Gee jy jou tiende?

  • 30

Bron: Pixabay

Verskillende benaderings

Die onderwerp oor die gee van tiendes het oor dekades bloedige debatte tot gevolg gehad.

Kerkdenominasies verskil nie net in die interpretasie van wat ’n tiende is nie, maar ook of dit nog vandag van toepassing is.

Feite of manipulasie?

Waar die beginsel van ’n tiende nog geld, bestaan daar ook diepliggende verskille tussen lidmate. Sommige is van mening dat ’n volle tiende van jou bruto salaris van toepassing is. In sommige van die charismatiese kerkgroepe word verwag dat jy ’n afskrif van jou salarisstrokie moet indien waar die bedrag wat jy verskuldig is, namens jou bereken sal word en dan met ’n debietorder verhaal word.

’n Leraar het my ’n paar jaar gelede versoek om my naam op die offergawekoevertjie te skryf vir administratiewe doeleindes. Op ’n vraag of die tiende dan nou nie op ’n ander manier gegee kan word nie, byvoorbeeld die identifisering van ’n behoeftige gesin of enige minderbevoorregte, was die reaksie nie positief nie: 10% is die afgemete bedrag aan die kerk as instansie alleen. Behalwe dat die kerk dit sal spandeer soos dit moet, moet die leraars ook vergoed word en ’n gedeelte moet aan die sinode betaal word  ̶  die kerk as struktuur moet immers onderhou word. Die res wat jy wil gee, is addisioneel, is vir my gesê.

Ek het vir ’n paar maande dié dienste bygewoon. Wat opvallend was, was die geweldige charisma en "lewendige" dienste wat meesleurend was van die begin tot aan die einde, byna of jy vasgevang was in een van Joel Osteen se motiveringsboeke.

Preke het gewoonlik ’n baie gematigde aanvang gehad, met die gebruiklike Skriflesing aan die begin waarop die boodskap dan geskoei was. Die atmosfeer het oor die verloop van ’n uur tot ’n uur en ’n half getuienisse van "wonderwerke” ingesluit, maar opgebou na ’n plofbare klimaks tydens lofsang, waar een lied (of alombekend as ’n koortjie), "Ek is bly want ek kan gee” herhaaldelik gesing word, 20 keer, 30 keer. Dan is die kollektebordjies uitgedeel met ’n leraar wat die sang sporadies onderbreek het met: "Jy gee sodat jy geseën kan word” en dit verder ondersteun met die bekende Skrifverwysing uit Maleagi 3:10: "Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak nie en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.”

Die Bybel is tog reg? Die Skrif is die onwrikbare Woord van God. Hoe durf ons aan die voorskrifte peuter?

Die Kerbode, 1963

Die tiende is ’n begrip afkomstig vanuit die Ou Testament waarvan in die Nuwe Testament weinig sprake is. Willie Jonker skryf in Die Kerkbode van 20 November 1963 met verwysing na bostaande skrifgedeelte uit Maleagi. Vir hom is die lig van die Skrif beslissend, maar is die groot beginsel van die Nuwe Testament geldig: Ons is duur gekoop en daarom behoort ons nie meer aan onsself nie (1 Kor 6:19–20); daar moet geen plek vir selfsug en suinigheid en hebsug wees nie en God het die reg op alles wat aan ons behoort.

Hy gaan wel verder en noem dat daar baie sprake van gawes is en wat ons in diens van die Here moet afstaan, maar dat daar geen direkte voorskrif in die Nuwe Testament bestaan oor die hoeveelheid daarvan nie. Jonker beklemtoon dat die spesifieke skema van die tiendes soos in die Ou Testament gestel, nie meer van toepassing is op die gelowiges in die nuwe bedeling nie.

Die enigste blywende element is dat die kind van God verplig is om vir die saak van die Here te gee, spesifiek vir die onderhoud van die diens van die Here (1 Kor 9:13–14) en die versorging van die armes (1 Kor 1). Hy noem wel dat dit nie verkeerd is om die tiende as riglyn te gebruik by die gee van ons gawes nie.

