...
Snaaks hoe hulle nooit die Bybel aanhaal wanneer mense voor hulle spek eet nie, want dit word ook mos verbied.
...
Ek is seker daar is baie mense daarbuite wat bly is dat die reënboog nie meer in hulle kele afgedruk word nie. Snaaks, ek kan onthou hoe my ma op ’n dag iets baie soortgelyks gesê het oor ’n haarkapper wat sy op ’n dag besoek het.
“Wees gay, maar moenie dit by my keel afdruk nie.”
Ek en my ma praat nie oor diep dinge nie. In ware Afrikaner-styl bespreek ons die weer, kos, misdaad en dan gaan ons huis toe. As jy gelukkig is, hoor jy dalk ’n padaanwysing of twee (en dit is nog meer vervelig as die eindelose misdaadpraatjies) of dalk die nuutste skinderstorie wat die huishulp gedeel het. Darem was my oom op hierdie betrokke dag ook aan tafel. Hy vertel toe vir my ek moet Glamorous op Netflix kyk.
Een van die dinge wat die maatskappy in Glamorous kamma gaan red, is hulle Pride-veldtog. Die eerste poging tot ’n Pride-veldtog was ’n totale mislukking. Dit daar gelaat, want dit is werklik genotvolle kykstof en ek beveel dit beslis aan. Dit laat my wel wonder of sommige mense sou dink Glamorous druk Pride by ’n mens se keel af.
Pride-maand is verby. Die reënboogvlaggies, -sokkies en ander tierlantyntjies wat diegene soos Gretha Wiid gegrief het, kom nou stadig maar seker van die rakke af of staan op uitverkoping. Bitter min mense hou die gees van Pride heeljaar met hulle. Dit beteken nie dat ons verdwyn nie, maar ek reken daar’s baie mense wat nou weer fancy kaas by Woolies aanskaf, want die reënboog word weggepak.
Dit wil vir my voorkom of Pride hierdie jaar ’n eindelose aanslag teen my mense was. Voor Pride-maand nog begin het, is anti-gay wetgewing in Uganda goedgekeur. Rusland het enige “nie-tradisionele seksuele verhoudings” (my vertaling) verban vir alle ouderdomsgroepe, volgens die BBC. Die eindelose aanslag teen die LGBT+ gemeenskap in die VSA en die VK het gewoon voortgegaan. Op eie bodem was dinge ook nie so rooskleurig nie, weens onder andere tannie Gretha se vloermoer oor Woolworths en Mehmet Vefa Dag wat gesê het hy wil die reënboog in Groenpunt swart verf. ’n Mens sou dink dat hy dit groen sou wou maak, maar dit daar gelaat.
...
My bestaan is onwettig in 14 lande, bloot omdat ek trans is, volgens die Human Dignity Trust. Hierdie syfer spring na 66 toe, sodra ek in ag neem ek is in ’n verhouding met ’n ander vrou.
...
Pride-maand is nou verby. Dis steeds onwettig om gay te wees in Uganda en vele ander plekke. Daar is steeds wetgewing en wetsontwerpe wat die regte van LGBT+ mense in die VSA en die VK probeer inperk. My bestaan is onwettig in 14 lande, bloot omdat ek trans is, volgens die Human Dignity Trust. Hierdie syfer spring na 66 toe, sodra ek in ag neem ek is in ’n verhouding met ’n ander vrou. Moet nie dink ander plekke is veiliger net omdat die wet ons beskerm nie.
In Suid-Afrika is daar gelykheid voor die reg. Dit beteken nie dat daar gelykheid in die maatskappy is nie. Eers in 2006 is daar ’n wetsontwerp goedgekeur wat gay paartjies toelaat om te trou en ons wag nou nog vir ’n konsekwente en duidelike wetsontwerp wat dit makliker gaan maak vir transgender mense om ons ID-nommers te verander, laas toe ek op Binnelandse Sake se webblad gekyk het. Dan is daar die privaatsektor wat in sekere gevalle weier om diens te lewer aan LGBT+ mense of paartjies. MambaOnline berig nou en dan nog oor ’n queer paartjie wat nie mag trou by ’n sekere venue nie en oor een of ander besigheid wat sê ons staan in opposisie met hul missie en visie, want reënboog.
