Pieter Fourie (1940–2021)

  • 0

Gebore en getoë

Pieter Fourie is op 3 April 1940 in ’n onderdorpse huisie in Philippolis in die Suid-Vrystaat gebore – die middelste van drie kinders. Hy word groot op Philippolis tot hy sewe jaar oud is en is daarna na Luckhoff – Griekwawêreld en “seker die rede dat ek so selde die dubbele ontkenning gebruik”. Pieter se pa, Fritz, was ’n vervoerkontrakteur en as kind het Pieter baie kilometers saam met hom afgelê. Hierdie kleintydse rondryery het Pieter voorberei vir sy jare as rondreisende toneelspeler op die platteland.

Pieter se pa het altyd gesê: “’n Ryk man is iemand met ’n klein bietjie geld, maar sonder enige skuld.” (Sarie, 17 Oktober 2001)

Pieter is op vyftienjarige ouderdom om finansiële redes uit die skool en hy gaan werk as posbode vir vier jaar, eers in Bloemfontein, waarna hy posseëls verkoop en bevordering na Koffiefontein kry. Daar ontmoet hy vir Stephen le Roux (Etienne Leroux) wat hom aanmoedig om terug te gaan skool toe. Op 21-jarige ouderdom behaal hy sy matriek in Philippolis.

As ’n jong seun in Luckhoff, vertel Pieter, maak hy met die teater kennis deur die vertonings van die rondreisende toneelgeselskap van André Huguenet. “As klein seuntjie staan jy en wag vir hul bus om te kyk of jy nie dalk vanaand ’n geleentheid sal kry om die gordyn te trek nie. Dan ontmoet jy ’n perfeksionis soos André Huguenet wat selfs die gordyntrekker ’n oudisie laat aflê.” Huguenet sê aan Pieter dat hy ’n aanvoeling het vir hoe om die gordyn te laat sak! (Rapport, 6 April 2003)

Verdere studie en werk

Ná matriek (in 1961) is Pieter na die Universiteit Stellenbosch, waar hy aanvanklik drama studeer. Ná ’n onderonsie met Fred Engelen het hy besluit om drama te los en BA te studeer. Hy het sy BA Honneurs in Afrikaans-Nederlands in 1964 verwerf en was een van die eerste studente in DJ Opperman se bekende letterkundige laboratorium. Gedurende die sestiger- en sewentigerjare het hy baie poësie in tydskrifte soos StiebeuelStandpunteSestiger en Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer. Op Stellenbosch het hy vir J St Elmo Pretorius ontmoet wat “alles ondermyn wat ek nog omtrent geskiedenis gedink het. Skielik het al die helde voete van klei. En is alles skielik nie meer swart en wit nie. Dis Elmo wat my met nuwe oë na Tsjaka laat kyk het. En wat my oor hom my eerste drama laat skryf het.” (Aan Fanie Olivier, Beeld, 4 April 2003)

Op Stellenbosch was Pieter medestigter en eerste voorsitter van die SAAK, die eerste studentevereniging wat van Nasionaal-Christelike beginsels weggebreek het. Hy was die eerste eerstejaarstudent wat die senior redenaarsbeker gewen het, het hy aan Ilse Salzwedel vertel. “Nogal met die onderwerp dat dit uit die bose is dat eerstejaars mag stemreg hê vir die verkiesing van die studenteraad. Ek het daarna twee lyfwagte nodig gehad om op kampus rond te beweeg,” het hy laggend voortvertel. Hy het daarna die redenaarskompetisie vier jaar na mekaar gewen met die mees uiteenlopende onderwerpe.

Oor SAAK het Pieter aan Salzwedel (Rooi Rose, Augustus 2006) vertel dat dit die eerste studente-organisasie op Stellenbosch was wat apolities en areligieus was. “Jy moet onthou, Verwoerd was op sy politieke kruin, en die land was verdeel in Nat en Sap. En net om ’n statement te maak, nooi SAAK summier vir dr Albert Luthuli om die eerste spreker te wees, welwetend dat hy nie toegelaat sou word om te kom nie.”

En dit is hoe die jongman van die platteland uit ’n konserwatiewe huis vir die eerste keer op die rooi tapyt beland het. Die rektor het hom ’n “kommunis” en ’n “pienk liberalis” genoem wat, volgens Pieter, mak was in vergelyking met die name wat hy later genoem is.

Pieter Fourie het hom op Stellenbosch op sosiale gebied ook laat geld. “En,” het hy aan Salzwedel verduidelik, “die eerste bordeel op Stellenbosch bedryf. Ek was in my eerste jaar in Bergville-privaatkoshuis. In my tweede jaar huur ek toe ’n kolekamer met ’n grondvloer teen R3 per maand. En tussen vyfuur en sewe-uur huur ek hom toe uit as ’n opsitplek vir studente, kompleet met ’n orgidee in ’n wynglas voor die bed. Vir ’n rand per aand. My ‘besigheid’ by Soeteweide 3 was suksesvol. Dit het my losies, rookgoed, kos en drank betaal.”

Pieter se betrokkenheid by die teater het vroeg begin. Hy het reeds gedurende sy dae op universiteit artikels in die koerant geskryf oor die beroepsreg van toneelspelers en die haalbaarheid van toneelreise. In sy derde jaar het hy resensies oor professionele teaterproduksies vir Die Burger geskryf.

Nadat hy sy honneursgraad in BA verwerf het, het hy sy eie toneelgeselskap, die Pieter Fourie Genootskap, gestig waarmee hy vir drie jaar (1964–66) die platteland deurreis het. Christine Basson en Marie Pentz was twee van die lede van sy geselskap. Hulle repertorium sluit stukke in wat hy self geskryf en geregisseer het. Dit is ook hier waar hy regte drama leer ken het — “die klein behoeftes van mense, die passie van die performance”.

Oor sy tyd op die toneelpaaie in die land het Pieter aan Francois Griebenow (Beeld, 30 Mei 2000) gesê: “Dit was ’n voorreg om die land op dié manier te leer ken. As dit die aand goed gegaan het by die loket, het die twee aktrises in die hotel deurnag, en ek in die woonwa wat agter aan die trokkie met die dekor gehaak was.

“As die inkomste die aand nie waffers was nie, het die vrouens in die woonwa geslaap en ek voor in die trokkie. En winternagte op die Hoëveld kán mos so deur ’n mens sny.”

