Rondom grondhervorming

  • 4

André Duvenhage is professor in politieke wetenskap en direkteur van die Navorsingsfokusarea: Sosiale Transformasie op die Potchefstroomkampus van Noordwes-Universiteit. Hy bespreek brandende grondhervormingskwessies met Naomi Meyer.

Rondom: Grondhervorming (onteiening sonder vergoeding)

André Duvenhage

Wat is die kern van die onstuimige debat oor grondhervorming en grondonteiening?

In wese gaan dit oor die vraag of artikel 25 van die Grondwet gewysig moet word om vir “onteiening sonder vergoeding” voorsiening te maak. Die klem is op grond, maar dit kan heelwat meer as net grond impliseer om ook dit wat mense besit (eiendom), hulle te kan ontneem. Dit gaan dus hier in die breë konteks oor die eienaarskap van produksiefaktore en vind sy motivering in dokumente soos die Freedom Charter, Strategy and Tactics en die konseptualisering van die Nasionaal Demokratiese Revolusie-idee (die NDR). Die debat is so warm omdat dit die hooftema van die verkiesing van 2019 is en dat die ANC letterlik die “grondkaart” (à la Zimbabwe) speel ten einde steun te mobiliseer in wat die moeilikste verkiesing vir die regering sedert 1994 blyk te wees.

Tans geld die status quo en word bestaande eiendomsregte gehandhaaf met die staat wat binne grens en perk (soos deur die Grondwet en tersaaklike wetgewings bepaal) kan onteien. Die groter probleem is egter dat die vlakke van wetteloosheid, chaos en anargie van so ’n aard is dat die interpretasie en toepassing van wetgewing (reg of verkeerd) ’n kleiner kwessie geword het. Suid-Afrika mag een van die beste grondwette ter wêreld hê, maar sy konsekwente toepassing hiervan is op ’n skaal beduidend swakker. Suid-Afrika vertoon toenemend tekens van ’n verswakkende staat met elemente van ’n mislukte staat wat telkens na die oppervlak kom. Die Suid-Afrikaanse politieke omgewing vertoon dan ook toenemend kenmerke wat verband hou met wanorde en wetteloosheid waarin die burgery selfs openlik die reg in eie hande neem. Dit is baie ver verwyderd van die ideale soos verbind aan die idee van ’n grondwetlike staat waar die oppergesag van die reg toonaangewend behoort te wees. Aangevuur deur die 2019-verkiesing is wetteloosheid, anargie en die gebruik van eie reg tans ’n veel groter risiko as die debat met betrekking tot grondeienaarskap en die moontlike wysiging van artikel 25 van die Grondwet.

Kan grondhervorming/-onteiening ’n meganisme wees om die groot ongelykhede in die land te verminder of selfs uit te wis?

’n Gelyke samelewing is ’n politieke mite wat bestaan in die denkpatrone van sosialistiese en kommunisties-georiënteerde denke. Die ironie is dat selfs hierdie stelsels ook elitisties is – veral in ’n politieke sin. In Afrika is die ryk/arm- of elite/massa-gaping geweldig groot. In hierdie opsig is die probleem nie uniek Suid-Afrikaans nie en ook nie eksklusief aan koloniale en apartheidskontekste nie.

Dit is wel waar dat die gaping tussen ryk en arm in Suid-Afrika van die grootste in die wêreld is en dringende aandag verdien. Deur van die bevoorregtes te vat en regstreeks aan die armes (of ander belanghebbendes) te verdeel, is egter geen antwoord nie. Hiervan getuig Zimbabwe, maar ook ander voorbeelde uit postkoloniale en ander kontekste. Daar is tans in Suid-Afrika omtrent 35 000 kommersiële boere wat omtrent 90% van die landbouproduksie lewer. Die verandering van eienaarskap op ’n onoordeelkundige wyse sonder die nodige wetlike ondersteuning, inkoop van die samelewing, genoegsame ondersteuningsplanne, asook die konstruktiewe betrokkenheid van die internasionale gemeenskap is kernbelangrik, waarsonder die inisiatief tot mislukking gedoem is. Landbou as onderdeel van die groter bruto binnelandse produk (BBP) is so klein dat dit slegs ’n baie klein impak sal kan maak as metode om groter gelykheid in die breë samelewing te verseker. Die verkeerde hantering van onteiening kan wel die samelewing en sy stabiele voortgang (volhoubaarheid) in gevaar stel. Die risiko’s is beduidend en die potensiële winste baie klein. Hiervan getuig Zimbabwe in die huidige konteks.

