
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Op pad na ’n klooster in die sneeu
Skrywer: Johannes de Villiers
ISBN: 9780798185400
Uitgewer: Human & Rousseau
As Johannes Bertus De Villiers en Johann Rossouw saam ’n kerk begin, word ek die eerste lidmaat.
Johann Rossouw is bekend as ’n filosoof, akademikus, skrywer, essayis en gespreksleier wat gereeld filosofiese, kulturele en religieuse onderwerpe verken, onder andere deur sy gespreksreeks op LitNet.
Rossouw gesels in hierdie gespreksreeks met Johannes de Villiers oor sy jongste boek, Op pad na ’n klooster in die sneeu. Ek kan nie die gevoel beskryf waarmee ek gehipnotiseerd gesit en daarna geluister het nie. Daar was amper ’n heilige ruimte waarbinne hulle woorde deel geword het van my wese. Iets misties in die respek waarmee elkeen sy woorde weeg, versigtig uiter en aandagtig na mekaar luister. Ek het ’n vreemde gemeensaamheid ervaar terwyl ek vir die tweede keer daarna luister en gedink aan Johann Rossouw se woorde: Die deel van kontemplatiewe praktyke in ’n lewende tradisie bring ook geesgenootskap.
Mense ken Johannes De Villiers van sy insetsel Die Blydskapnavorser op RSG, en sy landwye aanbiedinge oor onder ander aandagtigheid. Ook sy vorige boeke oor kalmte en blydskap, Kalmte in die malle gejaag (2018), Blydskap (2020) en Meer as jou seerkry (2022). Op pad na ’n klooster in die sneeu is sy eerste roman.
Juis oor my respek vir die bewustelike manier waarop hy praat en lewe, het ek lank en met dieselfde respek gelees aan Op pad na ’n klooster in die sneeu.
Hierdie roman is ’n ernstige en introspektiewe pelgrimstog, met ’n weemoedige gevoel. Die storie sentreer rondom ’n onbenoemde hoofkarakter, ’n jong apteker in Bloemfontein wat voel sy menswees word vernietig in die daaglikse sleur van werk, slaap en geldmaak. Hy voel eensaam en belewe die wêreld waarin hy leef, as sinloos.
Wanneer hy op ’n mistieke skrywe van Thomas à Kempis afkom, begin hy droom van ’n ander lewe, ’n asketiese bestaan, weg van die materiële wêreld. Aan die vooraand van ’n reis na ’n Franse klooster, kom hy agter dat hy ’n oom het wat ’n Katolieke priester geword het en in Parys woon. Hierdie ontdekking ontlok ’n diepe vriendskap tussen die jong apteker en die bejaarde pater, oor oseane en dekades heen.
“Jy is hier omdat jy jou rug op die lewe wil keer en iou heeltemal van alles los wil maak,” het hy gesê.
Maar jou soektog is vergeefs. Jy kan aan elke kloosterdeur in die wêreld klop, maar jy sal nie stroping daar vind nie. Stroping is nie iets wat jy kan najaag net omdat jy moeg is vir die lewe nie. Stroping, indien dit dan wel jou lotsbestemming sou wees, sal met jou gebeur op ’n tydstip wat jy nie self sal kies nie en dit sal in diens wees van ’n hoër saak. Dit is hoe dit met my gebeur het. En ek hoop opreg dit bly jou gespaar. (129)
Hierdie was die laaste woorde wat hy met Adelbert gepraat het.
Die verhaal word in twee tydlyne vertel. Die jong Adelbert reis in 1964 saam met Ollie en Clyde na San Giovanni Rotondo, in die hoop om Padre Pio se ontmoet. Padre Pio is nie ’n blote karakter nie, maar ’n historiese figuur wat bekend was vir sy befaamde bilokasie-vermoë, en permanente bloeiende stigmata. (Hy is later ontbloot as bedrieër wat self die wonde met karbolsuur gemaak het.) Daar het hulle ’n lewensveranderende ervaring en spat uitmekaar.
Aanvanklik aanvaar die leser dat die jong man die hoofkarakter is, maar gaandeweg kom jy agter dit is eintlik sy oom, Adelbert Jansen van Breda, se verhaal.
In die laaste gedeelte van die boek word dieselfde verhaal uit die bejaarde Adelbert se perspektief in die vorm van briewe vertel. Die verhaal neem ’n ander wending, die spanning bou op wat jou laat glo in storge en ook sielsverbintenisse.
Hierdie roman is ’n fisieke en geestelike introspeksie, ’n soeke na innerlike vrede, losmaking en stilword. Selfs die naamloosheid van die jong man dui op gestroopheid en aflegging van die ego, wat so ’n groot rol in hierdie boek speel. Die waarde van om in stilte te kan luister, is as onderstroom sigbaar dwarsdeur.
