BookBedonnerd XII: ’n onderhoud met Darryl David

  • 1

BookBedonnerd XII vind van 23 tot 26 Oktober in Richmond plaas. Naomi Meyer het met die feesorganiseerder, Darryl David, gesels. 

Darryl David

Darryl, dis tyd vir die Richmond-fees. Jy, die cowboy wat feeste orals in die Wilde Weste reël ... wat maak vir jou hierdie fees so besonders?

Richmond, Naomi, is waar dit alles begin het. Soos mense wat altyd hul eerste soen, of eerste “crush” nooit vergeet nie, is Richmond my eerste feesbaba. As sy nie die naam BookBedonnerd gehad het nie, sou ek haar Sprokie gedoop het. Want ’n mooier sprokie gaan jy sukkel om te vind: ’n vergete dorp, sonder enige potensiaal vir toerisme, en hier kom ek met die mal idee van ’n boekedorp. En dit werk! En dit word boonop ’n reusesukses! Hierdie fees, Naomi, het “hart” – dis sonder fieterjasies. Dis ’n fees waar skrywers hulle eie boeke smous. En dis ’n fees waar ’n mens unieke boeke sal ontdek. Dit – en veel meer – is wat ook BookBedonnerd so spesiaal maak.

Foto: Clinton V du Plessis

Wie is vanjaar by die fees?

Groot name soos Charl-Pierre Naudé (Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey), dalk die vonds van die jaar; Ena Jansen (Like family); Clinton du Plessis (Verslag); China Mouton en sy boek Tronkhond, wat op almal se lippe is.

Dan is daar die politieke skrywers soos James Brent Styan wat vier keer op die program gaan verskyn met sy boeke oor Eskom, Steinhoff en die Bosasa-skandale. En sy biografie oor Chris Barnard. En die bekende kommentator Jan-Jan Joubert. Daar is darem ook ’n paar Ingelsmanne! Soos Athol Williams, een van my gunsteling- Engelse digters. Terloops, Athol bel my gisteraand om te se hy kan dit ongelukkig nie maak nie, as gevolg van die hele Bain-skandaal. Peter Baker sê toe vir my: “Gee vir my sy selfoonnommer.” Ek plaas intussen iets op Facebook oor Richmond. En vroeg vanmôre kry ek wragtig ’n boodskap van Athol – hy gaan kom! Dis die effek wat Richmond op mense het. Dis ’n fees met gees.

En dan, Naomi, is daar baie skrywers wat hul boeke vir die South African Independent Publishers Awards ingeskryf het op die program. Die wenners gaan Donderdagaand by die groot galageleentheid aangekondig word. En ek kan met trots noem: Daar is ’n hele paar juwele onder hulle. Ek gaan niks verder verklap nie!

Charl-Pierre Naudé, Ena Jansen en Athol Fugard

Hoekom pak jy dit elke jaar aan? Word jy nie moeg hiervoor nie?

Moeg? Nooit nie. Maar Naomi, ek voel so skuldig. Die cowboy het hierdie jaar van sy perd afgeval. Ek sit nou in die Kaap terwyl die fees aan die gang is. My Groot Trek (in die teenoorgestelde rigting) na die Kaap, en veral die feit dat my dogter vandag met haar matriekeksamen begin, beteken dat ek hierdie jaar se fees moet misloop. BookBedonnerd het begin toe my dogter met graad 1 begin het. Sy het omtrent elke jaar die fees saam met my bygewoon. Nou moet ek daar vir haar wees. Ek het egter alles gereël. Inligting oor die skrywers vir die aanbieders, akkommodasie, die SA Independent Publishers-toekennings – maar mense en die skrywers moet my hierdie jaar verskoon. Dis ‘n kwessie van prioriteite. Ek verlang so baie na Richmond terwyl ek vanaf UWK hierdie onderhoud tik. But the show must go on!

Niks is tog gratis nie. Waar kry jy die geld hiervoor?

Ons kry befondsing (gewoonlik) van die Noord-Kaap Departement Kuns en Kultuur. Ongelukkig, met ’n nuwe ANC regering in die Noord-Kaap, het hulle ons befondsing afgesny. Gelukkig het ons ’n bietjie geld vir so ’n dag weggesit. Maar dis nie naastenby genoeg nie. Ons moes na ons borge gaan en vra of hulle ons vir een jaar kan uithelp – in die hoop dat ons iets in 2020 kan uitsorteer. En omdat ons ’n goeie verhouding met hierdie mense opgebou het, het hulle ingestem om ons uit te help. Dit is wat my hart so seer maak, Naomi – dat ek dalk die laaste BookBedonnerd gaan misloop. Ons was egter al voorheen in so ’n posisie – en het dit oorleef. Ons moet maar net bid ... ’n (woorde)boer maak ’n plan! Veral as hy ’n Indiër is!

As enigiemand nog op die laaste nippertjie wil gaan, laat weet asseblief ’n paar praktiese dinge - wat kos dit, waar kan mense bly, waar word dit aangebied in die dorp?

Hoeveel kos dit? Al ons lesings is GRATIS. Akkommodasie? Skryf vir my op ddavid@uwc.ac.za. Ek sal vir mense slaapplek vind vir R300–400 pppn. Waar vind dit plaas? Parkeer net in die omgewing van die NG Kerk. Ons is oorkant die kerk in die ou biblioteek. 

Booktown Richmond, BookBedonnerd XII: full programme

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Soos in die geval van die Universiteit Stellenbosch, kan 'n mens op die ANC staatmaak dat hy Afrikaans sal saboteer wanneer die geleentheid hom ook al voordoen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top