1.
Dit is Donderdagmiddag en die reis begin. Boeke (en rugby) is op die spyskaart. En ek moet verslag doen oor die verrigtinge.
Twee boeke kom by my op. Hunter S Thompson se Fear and loathing in Las Vegas – daarin is ’n hoofstuk getiteld “Covering the story … A glimpse of the press in action …u gliness and failure”. Ek troos myself daaraan dat ek nie van die formele pers is nie en my blik dus beslis meer nugter en minder dwelmdol as Thompson s’n sal wees.
In Orhan Pamuk se roman Snow, weer, reis ’n digter, joernalis en politieke uitgewekene, Ka, na ’n dorpie Kars om ondersoek te gaan instel na die selfdood van jong meisies. Maar miskien dink ek aan die boek oor die volgende sin daarin: “Having published some poetry collections under his name, he enjoyed some small, enigmatic fame.”
2.
Die Karoo-landskap is dor en uitgemergel deur die droogte. Langs sommige heinings is bale lusern afgelaai. Hoe lank bly jy voer, hoe lank bly die kredietkraan van die ko-op en die bank oop, hoe lank bly jy wag en hoop op die reën? Dit is nie net skrywers en kunstenaars wat moet worstel met eksistensiële vrae in hierdie omgewing nie.
Die hitte laat my verlang na daardie sneeu in die eerste paar bladsye van Pamuk se roman, maar ek weet – hiér kan dit tog nooit.
Vanaf Hanover na Richmond kruip die verkeer. Swaar vragmotors ossewageduldig en soms minder geduldig agter mekaar se skadu Kaap se kant toe. Jy moet sorgvuldig veilige verbysteekplekke kies. Baie naby Richmond is daar so ’n halfhartige, moedswillige stop-and-go om jou verder te frustreer.
3.
Met my aankoms by die gastehuis sien ek dat daar nog net 30 minute oor sal wees van die sessie aan die stertkant van die tweede feesdag, naamlik Eric Muller en Laurine Platzky se Shunted (Filum about Hutchinson Railway).
Ons besluit om maar liewer af en uit te pak en te rus voor die aand se banket. Die opkoms by die banket – die South African Independent Publishers Awards word daar toegeken – is buitengewoon goed. Binne is die eetsaal stampvol. Ek en ’n aantal ander gaste staan buite die deur en kry sulke skrefies kykies in. Dit word ’n goeie aand – Tracy Going is buikspreker vir Darryl David en Peter Baker het sy flambojante kleurryke uitrustings nie vir vanaand se geleentheid uit die klerekas gehaal nie. Ons het aandete op die stoep. Dit is ’n pragtige aand.
4.
Die vorige dae was daar groot name op die program: die formidabele Athol Williams (hy het ’n staande ovasie gekry); Ena Jansen met Like family; joernalis Jan-Jan Joubert; Tania Smit; en die man wat die meeste sessies op die fees gehad het – ’n energieke en begeesterde James Brent-Styan wat met ’n kapmes die hart van die beast versnipper en ontbloot het.
Later sien ek ander bekendes: Riana Scheepers en oudminister Roelf Meyer.
5.
Vrydag breek aan – daar is baie sessies en jy begin jou dag ordentlik met ontbyt – en hierdie is een van die plekkies uitgeknip daarvoor:
En elke dag het Die Supper Klub komplimentêre drink- en eetgoed verskaf.
6.
Vandag se sprekers is ’n goeie mengelsaai.
Louis Botha wat uit ’n finansiële-dienste-agtergrond na fotografie beweeg het vertel oor die werk van ’n Namibiese egpaar en hul stigting wat hoop aan die inheemse inwoners verskaf, die landskap en natuurlewe bewaar. Hulle verbou self wyn in die woestyn.
Barbara Castle-Farmer praat met deernis en ’n goeie dosis humor oor Finding my own way … to happy & gay. Die gehoor praat entoesiasties saam.
James Brent-Styan skilder ’n droewige donker prentjie oor die geraamtes en die onvaste voete van klei van die “kragreus”, maar sy praatjie net daarna oor Chris Barnard, Heartbreaker, skyn ’n laserstraal op hierdie komplekse man wat sy tyd ver vooruit was. Hy spreek die kontroversie rondom Hamilton Naki aan en kom tot die gevolgtrekking dat daar min waarheid in die vele bewerings steek.