Ek kan moeilik sien dat ongelykhede selfs op langer termyn radikaal verander gaan word. Sterk populistiese politiek en mobilisering van politieke steun en verkiesingsagendas gebou op die basis van gelykheid (egalitarisme) en strewes in hierdie verband op basis van dokumente soos die Freedom Charter vier tans hoogty. Uitvoering hiervan vind plaas in terme van pragmatiese beskouings soos geanker in die idee en toepassing van die NDR en die fases wat dit veronderstel. Nêrens in Afrika was die uitvoering van radikale grondhervormingsinisiatiewe nog suksesvol nie. Inteendeel, bykans sonder uitsondering is state in ongekende armoede gedompel waarvan Zimbabwe waarskynlik die mees sprekende voorbeeld is. Desnieteenstaande is Robert Mugabe vir die EFF (maar ook vir sommige ANC-leiers) die rolmodel vir suksesvolle grondhervorming in Suider-Afrika – ondanks die negatiewe uitkomstes in hierdie verband.

Die toepassing van verblyfreg

Die perspektief vanuit die Freedom Charter is duidelik as dit gestel word dat “Restriction of land ownership on a racial basis shall be ended, and all the land re-divided amongst those who work it, to banish famine and land hunger ... All shall have the right to occupy land wherever they choose.” Verblyfreg vorm ’n kernaspek van die grondhervormingsinisiatief en is ’n belangrike aspek van die groter inisiatief om voorheen agtergeblewenes te bemagtig. Verblyfreg word gereël deur die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg en bepaal onder meer wie regte het en op watter regte daar aanspraak gemaak kan word. Die sogenaamde 50/50-model was ’n poging om die konsep van verblyfreg tot ’n nuwe vlak, naamlik dié van eienaarskap, te neem. Die verwagting is dat die toepassing van verblyfreg vorentoe meer pragmaties ten koste van eienaars en ter wille van diegene met verblyfreg gaan wees.

Tweede en derde eiendomme?

Daar is tans geen wetgewing of gepaardgaande reëlings wat mense verbied om meer as een eiendom te besit of wat voorskriftelik bepaal wat om hiermee te doen nie. (Dit is nou buiten normale vereistes en die toepassing hiervan munisipaal ens.) Hoewel die voorgestelde wetgewing nog geformuleer moet word en die toepassing van bestaande wetgewing soms konflikterend en onduidelik is, twyfel ek sterk of tweede eiendomme en die aanwending hiervan onder skoot gaan kom – ten minste nie in die nabye toekoms nie. Op die oomblik is die toekoms onseker en die toepassing van wetgewing nie die alleenmandaat van wetstoepassers nie. Al meer word die reg in eie hande geneem. Daar is ongetwyfeld risiko’s, maar die wetlike een is tans die kleiner risiko.

Verblyf in oop ruimtes en parke

Daar is geen twyfel dat parke en oop ruimtes (in en rondom woongebiede en stede) primêr geteiken gaan word vir herverdeling nie. Dit hang saam met die breër filosofie en benadering van die integrasie van ryk en arm en die afskaffing van die apartheidsgeoriënteerde ruimtelike-ontwikkelingsplanne. Ek is byvoorbeeld bewus van sodanige beplanning ten opsigte van Potchefstroom in hierdie verband. Daar bestaan dan ook reeds ’n neiging om op onwettige wyses hierdie grond in veral Gauteng en die Wes-Kaap (maar ook ander dele) te beset. Hierdie patroon gaan vererger in die opbou tot en afloop van die 2019-verkiesing. My grootse bekommernis bly die gebruik van eie reg sonder dat wetstoepassing (lees polisieoptredes ens) konsekwent in dié verband plaasvind. Uitgelewer aan boosdoeners, maar sonder die beskerming van die staat aan wie belasting betaal word, is die gewone belastingbetaler en wetgehoorsame burger onder huidige omstandighede in krisis gedompel.

Die gronddebat en die uitspeel hiervan

Die grond(onteienings)debat, besluite in hierdie verband, asook die toepassing hiervan, gaan die hooffokus van ons politiek wees in die opbou tot die 2019-verkiesing en ook daarna. Dit is ’n omgewing met groot risiko’s ten opsigte van belegging vir ekonomiese groei en ontwikkeling; sosiale stabiliteit, of eerder die gebrek daaraan (rassekonflik, xenofobie, kulturele en etniese politiek); voedselsekerheid; asook wet en orde in die algemeen. Ek is uiters bekommerd dat grondaansprake en identiteitspolitiek in samehang bydraend tot konflik, geweld en in die ekstreem sesessie kan wees. Uitsprake ten opsigte van sesessie is reeds deur Goodwill Zwelithini asook groeperings soos die Gatvol Capetonians gemaak. Op lang termyn kan die Suid-Afrikaanse staat as staat ook hier in gedrang kom. Suid-Afrika se geskiedenis is groter en meer kompleks as die staatkundige modelle wat tussen 1910 en 1994/2018 aan die orde was en tans is. Sommige van hierdie groter en soms vergete werklikhede gaan ongetwyfeld ’n groot rol speel om ons toekoms te definieer en moontlik selfs te herdefinieer. In die bekende woorde van LJ du Plessis: “Die geskiedenis is besig om sy sin oop te dek van die begin tot die einde toe; en ons begin in hierdie tyd vaagweg sy volle betekenis te verstaan.”