Laat ons ook nie die godsdienstige diskriminasie vergeet nie. Dieselfde mense wat vir jou sê: “God het jou lief”, sal in dieselfde asem vir jou sê: “Jy gaan hel toe, want reënboog.” Snaaks hoe hulle nooit die Bybel aanhaal wanneer mense voor hulle spek eet nie, want dit word ook mos verbied. Daar is ook niks fout daarmee om Christenskap by jou keel af te druk nie, want dis mos “normaal”. Terloops, ek is agnosties, ingeval jy my met ’n bietjie meer akkuraatheid wil beledig in jou kommentaar op Facebook.
Ek het ander dag saam met ’n vriendin en haar kind in ’n speelgoedwinkel geloop. Al die kamma-opvoedkundige speelgoed vir meisies het gefokus op “maak jou eie naellak” of iets soortgelyks. Dit druk die kind in ’n tradisionele genderrol waar skoonheid meer saak maak as breins, ongeag van hoe hulle dit probeer bemark. Is dit nie maar ook die straight mense se weergawe van “druk dit in jou keel af” nie? Meisies is pienk, seuntjies is blou en daar is ’n groot skeiding tussen die twee in die winkel. Selfs in die rye waar die Lego’s staan. Hel, die skeiding gaan baie verder as net die speelgoedwinkel.
Die reënboog-slagspreuke word ook opsy geskuif vir ander slagspreuke. Die T-hempies vir jong seuns, natuurlik blou, sê dinge soos “I’m single, ladies” of iets soortgelyk wat myns insiens onvanpas is vir kinders. Maar omdat dit op ’n blou hempie is en nie deel is van die reënboog nie, is dit okay. Dit word nie by jou keel afgedruk as almal dit doen nie. Ek het geen probleem as jy jou kind wil vorm volgens tradisionele genderrolle nie. Moet dit net nie by my keel afdruk nie. En is dit werklik van pas om ’n babygrow te hê wat sê: “Chick magnet”? Dalk is dit okay, solank daar nie ’n reënboog is nie.
Ek het nog nooit werklik met ’n reënboogvlaggie rondgeloop of my kamer versier met plakkate van RuPaul of Marsha P Johnson nie. Ek het ’n plakkaat van Zac Efron gehad toe ek jonger was. Dit was nie sigbaar as jy verby die deur loop nie, want ek moet dit net nie by jou keelgat afdruk nie. Lateraan het Izak Davel en Daniel Radcliffe ook die muur gemaak. Steeds nie sigbaar van die deur af nie. Dit moet net nie by die verbyganger se keel afgedruk word dat ek queer is nie. Dit was ook heeltemal teenstrydig met die Griekwa-psalms en die kruise wat in die gang hang wat beslis nie by jou keelgat afgedruk word nie.
Dis vir my snaaks dat ek spesifiek daardie aanhaling kan onthou: “Wees gay, maar moet dit nie by my keel afdruk nie.” Dalk is dit die rede dat ek eers op 30 ander kleure begin dra het as blou. Dalk is dit die rede dat ek stilgesit het en drink in die kroeg, liewer as om met almal sosiaal te verkeer, soos my boetie. Dalk verduidelik dit waarom ’n koekresep die mees omstrede onderwerp is wat ek en my ma bespreek.
Dalk is dit die rede dat ek genoop voel om vir ander reënboogmense te sê: Moenie stil wees nie. Pride is verby, maar ons is nog hier. Jy is pragtig en jy is geliefd. Maak geraas en wees jouself. Daar is niks beters as om jouself te wees nie. Moenie dat enigiemand vir jou ander twak kom vertel nie.
