Promosie: Reis met rys

  • 0

Hierdie is ’n promosie-artikel en die inhoud word deur Spekko betaal.

Ek is baie lief vir rys en sal my siel vir ’n lekker risotto verkoop. Lekker Italiaans en ghrênd met Arborio-rys. Maar deesdae trek my hart met ’n punt na ’n doodgewone rysdis, ’n kitsery (kedgeree) verkaaps met geroosterde snoek.

My reis met rys het glad nie baie gesofistikeerd begin nie. In die Karoo het ons nie van ander soorte rys geweet nie. Dit was die heerlike pot spierwit rys op my ouma se koolstoof – dáár het my liefde begin.

Sommer nog voor ete het ek bakkie in die hand gaan staan en bedel en in ’n hoekie gaan sit waar ek die rys, net so, lepeltjie vir lepeltjie sit en eet het. Ek onthou elke mondjievol nog asof dit gister was.

En toe ek eers self begin kook, was rys byna vanselfsprekend deel van die ete. Jy kan tog nie bredie eet sonder rys nie? Kerrie en rys. Bobotie en geelrys. En wat is meer verkwikkend op ’n warm somersdag as ’n lekker rysslaai wat eintlik groen is van al die vars kruie?

........
Noem maar op – daai lekker Chinese gebraaide rys met die repies eier, breyani, kitsery, pilaf, risotto ... ai, die risotto ...
........

Noem maar op – daai lekker Chinese gebraaide rys met die repies eier, breyani, kitsery, pilaf, risotto ... ai, die risotto ...

Ek moes jare gelede my verstandtande laat verwyder. ’n Pynlike storie. En almal het my gewaarsku oor die moets en moenies – dun sop is jou voorland, sussie! Maar hulle ken nie my geskiedenis nie.

My oupa, wat nooit in sy lewe met ’n gewigsprobleem gesukkel het nie, het geglo hy is besig om te sterf as hy nie kan eet nie. My ma, dodelik siek met ’n maagvirus en deur die dokter verbied om enigiets te eet, het uitgeglip tuin toe en die hele ertjie-oes gaan verorber terwyl ons aan die etenstafel gesit en ’n stille gebedjie opgesê het vir die arme vrou wat nie mag saameet nie.

Ek het goed begin. Met so ’n vernielde mond kan jy ook nie anders nie. Ek het ’n lekker dun sop geëet en so saam met die pynpille opgeslurp. Maar dié goeie voornemens en voorbeeldige gedrag het net ’n dag lank gehou.

Ek kon nie langer na my maag se gegrom luister nie. Toe sleep ek met mening my ysterpot nader en kook die lekkerste sampioenrisotto. Ek het my destyds ook eers laat afskrik deur al die moete en moenies en al die gehoeha rondom die hele storie. Maar toe ek eers my eerste potjie gemaak het, was daar geen keer aan my nie.

Hulle sê risotto maak is soos om te leer fiets ry – dit neem ’n bietjie oefening en daarna verg dit heelwat konsentrasie. Goed om die aandag van die pyn af te lei. Ek het my met ’n sug van bevrediging gaan neerplak met my bakkie risotto voor my en weggelê.

Die welbehaaglikheid het gou die wyk geneem toe ’n ryskorrel in die gat waar my verstandtand eens was, beland het. Ek het byna gevrek van die pyn. Maar, het ek agterna gedink, dit was oor en oor die moeite werd.

In die vyf jaar wat ek na my ma, ’n demensielyer, gekyk het, moes ek baie versigtig wees om nie rys op die tafel te sit nie. Die boodskappe van die brein na die slukspiere het nie altyd so goed gewerk nie en my ma het met feitlik elke maaltyd aan die stik gegaan.

Rys was taboe, maar elke keer wanneer sy in die hospitaal moes oornag of ’n paar dae daar moes bly, het ek die bietjie vryheid met ’n pot rys gevier. Of ’n lekker ryspoeding.

Dis nogal vreemd – praat van ryspoeding en jy kry mense wat jou aankyk asof jy geen klas het nie, so asof jy van hospitaal- of koshuiskos praat. Maar dan is daar ook dié wat so ’n veraf uitdrukking in die oë kry en, soos ek, met heimwee begin praat oor ouma se kombuis.

Ek het hardop gegiggel toe ek ’n paar jaar gelede lees van die paar ouens in New York wat die dollars met eenvoudige ryspoeding laat inrol het. Toegegee, hulle het met ’n menigte verskillende geure geëksperimenteer. Maar ryspoeding bly ryspoeding. Of hoe?

Peter Maceo jr en ’n “stil vennoot”, oor wie hy baie geheimsinnig was, het met die 24 verskillende geure ryspoedings van Rices to Riches, hul winkeltjie in Springstraat, New York, feitlik oornag ’n poedingrevolusie veroorsaak.

Almal het gegis oor dié heer Maceo en sy vennoot, of vennote. Veral toe hy destyds so ’n bietjie probleme opgetel het oor sy beweerde betrokkenheid by dobbelbedrywighede. Maar agterdog het niemand van hul poedingwinkel weggehou nie

’n Besoekende kosresensent van Los Angeles het destyds geskryf: “Gelukkig is daar nie ’n Rices to Riches in my tuisdorp nie. Ek sou dit nooit oorleef het met so ’n versoeking so naby nie.”

Vandag, meer as twee dekades later, bestaan Rices to Riches nog, Hulle het intussen uitgebrei na nog ’n winkel, dié een in Rivingtonstraat, ook in New York. En hulle eksperimenteer steeds met nuwe geure met die wonderlikste name: The edge of rum raisin, Sex drugs and rocky road, Be my banana coconut, Coconut coma, Fluent in French toast, Oreogasm, Chocolate chip flirt ... en nog baie meer in dieselfde trant.

