
Annerlé Barnard (foto: Facebook)
........
My protagonis se lewe is ingewikkeld en die antagoniste beskik oor geen medemenslikheid nie. Om sake te kompliseer is daar ’n beeldskone meisie en ’n ou met ’n vreeslike mooi stem, asook ’n kuborg wat onthou dat hy eens mens was. Een van die karakters loop met ’n geheim en verraad is onvermydelik.
.........
Baie geluk met jou kortlysbenoeming vir die Sanlamprys vir jeuglektuur van 2021! Vertel my van die geboorte van jou storie. Wat het jou die idee gegee, waaroor handel jou storie en wie is jou karakters?
Opreg dankie.
Ek het een nag in die middel van ’n droom wakker geword en onmiddellik geweet dat my droom die begin van ’n storie was wat ek net móés skryf. Robotte was in ’n spel met die mensdom gewikkel. Terselfdertyd het vriende en familie vir my (onbewus van my droom) artikels oor hierdie spesifieke tema aangestuur. Ek moet in alle eerlikheid bieg dat Spel vir my die heel moeilikste storie tot dusver was om te skryf. Ek moes diep delf en ongelooflik baie navorsing doen omdat dit futuristies is. My protagonis se lewe is ingewikkeld en die antagoniste beskik oor geen medemenslikheid nie. Om sake te kompliseer is daar ’n beeldskone meisie en ’n ou met ’n vreeslike mooi stem, asook ’n kuborg wat onthou dat hy eens mens was. Een van die karakters loop met ’n geheim en verraad is onvermydelik.
Op watter ouderdomsgroep is jou storie gemik? Hoekom skryf jy vir jongmense in hierdie ouderdomsgroep? En wat is vir jou die lekkerste om vir mense van hierdie ouderdomme te skryf?
........
Dis lekker om vir die jeug te skryf, want hulle is eerlik en ’n mens kan hulle nie om die bos lei nie. Hulle vind aanklank by stories met ’n vinnige tempo en ’n fokus op hedendaagse uitdagings, en dis iets wat my ook trek.
.........
Ouderdomsgroep: 14–18. Ek het self twee tieners in die huis en is passievol oor lees en geletterdheid. Dis lekker om vir die jeug te skryf, want hulle is eerlik en ’n mens kan hulle nie om die bos lei nie. Hulle vind aanklank by stories met ’n vinnige tempo en ’n fokus op hedendaagse uitdagings, en dis iets wat my ook trek.
Ek probeer om moeilike temas op ’n sensitiewe wyse te hanteer, maar skram nie daarvan weg nie.
Skryf vir hierdie ouderdom is iets wat vir my natuurlik kom. Ek het nooit ’n bewuste keuse gemaak om jeugliteratuur te skryf nie, maar toe ek in 2013 die nuusberig hoor oor die twee meisies wat in Bloemfontein ontvoer is, het die storie en karakters net kom aanklop. Dis ’n storie en tema wat geskryf wou wees, dink ek.
Spel het, soos ek gesê het, sy ontstaan in ’n droom gehad en die karakters het kom aanmeld.
Daar word so baie boeke in die Engelse mark uitgegee. Hoekom het jy 'n boek geskryf in jou eie taal – en dink jy sekere jongmense verkies nog om boeke te lees in die taal wat hulle in die huis praat?
Afrikaans is my moedertaal en ek is passievol oor Afrikaans. Ek is deeglik daarvan bewus dat ’n groot persentasie van die jeug (en volwassenes) openlik erken dat hulle slegs Engels lees. ’n Hoërskoolleerder het eendag na Afrikaanse boeke verwys as “net nog ’n Afrikaanse cliché”. Daar is egter ook baie tieners wat graag Afrikaans lees. Ek dink dat ’n groter persentasie van die jeug Afrikaans sal lees wanneer hulle besef dat daar ’n uitmuntende verskeidenheid Afrikaanse boeke is wat enige tyd met die Engelse boekemark kan kompeteer. Dis ’n wanpersepsie wat maak dat die jeug neersien op Afrikaans, maar ek glo dat die stryd nié verlore is nie.
Hoe het die pandemie jou skryfwerk of temas beïnvloed, indien enigsins?
Tydens die pandemie het ek harder as ooit aan manuskripte gewerk, want ek het nie nodig gehad om smiddae langs die sportveld deur te bring nie. Dit het glad nie my temas beïnvloed nie, want Spel was min of meer voltooid toe die pandemie aangebreek het.
........
Skryf en lees bied (onder andere) vir my ontvlugting en dit help my om die negatiewe te hanteer.
.........
Hoe het die pandemie jou lewe beïnvloed, op persoonlike vlak?
Ek ken ’n aantal mense wat tot ’n groot mate deur die pandemie geraak is en dit is kommerwekkend. Ten spyte van die bekommernis oor ander, kon ek gefokus bly. Skryf en lees bied (onder andere) vir my ontvlugting en dit help my om die negatiewe te hanteer.
Lees ook:
2021 Sanlam Prize for Youth Literature shortlist: an interview with Musa Baloyi
Sanlamprys vir Jeuglektuur-kortlys 2021: ’n onderhoud met Faeed Amardien
2021 Sanlam Prize for Youth Literature shortlist: an interview with Francis Tebesi
Sanlamprys vir jeuglektuur-kortlys 2021: ’n onderhoud met Betsie van Niekerk
Sanlamprys vir Jeuglektuur-kortlys 2021: ’n onderhoud met Ihette Senekal
Kommentaar
Annerlé Barnard se skryfwerk is uitmuntend, uitdagend en onverskonend op die hedendaagse tiener gerig. Ten spyte van haar nagraadse studie in Engelse letterkunde verkies sy om in Afrikaans te skryf. Haar benadering vind aanklank omdat tieners inderdaad nie om die bos gelei kan word nie. (Sy, van alle mense, sal my sekerlik verskoon as ek die Afrikaanse uitdrukking gebruik: 'Perdedrolle was nog nooit vye nie’! Nie vir my nie en ook nie vir my tienderdogter nie!) Uitstekend!