God gevind deur Frits Gaum: ’n lesersindruk

  • 1

God gevind. Nagedink oor geloof in ’n taai tyd.
Frits Gaum
CLF Uitgewers, Wellington
2025

Terwyl ons met die postmodernisme flankeer, is dit seker gepas om vooraf te “openbaar” dat dit vir my maklik was om van Frits Gaum (1940–2024) te hou. Hy was besonder vriendelik en hoflik. Nogtans het ek hom nie goed leer ken nie. Toe hy in 1986 redakteur van Die Kerkbode word, het my termyn as kerksakeverslaggewer vir Die Burger en sy susterkoerante min of meer verstryk. Van ’n afstand het ek wel kennis geneem van dié nuwe redakteur wat met ’n ligter en oper aanslag besig was om van die NG Kerk se koerant ’n aktuele en dikwels prikkelende publikasie te maak.

Meer as dit: hy het NP van Wyk Louw se credo oor die “Oop gesprek” ‒ met joernalistieke navolgers soos Schalk Pienaar ‒ deel van Kerkbode se DNS gemaak. Hy het sy lesers blootgestel aan mense soos aartsbiskop Desmond Tutu, Nelson Mandela, Beyers Naudé, PW Botha, Willie Esterhuyse, Wentzel van Huyssteen (een van Suid-Afrika se grootste en mins bekende teoloë), Ben du Toit (voor én nadat hy sy geloof verloor het), Koos Kombuis, en Dana Snyman … sonder om hul standpunte en menings af te water.

Sy pa was “sy lewe lank op soek na gespreksgenote,” skryf Laurie in die voorwoord tot God gevind wat hy ná sy pa se dood voltooi en netjies saamgestel het. Skryf was die manier waarop sy pa “die lewe geprosesseer het”. ’n Stuk of agtien boeke getuig daarvan. Die meeste van die temas in die boek onder bespreking ‒ soos God, Jesus, Die Bybel, Die Kerk ‒ verwag ’n mens hier; die verrassings en die pitkos lê in die inhoud.

Vir my is een van Gaum se aantreklikste eienskappe sy vermoë om te twyfel; gevolglik word dit ook ’n bate van die boek. Die titels van sy vorige vier boeke het almal met ’n vraagteken geëindig.

Twyfel kan jou stroop van ondeurdagte opvattings en jou verlos van verwaandheid, skryf Gaum. Hy wys op Martin Luther wat gesê het trots en selfgenoegsaamheid – nie twyfel nie – is die teenpool van geloof. Gesonde twyfel is om geldige vrae “in die oë te kyk en te erken dat ons eenvoudig nie antwoorde op alle vrae het nie”.

Maar wees ook bedag op die “giftige vorms van twyfel”: geloofskeptisisme (om álles aan afbrekende kritiek te onderwerp), geloofsinisme (meedoënloos spottend, skaamteloos en ongevoelig) en doelbewuste ongeloof. “Jy moenie so verlief raak op die twyfel en die soektog dat jy die waarheid miskyk as dit hier by jou staan nie.”

Toe die “gay-kwessie” vroeg in die 2000’s op die kerk se agenda kom, het Gaum egter nie veel getwyfel nie: Homoseksuele is moontlik so gebore, maar hulle moet selibaat bly en van in-die-huwelik-tree, kan hulle vergeet. Maar toe kom sien Laurie hom op kantoor en vertel vir sy pa dat hy gay is.

Krisis! Twyfel. Voortdurende gebed. Navorsing. Gesprekke met kundiges.

Ook met Laurie, baie daarvan via e-posse. Dit kring uit tot ’n wye verskeidenheid onderwerpe: apartheid, Calvinisme, Bybelinterpretasie, hoop, identiteit, seksualiteit, Jesus, rassisme, die Broederbond … saamgevat in die boek Praat verby grense (2010). En Frits maak mettertyd ’n 180-grade-omkeer oor die gay-aangeleentheid.

Dis nie duisend jaar later nie toe hy hom ‒ saam met Laurie en tien ander ‒ in ’n byna ondenkbare posisie bevind: as aansoeker in ’n hofsaak teen sy geliefde NG Kerk om diskriminerende sinodebesluite teen die LGBTIQA+ gemeenskap nietig verklaar te kry. ’n Volbank regters beslis in hulle guns; ook dat die kerk sy eie én die 12 se regskoste moet betaal. (Ook dít lei tot ’n boek: Kerk oor die muur of oor die rubicon? Oor geloof, onreg en ’n hofsaak. 2020).

’n Heerlike oorwinning, maar die stryd duur voort. Tot laat in sy lewe priem en por Gaum die kerkleiding omdat hulle voete sleep met die opstel van ’n formulier vir die bevestiging van selfdegeslagverbintenisse. “Die ou patroon van draai en draal is steeds die ‘kerklike’ manier van doen,” murmureer hy.

Nogtans was dit vir hom moeilik om die volle kopskuif wég van apartheid te maak ‒ of het sy broeders dit vir hom onmoontlik gemaak? Met die oog op die Waarheid-en-versoeningskommissie kry hy opdrag om ’n voorlegging op te stel: Die verhaal van die Ned Geref Kerk se reis met apartheid: 1960–1994 ‒ wat kil ontvang word, ook deur bevriende kerke in die buiteland.

En Willie Jonker, ’n goeie vriend van Gaum, lewer ’n skerp ontleding wat groot vraagtekens agter Reis met apartheid plaas. Hy wys daarop dat dié dokument in wese die ou denkpatroon van die kerk oor apartheid voortsit. Wat oënskynlik nuut was, is die onderskeid tussen klein en groot apartheid. Eersgenoemde word gekritiseer en verskoning word gevra vir vernederings en kwetsende maatreëls, maar tegelyk word almal verseker dat “groot apartheid” ‒ die ideaal van selfstandige tuislande ‒ met die beste bedoelinge aangepak is en dat die bestaan van aparte lande en volke in byvoorbeeld Europa die geldigheid van so ’n politieke model bevestig.