In 1966 het Pieter hom by Kruik aangesluit as bestuurder van die Afrikaanse toneelgeselskap en in 1967 word hy hoof van die Afrikaanse toneelafdeling. In 1968 is hy aangestel as artistieke direkteur by Kruik, ’n posisie wat hy vir sestien jaar beklee. Hy het in 1969 sy eerste stuk vir Kruik, Fando en Lis van Arrabal, geregisseer en sy onortodokse en vindingryke regiebenadering het gehore dikwels laat regop sit. Hy was in die sestiger- en sewentigerjare die regisseur van heelwat vertalings van bekende oorsese dramas soos Die selfmoordenaar (Erdmann), Die twee laksmanne (Arrabal), ’n Kop vir die strop (Feydeau), Die huwelik van mnr Mississippi (Dürrenmatt), Shakespeare se Othello en Roulette en Arme moordenaar van Kohout. Met Roulette het hy besluit om, net soos in So ’n liefde, die stel te stroop van visuele ornamentasie wat afbreuk mag doen aan die trefkrag van die stuk.

Pieter het aan Amanda Botha vertel (Die Transvaler, 22 Mei 1981) dat sy debuutwerk as dramaturg ’n Engelse stuk was, getiteld The parents. Dit is nie gepubliseer nie, maar is in 1980 in Kaapstad opgevoer. Sy eerste toneelstuk was die kindertoneelstuk Hansie die hanslam wat in 1969 deur Tafelberg uitgegee is en landwyd opgevoer is. Hy het ook twee ander toneelstukke vir kinders geskryf in opdrag van die Oude Libertas – Husse met lang ore en Luilummel en Flenterpiet. Tsjaka was sy eerste vollengte drama wat reeds in die sestigerjare geskryf is, maar eers in 1976 gepubliseer is.

Faan se trein is Pieter se eerste vollengte drama wat opgevoer is. Faan het lank in die laai gelê en met die polemiek rondom Bartho Smit se Bacchus in die Boland is Faan se trein in 1975 in sy plek opgevoer. Tsjaka is intussen gepubliseer, maar nooit opgevoer nie. Met die opvoering van Faan se Trein in 1975 en later Faan se stasie was die destydse administrateur van die Kaap, LAPA Munnik, so ontstoke oor sekere politieke uitlatings dat hy gedreig het om Kruik se subsidie te heroorweeg. Maar waar Faan se trein ook al opgevoer is, het dit gewoonlik vol sale getrek.

Pieter het aan Pieter Malan (Rapport, 6 April 2003) vertel dat Faan se trein uiteindelik vir twee jaar lank oor die land gespeel het: “Ook in Johannesburg en Durban vol sale getrek, iets wat nog nooit voorheen dáár gebeur het nie. Dit was my kickstart, soos die ouens op die motorbikes sê.”

In ’n onderhoud met Org Potgieter (Volksblad, 25 Mei 2013) het Pieter meer oor die ontstaan van Faan se trein vertel. Hy het dit in 1970 in Kaapstad geskryf, binne drie dae: “En drie nagte … met so drie uur slaap tussenin. Met die hand geskryf en met baie whiskey, witwyn, sardiens en anchovies, wat die maagwand ’n lining gee. Geen muse of inspirasie het my gedryf om Faan neer te pen nie, net die onrustige gevoel wat ek gewoonlik kry voordat ek iets aanpak.

“Toe ek my skryfproses later aan DJ Opperman vertel, was sy reaksie: ‘Dink net as jy drie maande gevat het.’ Ek dink dit was sy manier om te sê dit sou letterkundig ’n beter werk gewees het, en hy is reg.”

Faan het regtig bestaan. Hy het op Luckhoff gewoon en, het Pieter aan Potgieter vertel, “ek het eerstehandse kennis van Faan se woedebuie nadat ek self een dag aan die nek gegryp is. Faan het die ongelooflikste blou oë gehad waarin ek al hoe meer gelees het hoe ouer ons geword het. Al die resensente het Faan as die epitome of innocence beskryf. Hy was werklik die versinnebeelding van die onskuld wat ons almal eens op ’n tyd besit het.”

In 1975 is Faan se trein by Tafelberg gepubliseer. En vir André P Brink (Rapport, 23 November 1975) het dit die geleentheid gebied om meer objektief en onverbiddelik na die drama te kyk en nie soseer die toneelstuk met ’n sielvolle bydrae van Cobus Rossouw, Willem de la Querra of Schalk Jacobsz nie. Brink het toegegee dat daar verseker ruimte in enige teater en selfs besonderlik in die Afrikaanse teater vir “volksteater” is en daar is ook al deur dramaturge soos PG du Plessis bewys gelewer dat volksteater nie noodwendige slapstick teater hoef te wees nie.

Dan het Brink voortgegaan: “Moontlik het ons ‘volksteater’ deel geword van die hele nostalgiese terugkyk na die verlede, net bruter en feller as die geglamoriseerde terugblik-met-emosie wat ons in die mode- of die rolprentwêreld aangetref het. So ’n terugblik sou van verskillende aard kon wees, wisselende vanaf ’n tydvak opnuut herwaardeer word – tot ’n liefderyke vertroeteling van herinneringe soos ons dit al baie jare in ons kleinkuns aantref.

“In eersgenoemde rigting sou ons die groot eenmalige figure verwag, wat in hul ‘afwyking’ juis ’n magtige stuk menslikheid verwerk; in die tweede rigting die gemoedelike mensies wat met hul klein verdriet en klein vreugde vlugtig en aandoenlik mens se meegevoel wek.

“Pieter Fourie se figure neig eerder tot die tweede kategorie. Daar is in Faan se verhaal die gegewe vir groot en blywende dramatiese konflikte (…) maar dit gebeur selde dat Faan meer word as gevallestudie, tipestudie – en dan eindelik tóg verwring deur sentimentaliteit en selfs deur opvallende manipulasie. (…)

“Mens moet nie die stuk onderskat nie. Dit bevat tonele met ’n dramatiese intensiteit wat mens van Fourie nog veel laat verwag: ná ’n nogal dralende, trekkerige verloop in die hele slottoneel byvoorbeeld – binne die beperkinge van die klein realisme – iets van ’n kragtoer. En ook die dialoog is telkens heerlik verfrissend in sy presisie en direktheid. (…)

Faan se trein is nie ’n swak stuk nie: verre daarvandaan. Maar dit is ’n yl stuk wat sowel in breedte as in diepte veel armer is as wat hy kón gewees het – asof die skrywer óf nie die volle implikasies van sy gegewe besef het nie óf nog nie reg daaraan laat geskied nie. Sekerlik ’n werk waarmee ’n vindingryke regisseur met eersterangse spelers ’n ontroerende en momenteel indrukwekkende resultaat kan behaal: maar as stuk – en dit is wat hy in druk is – nog te skraal om werklik bevredigend te kan wees. Vir ’n deurwinterde teatermens soos Fourie is dit wel ’n begin met groot belofte; en ’n mens hoop op verruiming en verdieping in sy werk wat voorlê.”

