
Frits Gaum (Johan Kotze / NG gemeente Rondebosch, via WikiMedia)
Frits Gaum het in die letterkunde, joernalistiek en teologie studeer. Hy was predikant en vir baie lank redakteur van Kerkbode en Lig. Hy het ook in die moderamens van die Wes-Kaapse en die Algemene Sinode van die NG Kerk gedien.
Hy was vir 45 jaar by die Andrew Murray Desmond Tutu-prysfonds as voorsitter betrokke, en het vroeër vanjaar die leisels aan Bettina Wyngaard oorhandig. Hy was ook Bybelkor (vandag Bybel-Media) se eerste uitvoerende direkteur, en was tot sy dood hoofredakteur van die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE).
Hy was nie net lief vir sy familie nie, maar ook vir die Afrikaanse taal en die kerk, by name die NG Kerk.
Frits was teologies en polities – in sommige opsigte – betreklik behoudend, maar hy kon op ’n waardige manier met jou verskil. Hy het ook aanvaar dat ons mekaar nie altyd van ons standpunte sou oortuig nie.
Die manier waarop hy vir Laurie, sy seun, aanvaar het nadat Laurie eendag op kantoor vir sy pa gaan vertel het hy is gay, is merkwaardig. Dit wat hulle maklik uitmekaar kon geskeur het, het tot volkome aanvaarding en omhelsing gelei.
Hulle ontdek onmeetlike gemene grond, veral rakende selfdegeslagverhoudings (SGV’s) – in so ’n mate dat Frits ’n kampvegter vir hierdie saak geword het en ’n sleutelrol gespeel het toe 12 lidmate die NG Kerk hof toe geneem het oor die kerk se hantering in 2016 van die 2015 Algemene Sinode se goeie besluit rakende SGV’s.
Ek onthou nog goed hoe ek jare vantevore in Sedgefield by ’n kafee stilgehou het en op die voorblad van ‘n koerant ’n sensasionele berig en foto van Laurie en sy lewensmaat gesien het. Ek het dadelik geweet dit sou vir Frits, Henda en die ander kinders ’n dolksteek in die hart wees. Laurie was op daardie stadium ’n predikant en Frits ’n swaargewig in die kerk. Frits het die seer hiervan later met my gedeel.
Nadat die storm hieroor effe gaan lê het, en Laurie suksesvol geappelleer het teen die feit dat hy uit sy amp ontslaan is, begin pa en seun in gesprekke, maar ook in e-posse gedagtes wissel wat hiermee verband hou.
Hulle het ernstig en reguit, maar met respek, waardigheid en liefde oor die Bybel en seksualiteit, verdraagsaamheid en vergifnis, die dood en hoop, geregtigheid, menswees, die samelewing, die kerk, rassisme, en bevrydingsteologie gesels. En natuurlik altyd oor God.
Op hierdie manier het hulle voortgegaan – hierdie twee begaafde mense – om mekaar en hul eie grense uit te daag en te verskuif (Praat verby grense, 2010).
Die kerk het meer mense soos Frits nodig. Hardwerkend, onbaatsugtig, lojaal, getrou en toegewyd. Frits het ’n mens gehelp om ’n skuiling te prakseer teen die geniepsige winde van die lewe, en mag ek byvoeg, ook van die kerk.
Mense se welstand was vir hom belangrik – ook in die kerk. Hy het homself as’t ware weggegee vir die kerk en sy mense. Met oorgawe het hy sy gawes op verskillende maniere aan die kerk en Suid-Afrika gewy.
Hy het ook op toegewyde wyse ekumenies geleef.
In die spreekwoordelike kamers van die kerk en gemeenskappe waar hy en sy gesin gewoon en geleef het, sal vele mooi herinneringe van hom voortleef. Hy was ’n boom wat sy vrugte in oorvloed gegee het op sy tyd.
Frits kon ongelooflik goed en genuanseerd skryf. Hy het met baie verskillende mense se tekste gewerk en dit feitlik sonder uitsondering verbeter.
Ek het onlangs, nadat ek gehoor het dat hy slegte nuus oor sy gesondheid ontvang het, vir hom ’n e-pos gestuur waarin ek gevra het dat ons weer ’n slag saam koffie drink. Hy het baie daarna uitgesien en gesê dat daar baie is waaroor hy graag sal wil gesels.
Ek weet dat dit hom gepla het dat die NG Kerk te stil is oor die politiek van die dag, alhoewel Jan Lubbe se gesprekke vroeër vanjaar op RSG se aktualiteitsprogramme vir hom bemoedigend was.
Ek het toe vir hom die volgende gebed, afkomstig van die Galla-stam hier in Afrika, gestuur. “O God, laat my vannag veilig en rustig slaap, net soos ’n voëltjie in sy nes. O Here, daar bestaan geen krag naastenby soos U nie. In u hand bring ek die dag deur. Onder u hand rus ek snags. U is my Vader en my Moeder. Amen.” Hy het so waarderend teenoor die eenvoud en ongekompliseerdheid van hierdie gebed reageer.
Een van die laaste sake waarvoor Frits hom beywer het, was die opstel van ’n formulier vir die bevestiging van SGV’s in die kerk. Hoe dapper sal dit nie wees as die NG Kerk so iets kan formuleer nie.
Frits was bewus van sy prestasies, maar uiteraard ook van sy tekortkominge. Dat daar tye was, veral in sy jonger dae, toe hy te seker was, het hy erken. Soos wat hy ouer geword het, het hy anders begin voel.
Ek het altyd die indruk gekry dat daar gesprekke was waaroor hy nooit gespog het nie, maar wat vir hom baie beteken het – soos dié met Desmond Tutu, Nelson Mandela, Cecile Cilliers en ander.
Ons het meer as een keer oor Piet Cillié, voormalige koerantredakteur en professor in joernalistiek, onder wie Frits sy MA-studie voltooi het, gesels, en die volgende stelling van Cillié, waarmee hy as voormalige Kerkbode-redakteur saamgestem het, bespreek: “In die lewe bestaan ’n noue verwantskap tussen die gehalte van die pêrels wat jy aanbied, en die kaliber van die ontvangers daarvan. Hoe valser die pêrels, des te egter die swyne. Daarom het ek in my beroep die reël probeer volg om nie maar net aan die publiek te probeer gee wat hulle wil hê nie, maar ook ’n goeie dosis van wat hulle behoort te wil hê” (Eet jou rape eerste, 1980).
Dit was ook vir Frits ’n rigtingwyser – toe hy redakteur van die Kerkbode was, maar ook later in sy lewe, toe hy gereeld koerantartikels geskryf het. Hy het vooraf geweet hy gaan gekritiseer word, maar ter wille van, onder andere, menswaardigheid en geregtigheid, moes hy eenvoudig sekere dinge sê omdat hy oortuig was mense moet dit hoor.
Ons het nog beplan aan ’n ontmoeting vroeg in Oktober, soos hier bo na verwys. En toe, skielik, was Frits op die kortlys van die dood en sterf hy in die vroeë oggendure van 1 Oktober. Die mooiste, mooiste maand.
Dit was ’n voorreg om Frits te ken. Hy was, soos hy ouer geword het, toenemend baie dankbaar vir sy vol en geseënde lewe van 84 jaar.


Kommentaar
Dankie Chris, 'n skitterende artikel oor 'n besondere mens.