
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Sinopsis van die eerste drie evangelies
Skrywer: Hermie van Zyl
ISBN: 9781067234638
Uitgewer: Naledi
Vir vreugde: Oor ’n nuwe en unieke Afrikaanse teologieboek
Dit is ’n rare gebeurtenis wanneer ’n nuwe boek op die mark kom wat nuttig is vir wetenskaplikes, maar wat ook nuuskierige lesers lank nadat hulle dit bekyk het nog besig sal hou.
Hermie van Zyl se nuwe en ongewone Sinopsis van die eerste drie evangelies (2025) wat by Naledi verskyn het, is ’n verrassende voorbeeld van so ’n boek.
Lesers wat nie teologies opgelei is nie, sal miskien vreemd opkyk oor ’n boek met die “Sinopsis” as titel. Maar ’n deurblaai van die boek wys gou dat dit heel bekend is: Dit lees maklik en is eintlik eenvoudig. Dit rangskik immers op die oog af bloot die eerste drie evangelies in die Nuwe Testament woord vir woord langs mekaar.
Wat is ’n sinopsis?
Die boek is ’n sinopsis (let wel: saam kyk) wat die eerste drie evangelies bespreek as die sinoptiese evangelies: Hulle is verhale wat “saam bekyk” kan word weens hulle opvallende ooreenkomste.
Die drie evangelies word op elke bladsy van die boek langs mekaar afgedruk sodat ’n leser hulle inhoud in een oogopslag woord vir woord en reël vir reël met mekaar vergelyk. Die leser “sien” voor hom of haar letterlik die inhoude van die drie langs mekaar.
Dit lyk dus alles eenvoudig en maklik. Maar ingeligte navorsers in die Bybelwetenskappe weet dat Van Zyl se boek gevorm is deur lang en intensiewe navorsing oor die evangelies. Trouens, dit is nie verniet nie dat Van Zyl in sy interessante en belangrike inleiding tot die boek vertel hoe hy oor 30 jaar se harde werk die woord vir woord vergelyking vir sy publikasie moes ontrafel. Hy was wel nie die eerste persoon wat dit doen nie. Ander navorsers in ander lande en tale het net so toegewyd en langdurig aan hulle sinopsisse gewerk.
Die harde werk kom ’n mens agter in Van Zyl se deeglike benadering: Hy begin deur in te gaan op die navorsingsvrae wat ’n sinopsis is. Daarvoor kyk hy na ander voorbeelde van sinopsisse soos gepubliseer in ander tale, veral in Nederlandse konteks.
Hy beskryf daarna die teorie oor die ingewikkelde geskiedenis van die evangelies. Hulle is geskryf lank na die Jesus-gebeure. Daar was eers ’n lang mondelinge tradisie waarin sy volgelinge die Jesus-verhaal oorvertel het.
Mettertyd en oor vele jare is hierdie vertellings in skriftelike “tradisies” versamel. Dit was blokke van vertellings waarin byvoorbeeld spreuke van Jesus opgeneem is.
Markus, die oudste evangelie, geskryf 30 jaar na die Jesus-gebeure, het sulke tradisies gebruik om sy evangelie te skryf. In die Nuwe Testamentiese wetenskap is daar sedert 130 jaar gelede ’n wyd aanvaarde teorie dat Matteus en Lukas later op inhoud van Markus gesteun het. Maar hulle het uiteindelik nog ’n ander bron, bekend as die Q-bron, met spreuke van Jesus gebruik. Hy vergelyk die drie met die Johannes-evangelie.
Die boek sal lesers sonder teologiese skoling bekendstel aan die besondere karakter van die evangelies. Die evangeliste het hul boeke begin skryf toe Jesus se eerste volgelinge uitsterf en daar nie meer ooggetuies was wat vir hulle die Jesus-gebeure kon beskryf nie. Die Markus-evangelie, byvoorbeeld, is ongeveer 30 jaar na die gebeure geskryf om vir nuwe geslagte ’n betroubare weergawe van die Jesus-gebeure neer te pen.
