Onteiening van grond sonder vergoeding: implikasies vir die definiëring van politiek in Suid-Afrika

  • 7

Inleiding

Die afgelope maande is twee belangwekkende besluite deur die regerende African National Congress (ANC) geneem wat, sou dit uitgevoer word, die definisie van politiek in Suid-Afrika ingrypend sal verander.

Eerstens was daar die besluit, tydens die 54ste nasionale konferensie van die party gedurende Desember 2017 in Johannesburg, om die onteiening van grond sonder vergoeding as beleidsmaatreël te aanvaar. Die besluit is gekwalifiseer deur te beklemtoon dat die onteiening van grond op ’n wyse sal geskied wat nie die landbousektor sal destabiliseer nie, nie voedselveiligheid sal bedreig nie, en nie ekonomiese groei en werkskepping sal ondermyn nie (ANC 2017).

Tweedens was daar die besluit deur die ANC gedurende Februarie 2018 om steun te verleen aan ’n mosie wat deur die Economic Freedom Fighters (EFF) by die Nasionale Vergadering ingedien is ingevolge waarvan laasgemelde liggaam ’n proses sal inisieer ten einde die Grondwet en die Handves van Regte in die Grondwet vervat sodanig te wysig dat grondonteiening sonder vergoeding kan plaasvind. Die betrokke mosie, wat aanvaar is met 241 stemme ten gunste daarvan en 83 daarteen, is na die Konstitusionele Hersieningskomitee verwys, wat na ’n proses van openbare oorlegpleging teen 30 Augustus 2018 aan die parlement terugvoering sal gee (Gerber 2018).

Dit is belangrik om te meld dat hierdie besluite geneem is nieteenstaande die feit dat die bestaande Grondwet en die Handves van Regte daarin vervat, reeds voorsiening maak daarvoor dat eiendom ingevolge ’n algemeen geldende regsvoorskrif onteien kan word.

Die vraag wat pertinent ontstaan wanneer oor hierdie besluite besin word, is die volgende: Wat is die implikasies daarvan vir die wyse waarop politiek in Suid-Afrika sedert 1994 gedefinieer is? Ten einde antwoorde te vind, word die volgende werkswyse gevolg: Eerstens word, ter wille van die nodige agtergrond, die verskillende definisies of beskouings rakende die begrip politiek kortliks verduidelik. Tweedens word aangetoon welke van hierdie beskouings na 1994 in Suid-Afrika inslag en toepassing gevind het en hoedanig ’n besluit oor grondonteiening sonder vergoeding dit kan verander en in welke rigting. Derdens word aangetoon wat die gevare is wat skuil sou daar op ’n veranderde beskouing van politiek besluit word. Die artikel word afgesluit met enkele slotopmerkings.

Wat is politiek?: ’n Betwiste konsep met verskeie definisies

Ten einde te bepaal hoe bogemelde besluite die wyse waarop politiek in Suid-Afrika sedert 1994 gedefinieer is, sal verander, is dit nodig om kortliks die begrip politiek van nader te beskou. Volgens die gesaghebbende Britse skrywer van talle handboeke oor die politieke wetenskap, Andrew Heywood, is ’n definisie van politiek problematies omdat dit ’n vae en hoogs betwiste begrip is (2002:4-12). Kortom: daar bestaan nie ’n enkele definisie wat universele aanvaarding geniet nie. Hy wys nietemin daarop dat daar wel verskeie aanvaarbare en legitieme beskouings oor die betrokke begrip bestaan.

In hierdie verband onderskei hy die volgende: Eerstens is politiek die kuns om te regeer of gesag uit te oefen. Vanuit hierdie oogpunt beskou, omsluit politiek alles wat met die staat en sy agent die regering in verband gebring kan word.

Tweedens is politiek alle openbare aangeleenthede. Volgens hierdie tipering strek politiek wyer as die eng terrein van die regering en omsluit alles in die openbare arena.

