
Foto van die Dooie See: Pixabay
HOLY WATER REMOVED TEMPORARILY TO REDUCE THE RISK OF SPREADING VIRAL ILLNESS. Sommige foto’s vertel ’n duisend verhale, soos dié betrokke waarskuwing op ’n kiekie geneem in ’n Rooms-Katolieke kapel. Die ironie val ’n mens dadelik op. En grubeelde in films waar duiwelbesete mense deur priesters met heilige water besprinkel word alvorens die demone gillend die wyk neem … Ten minste is die kapel se ingesteldheid rondom C-19 realisties. Maar ongelukkig dink nie alle geestelikes só oor die saak nie. Die Nigeriese pastoor TB Joshua, beweer hy het mense genees van COVID-19 deur middel van ’n "virtual prayer"- aanlynbyeenkoms. Die gebedsessie se slagsin was "distance is not a barrier". Van die pasiënte het ná die virtuele "wonderwerke" beweer hulle is volkome genees. Aan die einde van die video word kykers aangemoedig om nie te huiwer om mediese hulp te soek nie … en die Wêreldgesondheidsorganisasie benadruk dit tot vervelens toe: Daar is géén kuur vir COVID nie, ook geen entstof nie. Maar dis nie net charismatiese kerklui wat virtuele genesing toepas nie. Sedert die wêreldwye inperking het die gebrek aan fisiese kontak tussen gelowiges in hulle onderskeie denominasies gelei tot ’n ongekende opbloei in aanlyn godsdiens. Daar is gebedspakkette en virtuele genesingspakkette te kus en te keur – soos die Virtual Healing Conference, aangebied deur die Katolieke Kerk. Die bemarking is uitstekend, om die minste te sê. Jy kry afslag op kongresse, genesende meditasies, ’n genesingsberaad, downloads – alles 100% aanlyn. Premium-lede koop meer voordele (lees: beter genesing). En die pryse van aanlyn en vanlyn gebede verskil. Dis die evangelie as hoogs bemarkbare kommoditeit: Welkom by die virtuele wêreld van sagtewaregodsdiens en aanlyn geloof! (En rol af, tot heel onder, vir die kredietkaartbesonderhede.) O, en moenie die toeps (apps) vergeet nie: toepassings wat jou help bid of námens jou bid. Sela. Die mees gesogte en verhandelbare kommoditeit in die wêreld is hoop. Die mensdom soek hoop en sal enigiets daarvoor betaal (en hoop word dikwels verwar met geloof, of is dit die keersy van dieselfde munt?). Desperate mense sal enigiets glo of opdok. En dít weet geloofsgenesers maar te goed.
Die invloed van charismatiese kerklui strek diep en wyd. Billy Graham was die geestelike adviseur wat elke Amerikaanse president sedert Harry S Truman (33ste) tot en met Barack Obama (44ste) met woord en daad bedien het. Graham, ’n evangelis, het 99 jaar oud geword en letterlik miljoene mense tydens sy massabyeenkomste (kruistogte) bereik. Hy was waarskynlik weens sy verwerping van rassesegregasie ook indirek ’n politieke rolspeler. Donald Trump se persoonlike pastoor en geestelike begeleier is pastoor Paula White, ’n televangelis met geen teologiese opleiding nie, maar met ’n multimiljoendollar-bediening en invloed in die Withuis (soos byvoorbeeld Trump se konserwatiewe sienings rondom aborsie). Volgens White openbaar God aan haar wie hý, die prez, wérklik is, die aangewese (gesalfde) een, en sy tolk dan vir Trump wat God vir hom wil sê terwyl sy op en af paradeer in een van haar katpakkies. En hier ter plaatse het ons die aartappelboer Angus Buchan wat al ’n keer of wat genader is om in die parlement te kom bid vir kwessies soos voorspoed, versoening en reën. ’n Kenmerk van charismatiese bedieninge om getalle na te jaag. Dit is dan inderdaad die lekepredikers, dié sonder kwalifikasies, wat die megagetalle op hulle verenig en die big bucks maak – nie die predikante wat jare lank studeer het nie. Dis die ongekwalifiseerde charismate wat invloed en insae tot in die hoogste politieke arenas van die wêreld bekom. Dit laat ’n mens dink, nè? Dan is daar Buchan se vroulike vleuel, Gretha Wiid, wat kapitaliseer op ’n glanstydskrif-image en die hoërmiddelklasmark en sedert die inperking begin het om haar kursusse as skakels op haar Facebookblad te verkoop – die jongste een heet "Seksuele intimiteit in jou huwelik", die Lyfslim-en-onderbroeksalf-sekskapades ten spyt. Nee kyk, as dit by innoverende idees kom om die gospel te smous, vat Gretha die koek.