NG Kerk Wonderboom, 2020

Nelius Steyn van die NG Kerk Wonderboom vra in die jongste gebedsbrief aan die gemeente (20 September 2020) of mens regtig ’n tiende moet gee en klassifiseer dit eerder as rentmeesterskap. ("Moet ek regtig ’n tiende gee?” – NG Kerk Wonderboom; www.ngkwonderboom.co.za.)

Steyn sluit aan by Jonker se standpunt van meer as 50 jaar gelede. Hy vra: "Het God ons geld nodig? Behoort alles nie in elke geval aan hom nie?” Die eerste gemeente in Handelinge word as voorbeeld gebruik waar niemand gebrek gely het nie (Handelinge 4:32–35). Vir Steyn gaan dit nie oor die regeringstelsel nie, maar oor rentmeesterskap van elke gelowige.

Hy noem ook verder dat dit maar ’n gesukkel is om gelowiges met blymoedigheid en oorgawe te laat gee, en vra: "Waarom is die beursie die ’laaste een om tot bekering te kom?’”

Waarom gee Christene so moeilik? Steyn voer aan dat ons nie die koningsheerskappy van God verstaan nie, dat die mens geldgierig is en daardeur God en Mammon wil dien.

Op die vraag of die beginsel van die tiende nog geldig is, sê hy dat die vraag verkeerd om geformuleer word. Ons moet eerder nie vra hoeveel ons vir God moet gee nie, maar wat ons vir onsself mag hou, gebaseer op die standpunt dat die tiende nie as ’n wettiese beginsel geld nie, maar deels ’n antwoord is op God se genade  ̶  en nié om ’n eie selfsugtige lewenstyl te handhaaf nie.

Die onderskeid moet gemaak word tussen dankoffers en tiendes. Steyn voer aan dat as jy jou tiende gegee het, jy nog niks spesiaal gedoen het of ’n offer gebring wat jou iets kos nie. Eers as jy ’n dankoffer gee, kan dit gesien word as ’n werklike offer. Hy sê ook dat die kerk van Christus finansieel sukkel omdat Christene nie hulle verantwoordelikheid nakom nie.

Steyn raak ook die kwessie van sogenaamde voorspoedteologie aan en noem dit "blatante selfsug” omdat God nie gemanipuleer kan word nie. Dit beteken dat ons wel sal ontvang as ons gee, maar impliseer nie noodwendig voorspoed of finansiële welvaart nie. Seën is volgens hom die posisionering en vorming sodat jy tot seën van ander kan wees. God sal wel vir ons sorg (Matteus 6:25–33). Hy sluit dan sy brief af met "Wie/wat dien jy?”

Sosiale media

Die onderwerp het ook al wye reaksie op sosiale media uitgelok. Op een forum, Meer as Oorwinnaars in Jesus Christus / More than Conquerors in Jesus Christ, (www.facebook.com/groups/pvgeestelik), ’n groep met ongeveer 2 300 aktiewe lede, was daar ook al vuurwarm debatte oor die onderwerp. Van die lesers voel baie sterk daaroor dat tiendes jou dankoffer is, maar dit sluit ook hulp aan ander in sonder om iets terug te verwag. Ina Kruger vra: "Betaal jy nie belasting nie? Dis wet. Jesus het tempelbelasting betaal. Hy sê: Betaal aan die keiser wat hom toekom en aan God wat hom toekom. Ek is seker jy het medies en allerhande ander versekerings. Hoekom nie jou lewe by God verseker nie?”

Charles Skeen antwoord daarop: "Geen mens kon meer gee as die vrou wat haar laaste oortjie in die sakkie gegooi het nie. Vir my gaan dit nie om die desimaal of die uiteindelike bedrag nie. Vir my gaan dit baie meer oor hoe ek dit gee.”