Die soort “apartheid” wat in Europa bestaan, skryf Jonker, het nooit in Suid-Afrika bestaan nie en sal ook nooit hier realiseer nie. “En ons weet dit tog.” Hy pleit “dat ons die moed moet hê om te sê: ook die ideaal van apartheid was sondig omdat dit ten diepste gebore is uit ons onwil om werklik op gelyke vlak met ander in die land net maar mense te wees …” (www.williejonker.co.za)

Maar die bedrewe kerkpolitikus sien ’n deur wat kan oopskuif. Kort voor Kersfees 1997 verskyn in Kerkbode ’n foto van twee mans wat ingenome glimlag: aartsbiskop Desmond Tutu en Frits Gaum wat ’n voorlegging van die Wes- en Suid-Kaapse Sinode oorhandig ‒ in die WVK-voorsitter se kantoor. Sela.

**

Wat ek in God gevind veral geniet het, is Koos Kombuis se antwoord op Gaum se ope brief aan hom na aanleiding van Koos se boek Deur die tonnel van twyfel. Koos is heeltemal oorstelp deur dié toenadering en sê hy het nooit in sy wildste drome voorsien dat hy eendag weer in gesprek sou tree met ’n verteenwoordiger van veral die NG Kerk nie.

Sy afskeid van die kerk en die Christendom het egter “nooit geïmpliseer dat ek ’n volkome ateïs geword het nie”. Nogtans het hy ’n paradoksale bewondering vir mense wat die moed het om ateïsme aan te hang. “Dit kan nie maklik wees nie om jouself willens en wetens te begewe in ’n lukrake heelal waar slegs toeval die noodlot bepaal”, en waar enige vorm van gebed en selfs meditasie waarskynlik waardeloos is.

Kombuis skryf dat sy eiesoortige geloof meer waarde heg aan die merkwaardige woorde van Jesus as aan sy wonderwerke. “Dis ’n humanistiese geloof, maar dit is oneindig meer as humanisme.”

En: “As die teologie van die kerk ’n sg beton-en-baksteen-toring is wat uitreik na die onsienlike en onmeetbare, is my ‘geloof’ ’n handgemaakte klipstapel in die boendoes. As die kerk ’n teerpad is na geloofsekerheid en die hoop op ’n welgeluksalige hiernamaals, is my ‘geloof’ ’n nou grondpaadjie tussen ’n krans en ’n afgrond.”

**

Frits was besonder woordvaardig (en nogal kordaat deur die Heilige Gees die “X-faktor” te noem!); ’n onvermoeide leser en skrywer. Die laaste woord hier kom hom toe, uit sy laaste skryfsel:

“As ek sterf, sal ek by God wees. ’n Beter vooruitsig kan daar nie wees nie.

“By God. Vir goed.”

Lees ook:

Frits Gaum: In memoriam

Elders gesien: Frits Gaum, altyd hoflik en lojaal

Elders gesien: Selfs Frits Gaum sou saam kon juig

  • 1

Kommentaar

  • Dankie hiervoor, al lewer die stuk meer kommentaar op Frits as persoon as op die boek self. Ek twyfel nie vir een oomblik dat Frits 'n besondere aangename mens was, en dat diegene wat hom persoonlik geken het, maklik van hom gehou het nie. Hy skep die indruk van 'n ruimhartige en simpatieke mens wat wyer as sy eie wêreld gedink het. Tog kan mens nie wegkom van die feit dat sy teologiese posisies al die bestanddele van 'n vet kopseer gehad het nie. En gevolglik was Frits ongelukkig op verskillende kante van die spekrum vir verskillende redes ongewild. Konserwatiewes, veral 'n sekere soort konserwatiewe, het "die Gaums" en spesifiek vir Frits verkwalik, nie alleen omdat hy omgeswaai het en die homoseksuele saak begin bepleit het nie, maar spesifiek weens die hofsaak, wat gesien is as verraad teenoor God en kerk. Daarteenoor kon progressiewes ook nie aldag lekker vatkry aan Frits se idees nie. Frits het byvoorbeeld die evolusieleer aanvaar, maar dan het hy dit ook dikwels probeer versoen met sy idees oor kreasionisme en God se beweerde ingryping in die geskiedenis. Voeg daarby Frits se vreemde idees oor apartheid, soos die artikel dit uiteensit, en mens kom by 'n baie vreemde, baie onsamehangende plek uit.

    Ten opsigte van ateïste, net die volgende. Die artikel trap in die ou slaggat om ateïste oor een kam te skeer. Ateïsme beteken gewoon die afwesigheid van geloof. Gelowiges is ook al van "ateïsme" beskuldig, omdat hulle in die "verkeerde" god geglo het. Presies net soos wat gelowiges onder mekaar verskil oor alles en nog wat, so bestaan daar ook reuseverskille onder ateïste. Sommige ateïste is anti-godsdiens en wil enige gelowe in gode uitroei, ander is geensins teen godsdienste gekant nie. Sommige ateïste is oortuig daar bestaan geen god nie. Ander ateïste laat die moontlikheid oop vir die bestaan van gode, maar voel daar is nie genoeg bewyse om enige van die bestaande bekende gode te aanvaar nie. Dit is daarom nie korrek om te beweer dat alle ateïste "slegs toeval" agter elke verskynsel in die heelal en die natuur sien nie. Die saak is meer genuanseerd as dit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top