Sanri Steyn-omnibus 3: ’n onderhoud met Theresa van Baalen

  • 0

Sanri Steyn: omnibus 3 deur Theresa van Baalen met illustrasies deur Johann Strauss. (Uitgewer: Lapa)

Sanri Steyn: omnibus 3
Skrywer: Theresa van Baalen
Illustrasies: Johann Strauss
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780637004671

Theresa van Baalen praat met Naomi Meyer oor die drie Sanri Steyn-stories wat onlangs in nog ’n Sanri Steyn-omnibus gepubliseer is (Omnibus 3).

Theresa, daar het pas nog ’n omnibus van die Sanri Steyn-reeks verskyn. Begin asseblief heel voor: Hoe het die Sanri Steyn-boeke begin? 

As kind het ek my ingeleef in die avonture van Enid Blyton se Secret Seven en Famous Five, en ek het boeke oor The Hardy Boys, Alfred Hitchcock and the three investigators en Nancy Drew verslind. Hierdie reekse het die grondslag gelê vir Sanri Steyn en ’n paar van my ander verhale, want wie hou dan nie van ’n lekker avontuur of ’n raaisel nie? Ek wou egter nie hê Sanri moes maar net nog ’n speurder wees nie, en so is die idee gebore van ’n nuuskierige 12-jarige wat ’n joernalis wil wees en haar lyf speurder hou.

Vertel ’n bietjie van jou hoofkarakter en wat sy in elke boek moet oplos of skryf?

..........
Die hoofkarakter, Sanri Steyn, droom daarvan om eendag ’n joernalis te word. En nie sommer enige joernalis nie. Haar naam sal op almal se lippe wees ... Superjoernalis Sanri Steyn! Die dag toe sy en haar ma ingetrek het op Raaiselfontein, het sy agtergekom dinge is nie pluis op dié vreemde dorpie nie. Toe begin sy haar eie koerant, die Raaiselfontein Gazette, en begin berigte skryf oor dinge wat op die dorp gebeur.
.............

Die hoofkarakter, Sanri Steyn, droom daarvan om eendag ’n joernalis te word. En nie sommer enige joernalis nie. Haar naam sal op almal se lippe wees ... Superjoernalis Sanri Steyn! Die dag toe sy en haar ma ingetrek het op Raaiselfontein, het sy agtergekom dinge is nie pluis op dié vreemde dorpie nie. Toe begin sy haar eie koerant, die Raaiselfontein Gazette, en begin berigte skryf oor dinge wat op die dorp gebeur. Sy kry te doen met allerhande vreemde karakters, elkeen met ’n unieke storie of ’n geheim wat sy moet ontrafel en waaroor sy dan in haar koerant skryf. Haar berigte bevat egter nie altyd al die feite nie, want soms klink dinge net te goed om waar te wees, soos meerminne wat in die dorp se meer swem of ’n mummie wat in die aand buite rondhardloop, en Sanri wil nie hê mense moet dink sy suig stories uit haar duim nie. Maar meer dikwels as nie weerhou sy sekere feite om die karakters wat betrokke is te beskerm, want Sanri gee om vir ander en dis vir haar genoeg om self te weet wat die waarheid is; sy sal nooit ’n onskuldige persoon se geheime uitlap nie.

Sy het ook ’n oulike maatjie. Vertel my van hom.

Markus Bester is Sanri se buurseun en beste vriend. Hy dra ’n bril en is allergies vir amper alles, maar hy is lojaal, en al kan Sanri soms baasspelerig wees, help hy haar altyd met haar ondersoeke. Hy is ook gewoonlik die een wat telkens tot die redding kom wanneer hulle in die pekel beland en ek glo hy maak die storie meer toeganklik vir seunslesers.

Omnibus 3 bevat Die rustelose mummie, Die geraamte se geheim en Die besoek van die meerminne. Die eerste twee stories het al afsonderlik verskyn, maar vertel ’n bietjie van die meerminne, sonder om te veel te verklap?

Op ’n dag land daar ’n swerm pienk flaminke op Raaiselfontein se meer. Dis nie iets wat al ooit gebeur het nie, en Sanri wil ’n berig daaroor skryf. Sy neem ’n klompie foto’s van die voëls en ontdek toe dat daar meerminne in die meer is. Markus dink natuurlik sy verbeel haar, want volgens hom bestaan meerminne nie regtig nie. Sy oorreed hom nogtans om saam met haar na die meerminne te gaan soek, en so begin ’n avontuur wat meerminne, stropers en ’n helikopterrit insluit. Die storie het ’n bewaringstema en eindig op ’n baie gepaste noot vir ons jong aspirantjoernalis.