Ilze Calitz haal aan uit 2 Kor 9:7: "Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief.”

Danny Brumer voel sterk daaroor dat ’n tiende sy tyd met die Here is en bereken dan ’n totaal van twee uur en 40 minute uit ’n siklus van 24 uur wat hy tyd aan die Here spandeer.

Waar die tiendes uiteindelik beland en hoe dit spandeer word, is ’n groot kommer wat uitgespreek word. Lesers voel oor die algemeen dat hulle eerder gee aan dié wat hulle self as behoeftig identifiseer. Soos een anonieme respondent telefonies aan my sê: "Dit is meer sinvol om vir die arm man op straat R100 te gee  ̶  geld wat hy nog nooit gesien het nie – of te voorsien aan die werknemer wat ’n trollie stoot in ’n winkel. Wat van die motorwag wat ure in die son, wind en reën staan om ’n bestaan te maak? Ek gee eerder aan hulle as om ’n struktuur en instansie te finansier wat nie die werklike behoeftes van dié in nood aanspreek nie.”

Wat is die waarheid?

’n Teer saak, die tiendes. Gewoontevormend en tradisie, soos baie sê.

En dan dink mens onwillekeurig aan die Paulus-vraag in dié spesifieke konteks: Wat is die waarheid? Die kleingeld in jou beursie?

 

  • 30

Kommentaar

  • Die Here het 'n blymoedige gewer lief.
    As gemeentelid het ons pligte. Die kerk en leraar moet onderhou word. Daar mag ek aan bydra. Daar is ook die versorging van armes of mense wat teëspoed ervaar het. Die diakonie versorg hulle.
    Dit gaan oor 'n hartsgesindheid. Jy gee na gelang jou inkomste met 'n bly hart. Ons deel in mekaar se behoeftes. Ons bou nekaar en pas mekaar op. Ons is 'n liefdesgemeenskap. Alles wat ons is en het, het ons ontvang. .

  • Margaret Cordier

    Dankie Berdéhan vir 'n goedaangeraakte kwessie naamlik: wat is tiende en hoe gee mens.
    Vir my bly die rol van die Heilige Gees in ons lewe die groot belangrike faktor - ook hier.
    Jesus Christus het gesê dat dit voordelig was dat Hy weggegaan het - sodat ons die belofte van die uitstorting van die Heilige Gees kon ontvang. Die Heilige Gees is ons Hulp; Raadgewer; Vriend; Advokaat; Trooster; Wysheid & Krag en maak aan ons selfs die toekomstige dinge bekend.
    Dus sal die Heilige Gees van Waarheid ons lei in alles - ons oortuig van sonde; geregtigheid en oordeel.
    Die Here het 'n blymoedige gewer lief en Hy sal in jou wil om te werk na Sy welbehae.
    Die Heilige Gees sal jou lei en oortuig wat of hoeveel om te gee - en dit met blydskap te gee - wat selfs 'n twintigste of vyftigste kan wees. ... In Sy Rus.

  • Francis Grobler

    So is ék afgerig om Sondag na Sondag my geldjie saam te karwei kerk toe. Ons is mos kjêrkmense! As kind was dit sente. Later note.