Op 8 Julie is Rikkie Kollé verkies as Miss Nederland. Dis die eerste keer dat ’n transgender vrou verkies is as Miss Nederland en die tweede keer wêreldwyd dat dit gebeur. Angela Ponce van Spanje het aan Miss Universe deelgeneem, nes Kollé van plan is om te maak. Kollé en Ponce is gewoon vroue wat deelgeneem het aan ’n skoonheidskompetisie. Kollé hoop, ten spyte van die haatlike woorde wat na haar toe geslinger word, om ’n rolmodel te wees vir veral jong, queer mense. Sy weet queer mense gaan nêrens heen nie. Sy druk dit ook nie in enigiemand se keel af nie. Inteendeel, die haatlike woorde gee vir haar meer publisiteit as wat sy ooit sou kon hoop om te kry deur ander strategieë. All publicity is good publicity, they say...
Die reënboog is dalk gebêre, maar is beslis nie in die kas nie. Ons is steeds hier. Ons gaan nêrens heen nie. Deal with it.
Bronne:
Human Dignity Trust. s.j. https://www.humandignitytrust.org/lgbt-the-law/map-of-criminalisation/ (12 Junie 2023 geraadpleeg).
Miss Nederland. s.j. https://missnederland.nl/ (17 Julie 2023 geraadpleeg).
Vernon, W. 2023. Russia: Putin’s Kremlin targets LGBT in new crackdown. https://www.bbc.com/news/world-europe-64345693 (12 Junie 2023 geraadpleeg).
Budoo-Scholtz, A. 2023. Uganda’s President Signs Repressive Anti-LGBT Law. https://www.hrw.org/news/2023/05/30/ugandas-president-signs-repressive-anti-lgbt-law (12 Junie 2023 geraadpleeg).
CapeTownEtc. 2023. Politician calls on mayor to remove LGBTQ+ rainbow from Cape Town road. https://www.capetownetc.com/news/politician-calls-on-mayor-to-remove-lgbtq-rainbow-from-cape-town-road/ (12 Junie 2023 geraadpleeg).
Nog leeswerk:
Gous, N. 2018. Christian Author Gretha Wiid told to stop talking about homosexuality. https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2018-07-19-christian-author-gretha-wiid-told-to-stop-talking-about-homosexuality/?fbclid=IwAR0C5Rx2usTymQCBa92cN6wVfrrzkBAH7DNOw5AsXeTaBD6FxgrT5hmrC0U (12 Junie 2023 geraadpleeg).
Kruger, C. 2017. Ope brief aan Gretha Wiid na jong man se dood. https://rekord.co.za/134453/ope-brief-aan-gretha-wiid-na-jong-man-se-dood/ (14 Junie 2023 geraadpleeg).
Wyngaard, B. 2023. Godsdiens, inklusiwiteit en bondgenootskap vir die kommersiële gewin: Is Woolworths tussen die duiwel en die reënboog? https://www.litnet.co.za/godsdiens-inklusiwiteit-en-bondgenootskap-vir-kommersiele-gewin-is-woolworths-tussen-die-duiwel-en-die-reenboog/ (14 Junie 2023 geraadpleeg).
Eyewitness News. 2022. Al-Ghurbaah Foundation Condemns MJC Fatwa on Homosexuality. https://ewn.co.za/2022/07/08/al-ghurbaah-foundation-condemns-mjc-fatwa-on-homosexuality (14 Junie 2023 geraadpleeg).
Ismail, A. 2023. LGBTQIA+ under attack during Pride Month. https://www.enca.com/news/lgbtqia-under-attack-during-pride-month?fbclid=IwAR1PHbCpo-SLhc_3q8OQvv5nF1g69WjSRHcWzjWRc6mlcsTHaFCI6hVbtXY (14 Junie 2023 geraadpleeg).
Lees ook:
Resensie van bottelnek breek bek deur Dianne Du Toit Albertze
’n Krities-narratiewe begripsverheldering van biologiese aspekte van die transgenderverskynsel
Kommentaar
Ek is nie 'n LGBT-persoon nie, maar het so 'n kind. Ek het ook gesukkel daarmee, dat sy "so" is. Tot die dag aangebreek het dat ek vrede gevind het en gesien het, maar sy is nie "anders" nie, ek dink haar anders. Wat 'n verlossing vir my! Sy is slimmer, behulpsamer, mooier, gee meer om en is nie 'n bedreiging vir ons sogenaamde "straight" mense nie. Ek is bly jy is my "anderse" kind. Nou wil ek graag weet, wie gee my die reg om te oordeel?