In Die Burger van 15 Januarie 1976 het Adam Small sy resensie van Faan se trein só begin: “Faan se trein is geen groot drama nie, maar ’n goeie drama. Die stuk het hom natuurlik op die verhoog ‘bewys’. Ek moet erken dat ek eers skrikkerig was vir Faan se karakters (…), maar my vrese was min of meer verniet. Die karakters in Faan word nooit in hul kleinheid gróót nie. Tóg laat Pieter Fourie hulle vir ons suksesvol van binne af oopgaan só dat die skerpsinnige leser van die stuk en teaterganger eerlike mededoë vir dié mens het. (…)

“Natuurlik is hierdie stuk (soos geskryf) ’n aanwins vir ons teater-lektuur. Die grootste kwaliteit van die dialoog (kostelike dialoog) is nie poësie nie, maar humor. Nog dit: Al bestaan die lewensomstandighede waaroor Faan se trein dit het, eintlik nie meer in wit Suid-Afrika nie, bly die drama ‘relevant’ (tot ons, nou) omdat dit, suksesvol genoeg, ’n deel van ’n waarheid omtrent ons land se mensegeskiedenis verwoord.

“Mens hoop maar dat soveel mense as wat die stuk op die verhoog gaan kyk het, dit ook sal lees.”

In 2005 word Faan se trein weer in Kaapstad opgevoer nadat dit in dieselfde jaar by die KKNK met die Kanna-Herrieprys vir die gewildste produksie bekroon is, asook Paul Eilers vir die Kanna-prys as beste akteur.

Ook in 2005 is Faan se trein tydens die Volksblad-kunstefees opgevoer weer met Paul Eilers as Faan en, skryf Andrelise Meiring (Volksblad, 13 Julie 2005), is die stuk nog net so gewild as dertig jaar vantevore. Daar is ook nie aan Pieter Fourie se oorspronklike teks verander nie, wat net nog ’n bewys lewer van die uitstaande dramaturg wat hy is.

In 2013 is Faan se trein verwerk tot ’n film met Pieter en Koos Roets wat verantwoordelik was vir die draaiboek. Roets was ook die regisseur en Willie Esterhuizen het die rol van Faan vertolk. Tydens die Silwerskermfees van kykNET het dit nege toekennings ingepalm, onder andere dié van beste fliek, beste regisseur, beste akteur, beste draaiboek, beste manlike byspeler (Deon Lotz) en beste vroulike byspeler (Anel Alexander).

In Volksblad (24 Januarie 2014) skryf Paul Boekkooi as volg oor hierdie film: “Elke raampie in Faan is ’n meesterstuk in visuele trefkrag, estetiese sinrykheid, asook ’n verhaalverbreder op die vlak waar woorde ontoereikend sou kon wees. Op 70 is Roets ’n perfekte gefokuste verteller deur sy kaleidoskoop van beelde. Die natuur word afgespieël teenoor menslike gemoedere. (…)

“Dit is asof Roets en Fourie die kyker daarop attent maak in watter mate van onderdrukte sedelike verkramptheid die Afrikaner van destyds geleef het, ondanks die uiterlike beskaafdheid wat in hul gasvryheid en mededeelsaamheid na vore gekom het. Te midde van dié soms verstikkende aura moet die bespotbare, agterlike en immer uitgedaagde Faan staande bly.

“Esterhuizen (…) maak van Faan ’n karakter wat grense verskuif rondom iemand wat jy as ’n gestremde sou kon beskou. (…)

Faan se trein het die maatstaf so gelig dat – indien dit volgehou en deur ander nagevolg kan word – dit van ons Suid-Afrikaanse rolprentbedryf ’n wêreldmededinger kan maak.”

In 1976 word die opvolg van Faan se trein, Faan se stasie, ook deur Tafelberg Uitgewers uitgegee. Dit is egter nie so goed deur die kritici ontvang soos Faan se trein nie. Die resensent in Die Burger (10 Junie 1976) was PG (geen volle name is vermeld nie). Hy skryf dat Faan se stasie maar “bra dun” lyk op die “koue bladsy van die boek”.

Volgens PG is dit ook “belas met ’n groot vrag betekenis en betrokkenheid”. Hy het voortgegaan: “Die gaafheid en samehorigheid wat opgeval het in Faan se trein het hier tot ’n groot mate verlore gegaan. Die basiese probleem is een van uitgangspunt. Moet ons hierdie nuwe drama sien as voortsetting van die vorige, as vervolg op, as eenvoudig ’n drama naasaan?

“Dit blyk ’n vervolg te wees, want hier op bladsy een, in dieselfde tronksel, met dieselfde beseerde voet, sit Faan. Nóg in styl nóg in omstandighede word daar aangedui dat die drama na ’n ander sfeer versit het. (…)”

Vir die resensent bestaan veral die “gemoedelike wêreld van die dorpsrealisme waarin die vorige stuk beoordeel was, tog wel. Word die drama op die vlak van betekenis ondersoek, skiet dit skromelik te kort. Die hele trein-motief staan in geen verband tot hierdie vlak van optrede nie, want Faan is nie van plan om die trein aan te wend om enige van die onregte reg te stel nie. (…)

“Hoe verder die stuk vorder, hoe meer beweeg hy weg uit die samehorige wêreld waar hy as hoof-interpreteerder van daardie soort realisme kon funksioneer, na ’n wêreld waar hy funksieloos en kragteloos optree. (…)

“Wat wel reggekry word, is dat die dramaturg einde ten laaste via Faan se monoloë (waaromheen die laaste bedryf eintlik gebou is) ’n soort elegie sing oor die vergane dorpsbestaan. As aparte stukke skryfwerk is hierdie monoloë soms besiel met ’n poëtiese vaart en selfs ook ontroerend (veral die sterfspraak), maar dit is nie genoeg om ’n drama daarmee te volvoer nie.

“Tot sover die teks – maar dis nog lank nie genoeg nie. Want die stuk moet op die verhoog gaan lewe. Die storie van Faan is ’n geil en ryk skepping – ’n bewese sterremaker. Selfs in hierdie weergawe van Faan, waar hy deur die dramaturg op vreemde bane gelei word, en waar die verskille tussen sy slu-slim en simpel aspekte te groot geword het vir geloofbaarheid, mag dit nog altyd lewensvatbaar blyk te wees op die verhoog.”