Ek het baie van die boeke saam met my dogter gelees toe sy jonger was, en dit het my opgeval dat die kinders altyd avonture beleef wat nooit so donker raak dat die ouers bekommerd hoef te wees nie, maar altyd opwindend genoeg dat dit die kinders se verbeelding aangryp. Waar kry jy jou idees?

............
Wie weet waar idees vandaan kom? As mens jou oopstel vir ’n ding, dan kom daai ding na jou toe, en elke keer as ek na ’n nuwe idee soek is, daag die regte een uiteindelik by my op.
................

Wie weet waar idees vandaan kom? As mens jou oopstel vir ’n ding, dan kom daai ding na jou toe, en elke keer as ek na ’n nuwe idee soek is, daag die regte een uiteindelik by my op. Ek moet net bereid wees om lank genoeg stil te word en my gedagtes vrye teuels te gee.

Jy weet, Sanri gaan moet ophou koerantstories skryf ... maar dalk gaan sy moet begin blog. Of op Instagram moet stories aflewer. Stories gaan wel nie opraak nie. So – skryf jy nog Sanri Steyn-boeke? Of iets anders?

Nee, ek skryf nie meer Sanri Steyn-boeke nie. Dis tyd vir ’n nuwe hoofstuk in my lewe, maar ek dink darem nie ek is klaar met kinderstories nie. Wel, ek weet kinderstories is nog lank nie klaar met mý nie, want ’n nuwe idee draai hoeka al weer in my agterkop rond ...

Gestel iemand moet navorsing doen oor jou as skrywer (dit is immers die derde kwartaal en tyd vir literêrenavorsingsprojekte): Wat is jou inligting? Wanneer is jy gebore; waar; waar het jy skoolgegaan; wat het jy studeer; en van wanneer af skryf jy? 

Ek is op 5 Junie 1970 op Uitenhage (nou bekend as Kariega) in die Oos-Kaap gebore en is Theresa Cheryl Rogers gedoop. Ek het skoolgegaan by Laerskool Handhaaf (1977–1983) en Hoërskool Brandwag (1984–1988), albei op Uitenhage. Na skool is ek Stellenbosch toe, waar ek aanvaar is om ingenieurswese te studeer, maar ek het na ’n semester besef dis nie vir my nie en my studie gestaak. Ek skryf al van altyd af stories, maar my eerste boek, Aspris-Krokkedis, het eers in 2009 verskyn.

.............
Ek is op 5 Junie 1970 op Uitenhage (nou bekend as Kariega) in die Oos-Kaap gebore en is Theresa Cheryl Rogers gedoop. Ek het skoolgegaan by Laerskool Handhaaf (1977–1983) en Hoërskool Brandwag (1984–1988), albei op Uitenhage. Na skool is ek Stellenbosch toe, waar ek aanvaar is om ingenieurswese te studeer, maar ek het na ’n semester besef dis nie vir my nie en my studie gestaak. Ek skryf al van altyd af stories, maar my eerste boek, Aspris-Krokkedis, het eers in 2009 verskyn.
...............

As ’n voornemende kinderboekskrywer hierso lees: Het jy wenke vir hulle?

Ken jou mark. Lees baie kinderboeke, veral van dié wat onlangs gepubliseer is. As jy dit nie geniet om kinderboeke te lees nie, moet jy oorweeg om eerder iets vir volwasse lesers te probeer skryf.

Wie is jou gunstelingkinderboekskrywers?

Die skrywer wat seker die grootste invloed op my as skrywer gehad het, en my kindertydgunsteling, is Enid Blyton. Dit was haar stories wat my laat besef het dat ek ook wil skryf. Ander gunstelingskrywers sluit Dr Seuss, Julia Donaldson en JK Rowling in.

Wat doen jy behalwe om te skryf? Wat geniet jy ook?

’n Groot deel van my lewe word deur inhoudskepping (“content writing”) in beslag geneem. Dis nie so lekker soos om stories te skryf nie, maar wie se werk is? Dit sorg dat daar genoeg is om van te lewe en ek het steeds die vryheid om te werk wanneer ek wil. Wat ek wel geniet, is om te lees, foto’s te neem, na die see te kyk, in my tuin te werk en ons katte se manewales dop te hou. Dis die eenvoudige dinge wat die lewe die moeite werd maak.

Lees ook:

Pasverskyn: Sanri Steyn – omnibus 3 deur Theresa van Baalen

Hulp met die derde kwartaal se literêrenavorsingstaak: ’n onderhoud met Eldridge Jason

Hulp met die derde kwartaal se literêrenavorsingstaak: ’n onderhoud met Fanie Viljoen

Hulp met die derde kwartaal se literêrenavorsingstaak: alles wat jy nog nie van Jaco Jacobs geweet het nie

Hulp met die derde kwartaal se literêrenavorsingstaak: ’n onderhoud met Bibi Slippers

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top