Die skrywer en mentalist Derren Brown het in 2011 ’n eksperiment geloods en die multimiljoendollar-industrie van geloofsgenesing in die VSA geïnfiltreer. (Dit het ook as dokumentêr verskyn, genaamd Miracles for sale.) Brown het besluit om ’n fake faith healer op te lei – ’n persoon wat geloofwaardig en met outoriteit kan preek en mense "genees". Deur só te doen, wou Brown bewys dat hierdie genesings nie van God (of Jesus / die Heilige Gees) af kom nie, maar dat dit alles te doen het met verhoogpersona en -truuks. Brown se uitgangspunt is dat geloofsgenesers se praktyke getuig van gulsigheid, leuens en wanvoorstelling; ’n gewetenlose uitbuiting van siek mense wat hulle laaste pennies sal uithaal om gesond te word. Baie van die siekes los hulle medikasie of mediese behandeling, net om later te sterf. En as die geloofsgenesing nie werk nie, dan is die persoon se geloof kwansuis nie sterk genoeg nie. Godsdienstige geloof in goddelike ingryping hang nie af van empiriese bewyse dat geloofsgenesing ’n bewysgebaseerde resultaat bereik nie.
Nadat Brown ’n fiktiewe produksiemaatskappy gestig het en geadverteer het vir kandidate wat sou belangstel om die ster van hulle eie show te wees, het die loot uiteindelik op ’n skubaduik-instrukteur genaamd Nathan geval. (Nathan was gelowig, maar het nie in die geloofsgenesingsfoefies geglo nie.) Die eienskappe wat Brown in die geskikte kandidaat gesoek het, was selfvertroue, charisma, ’n verhoogpersoonlikheid en ’n aura van superioriteit. Brown se fake faith healer is gebore. Nathan se alias sou Pastor James Collins (JC) wees. Sy "afwesigheid" van die pastorale kringe sou hy verklaar aan die hand van "evangelisasiewerk" wat hy vir jare in Uganda gedoen het – en daar is ’n (fiktiewe) webtuiste vir Pastor James geskep om te kompenseer vir dié leemtes in sy verlede. Na ses maande se intensiewe opleiding was die gewaande geloofsgeneser gereed om te preek en mense te genees in Dallas, waar goedgelowige en konserwatiewe mense sulke tipe byeenkomste bywoon. Pastor James het skoling gekry in die beginsels van hipnose en suggestie, en by gewese pastore, wat weggebreek het uit charismatiese kerke, fynere kunsies geleer. Ook sielkundiges, akteurs, kulkunstenaars en psychics het bygedra tot die fake faith healer se nuwe persona. Maar sou dit werk? Pastor James en Derren Brown, beide in ’n koverte hoedanigheid, het die televangelis Kenneth Copeland probeer kontak – maar afgesien van ’n glimp van Copeland se vloot stralers het dié welvaartsteoloog se privaat sekuriteit hulle op mafia-agtige wyse ondervra en besonderhede van hulle paspoorte afgeneem. Die boodskap was duidelik: Blý wég. (Copeland is na beraming $760 miljoen sterk.) Hmm, wys my ’n ryk, suksesvolle charismatiese kerkleier sonder sy eie vliegtuig. Pastor James, oftewel Nathan, het intense gewetenswroeginge beleef tydens sy "dienste" – en gesien hoe maklik dit is om onskuldige, desperate mense te mislei dat hulle genees sou word. Hulle geloof in die egtheid van die pastoor, in die resepmatigheid van die genesings … Hy het egter geweier