Ook Fanie Olivier (Rapport, 4 Augustus 1985) was nie oortuig van die waarde van Faan se stasie wat deur Truk in 1985 opgevoer is nie: “Truk se produksie van Faan se stasie was mos die voeding van die eerste stuk, en hoewel die dramaturg die gegewens daarvan probeer inwerk, glo ek die dramatiese agtergrond ontbreek wat die Stasie kan red van die gevaar van te veel dialoog sonder werklike spanning.

“’n Mens moet erken dat Fourie se taalgebruik spitsvondig, skerp en by tye werklik snaaks is. Terselfdertyd ontkom jy tog nie aan die gevoel dat dit in baie gevalle amper in vertonerigheid verval het nie. Op die lang duur word dit vervelig, word die monoloë van Faan te veel vir ’n gehoor wat aksie en taal-konflik verwag het.”

Olivier het egter Eric Nobbs se vertolking as Faan as aangrypend beskryf, “met goeie nuanses en met die regte soort kinderlikheid wat hierdie rol vra. Hy speel by die gebreke in die teks verby en selfs die baie gedwonge sterftoneel teen die slot word met waardigheid aangepak. (…)

“Dit was waarskynlik ’n fout om die skrywer te vra om ook die regie van die stuk te behartig: na al die jare lê die sentimentele liefde van Fourie vir sy karakters en sy stuk nog te sterk en kort die stuk die kragdadigheid van ’n meedoënlose regisseur.”

Ná die sukses van die twee Faan-stukke is die volgende drama uit Pieter se pen Tsjaka wat in 1976 deur Perskor gepubliseer is. En vir Fanie Olivier (Hoofstad, 1 Oktober 1976) was dit ’n groot teleurstelling. Olivier vertel dat Fourie by geleentheid gesê het dat hy Tsjaka in 1967 geskryf het en beskryf dit as “jeugwerk” met heelwat gebreke.

“Die dramatiese gegewe van die eerste Zoeloe-koning Tsjaka is sonder meer geskikte materiaal vir die verhoog en as ’n mens die ryk beeldspraak van dié nasie se taalgebruik in aanmerking neem, sou daar inderdaad heelwat regverdiging kon wees vir die aanpak van juis die versdrama oor so ’n onderwerp,” gaan Olivier voort.

“Maar ten opsigte van die basiese gegewens van die versdrama skiet Tsjaka tekort. Hy open sy verhaal op ’n betreklike laat stadium in Tsjaka se lewe en slaag eenvoudig nie daarin om ’n eksposisie van enige aard te gee nie. Die gegewens oor die verloop van Tsjaka se lewe tot dié tydstip word vaagweg geskets en as gevolg hiervan word die presiese aard van die verhouding tussen die koning en sy moeder, Nandi, nooit werklik verstaanbaar nie.

“Die drama het weinig dramatiese kwaliteite. (…) Miskien wil hierdie stuk nie opgevoer word nie; vra dit om slegs gelees te word. Ook ten opsigte van die beeldspraak slaag Tsjaka nie: aanvanklik boei die taalgebruik, maar mettertyd word die beelde vervelig. Amper asof die beeldwêreld te bewus ingevoer word. (…)

“Die vers wat Fourie inspan, is oor die algemeen dié waarin kort reëls oorheers. Na die tweede toneel word die ryme opvallender en hoewel dit grotendeels slaag, bly die gedwonge rym tog dikwels ooglopend. Dit is een van die grootste probleme van die versdrama waarin van rym gebruik gemaak word en die kort reëls verhoog myns insiens die opvallendheid daarvan.”

In Die Suidwester (13 September 1976) was die resensent (SE van Zyl) ’n bietjie meer positief oor Tsjaka, hoewel daar tog voorbehoude was: “In sy jongste drama maak Pieter Fourie op vernuftige wyse van ’n gegewe uit eie bodem gebruik om ’n sterk tragedie te skep waarin al die elemente – intrige, beeldspraak, karakters, ritmiese dialoog, ensovoorts – ’n geïntegreerde geheel vorm.

“Terwyl die drama enigsins enkelvoudig verloop en ’n mens voel dat die beeldspraak en dialoog sou gebaat het indien hierin meer vooruitwysing na toekomstige gebeure binne die drama was, sou ’n mens die werk as sterk kan bestempel, maar nog nie as ‘groot’ nie.”

Van Zyl het afgesluit: “In die algemeen egter ’n baie opvoerbare drama wat teen ’n byna asembenemende tempo spanning opbou en in die proses wel ook soms (soos dit my lyk!) byna onmoontlike eise aan ’n regisseur gaan stel. (…) As die onverskrokkenheid waarmee die skrywer Tsjaka se wreedhede mekaar laat opvolg, in ’n opvoering weergegee kan word deur ’n volgehoue, vinnige tempo, kan ’n mens jou voorstel dat die stuk ’n baie geslaagde opvoering kan word.”

Pieter se volgende gepubliseerde drama is Die joiner wat in 1976 by Tafelberg uitgegee is. DH Steenberg het die drama in Woord en Daad (Februarie 1978) bespreek en hy het sy resensie só ingelei: “Min literêre werke verbind historiese en eietydse problematiek op so ’n tematies en tegnies sinvolle wyse soos hierdie drama. Hierin word volksverraad van die verlede en bloedverraad in oorsaaklike verband geplaas, en die isolering van ’n buitestaander wat in die Suid-Afrikaanse situasie gevorm is, in die volle konsekwensie van sy lot uitgebeeld.”

Vir Steenberg bereik die drama egter nooit grootse afmetings nie en word die tema nie tot “kragtige dramatiek” uitgewerk nie. Maar, het hy afgesluit, is daar weinig werke in Afrikaans wat die “swart-wit-verhouding met soveel durf en deernis aansny soos hierdie een. Beide wat tegniek en benadering van tema betref, bly Die joiner dus ’n interessante aanwins.”

Met Die joiner het Pieter Fourie bewys gelewer dat die Afrikaanse teater ’n dramaturg van belofte het, het Ronél van der Merwe in Volksblad van 23 Februarie 1977 geskryf. Vir haar was die twee Faan­-stukke niks meer as “sentimentele teater nie, maar met Die joiner is dit nie die geval nie. Hoewel daar gebreke is, kan dit in ’n volgende uitgawe reggemaak word.”