    Deesdae, sommer 'n pák note.
    Hoe dikker die pak note, hoe groter die genade, asóf dit die droogte sal breek; misdaad sal keer of jou sal vrywaar teen die aanslae van die bose.
    Vreemd dat dié soort bydrae nog nooit 'n roering onder my grênt kerkklere meegebring het nie, in teenstelling met dít wat gebeur onder 'n T-hemp wanneer iemand instaan vir 'n ander wat R20 te min het vir brood en melk by die betaalpunt in 'n supermark. Wat noem 'n mens die fondse wat toegestaan word aan die skoolkind wat nie sy rugbytoer of rugbystewels kan bekostig nie. Of die ekstra R20 waarmee die petroljoggie sy kind se toebroodjies kan bekostig vir môre se dun kosblik. Hoe's die naam van die genadegawes wat iemand uit 'n klip tap om vir 'n ander gehoorstukke, hospitaalonkostes, 'n fiets (omdat sy voete sukkel om te loop) en dies meer te koop. Hóé bepaal jy persentasiegewys die waarde van kwytskelding van skuld of van die amper verboureerde en verlee kyk van oë wat die grond opsoek uit diepe waardering? Mý beskeie opinie: 'n tiende is slegs 'n tiende indien die linkerhand nie weet van die regterhand se troos of trane nie. Waar "tien" nie op getallelyne afgetel of geskaal word deur die sotlike ykers van sisteme nie.
    "Tiende" is 'n relatiewe term, wat slégs gekalibreer word deur die roering agter die halfsirkels van 'n ribbekas en die groothartigheid in die holte van 'n hand wat swyg. Wanneer jy waaragtig níks het nie, maar die strale op jou rug prysgee, sodat 'n ander tog ook kan staan in 'n enkelstraal son. En so terloops... tiendes word twintigstes en dertigstes vir arm weduwees wat loop met hulle hande op hulle harte. Dag ek sê maar net.

  • Therin Pretorius

    Ek het dit geniet om hierdie te lees! Die charismatiese "wonderwerke" en spesifieke lofsang wanneer tiendes gevra word. Briljant geskryf!

  • Dr. Gerrie Venter

    O T: Bring die HELE tiende na die skatkis, sodat daar spuis in my huis kan wees. Dit was alreeds in die tabernakel, waar die priesters- voltyds in diens van God was. Desgelyks ook in die huidige dispensasie. God voorsien aan die gewer om dit na sy aanbiddingsplek te neem. Dan is daar spuis in God se huis. Natuurlik met ’n belofte. Daar is Dan ook ’n Vader-kind-verhouding. God gee opdrag. God verwag gehoorsaamheid. God beloon gehoorsaamheid. Vanuit gehoorsaamheid word ons as gewers, dan mede-werkers van die uitbreiding van God se Koningkryk. Hoe sal iemand gered word, as hy nie die woord hoor nie, hoe sal iemand die woord hoor, as iemand dit nie preek nie. Gaan verkondig die evangelie aan die Hele wêreld. Dit is die groot oodrag. Tiendes en offergawes in totale gehoorsaamheid aan die bovermelde - is maar net die bydraende dele tot die somtotaal van God se begeerte. Maak dissipels van alle nasies - die redding van siele! As vertrekpunt het Christus in gehoorsaamheid nie ’n tiende gebring nie, maar alles gegee om mense na God te bring

  • Ggrrrrrr, o my vriend jy krap met 'n stok in 'n byenes. Ja hierdie is 'n debat wat al jare aan die gang is en nog jare lank sal wees. Ek persoonlik voel dat 'n tiende van alles wat ek is aan God behoort. Hy het nog altyd voorsien. Hy het my gebless toe ek niks gegee het nie, Hy het my gebless toe ek alles gegee het. Dit is jou hart wat tel. Jy gee met 'n vrywillige gees, jy sal wel weet waar, vir wie, en hoeveel jy moet gee wanneer die tyd reg is. Mens moet nooit gedwing word om te gee nie, dit moet uit jou hart uit kom.

  • Ons leef nie meer vanuit die Ou Testament nie, maar die Nuwe Testament. Om Jesus te volg is radikaal. As Jesus die dissipels roep, sê Hy "Volg my" en "Ek sal julle vissers van mense maak" en hulle het alles agter gelaat. Vir die ryk jong man sê Jesus "Verkoop alles en volg my". Jesus vra jou alles op hom te vertrou en ook te vertrou dat Hy sal voorsien in wat jy nodig het. Aan jou behoort niks. Wat jy het is net aan jou geleen sing, Koos Doep, en wat jy is, is net genade. Gee aan God wat aan God behoort en vertrou Hom en Hy sal vir jou sorg. Jesus vra nie ’n tiende. Hy vra alles, want Hy het reeds alles gegee.

