Regsalmanak: Konstitusionele hof – die howe is nie die beste plek om kerklike geskille te besleg nie

  • 2

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ’n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.         

Die onlangse besluit van die buitengewone vergadering van die algemene sinode van die NG Kerk dat die huwelik “’n heilige en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou (is) en dat enige seksuele gemeenskap buite so ’n vaste formele huweliksverbintenis nie aan Christelike riglyne voldoen nie” het – voorspelbaar – ’n energieke reaksie uit verskillende oorde ontlok. Dit is omdat die sinode in 2015 net mooi ’n teenoorgestelde besluit geneem het, toe selfdegeslaghuwelike in beginsel erken is.

Volgens die algemene sekretaris van die kerk het die 2015-besluit “meer as 130 appèlle, gravamina en beswaarskrifte”, wat sowat 700 bladsye beloop, tot gevolg gehad.

Die kerk se moderamen het, nadat die 2015-besluit so ’n storm ontketen het, besluit om dit op te skort. Maar toe daar ernstige druk, gegrond op gewigtige regsmenings, teen dáárdie stap gekom het, is die opskorting weer opgehef.

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Regsalmanak: Skuldlose aanspreeklikheid van 'n werkgewer
Regsalmanak: Die Kruger-monument
Regsalmanak: Oorlogspraatjies, terwyl vredeliewendes net wou stem
Regsalmanak: Die “Vuurrooi Draak” se swanesang – toe nié
Regskoste: die sleutel tot ’n einde aan speletjies in die howe
Regsalmanak: Padwoede is nie die "nuwe normaal" nie 

Die kerkleiers is daarna beskuldig dat hulle hul voete gesleep het om die nodige stappe te doen om predikante in staat te stel om selfdegeslaghuwelike wettiglik te mag bevestig.

Die volgende fase in die drama was dat ’n buitengewone vergadering van die algemene sinode op 9 November die besluit oor die aard van die huwelik (soos hier bo aangehaal) met ’n oortuigende meerderheid geneem het.

’n Slim strategie – sommige mense sou sê dit was ’n onderduimse strategie – is gevolg om die 2015-besluit oor selfdegeslaghuwelike uit die weg te ruim: ’n “appèlliggaam” van die kerk het kort voor die buitengewone vergadering van die algemene sinode eenvoudig beslis dat daar “tegniese tekortkominge” was met die neem van die 2015-besluit en dat dit gevolglik ongeldig was. Geen bespreking oor dié ingrypende wending is tydens die buitengewone sinodesitting toegelaat nie.

Of dit regtens houdbaar was om die 2015-besluit – wat immers geneem is deur die kerk se hoogste besluitnemingsliggaam – aan ’n appèlprosedure te onderwerp, laat regsgeleerdes nogal frons. Straks gaan dít uiteindelik die onderwerp word van ’n hofgeding, waarvan die uitkoms natuurlik onvoorspelbaar is.

Net mooi ’n jaar gelede, op 24 November 2015, het die konstitusionele hof uitspraak gelewer in ’n saak wat ook met selfdegeslaghuwelike verband hou.[1] ’n Geordende predikant van die Metodistekerk, Ecclesia de Lange, het haar Kaapse gemeente ingelig dat sy van voorneme is om met haar selfdegeslaglewensmaat in die huwelik te tree. Vantevore het hul lank saamgewoon – ’n feit waarvan die gemeente deeglik bewus was.

Die Metodistekerk erken (soos deesdae dus ook die NG Kerk) slegs huwelike tussen heteroseksueles. Gevolglik is De Lange aan ’n dissiplinêre tugproses onderwerp, waarna haar dienste as predikant van die kerk prakties beëindig is: sy het haar geordende status behou, dog sonder ’n gemeente en sonder enige vergoeding.

De Lange het intussen met haar lewensmaat getrou, maar – ek vermeld dit bloot volledigheidshalwe – hul het sedertdien in ’n stap vol ironie geskei.

’n Appèl teen die besluit van die kerklike tugliggaam om De Lange prakties te ontslaan, was onsuksesvol.

Die kerkorde van die Metodistekerk bepaal dat ’n besluit van ’n tugliggaam aan arbitrasie onderwerp kan word, en De Lange het besluit om dié roete te volg. ’n Arbitrasie-ooreenkoms is gesluit, maar voordat die verhoor kon begin, het sy haar om ’n klomp redes tot die hooggeregshof gewend om die arbitrasie-ooreenkoms tersyde te stel.

Ingevolge die bepalings van die Arbitrasiewet het ’n hof wel daardie mag, mits ’n “goeie rede” vir die tersydestelling van ’n arbitrasie-ooreenkoms bewys word.

De Lange het terselfdertyd die hooggeregshof gevra om die Metodistekerk se besluit om haar dienste te beëindig as ongeregverdigde diskriminasie te verklaar.

In ’n vreemde wending het sy lateraan dié aspek van haar saak laat vaar.

Die hooggeregshof het téén De Lange beslis: sy het nie daarin geslaag om te bewys dat daar ’n goeie rede bestaan het vir die tersydestelling van die arbitrasie-ooreenkoms nie.

De Lange het daarna ook in die appèlhof ’n bloutjie geloop, waarna sy aansoek tot die konstitusionele hof gedoen het om verlof om teen die beslissing van die appèlhof (dat sy haar nie aan die arbitrasie-ooreenkoms kon onttrek nie) te appelleer.

Sy het terselfdertyd haar eis dat die kerk se besluit om haar te ontslaan op grond van haar selfdegeslaghuwelik ongeregverdigde diskriminasie was, laat “herleef”.