Van der Merwe het die inhoud van Die joiner as volg opgesom: “Die dramatiese situasie in die stuk word deur drie gebeurtenisse uit die verlede bepaal: die hoofkarakter Sarel het in die Engelse oorlog sy mense verraai, hy het later met ’n swart vrou getrou en in 1948 het hy ‘die vermetelheid gehad om vir Malan te stem’ – ’n driedubbele ‘verraad’ teenoor sy mense dus.”

Vir Van der Merwe is Fourie ’n meester in die stelselmatige en subtiele blootlê van gegewens. “Van die openingstoneel af ontstaan ’n reeks vrae by die gehoor. Stelselmatig en byna terloops word die sluier telkens ’n entjie verder gelig totdat die gehoor skielik met ’n skok voor die kern van hierdie mens se tragiek te staan kom… (…)

“Soms raak die dialoog darem te stroperig – veral die slot – en die beeldgebruik wat die idiomatiese dialek van Sarel en sy vrou moet dra, oordadig. (…) Tog, in die geheel beskou, lyk Die joiner na heeltemal toneelmatige teater.”

In 1978 is Pieter aangestel as artistieke direkteur van beide die Afrikaanse en Engelse toneelafdelings van Kruik. Daar was kritiek op hierdie aanstelling omdat Pieter Afrikaans is: die kritici was bang dat die Engelse teater ’n tweede plek sou moes inneem en dat sy Afrikaner-agtergrond ’n verlaging van taalstandaarde sou meebring.

In 1980, in ’n onderhoud met Scenaria, het Pieter hom baie sterk uitgelaat oor inheemse teater en oor sy oortuiging dat teater oorgelaat moet word aan die artistieke integriteit van die kunstenaars wat weet waaroor dit gaan. ’n Toneelstuk soos Pieter se eie Die Plaasvervangers, wat deur die Administrateur van Kaapland verban is omdat hy gevoel dat dit ’n belediging vir die Afrikaner is, het Afrikaanse akteurs van die gehalte van Anna Neethling-Pohl in die hoofrol gehad, en spelers soos sy weet tog van beter. Hy het gebots met die owerhede en hy sal dit weer doen, want hy is nie bereid om die groei van inheemse teater te kniehalter nie. Plaaslike dramaturge moet aangemoedig word om iets unieks daar te stel. Die enigste kriterium vir die opvoer van ’n stuk is of dit goed is en artistieke meriete en integriteit het.

Die plaasvervangers het gehandel oor die degenerasie van die heldhaftige konsentrasiekamp-Afrikaner uit die Anglo-Boereoorlog-tydperk wat binne drie geslagte plaasvind. Die kampmoeder word deur haar mede-Afrikaners en nageslagte geëer omdat sy die kind gebaar het wat deur ’n boere-offisier verwek is, kort voor hy gesneuwel het. Sy vertel haar afstammelinge dat sy nie die waarheid gepraat het nie, maar dat die kind se pa ’n Engelse soldaat was. “Hierdie is ’n genadelose oopvlekking van die valse ideale en handelswyses van destydse en sommige huidige Afrikanerleiers. Die enigste mense wat onaangetas daaruit kom, is die nederige bruin Afrikaners wat die erfgename van die toekoms word.” (Elizabeth de Roubaix, Kaapse Bibliotekaris, Junie/Julie 1992)

In ’n onderhoud met Amanda Botha (Die Transvaler, 22 Mei 1981) sê Pieter prontuit dat hy ’n volkskrywer wil wees: “Ek is ook nie bang om eerlik te erken dat ek vir geld skryf – en dié maak ek soos bossies!” Botha skryf dat Pieter nie skaam is om in sy skryfwerk die volkse op ’n eksplisiete manier te verken nie en hy probeer ook nie om die sentimentele of emosionele te vermy nie.

Hy het in die ongeveer twintig jaar wat hy te make gehad het met die toneel, baie van die begrip “kunstenaarskap” geleer: “Kunstenaarskap kan eers werklik sinvol raak die dag as jy jou eie potensiaal kan vasstel en aanvaar. Dan kan jy werk om die grense van jou moontlikheid te oorskry. Dit bly vir my staan dat die hoogtepunte van jou kunstenaarskap omraam word deur jou beperkinge. Só het ek ook my beperkinge, as dramaturg, leer ken.

“Indien ek sinvol wil voortskryf, moet ek binne die grense van my beperkinge my beste moontlike werk lewer.”

Hy het verder aan Botha vertel dat weens sy praktiese verbintenis met die toneel, hy voordeel daaruit kon trek dat hy toneelmatig en struktureel-tegnies sy grense verder kon verskuif: “Met die aanvaarding hiervan is daar vir my die moontlikheid van kruisbestuiwing en inteling om, soos ek dit ten doel stel, volkstoneel te kan red van die gevaar van stagnasie en kleinburgerlike realisme. Ek wil verruiming bring – veral struktureel-tegnies.

“Ek meen dat ek daarin geslaag het tussen die pole van Faan se trein, wat doodgewoon maklike kleinburgerlike realisme is en Mooi Maria met sy tegniese vervlegdheid en dubbele personasies. Ek streef só om die volkse tot kuns te verhef.”

Mooi Maria is in 1980 gepubliseer en is oorspronklik in die 1970’s opgevoer. Dit beleef ’n herlewing en is in 2011 by Aardklop opgevoer, asook in 2012 by die Woordfees, Aardklop en by die Innibos-fees in Nelspruit. By Aardklop het dit weggestap met die pryse vir beste Afrikaanse produksie, beste regisseur (Albert Maritz) en beste aktrise in die persoon van Anthea Thompson.

Mooi Maria vertel die storie van die pragtige Maria wat haar verloof aan die ryk jong Neel Cronjé. Wanneer sy egter voor hulle troue deur ’n hondsdol meerkat gebyt word en sy as gevolg daarvan misvorm word, verlaat haar verloofde die kontrei om eers vyftien jaar later weer sy verskyning te maak. Hierdie herontmoeting vorm die res van die drama.

Fourie het in die drama gebruik gemaak van die effek om twee karakters gelyktydig op die hoof te laat verskyn, naamlik die misvormde Maria, asook die jonger en beeldskone Maria van vroeër. Vir Ia van Zyl (Die Suidwester, 27 Julie 1981) is dit ’n “drama met besondere opvoermoontlikhede, maar met min psigologiese diepgang”.

Pieter is in 1983 as die residentdramaturg by Kruik aangestel en in 1985 het hy dieselfde posisie by Truk beklee. Volgens sy kontrak by beide Kruik en Truk moes hy twee toneelstukke per jaar skryf vir die spesifieke verhoë en hierdie stukke kon vir twee jaar lank net in die onderskeie gebiede opgevoer word.