  • Sophia Oliphant

    Dis ń punt waaroor sommiges nie wil praat of aanraak nie.Dit wat ons het is God wat voorsien niks is vanselfsprekend nie.Deur te gee uit ervaring het ek nog altyd meer ontvang en tog het ek nie gegee om te ontvang nie.

  • In Lukas 21 vers 3 lees ek.

    Die arm weduwee gee baie vir God
    1Daarna het Jesus gekyk hoe al die ryk mense na die groot skatkis in die tempel toe kom om hulle geldelike bydraes daarin te gooi. 2So tussen al die mense deur merk Hy toe op hoe ’n arm weduwee vinnig ’n paar sent in die skatkis gooi en wegstap.
    3“Sien julle die weduwee wat daar van die skatkis af wegstap? Wel, sy het so pas die grootste skenking ooit aan die tempel gemaak. 4Haar paar sente was meer as al die sakke vol geld wat die ryk mense elke dag soontoe aandra. Hulle gee uit hulle oorvloed so ’n ietsie weg, maar sy het alles vir God gegee wat sy op haar naam gehad het. Nou het sy nie meer ’n sent op haar naam oor nie.”

    Ek het 'n draai deur die drie susterkerke gemaak ,waar ek as ouderling en diaken en op talle komitees gedien het.Nou gaan ek respekvol vir elke dominee,pastoor en elke bedienaar van die woord sê.
    Hou op om die ou testament -die ou verbond tussen God en sy uitverkore volk netso op die nuwe verbond van toepassing te maak.As ons volgelinge van Christus wil wees gee ons alles,want Christus het nie net 'n tiende gegee nie,maar alles as offer gebring.

    Dit beteken dan ons tyd,en alles wat ons het,wat ons ontvang het van ons Skepper
    is beskikbaar en nie net 'n 10de van ons inkomste nie.Daarom as jy na belasting 'n inkomste van R40 000 per maand het klink R4000 baie geld maar jy het nog steeds R36 000 oor.
    Nou wat van die armes wat karige pensioene kty of wat werkloos is en in ellelange
    toe staan om R350 per maand te ontvang en 'n gesin moet onderhou.Weet jy hoeveel R35 vir hulle werd is.

    As mens was Jesus arm,brandarm.In Lukas 9 lees ek:

    "Hoe volg ’n mens Jesus?
    57Langs die pad het iemand vir Jesus gesê: “Here, ek is bereid om u volgeling te wees. Maak nie saak waar U gaan nie, ek sal by U bly.”
    58Toe sê Jesus vir hom: “Jy moet baie mooi dink wat jy sê, want Ek wat die Seun van die mens is, kan nie eens vanaand vir jou ’n ordentlike slaapplek aanbied nie. Selfs die voëls en die jakkalse in die veld is beter daaraan toe as Ek. Hulle het ten minste ’n blyplek van hulle eie.”

    Ons lewe in 'n nuwe verbond wat nuwe opofferings vra-opofferings wat nie geld gemeet kan word nie.

  • Chris Erasmus

    Ek dink die "gebod/vereiste" wat in die Bybel voorgehou word word deur ons verganklike sondige mense verkeerd vertolk. Baie mense glo dat as jy 'n tiende gee jy meer geseend sal wees of minder gaan swaarkry. Die lewende liefdvolle God en Hemelse Vader wat ek aanbid en aan glo het nog nooit vir my laat weet ek skuld Hom iets nie. Ek leef uitsluitelik op Sy genade. Ek het agv finansiele beperkings vir lang tye in my lewe geen bydrae tot die kerk se koffers gemaak nie. Ek het oorleef en leef nog steeds. Jy kan nie jou saligheid met geld koop nie. Deur net jou tyd aan God se wil om Hom te behaag te spandeer sal jy steeds seen en ganade ontvang. Die grote van jou bydrae verseker jou nie 'n meer spesiale plek in God se oe nie. Dit verseker jou miskien 'n meer spesiale plek in die kerkraad of gemeente se boekie, maar dit is tydelik. Die gesindheid waarmee jy gee is meer bepalend.

