Sanlamprys vir Jeuglektuur-kortlys 2021: ’n onderhoud met Ihette Senekal

  • 0

Ihette Senekal (foto verskaf)

Ihette Senekal praat met Naomi Meyer oor Vyf sekondes voor Vrydag, wat benoem is vir die Sanlamprys vir Jeuglektuur 2021

........

Ek het nog altyd daarvan gedroom om my eie jeugroman te skryf en met die geboorte van my dogtertjie was ek selfs meer geïnspireer om iets te skryf wat op ’n manier kan bydra tot die bemagtiging van jong meisies.

........

Baie geluk met jou kortlysbenoeming vir die Sanlamprys vir Jeuglektuur van 2021! Vertel my van die geboorte van jou storie. Wat het jou die idee gegee, waaroor handel jou storie en wie is jou karakters?

As kind het ek elke liewe jeugroman in ons dorpsbiblioteek gelees en sedertdien nog nooit opgehou nie. Ek het nog altyd daarvan gedroom om my eie jeugroman te skryf en met die geboorte van my dogtertjie was ek selfs meer geïnspireer om iets te skryf wat op ’n manier kan bydra tot die bemagtiging van jong meisies. Dit het onder my aandag gekom dat daar ’n groot tekort is aan Afrikaanse jeugromans wat LGBTQI-temas aanspreek, terwyl die Engelse mark daarvan oorloop. Met my roman het ek dus gepoog om ’n druppel in die emmer van groter inklusiwiteit in Afrikaanse jeugfiksie by te voeg. Vyf sekondes voor Vrydag se hoofkarakter is Jana Roux, ’n doodgewone graad 11-meisie, en soos alle doodgewone graad 11-meisies het sy ook haar geheime. Soos byvoorbeeld haar totale obsessie met die nuwe intrekker wat aan die einde van die Desembervakansie langsaan kom bly het. Dié intrekker kom krap Jana se lewe skoon deurmekaar, maar sy sou dit nooit anders wou hê nie. My roman gaan oor die kompleksiteit van tienerwees, oor verlies en vriendskap, oor liefde en aanvaarding.  

Op watter ouderdomsgroep is jou storie gemik? Hoekom skryf jy vir jongmense in hierdie ouderdomsgroep? En wat is vir jou die lekkerste om vir mense van hierdie ouderdomme te skryf?

Ek sou die ouderdomsgroep so rondom 14+ skat, maar ek was nog nooit een vir die plaas van ’n roman in ’n leserspesifieke boksie nie. Ek glo dat as ’n roman jou aantrek en vir jou iets beteken, jy dit moet lees, al is dit nie noodwendig op jou gemik nie. Ek moet sê, ek skryf graag vir hierdie ouderdomsgroep omdat die karakters my so fassineer. Die mens se tienerjare is so ’n intense en vormende tyd, waar alles wat gebeur “larger than life” voel. Dit is ook ’n tyd waarin die lees van ’n boek ’n mens se lewe kan verander. Juis daarom is dit so belangrik dat daar literatuur moet verskyn waarmee jongmense kan identifiseer en wat op een of ander wyse vir hulle iets kan beteken.

.......

Ek moet sê, ek skryf graag vir hierdie ouderdomsgroep omdat die karakters my so fassineer. Die mens se tienerjare is so ’n intense en vormende tyd, waar alles wat gebeur “larger than life” voel. Dit is ook ’n tyd waarin die lees van ’n boek ’n mens se lewe kan verander.

........

Daar word so baie boeke in die Engelse mark uitgegee. Hoekom het jy  ’n boek geskryf in jou eie taal - en dink jy sekere jongmense verkies nog om boeke te lees in die taal wat hulle in die huis praat?

Ek lees self so wyd as wat ek kan en lees graag ook Engels en vertaalde werke. Maar daar is tóg iets besonders daaraan om ’n boek in ’n mens se eie taal te lees. Ek het egter spesifiek gekies om in Afrikaans te skryf omdat ek, soos ek vroeër gesê het, die gaping in hierdie mark kon sien ten opsigte van LGBTQI-temas. Dit was vir my belangrik dat Afrikaanse jongmense hieroor kan lees in hulle eie taal. Dat die idee nie geskep word dat dit iets is wat tuishoort in Engels en nie vir jou beskore is as jy Afrikaans is nie.  

Hoe het die pandemie jou skryfwerk of temas beïnvloed, indien enigsins?

My manuskrip was voltooi voordat die pandemie ons getref het, en daarom word daar nie daarvan melding gemaak in my roman nie. My roman speel ook af in ’n tyd voordat die skadu van die pandemie oor alles kom val het. Alhoewel ek sal saamstem dat dit belangrik is om melding te maak van die pandemie in kontemporêre literêre werke, het ek gevoel my roman het ander kwessies om aan te spreek en ek wil juis ’n plek van ontlugting bied van die pandemie wat alles oorgeneem het.

.......

In hierdie tyd het die wêrelde wat boeke vir my oopmaak net nóg belangriker geword. Terwyl  ’n mens toegegrendel in jou huis sit, kon jy reis en nuwe vriende ontmoet deur net ’n boek oop te slaan.

........

Hoe het die pandemie jou lewe beïnvloed, op persoonlike vlak?

Ek dink nie daar bestaan ’n mens wat nie op persoonlike vlak deur die pandemie geraak is nie. Almal moes anders leer leef. Die drastiese vermindering van menslike kontak is vir almal – selfs die grootste introvert – ’n skok op die sisteem. In hierdie tyd het die wêrelde wat boeke vir my oopmaak net nóg belangriker geword. Terwyl  ’n mens toegegrendel in jou huis sit, kon jy reis en nuwe vriende ontmoet deur net ’n boek oop te slaan.

Lees ook:

2021 Sanlam Prize for Youth Literature shortlist: an interview with Musa Baloyi

2021 Sanlam Prize for Youth Literature shortlist: an interview with Francis Tebesi

Sanlamprys vir jeuglektuur-kortlys 2021: ’n onderhoud met Betsie van Niekerk

Sanlamprys vir Jeuglektuur-kortlys 2021: ’n onderhoud met Faeed Amardien

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top