Die tweede fase van die NDR beklemtoon die herverdeling van produksiefaktore (grond, kapitaal, arbeid en onderneming) ten einde die massas te bevoordeel in ’n benadering waarin makrososialistiese projekte op ’n transformatiewe basis ten uitvoer gebring word. Hierdie benadering het dwarsdeur Afrika misluk, en ten opsigte van die Suid-Afrikaanse konteks staan “mislukking” ook met hoofletters geskryf. Trouens, ek wil selfs sê dat dit waarop die staat sy hande lê, gedoem is tot mislukking, soos wat die breë stand van sake ten opsigte van die staatstrukture, plaaslike regering, semistaatsinstellings (Eskom, SAL, Transnet, ens) getuig.

Grondhervorming en die toepassing daarvan sal ook hierdie breë patroon volg. Die privaatbesit van produksiefaktore (of die gedeeltelike privaatbesit van produksiefaktore) met ’n sterk ontwikkelingsgerigte staatsbenadering is noodsaaklik vir ekonomiese groei, ontwikkeling en politieke stabiliteit. Dit behoort die sentrale fokus te wees.

Die vergelyking met dit wat in Zimbabwe gebeur het, word dikwels voor die voet van die tafel gevee. Die argument word gevoer dat Suid-Afrika nooit ’n tweede Zimbabwe sal kan wees nie. Ek stem hiermee saam, behalwe dat die uitkoms van ondeurdagte grondhervorming veel erger kan wees. Die ontploffing van opgeboude politieke energie en die uitspeel hiervan in die grootste ekonomie in Suidelike Afrika gaan baie groter en meer omvangryk wees as wat die Zimbabwe-scenario ooit kon droom om te wees. Die wyse waarop hierdie saak tans hanteer word, die vlakke van politieke geweld in Suid-Afrika, en populistiese politiek (waarin verwagtinge geen plafon het nie) voorspel ’n baie moeilike en onsekere politieke toekoms vir Suid-Afrika en al sy mense.

Toekomsvooruitsigte

Die groter politieke omgewing in Suid-Afrika is by ’n baie negatiewe punt wanneer politieke, ekonomiese en sosiale omstandighede verdiskonteer word. Die hele grondhervormingsdebat en sy uitspeel ten opsigte van die 2019-verkiesing gaan nie net die toekoms van grond en landbou bepaal nie, maar ook dié van die groter staatkundige bedeling, die waardes waarop dit funksioneer en die toepassing hiervan. Ek is nie oortuig dat die kragte wat hier ontsluit gaan word, polities gesproke bestuurbaar gaan wees nie – veral as die hele situasie ten opsigte van gesprekke rondom onteiening sonder vergoeding, die proses ten opsigte van die identifisering van plase vir onteiening, en die reaksie van belanghebbendes in aanmerking geneem word. Kommer bestaan tans oor die vlakke van onstabiliteit binne die groter staatkundige bestel; die funksionaliteit van die groter regime; rassespanning en xenofobie; en ’n onvermoë om ekonomiese groei te laat plaasvind en tot ontwikkeling te herlei. Gaan die onbeholpe hantering van grondhervorming en -onteiening die spreekwoordelike vonk in die groter kruitvat wees?

Mag ek verkeerd wees en mag dit anders wees vir Suid-Afrika en al sy mense.

  • Lees ook:

Grondhervorming sonder vergoeding: ’n oorsig van die UV-bespreking

Onteiening van grond sonder vergoeding: implikasies vir die definiëring van politiek in Suid-Afrika

Is onteiening sonder vergoeding werklik die antwoord?