  • Ek raai julle Christene aan om julle tiendes op te dok, en meer as julle tiendes. Is julle nie veronderstel om alles te gee wat julle besit en Jesus te volg nie? Dit kos duur om die ewige lewe te beërf; en die dominees en evangeliste se Mercedese moet vervang word.

  • Pertinet gesels. Dave en Alta

    God het net een opdrag.
    Wees gehoorsaam en doen goed.
    Hy begin met die gegehoorsaamheids toets.
    Julle mag van die boom van goed en kwaad nie neem nie.
    Eva tob daaroor. Maar alhoewel God elke dag saam met hulle in die tuin stap vra sy nie uit oor goed nie.
    Ons weet wat het gebeur. Hulle was ongehoorsaam.

    Kain en Abel.
    God praat met Kain.
    Genesis 4:6-7
    Kain se hoof hang hy is bedruk kwaad.
    God praat met hom. Se hy moet goed doen.
    Maar hy luister nie volg kwaad na.
    Is ongehoorsaam en sonder goed doen.
    Genesis 14. Abram ontmoet vir Melgisédek.
    Lank voor Israel en Christendom.
    Hy skenk n tiende.
    Maar die koning van Sodom?
    Abram het niks van hom aanvaar nie.
    Lees die hoofstuk.
    Hier was nog geen opdrag van God nie behalwe wees gehoorsaam en doen goed.
    Hoevel moet ek gee.
    Besluit self.

  • Wat van mense wat glad nie kan gee nie, en op ’n ander manier goed doen vir sy/haar medemens? Hoekom word ons al op aarde gekruisig deur die mens? Tiendes word elke dag nou gepreek. Volgens sekere predikers sal God jou nie seën as jy nie tiendes gee nie. So hulle besluit sommer nou vir God wie om te seën.

  • Al hierdie Baäl-tempels (kerke) verkondig dat die Ou Testament uitgedien is, in so 'n mate dat hulle nie eers meer die Tien Gebooie in enige van hul samekomste voorlees of nakom nie, maar kyk, die tiende, wat duidelik Ou Testamenties is, moet asseblief tog nie afgeskryf word nie.

  • Hans Richardt

    Mense, mense ...
    Is jul idee van God dan in die kassie van Bybelse bladsye? Lees Job se stryd met homself oor God en argumente met God. Dit was tog ongeveer vyf eeue voor die tyd van Jesus Christus. Goeie dade bring niemand in hemel nie, net jou geloofsoortuiging.
    Angus, ek vra toe vir doktor Wouter van Wyk oor sy standpunt, dat jong proponente nie in die Karoo op platteland kan swaarkry nie, hoe Jesus sou gevoel het oor die saak. Ek wag vir 'n klinkklare antwoord op my vraag.

  • Beste Hans, God is die hoofkarakter in die Bybel, en dis al waar hy werklik bestaan, soos enige ander fiktiewe karakter: Bart Nel, Job, Rooikappie, die Biene Maja, Moses, Aaron, Simson, ens, ens.
    Ja, die Christelike godsdiens is 'n jolliegodsdiens. My ou bokkerse van 'n buurman kan lekker Saterdagmiddag oor die heining vir my vrou langs die swembad loer, en Sondag loop hy bybelonderdiearm kerk toe sodat sy sondes vergewe kan word, en hy hemel toe kan gaan.
    Ek dink enige dominee sal die swaarkry in die Karoo verdra, solank hy net lugversorging in sy paleis kan kry en die gemeente ryk genoeg is om vir sy errepleinmouterkar te kan betaal.

