Sanlamprys vir Jeuglektuur-kortlys 2021: ’n onderhoud met Elanie Boshoff

  • 0

Elanie Boshoff (foto: verskaf)

Elanie Boshoff praat met Naomi Meyer oor 56 dae van Lente, wat benoem is vir die Sanlamprys vir Jeuglektuur 2021.

.........

My verhaal gaan oor Lente, ’n hoërskooldame wat in ’n psigiatriese hospitaal opeindig na die selfdood van haar broer.

..........

Baie geluk met jou kortlysbenoeming vir die Sanlamprys vir jeuglektuur van 2021! Vertel my van die geboorte van jou storie. Wat het jou die idee gegee, waaroor handel jou storie en wie is jou karakters?

Ek het oorspronklik my verhaal in 2016 geskryf – dit was my eindprojek vir my derdejaar- skryfkunsmodule op universiteit. Ek het ’n vriendin gehad wat in daardie tyd opgeneem is in ’n psigiatriese hospitaal. Haar ondervinding daar was maar eintlik die inspirasie vir die verhaal; baie van die gebeure en karakters is gebaseer op goed wat met haar en die mense wat sy daar ontmoet het, gebeur het. 

My verhaal gaan oor Lente, ’n hoërskooldame wat in ’n psigiatriese hospitaal opeindig na die selfdood van haar broer. Die storie behels haar ondervindings by die hospitaal, en ook die stories van haar medepasiënte, terwyl sy haar broer se dood verwerk. 

........

Die lekkerste vir my om te skryf vir mense van hierdie ouderdomme is dat jongmense dikwels hul emosies so intens voel dat karakters van dié ouderdom baie dinamies en kleurvol kan wees. 

.........

Op watter ouderdomsgroep is jou storie gemik? Hoekom skryf jy vir jongmense in hierdie ouderdomsgroep? En wat is vir jou die lekkerste om vir mense van hierdie ouderdomme te skryf?

My verhaal is gemik op jongmense in die ouderdomsgroep 14 tot 18, alhoewel die temas dalk mag aanklank vind by enigiemand wat al in ’n soortgelyke situasie as die hoofkarakter was. Die lekkerste vir my om te skryf vir mense van hierdie ouderdomme is dat jongmense dikwels hul emosies so intens voel dat karakters van dié ouderdom baie dinamies en kleurvol kan wees. 

Daar word so baie boeke in die Engelse mark uitgegee. Hoekom het jy ’n boek geskryf in jou eie taal – en dink jy sekere jongmense verkies nog om boeke te lees in die taal wat hulle in die huis praat?

.......

Afrikaans bly steeds my taal, en Afrikaans is so uitspattig, so ekspressief, dit smeek om in geskryf te word.

.........

Afrikaans bly steeds my taal, en Afrikaans is so uitspattig, so ekspressief, dit smeek om in geskryf te word. Ek werk tans by ’n boekwinkel, en soveel jongmense koop Afrikaanse boeke, en ek voel so ‘n bietjie trots elke keer as iemand met ’n Afrikaanse jeugverhaal uitstap. 

Hoe het die pandemie jou skryfwerk of temas beïnvloed, indien enigsins?

Aangesien ek nie my verhaal geskryf het in die grendeltyd nie, kan ek nie regtig sê hoe dit my kreatiewe skryfwerk beïnvloed het nie. Ek is wel besig met my meesters in sosiale antropologie op die oomblik, en wat ek kan sê, is dat die inperkings my tyd gegee het. Tyd om te lees, tyd om te dink, tyd om te skryf. Maar dit het my ook die hupstoot gegee om uiteindelik my verhaal in te skryf. Dit het weer eens in perspektief gesit hoe kort die lewe kan wees, so hoekom nie nou nie?

........

Dit het weer eens in perspektief gesit hoe kort die lewe kan wees, so hoekom nie nou nie?

.........

Lees ook:

2021 Sanlam Prize for Youth Literature shortlist: an interview with Jaco Fouché

2021 Sanlam Prize for Youth Literature shortlist: an interview with Musa Baloyi

Sanlamprys vir Jeuglektuur-kortlys 2021: ’n onderhoud met Faeed Amardien

Sanlamprys vir Jeuglektuur-kortlys 2021: ’n onderhoud met Ihette Senekal

Sanlamprys vir Jeuglektuur-kortlys 2021: ’n onderhoud met Annerlé Barnard

2021 Sanlam Prize for Youth Literature shortlist: an interview with Jayne Bauling

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top