Derdens behels politiek die soeke na konsensus, versoening, samewerking, onderhandeling en die sluiting van kompromieë. Hierdie beskouing beklemtoon ook die noodsaak om eenheid, samehorigheid en ontwikkeling te bewerkstellig in samelewings wat deur intense diversiteit en onderontwikkeling gekenmerk word.

Vierdens is politiek ’n stryd oor toegang tot hulpbronne en die gebruik van ongebreidelde mag as die metode waarvolgens die stryd gevoer en hulpbronne versprei moet word. Op grond van hierdie beskouing het die befaamde Amerikaanse politieke wetenskaplike Harold Dwight Lasswell (1902–1978) reeds in die dertigerjare van die vorige eeu kort en kragtig verklaar dat politiek wesenlik draai om die vrae: Wie kry wat, wanneer en hoe? (Encyclopaedia Brittanica 2018). As verteenwoordiger van ’n lewens- en wêreldbeskouing waar die uitoefening van mag in die politieke proses verabsoluteer was, het die voormalige leier van die Volksrepubliek van China, Mao Zedong (1893–1976), politiek selfs beskryf as oorlog sonder bloedvergieting, terwyl oorlog politiek is met bloedvergieting (Goodreads 2018).

In aansluiting by Heywood beklemtoon politieke wetenskaplikes verbonde aan The Open University (1999–2018) ook die feit dat die begrip politiek moeilik definieerbaar is omdat dit nie duidelik is wat die “essensie” of “intrinsieke aard” daarvan is nie. Die gevolg is dat mededingende, teenstrydige en opponerende definisies aan die orde van die dag is. Deur die bestaande beskouings op ’n spektrum te plaas wat wissel van eng tot omvattend, wys hierdie wetenskaplikes daarop dat politiek alles behels wat met die staat in verband staan; ’n niegewelddadige metode van konflikbeslegting is; konflik is; die uitoefening van mag is; maatskaplike aktiwiteite is; openbare aktiwiteite is; en afhanklik is van konteks en interpretasie.

Welke definisie van politiek het sedert 1994 in Suid-Afrika inslag gevind en hoedanig sal ’n besluit oor grondonteiening dit verander?

Die definisie van politiek wat na 1994 in Suid-Afrika inslag en toepassing gevind het, was die direkte gevolg van die lang geskiedenis van intergroepkonflik gedurende die apartheidsera; die diversiteit van die samelewing; die ongeëwenaarde ekonomiese ongelykheid tussen die “haves “en die “have nots”; en die wydverspreide begeerte van politieke leiers om, nieteenstaande al hierdie middelpuntvliedende en fragmentariese kragte, ’n nuwe verenigde en vooruitstrewende nasie te vestig.

In ’n poging om hierdie werklikhede te hanteer en terselfdertyd met ’n proses van nasiebou te begin, het die nuwe politieke leierskap besluit dat die soeke na konsensus, onderhandeling, versoening en samewerking, en die sluiting van kompromieë, die oorheersende kenmerk van politiek in die “nuwe” Suid-Afrika sou wees. ’n Magdom maatreëls is getref om die nuwe benadering te vergestalt, waaronder die opstelling van die Grondwet wat voorsiening gemaak het vir die vestiging van ’n inklusiewe konstitusionele demokrasie; die aanvaarding van ’n omvattende Handves van Regte gebaseer op die Universele Verklaraing van Menseregte; die ontwikkeling van etlike ekonomiesegroeistrategieë; en die skepping van talle instellings en meganismes vir oorlegpleging, samewerking en kompromiesluiting.

Die onlangse besluit van die ANC, ondersteun deur etlike opposisiepartye, om die Grondwet, en in die besonder artikel 25 van die Handves van Regte, sodanig te wysig dat die onteiening van grond (en waarskynlik ook ander eiendom) sonder vergoeding kan geskied, sal egter daartoe lei dat van hierdie benadering afgewyk word. Sou dit inderdaad gebeur, is dit onafwendbaar dat politiek in Suid-Afrika in die toekoms gedefinieer sal word volgens die Lasswelliaanse beskouing waar die aanwending van mag sal bepaal wie kry wat, wanneer en hoe.

