
Boekomslag: Preacher, let my people go by Zakhe Mazibuko (Penguin, 2025)
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Preacher, let my people go
Skrywer: Zakhe Mazibuko
Uitgewer: Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781779880901
Hierdie boek gaan heelwat Christene die dinges in maak. Baie van die groot gemeentes het omtrent ’n hele preek voordat daar met ’n diens begin word. Ek self was in so ’n kerk. Een van die pastore kom ná die lofprysing en aanbidding na vore om die tiendes en offergawes op te neem. Hierdie gedeelte van die diens kan tot 45 minute duur. Ek het soms so veroordeel gevoel dat ek alles wat in my beursie was, in die kollektesakkie gesit het, al het ek geweet dat daar nie geld in die huis gaan wees om alles te betaal nie. Want jy sien, as ek 100 persent gee, gaan ek 100 persent terugkry. En dis nie waar dit stop nie. Jou tiende word een maal per maand betaal as jy jou salaris kry. Dis nie 10 present van dit wat op jou salarisstrokie wys nie, dis 10 present van wat daar bo staan voor enige aftrekkings. Ek kon sekere maande dit nie bybring nie, en dan is dit heeltemal in orde, want ek kan volgende maand net dit wat ek skuld, bybetaal.
Ek is baie vrygewig van aard. Toe ek nog kon, het ek sommer die persoon voor my se inkopies by die supermark of winkel betaal. Dit was vir my heerlik om ’n baie groot fooitjie vir die kelner te los wat ons bedien het in ’n restaurant. Ek het ook groot genot daaruit geput om vir ’n motoris agter my se tolgeld te betaal by ’n tolhek. Die verbasing en dankbaarheid vanaf die ontvanger was vir my genoeg rede om daarmee voort te gaan. Ek het dit glad nie gedoen om gesien te word nie. Ek noem slegs hier om te demonstreer dat ek daarvan hou om te gee, nie omdat ek wil hê jy moet dink ek is oulik nie. Glad nie, asseblief.
Ek het later nie kerk toe gegaan as ek nie ’n stewige klompie geld gehad het om tydens kollekte te gee nie. My dogter het betrokke geraak by ’n kerk wat jong mense bedien het. Hulle het Saterdae-aande, Sondagoggende en -aande en Woensdagaande byeenkomste gehad. Dan word daar by elke een hiervan ’n kollekte opgeneem. Sy was ’n selgroepleier. Na elke selgroep moes sy die hoeveelheid mense wat dit bygewoon het, dadelik op WhatsApp rapporteer, asook hoeveel geld ingesamel is. Sy het keer op keer ’n klomp geld bygesit as die opkoms nie groot genoeg was nie. Bo en behalwe die geld wat ingesamel moet word, het sy liters en liters brandstof uitgery om almal by die kerk en selgroep te kry. Dit het daartoe gelei dat sy donkernag moes rondry om almal weer te gaan aflaai. ’n Jong meisie op haar eie. Dit het vir vele argumente gesorg, omdat dit na my mening nie veilig was nie, en ek moes keer op keer geld gee vir brandstof. Hierdie getalle is nagejaag om die kollektesakkies te laat bult en om geen ander rede nie. Die laaste was dat jy jou sitplek vooraf moet bespreek voordat jy die diens kan bywoon. Die pastoor en leier van hulle kerk was heel ingenome om die gemeente mee te deel van sy nuwe luukse motor wat hy vir hom aangeskaf het.
.......
Het die kerk ’n besigheid geword wat ’n stewige bankbalans moet toon en ’n yslike salaris aan die leiers moet betaal? Welvaart is van die preekstoel af bemark as die vrug van jou offergawe en tiende.
.......
My vraag was toe al of dit gaan oor die lidmate se geestelike welstand of oor die geld. Het die kerk ’n besigheid geword wat ’n stewige bankbalans moet toon en ’n yslike salaris aan die leiers moet betaal? Welvaart is van die preekstoel af bemark as die vrug van jou offergawe en tiende. Ek was by ’n diens waar een van die lede na ’n OTM gehardloop het om al sy geld te trek om as offergawe te gee. Dit was duidelik dat die man dit nie breed gehad het nie. Die belofte van veelvoudige finansiële welvaart as jy in oorvloed gee, is diens na diens gepreek. Ek glo self dat die Here voorsien en ons seën vanuit Sy skatkamers, maar dis nie net of altyd finansieel nie.
Mazibuko omskryf die tradisie van tiendes en ander offergawes in breë trekke. Hy bied skrif vir elk van sy stellings. Hy doen dit met groot respek vir die kerk en geestelike organisasies. Hy bied egter ’n verduideliking van die werklikheid, ook gestaaf uit die Bybel. Hy is self ’n leraar en het uit sy amp as leier van ’n gemeente bedank as gevolg van dieselfde druk waarvan ek hierbo gepraat het, wat hy moes plaas op die gemeentelede. Hy bied ook ’n alternatief vir die welstand van ’n gemeente se finansiële welstand en salaris vir die amptenare van die kerk. Hy stel allermins voor dat ons moet ophou gee. Wat hy aanmoedig, is om kerklede op te hou moker met die ou tradisie van tiendes, maar om eerder hande te vat en om te gee wat jy kan, wanneer jy kan. Nie geforseerd nie, maar met vreugde en blydskap sonder enige veroordeling.
.......
Lees Preacher, let my people go gerus, en word vrygemaak van gedwonge vrygewigheid.
.......
Preacher, let my people go ondersoek ’n tema wat elke gelowige raak. Die skrywer spreek die onderwerp met teologiese diepte en eerlike openhartigheid aan en lewer terselfdertyd ’n leeservaring wat aangenaam en maklik is om mee te vereenselwig. Hierdie boek is ideaal vir predikante, leiers, lidmate en enigiemand wat hul geloof in lyn wil kry met die waarheid en egte Bybelse beginsels.
Lees Preacher, let my people go gerus, en word vrygemaak van gedwonge vrygewigheid.
Lees ook:
Die slegte nuus van die evangelie deur Johan Retief: Sakkie Spangenberg deel sy indrukke
Die opkoms en ondergang van die NG Kerk deur Jean Oosthuizen: ’n lesersindruk