Lukas skryf duidelik hieroor in sy evangelie: “Baie onderneem om ’n verhaal te skryf van dinge wat onder ons gebeur het soos dit deur die eerste volgelinge van Jesus aan hulle oorgelewer is.” Hy was besorg oor al die vertellings van ander volgelinge en ook oor hul boeke. Daarom wil hy die verhaal netjies en helder orden sodat die lesers ’n betroubare weergawe het (Lukas 1:1–4).
In ’n lang gedeelte skryf Van Zyl verder ook hoe hy sy sinopsis benader het deur die veeleisende taak om die drie evangelies met mekaar te vergelyk en hulle in kolomme te rangskik. Hy moes in sommige dele ruimte skep vir dieselfde verhale wat in al drie evangelies voorkom. Soms, egter, is daar ooreenstemminge tussen net twee, terwyl hulle by tye inhoud het wat nie by die ander voorkom nie. Dit alles word moeilik gemaak deurdat die dele nie altyd dieselfde volgorde gehad het nie. Dieselfde verhaal kan in een evangelie aan die begin van die teks staan en in ’n ander een op ’n heel ander plek in die orde.
Hier is ’n voorbeeld uit Van Zyl se boek van ooreenstemminge oor een episode tussen al drie evangelies:

Foto verskaf
’n Boek met vele waarde
Die nuttige inleiding tot Van Zyl se boek is nie net ’n insigryke oorsig oor die uitgebreide wetenskaplike werk waarop hy steun nie. Sy boek is in sommige opsigte ’n eie bydrae tot die internasionale sinopsisnavorsing. Dit is duidelik uit sy vertalingstrategieë, uit sy posisionering ten opsigte van bestaande sinopsisse en dan in sy eie verwerking van die volgorde van die sinoptiese evangelies. In dié sin is die boek ook ’n bydrae tot die Bybelwetenskappe buite bloot ’n Afrikaanse konteks. In hierdie opsig is die boek uniek, want dit lewer ’n bydrae in Afrikaans tot internasionale Bybelnavorsing.
Maar die boek is ook belangrik, omdat dit ’n instrument aanbied waarmee lesers en wetenskaplikes verdere navorsing kan doen met hierdie boek se betroubare uitkomste as vertrekpunt. Nie net navorsers in die teologie nie, maar geïnteresseerde lesers in die Bybel het in die boek merkwaardige stof tot gesprekke en debatte.
’n Winspunt van die boek is die nuwe vertaling van die tekste wanneer Van Zyl sy tekste uitskryf. Hier kry die leser ’n vertaling van die drie evangelies wat nêrens elders gepubliseer is nie. Die vertaling is ’n nuttige aanvulling tot die Bybelgenootskap se onlangse vertalings van die Bybel in Afrikaans: Dit probeer die leser so na moontlik aan die oorspronklike Grieks bring.
Van Zyl se boek is om dié redes so ’n verrassing en so ’n welkome verskyning op die terrein van godsdienstige tekste: Al hierdie uitgebreide navorsing is nou vir die eerste keer in ’n Afrikaanse sinopsis en boonop in ’n hoogs professionele formaat beskikbaar vir die vakgenoot en die algemene leser.
Vir vreugde
Dit is nodig om uiteindelik ook meer te sê oor ’n belangrike ondertoon in die boek as geheel. Van Zyl skryf in sy voorwoord tot die boek dat dit bedoel is vir almal wat graag noukeurig Bybellees. Vandaar sy aanbevelings in die inleiding hoe sy boek sinvol deur sy lesers gelees kan word.
Daarmee bring hy wetenskap in die markplein: Teorie en praktyk smelt hier saam. Dit is ’n boek wat die insigte van die wetenskap uiteindelik buite sy eie kring vrugbaar wil maak.
Die omgee-benadering word nog verder gekwalifiseer. Hy skryf: “Die sinopsis is bedoel vir alle Bybellesers vir wie noukeurige Bybellees belangrik en ’n vreugde is” (my beklemtoning). Dit is ’n ligte noot wat ’n mens nie altyd in sulke akademiese werk vind nie. Tog sê dit iets oor die skrywer.