Prakties het dit daarop neergekom dat die konstitusionele hof gevra is om as hof van eerste instansie oor dié aangeleentheid te beslis. Dit is iets wat bitter selde toegelaat word. Die hof het – by monde van adjunkhoofregter Moseneke – ’n stokkie daarvoor gesteek: De Lange moes haar eerder tot die gelykheidshof gewend het, en as sy dáár nie tevredenheid kon kry nie, kon sy probeer het om oplaas deur die konstitusionele hof aangehoor te word.

Die hof het ook beslis dat daar geen vooruitsig was dat hy anders sou beslis as die appèlhof ivm die arbitrasiekwessie nie; gevolglik is me De Lange uiteindelik ook in ons land se hoogste hof die deur gewys.

Een ding is duidelik: die hof se beslissing het nié gehandel oor die Metodistekerk se leer dat die huwelik ’n instelling uitsluitlik vir heteroseksuele paartjies is nie. Waaroor die hof uiteindelik moes beslis, was in hoofsaak twee punte van ’n “formele”, ’n “tegniese” aard: of die arbitrasie-ooreenkoms tersyde gestel moes word, en of De Lange toegelaat moes word om die gelykheidshof te systap mbt wat sy as ongeregverdigde diskriminasie deur die Metodistekerk ervaar het.

Op al twee punte het sy verloor.

Maar hier is die belangrike subteks van die uitspraak: die hof wil dit tot elke prys vermy om betrokke te raak by dispute oor kerklike leer.

In ’n afsonderlike uitspraak het regter Van der Westhuizen hierdie aspek skerpsinnig só verwoord:

It is of course one thing to say that the Constitution with its values and rights reaches everywhere, but quite another to expect the courts to make rulings and orders regarding people's private lives and personal preferences … The closer courts get to personal and intimate spheres, the more they enter into the inner sanctum and thus interfere with our privacy and autonomy.

Die howe, sê die geleerde regter, is normaalweg plekke waar dispute besleg word. Litigasie, soos ons dit ken, het gewoonlik ’n wenner en verloorder tot gevolg.

En dan vra hy ’n belangrike vraag:

Is it contradictory to say that the Constitution does have a role to play in every sphere, but that we do not want a court to intrude into private spaces with the bluntness of its orders? After all, the Constitution is law; we mostly want law to be enforceable; enforcement is important for the rule of law, because unenforceable law can hardly “rule”. The Constitution is more than law, however. It is the legal and moral framework within which we have agreed to live. It also not only leaves, but guarantees space to exercise our diverse cultures and religions and express freely our likes, dislikes and choices, as equals with human dignity. In this sense one could perhaps talk about a “constitutionally permitted free space”. This is quite different from contending that certain areas in a constitutional democracy are beyond the reach of the Constitution, or “constitution-free”.

In die De Lange-saak, sê regter Van der Westhuizen, was dit nie vir die hof nodig om op bogemelde ingewikkelde vrae antwoorde te gee nie. Dit is egter ’n aanduiding van die kompleksiteit van strydpunte wat sake van dié aard na vore kan bring.

Terug na die NG Kerk se verdelende stryd oor selfdegeslaghuwelike: die howe is klaarblyklik nie die plek om oor die kerk se leer swaarde te loop kruis nie, selfs al beroep die betrokkenes hul op die Grondwet en voer hulle – soos Ecclesia de Lange – aan dat die kerklike leer in stryd is met byvoorbeeld die gelykheidsbeginsel van die Grondwet.

Dit is duidelik dat daar talle lidmate van die NG Kerk is wat (moontlik met goeie reg) ontevrede is oor die buitengewone algemene sinode se U-draai oor selfdegeslaghuwelike. Hul mág straks slaag met ’n hofstryd oor die geldigheid van die sogenaamde appèlliggaam wat die besluit van 2015 ongedaan gemaak het. Dít mag op sy beurt weer die geldigheid van die jongste besluit van die buitengewone algemene sinode in gedrang bring.

Maar as die howe uiteindelik beslis dat die 2015-besluit bly staan, waar sal dit die kerk laat? Skeuring? Bes moontlik.

Dit lyk egter of daar ’n ander uitweg is: die jongste besluit van die algemene sinode word in die eerste klousule soos volg gekwalifiseer:

Die Algemene Sinode besluit om die saak van selfdegeslagverhoudings met groot omsigtigheid te benader en om nie standpunte op gelowiges en gemeentes af te dwing waarvan die Gees die gemeentes nie oortuig het nie.

Dit onderskryf ’n gewilde siening dat die NG Kerk in die eerste plaas nie ’n “sinodekerk” is nie, maar ’n “gemeentekerk”.

Volgens persberigte is daar gemeentes wat juis op grond van bogemelde kwalifikasie van die 2016-besluit reeds ’n ander rigting as die (buitengewone) algemene sinode inslaan, en juis die 2015-besluit eerbiedig.

Dit lyk dus of daar in die NG Kerk onderskei gaan word tussen “gayvriendelike” gemeentes en gemeentes wat hul agter die 2016-besluit gaan skaar.

Dit is ’n interessante verwikkeling, wat weer nie sonder sy regs- en etiese probleme gaan wees nie.

[1] De Lange v Methodist Church and Another 2016 (2) SA 1 (CC)

  • 2

Kommentaar

  • Marietjie le Roux

    Hoekom het ek die knaende gevoel dat hierdie 'n poging is om die kerk van binne te rysmier en hoekom word net die NG Kerk geteiken? Homoseksualime word in dieselfde asem as 'n rits ander sondes genoem. Tog word dit uitgesonder as aanvaarbaar en word ons gemanupuleer om ons goedkeuring te verleen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top