Vir my is dit so vreemd dat baie mense bedreig voel deur mense wat nie presies is en optree soos hulle dink mense behoort op te tree nie. Leef en laat leef. Dit maak die wêreld soveel interessanter as almal nie presies dieselfde is nie.
Daar is 'n groot stuk hartseer hier. En ek stem grotendeels saam met alles wat jy skryf. Transmense moet veel meer skryf oor transissues. Deur te skryf sal die wereld hulle hopelik meer begin sien as ook net mense wat in harmonie wil leef met andere.
Ek dink egter jy maak 'n fout deur die 'Afrikaners' te wil tipeer. Dit is 'n fout wat ek self al gemaak het. Sommer baie keer al in my lewe. Ek maak die fout ook ten opsigte van ander 'groepe'. Ek ry anderdag in die verkeer en 'n motor van 'n duidelik baie welaf persoon toet vir my. Dit was so windgat sportmotortjie. Ongeduldig en ongeskik, dink ek toe. So is al julle rykmense mos. Maar ja, dit is gewoon nie waar nie, moes ek later aan myself erken. Arm mense doen ook maar lelike en oneerlike dinge. Misbruik mense. Vertel leuens. Weer eens, nie alle arm mense nie. Sommiges. So, uiteindelik is daar net mense, en mense is 'n mengsel van goed en sleg. Die 'oom' wat genoem word in die stuk is seker darem ook 'n Afrikaner ... vermoedelik. Die mense van Uganda, hulle is Afrikane en nie Afrikaners nie. Die hele lot is egter mense. Velkleure verskil maar net en kulture en tale.
Dit is geensins toevallig dat die uitdrukking 'small talk' in Engels voorkom nie. Dit is maar in die mens se aard om oor koeitjies en klafies te klets. Dit bou vertroue tussen mense. Sonder daardie gesprekke oor beuselagtighede as basis, sal daar nooit enige ander gewigte gesprekke kan plaasvind nie. Mense sukkel om sommer net openlik te gesels. Dit stel hulle bloot en hulle vrees ook maar verwerping en oordeel.
Dit is amper moeiliker om slegte gewoontes af te leer as om goeies aan te leer. Dit is waar van mense, of hulle nou Afrikaners of Ugandese of wat ook al is.
Ten opsigte van transmense wat aan sport en skoonheidskompetisies deelneem, dit is 'n byenes daardie waarin ek nie my kop sal steek nie. Ek weet in elk geval bitter min van die onderwerp. Soos ek verstaan word transatlete byvoorbeeld aan hormoonterapie onderwerp, waaroor hulle verstaanbaar baie ontevrede is. Dit lyk nie vir my die mensdom gaan spoedig uitfigure hoe om die saak regverdig teenoor alle partye te hanteer nie. En die onderwerp affekteer ook nie net transgender atelete nie. Onse Olimpiese kampioen Caster Semenya is nie transgender nie, en kyk hoe sleg is sy hanteer.
Die absolute liefdelose arrogansie skree egter ongelukkig ten hemele. Die aaklige opmerkings wat oor transmense en ander LGBTQI-mense gemaak word op sosiale media, is gewoon skokkend, en wil mens moed laat verloor met die mensdom. Die swakheid van sommiges. Die sommiges maak baie lawaai, veral met 'n bybel onder die arm. Des te meer moet mense aanhou uitpraat daarteen. Dit is ongelukkig al manier om die steriotipes te verander.
Ek kry die idee, vanuit die rigting van skrywers soos Elise Bishop en andere, dat die wêreld darem al baie ten goede verander het. Hopelik sal dit andere bemoedig om nie terug te staan en moed te verloor nie.
Dankie vir jou artikel.