In 1986 is Pieter Fourie se nuwe drama, Die koggelaar, bekroon met die Sakruk-prys wat destyds die grootste toneelprys van R25 000 was. Dit het in 1987 ook met die Dawie Malan-prys vir die beste inheemse drama weggestap.

Pieter het in sy bedankingstoespraak gesê: “Die dramaturg is die nar van die konings en ek aanvaar die prysgeld met dank – al is dit van die konings afkomstig.”

Die koggelaar is die produk van agtien maande se skryf en skryf en skryf, het Pieter aan Hilda Grobler vertel. (Tempo, 31 Oktober 1986) Hy het verder aan Grobler gesê dat daar besliste tekens van Opperman se invloed in Die koggelaar te sien is: “Veral in die opsig dat dit meervlakkig is, dat daar met talle simbole gewerk word en dat die beelde geleidelik inmekaar groei. Die stuk handel tematies oor die droogte en die stilte wat in die Karoo ervaar word, maar beide die droogte en die stilte is veel omvattender, veel dieper as die fisieke of waarneembare neerslag daarvan in die natuur – dit reik uit na die mens self en verken die droogte en stilte op allegoriese wyse deur middel van die karakters (as simbool van die eietydse Suid-Afrikaner) op die Karooplaas.”

Die koggelaar is in 1987 in die Nico Malan-teater opgevoer onder regie van Dieter Reible met Brümilda van Rensburg as Anna en Ian Roberts as Boet Cronjé terwyl dit in 1989 in die André Huguenet-teater in Bloemfontein op die planke gebring is, onder spelleiding van Gerben Kamper en met Isadora Verwey in die rol van Anna Cronjé.

In 1988 het Pieter Fourie aan die toneelregte-organisasie Dalro opdrag gegee dat “geen opvoerregte van my werk, professioneel of amateur, toegestaan mag word waar enige vorm van blanke eksklusiwiteit gehandhaaf word nie”.

Hy het aan André le Roux (Beeld, 6 Desember 1988) vertel: “My verklaring volg op die KP-segregasie wat die voorgenome Kruik-opvoering van Die vonkel in haar oog op Kuruman gekelder het, asook die instelling van klein apartheid in Boksburg en elders.

“Die soort bordjie-en-hortjie-politiek van die KP’s is naakte rassisme,” het Pieter voortgegaan, “teen juis húlle wat Afrikaans, en veral as spreektaal, voortdurend versterk, vernuwe en verryk. Afrikaans word by die mense ’n futlose taaltjie van kennisgewings, memorandums en swetende toespraak-retoriek.

“Dié mense wat uit die teaters en sale verwilder word, laat Afrikaans gedy as ’n taal van humor, skeppingskrag, pyn en hoop – ’n volwaardige taal. Afrikaans is die onvervreembare besit van Afrikaner, bruinman en plattelandse swartman. Ek sal my beskeie bydrae nie laat injaag in ’n drukgang van onmenslikheid en kulturele verarming nie.

“Die Afrikaanse drama word verryk deur die werke van bruin dramaturge soos Small, Peter Snyders, Melvin Whitebooi. (…) In my jongste drama, Donderdag se mense, put ek hoofsaaklik uit die ryk geskakeerde en interessante wêreld van plattelandse ‘swart’ Afrikaans. As ek die swartman hiertoe sou toegang weier, is ek besig met blatante uitbuiting en verraad teenoor Afrikaans.”

HAUM-Literêr is die uitgewers van Pieter Fourie se drama Die groot wit roos in 1989. Saam met Die koggelaar en Ek, Anna van Wykvorm dit ’n drieluik waarin die dramaturg die tradisionele Afrikaner-patriarg se eng seksuele en politieke menings blootlê en hom as chauvinistiese stoetwese blootlê, het Barrie Hough hierdie trilogie opgesom. (Rapport, 3 September 1989)

“Waar Die koggelaar ’n uitbouing is van die politieke aspekte rondom die Afrikaner-patriarg wat in Fourie se seminale drama Ek, Anna van Wyk so sterk figureer, word Die groot wit roos gewy aan die seksuele, chauvinistiese sy van hierdie figuur.

“Geskryf in die self-refleksiewe tradisie van dramaturge soos Pirandello en Bartho Smit, is Roos ’n aweregse liefdesverhaal waarin die seksuele fyn gekaart word.

“Louis, ’n voormalige pierewaaier en vrouejagter wat hom in ’n rolstoel bevind, herlewe sy ryk geskakeerde en gevarieerde liefdeslewe in die verfilming van Die breker, ’n rolprent oor sy seksuele veldslae deur die jare. (…)

“Soos in Die koggelaar en Ek, Anna van Wyk verenig Fourie melodrama, ryk dialoog, skouspelagtige beelde en ontstellende gebeure tot vermaaklike en betekenisvolle teater,” aldus Barrie Hough.

Ook George Weideman was beïndruk met Die groot wit roos wat vir hom ’n besondere kant van Pieter Fourie se drama-oeuvre verteenwoordig: “Dis nié politieke teater soos Die koggelaar en Die joiner nie, maar aanhangers van Fourie is nie blinde Isakke nie. Hulle sal weet dat Jakob hier in ’n Esauskleed veel blootgelê het van die binnewêreld van die liefde. En pierewaaiers soos Louis sal daar altyd wees; húlle het niemand se goedkeuring nodig om te pierewaai nie.”

Pieter Fourie het hom ook in 1989 op die terrein van die kinderteater begewe met die skryf van Husse met lang ore wat nie net in die destydse Nico Malan-teater opgevoer is nie, maar ook in die Opera in Port Elizabeth.

In 1989 is Donderdag se mense in boekvorm uitgegee en in 1990 is dit in Pretoria opgevoer met Deon Opperman as regisseur en Louis van Niekerk, Lida Meiring, Peter Se-Puma en Noria Mabuela in die vier hoofrolle. Weer kyk die dramaturg krities na die figuur van die Afrikaanse patriarg, maar hierdie slag val die klem op sy verhouding met sy werkers. En soos so baie van Pieter Fourie se stukke is ook Donderdag se mense ’n striemende aanval op Suid-Afrika se politiese en sosiale bestel waar onregverdigheid aan die orde van die dag was.

“Die lewe en liefde van die boer Piet en sy vrou Letta word regstreeks gekontrasteer met dié van hul bediendes, Tem en sy vrou, Sina,” het Barrie Hough in Rapport van 25 Maart 1990 geskryf.