Ek kan my inderdaad voorstel hoe lesers dag vir dag met vreugde meditatief deur die boek sou kon werk – stuk vir stuk: Nie soseer bloot in verwondering oor die wysheid van die sinopsis nie, maar veral oor die rykdom van betekenis van die Bybeltekste wat deur hierdie sinopsis ontsluit word. Dink net hoe boeiend kan dit word om die inhoud van hierdie boek aan die hand van die lectio divina-benadering deur te werk: herkouend, ruminerend aan elke woord.
Dit sou vreugde gee, veral omdat dit dieper insigte bied wat uiteindelik te doen het met die sin van die lewe. Hier kan ’n mens sien en beleef hoe drie skrywers die Jesus-verhaal woord vir woord uitbeeld om nuwe betekenis daarin te ontsluit.
Van Zyl se omgee-benadering vir die waarde van sy boek strek weer eens verder as net die gewone leser wanneer hy opmerk dat sy boek ’n nuttige hulpmiddel is vir Afrikaanssprekende pastore, predikante en teologiestudente in al hul bedrywighede om die Bybel te interpreteer. Die boek steek ook die grense van die vakwetenskap oor wanneer dit tot diens wil wees in die alledaagse praktyk van godsdienstige praktisyns.
Maar, weer eens, laat val hy veelseggend: Dit is selfs ’n “noodsaaklike” hulpmiddel – nie omdat dit “moet” as ’n sieldodende plig nie. Dit is noodsaaklik, omdat dit die onontbeerlike hulpmiddel is tot ’n verantwoorde, bevrydende lees van die Bybel. Dit is inderdaad nodig, veral in die vlakheid van die godsdienstige diskoers wat so vernietigend in ons tyd aan die werk is.
Hierdie boek is ’n belangrike mylpaal in die Afrikaanse godsdienstige diskoers.
Die skrywer

Foto verskaf
Wat hierdie boek gesaghebbend maak, is die reputasie van Hermie van Zyl as een van Suid-Afrika se mees ervare en gerespekteerde Nuwe-Testamentici. Hy is by uitstek die een wat so ’n sinopsis kán skryf: Hy is ’n deurwinterde Bybelvertaler en -kenner. Hy was betrokke by verskeie onlangse Bybelvertalings, onder andere ’n unieke Afrikaanse Bybel vir dowes. Hy het oor dekades heen teologie gedoseer waar hy geslagte van studente opgelei het. Hy is ook bekend as skrywer van rubrieke in dagblaaie, van publikasies oor die verstaan van die Bybel en as deelnemer aan radioprogramme. Sy reputasie as wetenskaplike blyk uit die feit dat sy kollegas en vakgenote hom as leier in akademiese vakverenigings en as universiteitsdekaan verkies het.
Lees ook:
Zubayr Charles se Haram is ’n waarskuwing aan almal, gelowig of nie: ’n lesersindruk
Op pad na ’n klooster in die sneeu deur Johannes de Villiers: ’n lesersindruk
Preacher, let my people go deur Zakhe Mazibuko: ’n lesersindruk



Kommentaar
Uitstekende lesersindruk, dankie Pieter. Mens hoop so dat hierdie resensie en veral dan ook hierdie kosbare boek deur baie mense gelees en gebruik sal word. Hierdie boek verdien 'n wye lesersgehoor.
Dankie, Johan. Dit was boeiend om te sien hoe die boek vir Hermie duidelik 'n lewenstaak was. En as 'n mens dink dat hy drie dekades daaran geskryf het, sekerlik ook 'n liefdestaak. Ek het die lees geniet, juis omdat dit so gerieflik is om onmiddellik die drie tekste saam te kon bekyk. En om dan te besef hoe elke evangelis op sy eie manier die Jesus-verhaal in sy konteks aktueel gemaak het.