Regsalmanak: Shangri-la – Onrus op ’n laaste rusplaas

  • 1

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ’n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.         

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Regsalmanak: Skuldlose aanspreeklikheid van ’n werkgewer
Regsalmanak: Die Kruger-monument
Regsalmanak: Oorlogspraatjies, terwyl vredeliewendes net wou stem
Regsalmanak: Die “Vuurrooi Draak” se swanesang – toe nié
Regskoste: die sleutel tot ’n einde aan speletjies in die howe
• Regsalmanak: Padwoede is nie die "nuwe normaal" nie 
 • Regsalmanak: Konstitusionele hof – die howe is nie die beste plek om kerklike geskille te besleg nie
• Regsalmanak: Caveat subscriptor

Op 5 Februarie 1951 het regter Van Zyl van die Kaapse hooggeregshof ’n uitspraak gelewer in ’n sonderlinge geskil oor die verkoop van ’n lappie aarde in die Bellville-distrik (Wes-Kaap). –

Die koopsaak was ’n plaas met die mooiklinkende naam Shangri-la – nie te groot nie, slegs maar 1,8753 morg (in metrieke terme ’n raps meer as 1,6 hektaar).

Ek het die naam gegoogle. Shangri-la beteken glo (in Google-Engels) “an imaginary paradise on earth, especially a remote and exotic utopia”.

Ook: “a remote beautiful imaginary place where life approaches perfection”.

As ek die feite van die geskil vir jou vertel, sal jy seker dink die naam is ’n bisarre toespeling daarop. Ander mense sal straks weer dink dit is ’n heel gepaste naam.

’n Sekere mnr Dibley het in 1948 die stukkie grond van ene mnr Furter gekoop vir die destyds nogal aardige bedrag van £5 250 (R10 500). Daar was ’n woonhuis en ’n put op die grond en die koper wou permanent daar gaan woon en op die grond boer.

So gesê, so gedaan.

’n Ruk nadat Dibley in die woonhuis ingetrek het, het hy besoek ontvang van ’n vriend wat hom gevra het of hy wéét dat die lappie aarde eintlik ’n begraafplaas was. By nadere ondersoek het dit oplaas geblyk dat daar minstens 80 ou grafte op die plasie was. Die laaste begrafnis daar was in 1944 – dws ’n skrale vier jaar voordat die plaas van eienaar verwissel het. (Nou wonder ek of die plaas nie straks sy naam gekry het juis weens die laaste, vredevolle rusplekke van talle gestorwenes nie.)

Ek gebruik die verlede tyd (daar wás grafte op die plaas), want toe Dibley dit voor die sluit van sy transaksie met die verkoper gaan deurkyk het, was daar geen teken daarvan nie. Dit is omdat die verkoper ’n ruk voordat Dibley as ’n moontlike koper op die toneel verskyn het, die aarde gelyk gemaak het en alle tekens van die voormalige begraafplaas mooitjies verwyder het.

Die koopkontrak het die gebruiklike voetstootsklousule bevat, maar Furter het opsetlik versuim om vir Dibley van die bestaan van die grafte in te lig. Onthou: al was die oppervlakkige getuienis van die begraafplaas uitgewis, was die grafte en die stoflike oorskot van die heengegane mense nog steeds dáár. Die reg verbied ’n verkoper om agter ’n voetstootsklousule skuiling te soek as hy op ’n bedrieglike wyse sekere wesenlike tekortkominge in die koopsaak van die koper weerhou het.

Die nuus het Dibley só ontstel dat hy Furter dadelik daaroor gaan konfronteer het. Furter was in ’n hoek: hy kon nie die bestaan van die grafte ontken nie, maar het wel die aantal in dispuut geplaas: daar was net 25, was sy weergawe. In die latere hofsaak het die regter beslis dat die getal nader aan 80 as 25 was.

Ja, daar was uiteindelik ’n hofsaak, want Dibley het ’n kansellasie van die koop geëis en wat daarop sou volg: teruglewering aan Furter van sy begraafplaas-plaas in ruil vir die koopprys. Dibley het ook skadevergoeding ten bedrae van £352 geëis.

Furter het die saak verdedig.