“Die regie is knap en suiwer en die spel op ’n hoë vlak,” het Hough ten slotte gesê. “Die ster van die opvoering is Noria Mabuela, wie se vertolking van Sina – ’n fyn samesmelting van aardsheid, humor en teerheid – ’n diep indruk laat.”

Nie al Pieter Fourie se teaterwerk is só goed ontvang nie. Met Vat hom, Flaffie! (wat opgevoer is onder die titel Hups in die hydro) het hy volgens die meeste kritici die pot ’n bietjie mis gesit. Tydens die speelvak in die destydse Nico Malan-teater (vandag Kunstekaap) was hy ook die regisseur. Hy het self die stuk beskryf as ’n meer gesofistikeerde komedie as die tradisionele Afrikaanse klug.

George Weideman (Volksblad, 29 September 1990) het sommer in die eerste paragraaf van sy bespreking die volgende gesê: “Dit is ’n byderwetse klug wat nie die moeite werd is om weer te lees of te sien nie. (…) Dit slaag wel in dié opsig dat dit die spot wil dryf met die mens se obsessie met ‘die ewige jeug’. Dis geskryf om die kyker – en ek bedoel hier letterlik: die kyker as voyeur – te vermaak met paddatjies en slangetjies in die gras. Dit wil die draak steek met seksuele ego’s: maar dit bly steek dikwels in gewildeskunnighede. Dis so passé soos kubuskoors.”

Die kritici is ook nie te opgewonde oor Pieter se volgende stuk nie, Daan se doilie (nie gepubliseer nie). In hierdie stuk is die hoofkarakters ’n tweeling, Daan en Doortjie, wat deur hulle ma en hul oupa grootgemaak word. Ma Bella noem hulle haar “speelgoed uit die hemel”.

Marguerite Robinson skryf oor die opvoering (Beeld, 3 September 1990): “Terwyl Fourie se verhaal ontvou, duik die leemtes ongelukkig op. Sy geneigdheid tot te poëtiese dialoog wat plek-plek afbreuk doen aan die eg-menslike storie, hinder. En sy helder simboliek word net te voorspelbaar. En jy verlaat die teater met gemengde gevoelens. Weliswaar nie die intellektualisme van Die groot wit roos nie, maar ook nie die suiwer evokatiewe krag van die vroeëre dramas nie.”

In 1993 het Pieter Post Mortem vir die ATKV se Kampustoneel geskryf en is dit deur die UV se dramadepartement in die Wynand Mouton-teater in Bloemfontein opgevoer met Pieter self as die regisseur.

Braam Muller (Volksblad, 15 Maart 1993) het die stuk beskryf as “ontstellend en dramaties” wat daarop gedui het dat die dramadepartement weg wil beweeg van sogenaamde veilige stukke. Die stuk het gesorg vir boeiende teater.

Muller het voortgegaan: “Fourie plaas weer ’n aspek van die Afrikaner in die kollig – wat eintlik blyk nie veel te verander het sedert die afskaffing van Apartheidswetgewing nie. Hy laat wel toe dat ’n bruin huishulp in die vrykamer intrek, maar kyk steeds neer op sy bruin mede-Afrikaner, skuil nog onder die dekmantel van kerk en die Bybel, maar sluit sy oë as dit pas.

“Die stuk begin met drie hope gronde en Trien in swart. Die weduwee begin die dooies oproep. En so beleef die gehoor dan die verhaal van Trien, haar godsdienstige, gebonde man, Basjan, die huishulp Vytjie en dié se vriend, die plaashulp Gulu.

“Dit word ’n driehoek, ’n vierhoek waarin die waarheid harteloos en genadeloos oopgevlek word. Hierdie is prikkelende, eietydse toneel en ’n goeie ervaring.”

In 2016 gee Protea Boekhuis Post Mortem uit en Dewald Koen beskryf dit as die “sluitstuk” in Pieter Fourie se vierluik plaastragedies ná Ek, Anna van Wyk, Die koggelaar en Donderdag se mense.

Koen skryf voorts: “Met die intrapslag word die leser gekonfronteer met die verbitterde vroulike verteller wat duidelik vasgevang is in ’n ongelukkige huwelik waar haar vroulikheid jare lank deur tradisie en die patriargale stelsel onderdruk is. (…)

“Vytjie en Basjan se interaksie lei tot spanning tussen verskeie karakters. (…) Vytjie se karakter versinnebeeld die verlies van onskuld en raak in Fourie se Post mortem ’n eeue oue tema aan van verhoudings tussen vroulike werkers wat deur hul manlike gesagsfigure uitgebuit word. Wat Fourie se dramateks egter verskillend maak van die voorspelbare narratief, is die onverwagse wending en ontknoping van die verhouding tussen Basjan en Vytjie.

“Met gemaklike en toeganklike dialoog, boeiende handeling en interessante verwikkelings is Post mortem een gepubliseerde dramateks van 2016 wat eenvoudig gelees móét word.”

In 2001 het Pieter die opdragstuk Naelstring vir die Aardklop Kunstefees geskryf. Hiermee is hy dalk “weer by ’n keerpunt in my werk: ’n verkenning van die universele”. Met die werk saam met die bekende regisseur Marthinus Basson het Pieter sterk onder die indruk van die visuele gekom. “Toneel is tog visueel en handeling. Soos Peter Handke voel ek soms dat ek ‘wil kots van die woord’, maar die woord bly onontbeerlik in teater. In Naelstring probeer ek ’n nuwe pad vind tussen die handeling en die woord. Ons moet maar sien hoe dit werk ...” (Aan Barrie Hough, Rapport, 30 September 2001)

Met die publikasie van Naelstring (’n band tussen twee teaterstrominge) deur Protea Boekhuis in 2001 het Pieter Fourie die terrein van die surrealistiese drama betree.

Eben Cruywagen (Die Burger, 7 Januarie 2002) beskryf die stuk as volg: “Naelstring is ’n tweepersoonstuk wat hom op ’n gestroopte verhoog af speel. Die markante simboliek in die teks toon analogie met hierdie visuele gegewe – ’n swart verhoog met ’n wit krat waaruit allerlei rekwisiete gehaal word; ’n wit vrou wat in die openingstoneel aan ’n bruin seun die lewe skenk (wat suggereer dat die vader ’n swart man is – ’n feit wat in die verwikkeling bevestig word) en bykans die volle duur van die drama weier dat die naelstring geknip word.