Charl-Pierre Naudé gesels onderhoudend oor sy bekroonde debuutroman Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Ongelukkig het hy nie eksemplare van sy boek saamgebring nie.
Geoff Dalglish beskryf homself as iemand wat, na ’n byna noodlottige ervaring met ’n trop olifante, ’n transformasie ondergaan het van “petrolhead to pilgrim”. Hy is avonturier en fanatiese stapper en lewer ’n inspirerende inset, met gepaardgaande skyfievertoning, oor sy vele reise die wêreld oor in sy poging om van die planeet ’n beter plek te help maak.
7.
Die middag sluit af met hierdie talentvolle leerders – hulle lees gedigte van onder andere Boerneef voor. Hulle mentor is Angie Gallagher, digter en vryskutskrywer en betrokke by verskeie gemeenskapsaksies op Richmond.
8.
Die fees word ook as ’n poging gesien om die plaaslike handel ’n hupstoot te gee. Hier word bande herwin om stoele te skep. ABC (Apply Bottom to Chair) – die opdrag aan alle skrywers.
9.
Saterdag se program skop om 08h00 af, want die rugby se invloed dwing vanaf Japan almal op die agtervoet.
Ek ontmoet die man agter Roepman en nou ook Die verevrou. Jan van Tonder gee konteks en agtergrond. Hy dink diep oor onskuld, verlore onskuld, verduidelik oor die fisieke moontlikheid, al dan nie, van dáárdie toneel op die kameel se rug en kom tot die slotsom dat “selfs ’n wasgoeddraad” vir ’n tiener sal kan werk. Ek leen hom my pen, ons neem paar foto’s, ruil boeke uit en hy deel vere uit wat as bladwysers kan dien.
Pat Kramer is nie ’n persoon vir fiksie nie, deel sy die gehoor mee. Sy soek kliniese feite, en haar Corbelled houses of the Karoo stel nie teleur nie. Ongelukkig sukkel sy om die hele aanbieding in die verkorte tyd ingepas te kry.
Die twee laaste segmente vul ek en China Mouton. Mouton se Tronkhond vertel die storie van ’n geweldadige bestaan agter tronkmure, hoe jy probeer om staande te bly in ’n omgewing waar die wreedste, onmenslikste dade gepleeg word, hoe mens en dier saam ’n linie moet vorm teen geweld, hoe perde hom weer mens gemaak het, hom gehelp het om die oneindige stres van sy loopbaan te hanteer en te verwerk. Hy brei uit oor die kennismaking met Nelson Mandela, hoe hy die bewaarders aangemoedig het om verder te studeer, nooit sy politiek of ideologie op hulle probeer afdwing het nie, ook van ’n tydperk (rondom 1974) toe daar algemeen aangeneem is dat Mandela nooit ooit Suid-Afrika buite die tronkmure sou beleef nie.
10.
En dan is dit verby. Die boeke word ingepak – dit lyk asof verkope effe tam was vanjaar? Ondanks ’n gevoel dat vanjaar se fees as gevolg van finansiële druk moontlik die laaste sou kon wees, lyk dit tog asof dit nie die geval sal wees nie. Met die nodige welwillendheid van almal betrokke behoort daar weer volgende jaar ’n lekker BookBedonnerde paar dae op Richmond voor te lê. As jy nog nie hier was nie, wel …
11.
Die basaar is aan die gang. Later sien ek hoe vermorsel Engeland die gunstelinge. Niemand treur juis nie. Die strate is vol inwoners, draadkarre, straatmyl, deelnemers aan ’n straatmyl, dansers en vertoners. Dit is lekker om te lewe; al is die lewe soms swaar, is dit tog soms ’n fees.
12.
Sondag reis ons terug. Op Middelburg maak ons dit net-net vir die rugby by ’n plaaslike hotel. Op ’n stadium lyk dit asof die Springbokke, net soos soveel politici, daardie ongebreidelde welwillendheid van die publiek deur hulle agterente gaan trek, maar hulle wen – uiters slordig.
Maar, die laaste woorde behoort weer aan Pamuk – dit is immers waaroor hierdie paar dae werklik gegaan het: “A writer is someone who spends years patiently trying to discover the second being inside him, and the world that makes him who he is: when I speak of writing, what comes first to my mind is not a novel, a poem, or literary tradition, it is a person who shuts himself up in a room, sits down at a table, and alone, turns inward; amid its shadows, he builds a new world with words.”
Kommentaar
Die fabriek van woorde. Te mooi