  • 4

Kommentaar

  • P. Willem Noodt

    Beduidend:
    “Die privaat besit van produksiefaktore (of die gedeeltelike privaat besit van produksiefaktore) met ’n sterk ontwikkelingsgerigte staatsbenadering is noodsaaklik vir ekonomiese groei, ontwikkeling en politieke stabiliteit.”
    Kenmerkend in hierdie aanhaling is die ontkoppeling tussen die kapitalistiese ideologie en begrippe soos 'welvarendheid' of 'lewensgehalte' (wat vervaag agter die eufemistiese gebruik van 'ontwikkeling'). Die groeiende gewildheid van grondonteiening sonder vergoeding is simptomaties van die algehele mislukking van die vryemark om op 'n bevredigende wyse die sistematiese, staatsgedrewe verarming wat Suid-Afrika se geskiedenis pre-1994 gekenmerk het om te keer. Hierdie mislukking is ten spyte van die ANC se neoliberale staatsbenadering, waaruit sekere plaaslike en internasionale privaatondernemings reeds heelwat voordeel geput het (na aanleiding van die Gupta Leaks).
    Binne die bogenoemde konteks waarin sosiale vooruitgang tot stilstand kom, word grondonteiening sonder vergoeding beskou as 'n logiese beleid en wegspringplek vir 'n meer breedvoerige proses van maatskaplike vergoeding (al mag sulke retoriek inderdaad misleidend wees).
    Mnr Duvenhage is korrek om bekommerd te wees oor die wetteloosheid wat ontketen mag word deur die retoriek van grondonteiening sonder vergoeding. Maar 'n staatsvyandige houding en 'n regsgesinde agterdog teenoor sosialistiese beleid (wat spruit uit 'n verwarring tussen ongelykheid en diversiteit) is juis kontraproduktief: die onbestendigheid van die Suid-Afrikaanse samelewing gaan bedaar slegs as burgers aandring dat makrososialistiese programme doeltreffend uitgevoer word.

  • ’n Baie insiggewende opsomming. Die volgende kan bygevoeg word. Eiendom is die hoeksteen van welvaartskepping, maar dit moet gepaard gaan met regssekerheid. Wat betref eiendom se regssekerheid is dit belangrik dat daar 'n sogenaamde "Sunset clause" moet wees soos dat alle eiendom wat verhandel is na 1994 uitgesluit moet wees van enige onteiening sonder vergoeding tensy daar reeds 'n eis teen sulke eiendom aanhangig is. Maar dat enige onteiening deur 'n regsproses moet gaan wat bepaal of daar enige regverdiging is vir onteiening. Mens moet ook besef dat die definisie van eiendom nie net grond insluit nie, maar ook eiendom soos aandele, voertuie en wat ook al ressorteer onder die begrip van eiendom. Laastens let ook op die feit dat die huidige mense wat stede instroom vanaf die platteland kom waar hulle huise besit. Hulle eindig hoofsaaklik op in plakkerskampe wat daarna lei dat hulle RDP-huise kry. Dit wil sê dat baie van die persone dan op die einde met twee of meer eiendomme sit.

  • In Suid-Afrika vandag is dit noodsaaklik om wyd te lees, te luister en buite jou natuurlike omgewing en vriendekring te beweeg om 'n akkurate en ingeligte opinie te kan hê oor sosio-politieke en verwante sake.
    As jou daaglikse inligtingnetwerk net bestaan uit jou koerant en TV-stasie, jy in jou oorwegend witbuurt staat maak op die plaaslike skole, kerke en ander kulturele instellings, gaan jy beslis 'n skewe beeld kry van nasionale sake van die dag. Dit gebeur tans met die besprekings oor grondonteiening, plaasaanvalle, ekonomiese sake en selfs musieksmaak en sport.
    Dit is gebiedend noodsaaklik dat Afrikaanssprekendes ook die opinie van nie-tradisionele kontakte opsoek en wyd oor die kleurgrense raadpleeg oor transformasie en die pad vorentoe.
    Sosiaal wetenskaplikes praat van 'groepdink' wanneer jy jou skaar by eendersdenkendes en bloot net jou eie voorkeure en vooroordele sodoende versterk.
    Deur gebruik te maak van sosiale media, die internet en konnektiwiteit van dinge kan ons vandag wyd konsulteer en sodoende 'n meer akkurate en gebalanseerde opinie huldig oor 'n verskeidenheid van sake.
    Maar diegene wat net staatmaak op tradisionele bronne van inligting binne hul eie sirkels gaan 'n skewe beeld kry van die werklikheid daar buite.

  • Wildewragtig Willem Wouter Wisselkoers Wildevark

    Daar is net één meetbare wat die ekonomiese wêreldkompeteerbaarheid van die Suid-Afrikaanse nasie weergee: Die ZAR/USD wisselkoersfunksie oor die langtermyn.

    Die wisselkoerskurwe verdiskonteer AL die veranderlikes in hierdie land en "weird" nasie.

    Ek daag die ANC regering uit om Suid-Afrika met bestuursuitnemendheid te bestuur sodat die ZAR/USD wisselkoers teen 2025 versterk tot ZAR1= USD1. [In 1961 was die wisselkoers ZAR 0,71 = USD1]

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top