou eers blyk. As die proses skeefgeloop het, as redes ontbreek, as die rekordhouding onvoldoende is of as die optrede onbillik was, raak die swak plek van die brug sigbaar juis wanneer dit reeds onder druk is.

’n Meer verantwoordelike benadering sal wees om regsbesef en regmatige optrede vroeër in skoolbestuur se professionele ontwikkeling in te bou. Nie as nog papierwerk nie. Nie om skoolhoofde bang te maak nie. Eerder as deel van professionele oordeel en voortdurende professionele ontwikkeling.

.......
’n Meer verantwoordelike benadering sal wees om regsbesef en regmatige optrede vroeër in skoolbestuur se professionele ontwikkeling in te bou. Nie as nog papierwerk nie. Nie om skoolhoofde bang te maak nie. Eerder as deel van professionele oordeel en voortdurende professionele ontwikkeling.
........

Skoolhoofde bou daagliks brûe tussen beleid en praktyk. Tussen ouers se verwagtinge en die skool se verantwoordelikhede. Tussen dissipline en billikheid. Tussen veiligheid en sorg. Tussen departementele voorskrifte en die werklikheid van die skoolterrein. Tussen ’n besluit wat vinnig geneem moet word en ’n besluit wat later verdedigbaar moet wees.

Daardie brûe moet gewig kan dra.

’n Skoolhoof met goeie regsbesef en regskennis tree anders op. Só ’n skoolhoof vra vroeër die regte vrae, volg billiker prosesse, hou beter rekord, gee duideliker redes, betrek die regte rolspelers en weet wanneer ’n saak nie bloot intern hanteer kan word nie. Dit beskerm die skoolhoof, die leerder, die ouer, die personeel en die skoolgemeenskap.

Die doel is dus nie om skoolhoofde onder verdenking te plaas nie. Dit is om die omvang van hulle werk eerliker te erken. Skoolhoofde staan gereeld in die voorste linie van besluite wat ander mense eers later as regsbesluite herken.

As die onderwysstelsel skoolhoofde aan regsverantwoordelikheid meet, moet dieselfde stelsel vra of skoolhoofde in die eerste plek genoegsaam daarvoor toegerus word. Nie net met omsendbriewe nie. Nie net met kort aanbiedings wanneer nuwe wetgewing verskyn nie. Nie net met regsadvies wanneer die saak reeds in die media die rondte doen nie. Met praktiese, deurlopende ondersteuning wat aansluit by die besluite wat skoolhoofde elke dag moet neem.

Die skoolhoof as brugbouer

Die reg kom nie by skole aan eers wanneer iemand hof toe gaan nie. Dit lê reeds in die daaglikse werksverrigtinge van skoolhoofde, soos toelating, dissipline, veiligheid, personeelkwessies, kommunikasie, beleid en ouerverhoudinge. Soms is die reg soos die onsigbare struktuur onder ’n brug. Niemand kyk daarna wanneer alles goed verloop nie. Almal word egter baie bewus van die swak plekke wanneer die brug begin wankel.

........
Miskien moet die vraag dus nie net wees waarom die brug wankel wanneer daar druk daarop geplaas word nie. Miskien moet die vraag wees of die skoolhoof, as die hoofbouer van baie skoolbesluite, genoegsaam toegerus is om die brug reeds van die begin af stewig te bou.
Want teen die tyd dat die brug onder regsdruk begin kraak, is dit dikwels te laat om te maak asof die fondasie nooit saak gemaak het nie.
.........

Miskien moet die vraag dus nie net wees waarom die brug wankel wanneer daar druk daarop geplaas word nie. Miskien moet die vraag wees of die skoolhoof, as die hoofbouer van baie skoolbesluite, genoegsaam toegerus is om die brug reeds van die begin af stewig te bou.

Want teen die tyd dat die brug onder regsdruk begin kraak, is dit dikwels te laat om te maak asof die fondasie nooit saak gemaak het nie.

Bronnelys

Bantwini, BD en P Moorosi. 2023. Caught between educational accountability reforms, compliancy and political interference: perspectives of school principals in South Africa. School Leadership & Management, 43:4(261–83). DOI: https://doi.org/10.1080/13632434.2023.2186847.

Bergh, A en E Forsberg. 2024. Differentiation of education through juridification. Journal of Curriculum Studies, 56(2):146–59. DOI: https://doi.org/10.1080/00220272.2023.2261991.