om geld te vra vir die "wondergenesings" en het, soos Brown, meegedoen aan hierdie eksperiment bloot om te bewys dat daar ironies ’n fake faith healer geskep moes word om die waarheid te ontbloot, naamlik dat hierdie praktyke niks met geloof of die Heilige Gees te doen het nie, maar alles met suggestie, truuks, charisma, oëverblindery en die kulkunsies van die bedryf. Die televangelis Peter Popoff is in 1986 uitgevang nadat hy ’n oorstukkie gedra het waarmee hy radioboodskappe van sy vrou ontvang het en waarin sy vir hom die name, adresse en siektes van mense in die bediening gegee het – hy het natuurlik aangevoer dat die inligting van die Here af kom. (Hierdie "vertroulike" inligting is deur lidmate van die Popoff-bediening op hulle kerkvorms ingevul.) Baie televangeliste maak vandag nog van hierdie skelmstreek gebruik. Nóg ’n gewilde kulkunsie is om iemand se been/bene te laat groei (google gerus Pete Cabrera se "Exposed: leg lengthening faith healer" of "Fake – the leg lengthening miracles are fake. Here’s how you do it" op YouTube). En volgens die geloofsgenesers se helpers (die sogenaamde catchers wat die mense wat val in die Gees moet vang, en wat weggebreek het van hulle charismatiese bedieninge), val mense 9/10 keer nié as daar niemand agter hulle staan nie. Met ander woorde die gevallery agtertoe is nabootsende gedrag, geantisipeer deur suggestie en die verwagting dat salwing gaan plaasvind. Mense wat werklik as gevolg van die een of ander bonatuurlike rede neerslat, gaan hulself baie meer beseer – en ook vórentoe val. Ek het baie video’s bekyk, en die meeste mense val soos winkelpoppe agtertoe, stywerug en met stram bene. Ander, weer, stort soos sakke semels inmekaar. Maar Benny Hinn het die magic touch – hy wuif net teatraal oor ’n ry siekes en hulle sweef ruggelings soos balletdansers na benede. Verstommend. Wel, ons geloofsgenesers ter plaatse is nou nie so gesofistikeerd nie. Rooies Strauss, daardie Noord-Kaapse krokodilboer, klap jou teen die voorkop kaplaks! van jou voete af. (Hy boer op YouTube en Kruiskerk-TV en is ’n oud-Koevoet-lid wat die Bosoorlog vir geestelike oorlogvoering verruil het. Ou Rooies vat nie nonsens van ’n duiwel nie – hy brand selfs kindertjies se Liewe Heksie-boeke. Ernstig.)
Die hipnotiese klimaat, voorberei met dowwe beligting, ’n geroffel van tromme, simbale, sang – en natuurlik die lofsangers – het die gewenste sielkundige uitwerking. Adrenalien is ’n kragtige pynstiller. Dit verklaar waarom sommige mense met pyn ná ’n "genesing" vir ’n rukkie pynvry is – charismatiese opsweping en ekstase speel ’n groot rol. En intussen duur hierdie roekelose "genesings" voort – goedgelowige slagoffers wat charismatiese bedieninge se donasies in sessyfergetalle in NGO’s laat inrol, belastingvry.


Kommentaar
Moenie iets kwyraak waarvan jy niks weet nie. My nek is al vir 20 jaar pynloos nadat dit deur 'n "geloofsgeneser" aangeraak is. Hoe weet ek nie - eintlik weet ek, maar daarin sal jy gewis nie belangstel nie.
Ek stem volkome saam. Hoe lekker lag daardie ryk evangeliste nie! Gewetenloos.