Dat sodanige koersverandering ten gunste van ’n magsgebaseerde beskouing van politiek ’n sterk moontlikheid is, blyk uit die volgende: eerstens die erns waarmee talle Suid-Afrikaanse politici hulle beywer vir ’n regeringsgeleide program van “radikale ekonomiese transformasie”; tweedens die agitasie deur opposisiepartye soos die EFF en etlike ander buiteparlementêre aktivistiese, populistiese en anargistiese groepe vir nie alleen die onwettige besetting van grond in stedelike sowel as plattelandse gebiede nie, maar ook die inwerkingstelling van ’n outoritêre sosialistiese program van nasionalisering van bates. Derdens beskik die ANC, met die aangebode steun van die EFF en ander opposisiepartye, oor die vereiste tweederde-meerderheid in die parlement wat benodig word om die Grondwet en die Handves van Regte sodanig te verander dat grond sonder vergoeding onteien kan word.

Wat is die gevare verbonde aan ’n magsgebaseerde definisie van politiek?

Sou daar in die toekoms in Suid-Afrika van ’n onderhandelings- en konsensusgebaseerde na ’n magsgebaseerde definisie van politiek beweeg word, bestaan daar drie wesenlike gevare. Ten eerste sal die gevestigde inklusiewe konstitusionele demokrasie en die verhewe beginsels waarop dit geskoei is, asook die waardes wat dit omsluit, aan ’n proses van agteruitgang en uiteindelike verval blootgestel word. Kortom: die regstaat sal deur ’n magstaat vervang word.

Tweedens sal die allernoodsaaklike ekonomiese groei in Suid-Afrika ten einde van sy reputasie as die mees ongelyke samelewing in die wêreld ontslae te raak, nie gerealiseer kan word nie. Inteendeel, sonder beleidsekerheid met betrekking tot private eienaarskap sal Suid-Afrika sy aantreklikheid as beleggingsbestemming vir plaaslike sowel as buitelandse ondernemers grootliks verloor.

Derdens sal korrupsie drasties toeneem. Die vlaag van korrupsie wat Suid-Afrika die afgelope dekade ondervind het, sal nie vergelykbaar wees met die omvang daarvan indien die sprong gemaak sou word na ’n suiwer magsgebaseerde definisie van politiek nie.

Slotopmerkings

Die kwalifikasies wat deur die ANC aanvaar is om as riglyne te dien vir die onteiening van grond (eiendom) sonder vergoeding, word nie as voldoende beskou om die migrasie na ’n magsgebaseerde definisie van politiek en die gestelde negatiewe gevolge daarvan hok te slaan nie. Gegewe die huidige stand van sake is daar nietemin twee ligpunte: eerstens, die versekering van president Ramaphosa, tydens sy onlangse staatsrede, dat die grondonteieningsproses nie op ’n roofsugtige (“smash-and-grab”) wyse sal geskied nie; en tweedens die opdrag deur die Nasionale Vergadering aan die Konstitusionele Hersieningskomitee om ’n proses van openbare oorlegpleging van stapel te stuur ten einde die burgerlike samelewing se siening oor hierdie belangrike maar netelige kwessie in te win.

Alhoewel hierdie versekering deur die President en opdrag deur die Nasionale Vergadering as positiewe verwikkelings beskou word, bly die waarskuwing van lord John Acton (1834–1902) (Acton Institute 2018) aan samelewings ongeveer ’n eeu gelede steeds ook vir die eietydse Suid-Afrikaanse samelewing geldig:

Power tends to corrupt and absolute power corrupts absolutely. Great men are almost always bad men, even when they exercise influence and not authority; still more when you superadd the tendency of the certainty of corruption by authority.