Die grondslag van Dibley se eis was die sogenaamde actio redhibitoria – ’n gemeenregtelike aksie vir die kansellasie van ’n koopkontrak waar daar ’n wesenlike gebrek in die koopsaak – in dié geval, die plaas – is.

In ’n uitspraak wat ’n besonder deeglike ondersoek na die gemenereg behels,1 kom regter Van Zyl tot die gevolgtrekking dat die aanwesigheid van die grafte op die plaas tog nie die nut daarvan wesenlik geraak het nie: Die huis kon immers ongestoord bewoon word, en die grond kon steeds doeltreffend omgeploeg en bewerk word. Daar was ook nie getuienis om Dibley se bewering te staaf dat die aanwesigheid van soveel grafte die gehalte van die ondergrondse water – en dus die put – negatief sou raak nie.

Die regter beslis oplaas – tereg meen ek – dat Dibley se eis op hierdie basis moes misluk.

Dibley het egter ’n ander, doeltreffender, pyl in sy regskoker gehad: Furter se bedrieglike optrede tydens die onderhandelings. Die regter beslis dat laasgenoemde gewéét het dat sou hy oop kaarte met Dibley speel, Dibley omtrent vir seker nie die plaas sou koop nie. Trouens, dit is onwaarskynlik dat enige normale mens nog daarin belang sou stel.

Dibley het in sy alternatiewe eis dus nie gesteun op ’n gebrek in die koopsaak nie, maar op sy nuutverworwe kennis van die geskiedenis van die plaas. Die aanwesigheid van so iets soos ’n begraafplaas op ’n stuk grond was so buitengewoon, sê die regter, dat dit nie geïgnoreer kan word nie.

Furter se bedrog – want dit is waarop dit neergekom het – het Dibley mislei om die plaas te koop, en dit was voldoende om aan hom die regshulp te verleen wat hy aangevra het.

Regter Van Zyl het gevolglik sy eis om kansellasie van die koopkontrak en wedersydse teruglewering van die plaas en die koopprys beveel. Die regter het ook skadevergoeding ten bedrae van £250 (R500) aan Dibley toegestaan, wat grotendeels bestaan het uit die kostes om die bedrieglike transaksie ongedaan te maak: oordragkostes, edm.

Furter is ook beveel om Dibley se klaarblyklik aansienlike regskostes te betaal. Hy het hom daarbenewens ook skuldig gemaak aan ’n gemeenregtelike misdryf: grafskending.2 Of hy ooit daarvoor vervolg is, weet ons nie.

’n Inskrywing in die hofuitspraak wat ek nogal interessant gevind het, is dat Furter se prokureurs in die saak die firma Haak en Marais van Bellville was. Ek het min twyfel dat dit die firma was van Jan Haak (1918–1993) wat later die kiesafdeling Bellville in die Volksraad verteenwoordig het en in die Verwoerd- en Vorster-kabinette gedien het. In 1961 het hy adjunkminister van ekonomiese sake, mynwese en beplanning geword, en in 1967 minister van ekonomiese sake.

In 1970 het Haak egter in die fleur van sy loopbaan bedank en uit die politiek getree ná ’n bohaai oor ’n Landbanklening wat hy bekom het om ’n plaas te koop. “Toe dit aan die lig gekom het, is politiek daarvan gemaak,” het hy in ’n latere koerantonderhoud vertel. Hy kon aangebly het “as ek wou”, het hy bygevoeg, want later het dit aan die lig gekom dat ander mense in die openbare lewe ook sulke lenings bekom het.

Dit was nog die goeie ou dae toe ’n kabinetsminister sy goed gevat en geloop het wanneer dit geblyk het dat hy iewers nie alte eties opgetree het nie.

1 Dibley v Furter 1951 (4) SA 73 (C)

2 Sien Burchell, Jonathan: Principles of Criminal Law (Juta, 5de uitgawe, 2016), hoofstuk 65: Crimes against community interests. Vgl ook onder meer art 36 van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne, 25 van 1999.

  • 1

Kommentaar

  • Gustaf

    Ek lees al jou bydraes. Ek geniet dit so baie. Hulle bly beide vermaaklik asook leersaam.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top