  • As kerkdroster betaal ek natuurlik ook nie tiendes nie. Ek lees ook die verkeerde Bybel. In my Bybel staan daar "God" en "Here" terwyl dit glo eintlik moet wees "YHWH" en "Elohim".

    Maar ek lê nie sawens wakker oor al die dinge nie.

  • Hans Richardt

    Angus, spog jy oor jou vrou langs die swembad? O hel, my buurvrouens is lelik ...
    Ons predikant het sy eie privaat huis in Vanderkloof en is afgetree. Ons betaal hom vir preke gelewer.
    Ek het met die groot ou van ons kerk 'n argument. Hy het die houding dat as gemeentes in die platteland nie kan bekostig om hom en sy familie volledig te onderhou nie, ons so moet bly, herderloos in die grammadoelas ...
    Hy kan my vraag nie antwoord nie: "Wat sou Jesus sê" oor sy winsgedrewendheid-houding?
    Sy antwoord was soos Kobus de Klerk en FC ... hordes Bybelversies om sy standpunt te regverdig.

  • Hans, dis baie goedkoper om 'n ouderling te kry om die diens te lei. As mense afhanklik is van 'n dominee se teenwoordigheid, is daar groot fout. Jy moet darem ook onthou, 'n predikant moet ook lewe, al preek en bid hy ook seker maar net om den brode.

  • Hans Richardt

    Angus, die predikant hoef nie luuks te lewe op sy gemeente nie. Dis nie asof hy boeke of vraestelle na-ure hoef na te sien, soos onderwysers nie.

  • DOEMANIE

    'n Proefiet van Jesus djỳ?
    'n proefiet?
    djy moet djou palys-hys
    djy moet djou aeroplane-motorkar
    djy moet daai kamma sêd smile van djou
    en djou tears
    en djou woerawarra op die pulpit
    moet djou skorrelsvol braai-atappels en - vleis?

    djou hys 'n woestyn? nou sal mens djou verbeel!
    en hoe lyk dit moet djou kale pote vi' daai streamline ding
    hoe lyk dit moet djou toega vi' die vel van 'n kameel
    hoe lyk dit moet daai skorrelsvol vi' sprinkane en wille hiening?

    Adam Small -- KITAAR MY KRUIS

  • Hans Richardt

    Angus, Adam Small se gedig ...
    Ja, dis 'n ander sienswyse en denke. Geen dogma sonder dominee nie, wat byna 'n miljoen per jaar kos in groot gemeentes ... wonder of betaalpredikante hul deel by SARS bring?

  • Retha van Rensburg

    Nêrens in God se Woord verander of stop Hy Sy opdrag van TIENDES AAN DIE HUIS VAN GOD nie! Gooi ons net die Ou Testament weg? Nee, stellig nie! SLEGS DIT wat Jesus self verander in die Nuwe Testament is veranderd, DIE RES BLY STAAN vir Sy kinders. Jy is mos ook Sy kind? Jy glo mos in die hele Bybel? Tiendes is anoniem en geen bewyse of strokies is van belang nie, want dit is elkeen se eie plig, verantwoordelikheid en gehoorsaamheid, wat vir God tel. Wat "die huis van God" met dit doen, is weer húlle saak met God!!! Sou hul dit verkeerd bestee, rus die onus op húlle ... jy het jou Goddelike opdrag in gehoorsaamheid uitgevoer. Kerke en Leraars moet NOOIT VRA vir tiendes nie en dit moenie n konstante bedelary wees nie! Almal het God se Woord en almal kan Sy opdrag lees. As jy opreg van hart is SAL die Heilige Gees jou lei om die regte ding te doen! Kerke moet verder op God vertrou en ophou bedel, basaars hou, koffie winkels vanuit die kerk bedryf en kollektes neem - DIT IS NIE BYBELS NIE - tiendes is wel!

  • God stel nie belang in tiendes nie, want alles behoort aan God. God verlang gehoorsaamheid aan Hom as Hy spreek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top