Bibliografie

Acton Institute. 2018. Lord Acton Quote Archive. https://acton.org/research/lord-acton-quote-archive (12 April 2018 geraadpleeg).

African National Congress (ANC). 2017. Declaration of the 54th National Conference of the African National Congress 20 December 2017. http://www.ancfreestate.org.za/news/declaration-54th-national-conference-african-national-congress-20-december-2017#.Ws8f7ohubIU (12 April 2018 geraadpleeg).

Encyclopaedia Brittanica. 2018. Harold Lasswell. American Political Scientist. https://www.britannica.com/biography/Harold-Lasswell (12 April 2018 geraadpleeg).

Gerber, J. 2018. National Assembly adopts motion on land expropriation without compensation. News24, 27 Februarie 2018. https://www.news24.com/SouthAfrica/News/breaking-national-assembly-adopts-motion-on-land-expropriation-without-compensation-20180227 (12 April 2018 geraadpleeg).

Goodreads. 2018. Mao Zedong Quotes. https://www.goodreads.com/author/quotes/4797485.Mao_Zedong (12 April 2018 geraadpleeg).

Heywood, A. 2002. Politics. Tweede uitgawe. New York: Palgrave Macmillan.

The Open University, 1999–2018. What is politics? http://www.open.edu/openlearn/people-politics-law/politics-policy-people/what-politics/content-section-2.1 (11 April 2018 geraadpleeg).

Lees ook:

Onteiening sonder vergoeding: voorvereiste vir suksesvolle grondhervorming of populisme?

Is onteiening sonder vergoeding werklik die antwoord?

Grondonteiening: ’n ander perspektief

’n Positiewe blik op die onteieningswetsontwerp

Onteieningswetsontwerp: ongrondwetlik of noodsaaklik?

Een honderd jaar later: die Swart Grond Wet 27 van 1913

Die betekenis van ’n ontneming weens ’n rasdiskriminerende wet of praktyk vir doeleindes van die Wet op Herstel van Grondregte 22 van 1994 – ’n oorsig van ontwikkelings in regspraak

 

  • 7

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    'n Verdienstelike artikel. My hipotese is dat 'n magstaat ons voorland is en dat al hoe meer na nasionalisering geneig sal word, met die Vryheidsmanifes van 1955 as rigsnoer. Demokrasie is bloot as rookskerm misbruik om die politieke mag te bekom.
    Terloops, ek wonder hoeveel keer ek as dosent die spelling van Britannica gekorrigeer het.

  • Marius Ferreira

    Die grondkwessie is 'n nasionale en 'n historiese probleem. Daar kan nie regverdiging bestaan daarvoor dat die huidige (wit) grondeienaar die ekonomiese las vir grondhervorming moet dra nie.

  • Ons het nie die grond gesteel nie, maar hard gewerk vir elke sent waarmee hierdie plek gekoop is!

  • Ek glo nie die onderwerp is deeglik nagevors nie. Land Reform in Venezuela is daar tot die gevolgtrekking gekom dat: (Lees “Conclusion”) https://www.worldfoodprize.org/documents/filelibrary/images/youth_programs/research_papers/2006_papers/BishopGarriganHS_507D72E8F74F0.pdf

    Suid-Afrika staar soortgelyke probleme in die gesig en dit gaan 'n totale omwenteling teweegbring, want hoe word die verbande oor onteiende grond afgelos, of moet die verbandhouer maar net die verlies afskryf?
    Glo nie finansiële instellings en buitelandse beleggers gaan dit so sonder teenreaksie aanvaar nie.

  • Hans Richardt

    SA Grondwet word bollie gemaak, sou grondonteiening gebaseer op ras voortgaan. Almal is gelyk voor die reg, mbv Ingonyama-trust uitgesluit? Onsamehangend op sy beste.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top