Bergh, A, M Murphy en M Nylund. 2025. The rise of law in education: Exploring three drivers of juridification in the context of a changing welfare state. Journal of Education Policy, 40(6):1062–80. DOI: 10.1080/02680939.2025.2517683

Beyers, R. 2023. Professional discretion of public school principals: An education law perspective. PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Beyers, R en A du Plessis. 2023. Factors that influence public school principals’ professional discretion: Perspectives of South African public-school principals. Perspectives in Education, 41(2):33–48. DOI: 10.38140/pie.v41i2.7067.

Carranco, LEP. 2016. The concept of literacy amongst educators in Canada. British Columbia: The University of British Columbia. MEd-verhandeling: The University of British Columbia, Vancouver.

Clase, P, J Kok en M van der Merwe. 2007. Tension between school governing bodies and education authorities in South Africa and proposed resolutions thereof. South African Journal of Education, 27(2):243–63.

DeCino, DA, S Curtin, D de Jong, S Seedorf en A Dalbey. 2020. Education leaders’ perceptions of legal preparedness. Journal of School Leadership, 30(4):375–89. DOI: 10.1177/1052684619887550.

Decker, JR. 2014. Legal literacy in education: an ideal time to increase research, advocacy, and action. West’s Education Law Reporter, 304:679–716.

Du Plessis, A. 2019. School governance and management decentralisation and school autonomy in the South African education system. PhD-proefskrif, Noordwes Universiteit, Potchefstroom.

Du Plessis, P en R Mestry. 2024. Violence in rural schools in South Africa: perceptions and experiences of school principals and school governing bodies. Perspectives in Education, 42(1):198–217. DOI: https://doi.org/10.38140/pie.v42i1.7173.

Equal Education Law Centre. 2022. Procedures in schools: Key issues and recommendations for reform. https://eelawcentre.org.za/wp-content/uploads/disciplinary-procedures_web3-edited-version.pdf (11 Julie 2025 geraadpleeg).

Freier, R, U Thams en W Wermke. 2024. Juridification and regulative failures: The complicated implementation of international law into national schools. Journal of Education Policy, 39:1(83–104). DOI: 10.1080/02680939.2023.2217664.

Harrell, S. 2019. Principal discretion and the use of out-of-school suspension in public high schools. PhD-proefskrif, University of Missouri-Columbia, ble 1–167.

Herselman, SL. 2014. Lawful, reasonable and fair decision-making in disciplinary cases in secondary schools. PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Kgwete, EM. 2024. Understanding professional discretion by principals in managing drugs in Gauteng Province schools in South Africa. Discourse and Communication for Sustainable Education, 15:2(92–104). DOI: 10.2478/dcse-2024-0018.

Kruger, JHC en A du Plessis. 2025. The challenges of principals’ dual roles in South African public schools: Balancing policy implementation and stakeholder dynamics. KOERS. Bulletin for Christian Scholarship, 90(1):1–12.

Kutsyuruba, B, J Murray en S Hogenkamp. 2019. Understanding pre-service teachers’ legal literacy and experiences with legal issues in practicum settings: an exploratory study. Canadian Journal of Educational Administration and Policy, 191(1):54–71.

Langeveldt, DC. 2023. Legal remedies for teachers as victims of workplace bullying in South Africa. Research in Educational Policy and Management, 5(2):109–23. DOI: 10.46303/repam.2023.12

Mackay, TA. 2020. Legal expectations of principals and educators regarding their duty of care in South African primary schools. MEd-verhandeling. University of Johannesburg.

Mbangulu, DK en I Albert. 2022. Effectiveness of principals’ roles on school performance: perspectives of school principal-ship. Research Journal of Education, 8(1):1–10. DOI: https://doi.org/10.32861/rje.81.1.10

Mestry, R. 2017. Empowering principals to lead and manage public schools effectively in the 21st century. South African Journal of Education, 37(1):1–11. DOI: https://doi.org/10.15700/saje.v37n1a1334

Mestry, R en P du Plessis. 2022. Empowering principals to lead and manage public schools effectively in the 21st century. Education and New Developments. DOI: https://doi.org/10.36315/2022v1end006.

Militello, M en D Schimmel. 2007. Legal literacy for teachers: a neglected responsibility. Harvard Educational Review, 77(3):257–393.

