Grondhervorming sonder vergoeding: ’n oorsig van die UV-bespreking

  • 0
  • Lees ook die LitNet Akademies (Regte)-artikel: Eiendomsverlies deur verkrygende verjaring: Onteiening sonder vergoeding – of nie?

Eiendomsverlies deur verkrygende verjaring: Onteiening sonder vergoeding – of nie?

Die Universiteit van die Vrystaat het onlangs ’n besprekingsessie aangebied waarin verteenwoordigers van verskeie politieke partye hul sienings oor grondhervorming sonder vergoeding gedeel het. Die EFF is verteenwoordig deur Kgotso Morapela, Vrystaatse voorsitter. Die DA het Annette Steyn, hul skaduminister van landbou, bosbou en visserye, na die geleentheid afgevaardig. Cope is deur hul partyleier, Mosioua Lekota, verteenwoordig. Wouter Wessels, ’n lid van die Nasionale Vergadering, het die VF+ se sienings verduidelik. Die regerende party is deur Jeremy Cronin verteenwoordig. Die programleier was Lynette Francis, bekende aanbieder van Fokus op SABC2 en Praat saam op RSG.

Die eerste spreker was Kgotso Morapela, wat onder luide toejuiging gesê het dat grond baie belangrik is vir die EFF. Hy het benadruk dat die EFF se posisie oor grond baie duidelik is: dit moet van die witmense wat dit afgevat het, teruggeneem word. Hy het veral beklemtoon dat grond nooit deur witmense gekoop is nie, maar gesteel is deurdat hulle dit met geweld afgevat het. Toe Annette Steyn van die DA die kans gegun is om repliek te lewer, het sy verder olie op die vuur gegooi deur te sê dat grond nie gesteel is nie, maar in oorloë gewen is. Hiervoor is sy deur die gehoor, waarvan omtrent ’n derde EFF-barette gedra het, uitgejou.

Die persoon wat die ergste deurgeloop het onder die gehoor se afknouery was Mosioua Lekota. Omdat hy bekend is vir sy verdediging van wit boere is hy uit die staanspoor min kanse gegun om homself uit te druk. Toe hy opstaan om sy toespraak te lewer het die woord “sell-out” oral uit die gehoor opgeklink. Toe die gemoedere bedaar, kon Lekota egter sy pleidooi om die Grondwet te respekteer lewer. Hy het verduidelik dat die kernbeginsel wat die Kodesa-onderhandelinge gelei het, die beginsel is dat Suid-Afrika aan almal behoort wat daarin woon. Hy het almal aangemoedig om hulle nie blind te staar teen artikel 25 van die Grondwet nie, maar dat hulle die hele Grondwet moet lees. Hy het hardop uit die Grondwet voorgelees, en almal daaraan herinner dat dit bestaan om te voorkom dat die foute van die verlede herhaal word. Daarom is dit as die oppergesag van ons republiek aanvaar. Lekota het gesê dit verpletter hom dat daar mense is wat die Grondwet veroordeel terwyl prominente strugglehelde hul lewens daarvoor neergelê het. “Hoe kan julle sê dat ons die mense uitverkoop het as hier staan dat enige van julle eiendom kan besit op enige plek waar julle wil?” het hy gevra.

Lekota het verder benadruk dat die wet reeds voorsiening daarvoor maak dat die regering, maar slegs die regering, eiendom kan onteien. “Jy kan nie net na iemand se Pick n Pay toe gaan en sê dat jy dit nou onteien nie. Dit werk nie so nie. Dit is anargie en dit het nog nêrens in die wêreld gewerk nie.”

Vir Lekota is die Grondwet ons land se grootste prestasie, omdat dit geskryf is om ons te verenig. “Onthou dat ons hier is om die foute van die verlede reg te stel. Ons kan nie die foute van die verlede verander nie, maar dit help ook nie om nuwe foute te maak en wreedhede te pleeg nie.”

Wouter Wessels van die VF+ het deurentyd beklemtoon dat ons moet saamwerk vir ’n beter toekoms, omdat ’n beter verlede nie moontlik is nie. Volgens sy party is onteiening sonder vergoeding die verkeerdste ding wat die regering kan doen om ’n beter toekoms te skep. Alles in Suid-Afrika moet begin by wedersydse erkenning en respek.

Wessels het min vertroue in die regering se belofte dat die ekonomie nie skade sal ly as grond onteien word nie. “In Zimbabwe het hulle ook belowe dat dit nie sou gebeur nie. Ons almal weet wat daar gebeur het. Die mense wat daardeur bevoordeel sou word, is die ergste daardeur benadeel.” Hy sê dat dit hier ook die geval sal wees as onteiening sonder vergoeding plaasvind, omdat die rykes bloot die land sal verlaat. Beleggers sal ook nie meer belangstel in Suid-Afrika nie, en die armes sal nog armer word.

Hy vra vir restourasie, eerder as revolusie. Volgens hom is dit ’n teken van goeie leierskap as ontwikkeling ten bate van almal plaasvind. In ’n revolusie vind daar geen ontwikkeling plaas nie, omdat dit deur wraak gemotiveer word.