Ek was ’n paar keer in New York, maar ek het nooit kans gehad om meneer Maceo se ryspoedings te proe nie. Ek twyfel egter of hy my so sou kon betower het dat ek van my eerste liefde sou vergeet – ’n doodeenvoudige ryspoeding, subtiel gegeur met regte, egte rooswater.

So van betowering gepraat: Ek moes ’n jaar of wat gelede twee belangrike kliënte uit Gauteng onthaal. Dit was ’n vroeë ontbyt op ’n wintersoggend en ek wou hulle met iets eg Kaaps bederf.

Ek het brood gebak en dit warm uit die oond op die tafel gesit – net botter en hanepootkonfyt. Die hoofattraksie was ’n ontbytskottel, ’n kitsery wat ek van geroosterde snoek gemaak het.

........
’n Kitsery is eintlik baie Brits. Iemand het eenkeer spottend daarna verwys as ’n Britse breyani. Gewoonlik word dit met skelvis gemaak. Maar ek het hierdie Britse dis verkaaps met my snoek wat ek eers in die oond gerooster het.
........

’n Kitsery is eintlik baie Brits. Iemand het eenkeer spottend daarna verwys as ’n Britse breyani. Gewoonlik word dit met skelvis gemaak. Maar ek het hierdie Britse dis verkaaps met my snoek wat ek eers in die oond gerooster het.

Ons het heel gesellig by die tafel kom aansit, maar toe raak dit byna bonatuurlik stil. Ek het gewonder of ek ’n oordeelsfout gemaak het met die kos. Toe nie – daar het nie ’n korreltjie rys op hul borde oorgebly nie.

Hulle het die vorige aand by ’n hoog aangeskrewe restaurant gaan eet, vertel hulle toe, en gehoop om ’n werklik spesiale koservaring te beleef. Die voorgeregte kon nog gaan, maar die hoofgereg was, volgens hulle, oneetbaar.

En hier, sê hulle toe, kom sit hulle by my ontbyttafel aan en hulle kry die koservaring waarop hulle gehoop het. In hierdie skotteltjie rys met gevlokte, geroosterde snoek, liggies gekerrie en gespeser

Karen se snoekkitsery

Vir die geroosterde snoek

1 kg heel snoek, oopgevlek
sout en varsgemaalde swartpeper
6 eetlepels botter
4 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
½ koppie fyn appelkooskonfyt
2 eetlepels blatjang
¼ koppie hoenderaftreksel
gerasperde skil van 1 suurlemoen
’n groot hand vol koljanderblare, fyngekap

Vir die kitsery

2 eetlepels botter
1 eetlepel olyfolie
3 uie, fyngekap
1 rooi brandrissie
1 van elk rooi, groen en geel soetrissie, pitjies en wit gedeeltes verwyder en in repe gesny
1 opgehoopte eetlepel matige kerriepoeier
die bedruipmengsel (hier bo) wat oorgebly het nadat die snoek daarmee bedruip is
2 koppies Spekko-langkorrelrys
2 teelepels sout
5 koppies hoenderaftreksel
varsgemaalde swartpeper
4 hardgekookte eiers, in skyfies gesny
’n hand vol gekapte vars koljanderblare.

Rooster die vis: Plaas die snoek, oopgevlek met die velkant na onder, op ’n bakplaat met ’n effense randjie en geur met sout en peper. Smelt die botter in ’n kastrol oor matige hitte en voeg die knoffel, brandrissie, appelkooskonfyt, blatjang en aftreksel by. Bring tot kookpunt en laat vir 5 minute kook. Haal die kastrol van die hitte af en roer die koljander en suurlemoenskil by. Bedruip die snoek met dié mengsel en hou die res eenkant vir die kitsery. Plaas die snoek in ’n voorverhitte oond van 200 ºC en bak vir 20 minute. Verhit die oondrooster tot hoog en rooster die vis vir 3–5 minute en hou goed dop dat dit nie brand nie. Haal die vis uit die oond en laat afkoel totdat dit hanteerbaar genoeg is om te vlok en al die vel en grate te verwyder. (Sterkte daarmee!)

Maak die kitsery: Smelt die botter in ’n swaarboompot en voeg die olie by. Braai die ui daarin tot sag en deurskynend. Voeg die brandrissie by en braai nog ’n minuut of twee voordat jy die soetrissierepe byvoeg. Roer die kerriepoeier en die res van die bedruipmengsel by. Voeg die rys en sout by en roer sodat dit goed bedek is met die panmengsel. Braai vir ’n minuut of twee saam. Giet die aftreksel by en laat dit so onbedek prut vir 20 minute of totdat die vloeistof byna heeltemal weggekook het. Roer die gevlokte snoek by en maak deurwarm. Proe of die sout voldoende is en geur met ’n bietjie varsgemaalde swartpeper. Roer die koljander deur. Skep in ’n mooi opdienskottel en garneer met die eierskyfies.

So ’n ou rysskotteltjie is genoeg om enige Gautenger op aandag te laat staan en hand op die bors “My hart verlang na die Boland” te laat sing.

Kapenaars ook.

Lees ook:

Winterkokon en pastavelle: avonture met lasagne

Die lekker lewe – koffie en lamsboud

Koningskos uit ’n knoetserige ou knol – patat-en-tiemie-sop

Botterhoender met maan en musiek

Bekbrandrissiepot vir Valentynsdag

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top