Militello, M, D Schimmel en HJ Eberwein. 2009. If they knew, they would change: How legal knowledge impacts principals’ practice. NASSP Bulletin, 93(1):27–52. DOI: https://doi.org/10.1177/0192636509332691.

Mokonyane, A, KB Mampane en NT Mollo. 2024. Challenges experienced by public secondary school teachers in the application of the legal framework for their safety. Journal for Juridical Science, 49(3):90–109.

Murphy, M. 2022. Taking education to account? The limits of law in institutional and professional practice. Journal of Education Policy, 37(1):1–16. DOI: 10.1080/02680939.2020.1770337

Novak, J. 2016. Juridification and education. In Peters, M (red), Encyclopedia of educational philosophy and theory. Singapoer: Springer. DOI: https://doi.org/10.1007/978-981-287-532-7_480-1.

Rollerson, TL. 2021. Legal literacy of educators: the implications and critical next steps in a litigious society. PhD-proefskrif. DeKalb, IL: Northern Illinois University.

Rosén, M, E Arneback en A Bergh. 2021. A conceptual framework for understanding juridification of and in education. Journal of Education Policy, 36(6):822–42. DOI: 10.1080/02680939.2020.1777466.

Rossouw, JP en E Mong. 2018. Educator professional security in public schools over the past decade: A meta-synthesis. Journal of Juridical Science, 43(2):109–36.

Smit, M. 2008. Balancing rights in education: Applying the proportionality test. Acta Academica, 40(3):210–33.

South African Council for Educators (SACE). 2020. Handbook for teachers’ rights, responsibilities and safety. Pretoria: South African Council for Educators.

Thorn, KR. 2015. Tort liability for school personnel. PhD-proefskrif: University of Alabama, Alabama.

Van Straaten, S. 2024. Exploring educators’ roles and functions in cases of delict to ensure substantive and procedural fairness. MEd-verhandeling. Universiteit van die Vrystaat.

 

Wetgewing en beleid

Constitution of the Republic of South Africa (South Africa). 1996. As adopted by the Constitutional Assembly on 8 May 1996 and amended on 11 October 1996 (B34B-96). Pretoria: Staatsdrukkery.

Department of Basic Education. 2016. Policy on the South African Standard for Principalship. (Government Notice 323). Staatskoerant nr 39827, 18 Maart. Pretoria: Staatsdrukkery.

Suid-Afrika. 1996. South African Schools Act (84 of 1996). Pretoria: Staasdrukkery.

—. 1998. Employment of Educators Act (Act 76 of 1998). Pretoria: Staasdrukkery.

—. 2000. Promotion of Administrative Justice Act (Act 3 of 2000). Pretoria: Staasdrukkery.

—. 2024. Basic Education Laws Amendment Act (Act 32 of 2024). Pretoria: Staasdrukkery.

 

Regspraak

Centre for Child Law and Others v South African Council for Educators and Others (2024).

Governing Body, Hoërskool Overvaal and Another v Head of Department of Education Gauteng Province and Others (86367/2017) 2018 ZAGPPHC 513.

Head of Department: Mpumalanga Department of Education and Another v Hoërskool Ermelo and Another (CCT40/09) 2009 ZACC 32; 2010.

Lerato Radebe and Others v Principal of Leseding Technical School and Others (2013).

MEC for Education, Gauteng Province v Governing Body of Rivonia Primary School 2013 ZACC 34.

Minister of Education (Western Cape) v Mikro Primary School Governing Body (140/2005) [2005] ZASCA 66; [2005] 3 All SA 436 (SCA); 2006 (1) SA 1 (SCA); 2005 (10) BCLR 973 (SCA) (27 June 2005).

Moko v Acting Principal of Malusi Secondary School and Others [2020] ZACC 30.

TM Jacobs v The Chairman of the Governing Body of Rhodes High School & Others: Case no 7953/2004.

 

Lees ook:

Wanneer ’n taalreg soos ’n spesiale vergunning lyk: die broosheid van moedertaalonderrig in Suid-Afrika

Bela onderteken: Wat gebeur volgende?

Te min geld vir onderwys: ’n onderhoud oor die regering se plig en ouers se taak

Bela: Regulasies bring helderheid maar enkele kwessies pla nog

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top