Die lewe het besig en ’n gejaag geword. Stilte word dikwels vermy. Ons vul dit met musiek, menings, en konstante interaksie. In teenstelling daarmee stel die roman ’n wêreld voor waarin stilte nie ’n leegte is nie, maar ’n toegangspoort tot waarheid en geestelike verdieping. “Mense begryp stilte nie meer nie.” (Adelbert aan sy vriend Artur, 257)
De Villiers beskryf stilte nie bloot as die afwesigheid van klank nie, maar as ’n aktiewe ruimte waarin die self ontbloot word. So word ’n mens gekonfronteer met dit wat oorbly - jou innerlike stem, jou onsekerhede, en onverwerkte herinneringe.
Katolisisme as sulks kan gesien word as ’n instelling wat as karakter uit die bladsye vorm aanneem. Sonder dat dit beskryf word, kom die leser veel te wete daaroor.
Die boek is in die verlede tyd geskryf, wat glad nie hinderlik is nie, inteendeel, dit versterk die meditatiewe, kontemplatiewe aard van die roman.
Hierdie is nie ’n maklike lees nie. Dis vol vreemde woorde en plekname, maar dit noop die leser om die betekenis van woorde op te soek. Dit is immers nie ’n spanningsverhaal vol aksie nie, maar eerder ’n innerlike reis. Ons lees (en leer van) woorde soos homileë, sakristie, teofanie, kasuifel en albe.
Een van die sterk punte van die boek is hoe De Villiers die innerlike stryd van die protagonis neerpen. Hy is nie net op soek na God of ’n ekstreme vorm van heiligheid nie, hy soek na homself, na sy eie identiteit.
Hierdie diep soeke word nie oppervlakkig aangebied nie; die skrywer vra moeilike vrae oor verlange, geloof, vriendskap en die koste van ’n geestelike roeping.
Die skryfstyl is kalm en meditatief, wat goed pas by die tema van kloosterlewe en kontemplasie. De Villiers se agtergrond as meditasie-onderwyser en sy ervaring met kloosters is duidelik. Hy bring ’n eerlike en genuanseerde perspektief, sonder dogmatiese preke, maar met ’n aanvoeling vir die mistieke lewe.
Dit is ook die aanvoeling wat ek as leser gekry het, dat hierdie boek se skryf vir die skrywer ’n tipe mistieke ervaring was, dat die skrywe daarvan op ’n manier gekanaliseer is uit die universele bewustheid.
Terselfdertyd is die roman emosioneel ryk. Die koue sneeu, die berge, die stilte, dié omgewing dien as ’n simboliese ruimte vir die innerlike koue van die protagonis se hart, en ook as ’n plek van genesing. Daar is ’n gevoel van rituele en stilte dwarsdeur, wat die leser nooi om self stil te word en na te dink, jouself oop te stel vir meer as net ’n oppervlakkige lewe. Hierdie oopstelling en terugstaan, kan gesien word as die pad na heiligmaking.
Op pad na ’n klooster in die sneeu is ’n weemoedige, poëtiese en diep-geestelike roman wat ’n unieke wêreld oopmaak van stilte, innerlike soeke en ware vriendskap en word vir alle ernstige lesers aanbeveel.
Net soos Johannes de Villiers se Op pad na ’n klooster in die sneeu vertolk Johann Rossouw se Sluitstuk ook ’n innerlike soeke na sin, stilte en selfondersoek, maar op verskillende wyse. De Villiers se roman fokus op ’n jong apteker se pelgrimstog na ’n Franse klooster waar hy die materialisme van sy daaglikse bestaan ontvlug en diep geestelike vrae oor identiteit en stilte ondervind. Dit is ’n kontemplatiewe reis na binne waarin stilte, meditasie en die mistieke lewe sentraal staan.
Rossouw se Sluitstuk beskryf die ontmoeting tussen ’n voormalige aspirantskrywer (nou ’n Zen-monnik) en ’n biograaf terwyl hulle die lewe en nalatenskap van ’n ontslape skrywer ondersoek; die roman handel ook oor verlore betekenis, verwerking van trauma, en die rol van stilte en refleksie in die skep van betekenisvolle narratiewe.
In albei boeke word die karakters se innerlike lewe blootgelê deur introspeksie en refleksie, en die soeke na sin en vrede in ’n wêreld wat gefokus is op prestasie en materialisme.
Beide skrywers se werk nooi die leser om self oor stilte en die verweefde aard van lewe en betekenis na te dink. In albei boeke is daar hoofkarakters wat hunker na ’n asketiese bestaan.
Die dapper leser wat tot hier gelees het, kan gerus na die twee skrywers se gesprek op LitNet gaan luister, indien jy dit nie reeds gedoen het nie.
*
Hierdie twee boeke staan langs mekaar op my “ouetehuisrak”. Ek beplan om dit weer te lees, dit as ’n projek te sien as hierdie huidige onseker tydperk van huis verkoop, afskaal, minder maak, pak en trek afgehandel is, sodat ek weer stilte kan vind.
Lees ook:
Op pad na ’n klooster in die sneeu deur Johannes Bertus de Villiers: ’n persoonlike bespreking
In gesprek met Johannes de Villiers oor Op pad na ’n klooster in die sneeu



Kommentaar
Ek stem volmondig met Trisa saam!