Hy het die EFF se voorstel dat al die grond genasionaliseer moet word, ten sterkste verwerp. Die rede hiervoor is dat die regering nie vertrou kan word nie. By implikasie beteken dit dat die EFF die regering van die dag genoeg vertrou om die grond te bestuur. “Of dink julle dat julle volgende jaar die regering gaan oorneem met julle 6%? Of sê nou maar ek wen die verkiesing? Sou julle my vertrou om die grond te beheer?” het Wessels aan die EFF gevra.

Verder het Wessels gevra wat hulle laat dink dat Suid-Afrika so uitsonderlik is dat onteiening sonder vergoeding hier sal werk terwyl dit nog nooit elders gewerk het nie. “Ons kan nie bekostig om die kans te waag dat voedselsekerheid in gevaar kan kom nie.” Hy het die voorbeeld van Venezuela, waarop die EFF baie trots is, gebruik. Hul burgers het die hoogste gemiddelde inkomste per kapita in Suid-Amerika gehad. Kort nadat grond onteien is, is omtrent 70% van dieselfde mense in armoede gedompel.

In ’n verrassende wending het Jeremy Cronin erken dat hy ook nie die regering, waarvan hy deel is, vertrou om al die land se grond te bestuur nie. Cronin het homself egter deurentyd weerspreek, omdat hy hom uitgespreek het teen kapitalisme. Hy is elke keer toegejuig wanneer hy hom teen kapitalisme uitgespreek het. Hoewel hy dit duidelik gemaak het dat kapitalisme die grootste euwel denkbaar is, het hy hom ook teen absolute nasionalisering uitgespreek. Sy oplossing, of die ANC s’n, vir die grondkwessie is glad nie in die gesprek uiteengesit nie.

Cronin het op Morapelo se belofte dat niemand in die see gejaag sou word nie, gereageer deur te sê dat dit eintlik vir hom heel lekker sou wees, omdat hy ’n kranige swemmer en branderplankryer is.

Cronin het die EFF bedank en gelukgewens met die feit dat die gesprek nou gevoer kan word, omdat hulle daarop aangedring het. Hy verskil egter met hul voorstelle oor hoe om grond te onteien en dan te bestuur. Hy ondersteun eerder vir “kameraad Lekota” in sy voorstel om nie aan die Grondwet te torring nie. “Ons het nie by Kodesa uitverkoop nie, maar het ons dalk die Grondwet uitverkoop?”

In die verlede is mense volgens Cronin van talle regte ontneem, waarvan grond nie die enigste is nie. Indiërs is byvoorbeeld ontneem van hul reg om handel te dryf. Verder is dit ook nie so maklik om grond wat “gesteel” is, terug te gee nie. “Wat van mense wat as slawe hierheen gebring is? Moet ons dan vir hulle die grond in Indonesië teruggee?”

Steyn het namens die DA gevra wanneer kolonialiste dan nou uiteindelik burgers word in die oë van die ANC en die EFF. Sy het vertel dat haar familie al vir omtrent 120 jaar in die Oos-Kaap boer. Daar het hulle hard gewerk om wat hulle het te versamel en op te bou.

Sy benadruk dat nie sy of die DA die verlede ontken nie en dat baie van die verontregting teen swart mense steeds voortduur. “Daarom kan swart mense onwelkom voel in hulle eie land. Wat van wit mense? Kan hulle ook welkom voel in die land?”

Sy sluit by Lekota aan deur te vra dat ons volstaan by die beginsels wat in die Grondwet uiteengesit is. Die Grondwet dwing reeds die regering om alle faktore in ag te neem wanneer hulle grond wil onteien. Daarom is dit nie waar dat grond teen markwaarde onteien hoef te word nie; markwaarde is slegs een van die faktore.

Steyn het verder die ANC se beleid bevraagteken, omdat hulle elke keer hul deuntjie verander as hulle met verskillende mense praat. Volgens haar sê Ramaphosa een ding vir sy party, ’n ander vir boere, en weer iets anders vir koning Goodwill Zwelethini.

’n Groot probleem wat Steyn met nasionalisering het, is dat niemand verbeteringe op grond sal aanbring as dit nie aan hulle behoort nie. Daarom kan die waarde van titelaktes nie onderskat word nie.

Jeremy Cronin het op sy beurt betoog dat titelaktes nie die probleme van die armes sal oplos nie. Volgens hom oorskat die DA die waarde daarvan geweldig.

Vir Wessels is die groot vraag hoekom grond as die land se grootste vraagstuk voorgehou word, terwyl die meeste mense geen benul van boerdery het nie. Hulle besef dit ook self, dus wil hulle nie noodwendig boer nie. Wessels het ook die gehoor daaraan herinner dat die besit van grond belangrik is vir mense se waardigheid, maar dat dit niemand oornag gaan ryk maak nie. Verder is dit vir hom kommerwekkend dat almal se reg op alle eiendom ondermyn sal word.

Al die lede van die paneel was dit eens dat korrupsie die grondhervormingsproses kniehalter. Met die uitsondering van die EFF se verteenwoordiger het hulle saamgestem dat korrupsie, en nie die voorwaarde dat vergoeding moet plaasvind nie, die hoofoorsaak van die stadige tempo van hervorming is.

Toe Morapelo die kans gegun is om sy bydrae af te sluit, het hy die geleentheid gebruik om Malema se aanmoediging van grondgrype te regverdig. Dit is vir die EFF belangrik dat grond wat in onbruik is, beset moet word, omdat die wettige metodes te stadig is.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top