Naelstring is die mees surrealistiese van Fourie se werk, tegniese en tematiese ooreenkomste met ander dramas in sy oeuvre ten spyt. Daar is selfs spore van die Absurde (veral Ionesco) te bespeur in Vrou wat weier om Baba se naelstring te knip en hom dekades lank daarmee manipuleer en selfs onderdruk. Dit word die leitmotif sowel as sentrale rekwisiet, en skep geleentheid vir eksperimentering met die ‘fisieke teater’. (…)

Naelstring is ’n uiters visuele, gelade werk. Dit is deurspek met simboliek, en die dramatiese ironie bied geleentheid vir ’n verskeidenheid van interpretasie-moontlikhede – ’n uitstekende platform vir eindelose gesprekvoering, debattering en argumentering. Maar onthou dat geweld verdruk.”

Vir Johan Coetser (Beeld, 10 Desember 2001) sluit die aardse en humoristiese dialoog in Naelstring aan by Fourie se volksdramas en betrek aldus een betekenis van die titel. “’n Tweede betekenis hou met die gebruik van metadramatiese tegnieke in sy ‘ernstiger’ werk verband, met ander woorde met die aard van die opgevoerde teks.

“’n Derde betekenis hou met die tragikomiese aard van die drama en die naelstring as verhoogmetafoor (simbool) verband.”

Maar vir Coetser is Naelstring nie ’n nuwe hoogtepunt in sy werk nie. “Dit maak egter sin om dié tematies vernuwende teks teen die agtergrond van Fourie se oeuvre te lees.”

Pieter het ná 45 jaar in die vroeë 1990’s na Luckhoff teruggekeer en het weer die tyd van die hele emosionele aanloop na apartheid beleef. “Die hele groot wit mislikheid wat jy as kind beleef het. As sensitiewe kind het jy alles ingeneem, hierdie ding sien groei in jouself. (...) Jy het grootgeword in daardie totale magseuforie; magsdronkheid van die Afrikaner. En om ná 45 jaar terug te gaan binne daardie selfde gemeenskap, en te sien hoe hulle dit nou hanteer, hoe die sweer homself uitgesweer het. Daaroor sal ek graag wil skryf.” (Sarie, 27 Maart 1996)

In 1997, na sy aanstelling as feesdirekteur van die KKNK, het Pieter gesê: “Ek is totaal verbind tot die fees, die etiek en doelstellings daarvan, met behoud van vryheid. (...) Van die woord ‘go’ het ek besef die fees is óf ’n dooie lam óf ’n sesling, en dat die verantwoordelikheid hoofsaaklik by my en my direksie lê watter een dit sou wees. Ons het die uitdaging ontleed, aanvaar en in daardie stadium ’n eensame koers vreesloos ingeslaan. Die res is geskiedenis. Geen drapering van landsvlae, geen opening en afsluiting nie. Informeel, ’n fees vir die mense, sonder bymotiewe, toesprake en hoogwaardigheidsbekleërs.” (De Kat, Maart 1997)

Die Rapportryers van die Langenhoven-streek het hom in 1996 vereer vir sy voortreflike bydrae tot die vestiging en uitbouing van die KKNK op Oudtshoorn, asook vir sy bydrae oor baie jare as dramaturg, regisseur en toneelspeler om Afrikaanse toneel in Suid-Afrika te bevorder.

In 1997 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir Pieter vereer deur ’n erepenning vir toneelkuns, asook deur die Gerhard Beukes-prys aan hom toe te ken. Temple Hauptfleisch het in sy huldigingswoord as volg gesê: “Fourie het nie net talle jong toneelspelers die geleentheid gegee om professioneel op te tree nie, maar het een van die mees dinamiese geselskappe ooit op die been gebring.

“Sy persoonlike en artistieke verhouding met die omstrede, maar interessante nuwe Afrikaanse generasie skrywers, regisseurs en spelers, asook eie uiteenlopende eksperimente met toneel skryf, het veel gedoen om die sogenaamde ‘Nuwe Drama’ In Suid-Afrika te vestig.” (De Kat, Maart 1997)

Pieter is in 1996 getroud met Malette, sy derde vrou, en hy het vyf dogters – twee by Liz Dick, sy eerste vrou, twee by Marlize, sy tweede vrou, en die vyfde by Malette. Hy en Malette woon tans op Oudtshoorn.

Pieter is verlief op oudhede en restourasiewerk, meubels, geboue, noem maar op. Klere is nie vir hom belangrik nie, skoene ’n doring in die vlees, kouse ’n Middeleeuse dwangbuis. Hy is ook dol oor ou motors en sy Mercedes, ’n 1958 M220 S-model, is ’n algemene gesig in Oudtshoorn se strate. Maar hy gesels met sy dogters en probeer op hoogte bly met jong kunstenaars, wat hulle smake en ideale en neigings is. 

In 1998 is Pieter se pos as feesdirekteur afgeskaf en is Pieter aangestel as artistieke bestuurder (woordkuns). Karen Meiring word die nuwe feesbestuurder. Pieter is verlig hieroor, want dit het aan hom tyd gegee om weer te skryf – iets wat hy nie kon doen vandat hy feesdirekteur geword het nie.

In 1998 is Pieter verkies as lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se kommissie vir uitvoerende kunste en hy is ook aangestel as een van die trustees van Die Kuns- en Kultuurtrust van die president. Pieter het as volg hierop gereageer: “Hoewel hierdie aanstellings in my persoonlike hoedanigheid is, glo ek tog dat die sukses van die KKNK iewers op die agtergrond ’n bydraende faktor was. Ek is 38 jaar ononderbroke betrokke by die uitvoerende kunste, maar die laaste vier jaar in Oudtshoorn was sekerlik die grootste uitdaging.” (Volksblad, 3 Julie 1998)

Pieter se Ek, Anna van Wyk word in 1999 by die KKNK opgevoer as ’n koproduksie van die vier kunsterade — Sukovs, Kruik, Naruk en Truk. Dit is die eerste keer dat die kunsterade saamspan om ’n produksie aan te bied. Ek, Anna van Wyk maak in 1984, toe dit tydens die ATKV Kampustoneel-kompetisie opgevoer is, opslae op die Afrikaanse verhoog, onder meer oor ’n vroulike volnaaktoneel. Maar dit is soos almal Pieter beskryf – hy gaan nie kompromieë aan nie.

Ná die opvoering van Anna van Wyk met Dieter Reible as regisseur in die Staatsteater in Pretoria in 1985 het Paul Boekkooi (Beeld, 30 Augustus 1985) as volg geskryf: “Die inhoudelike van die stuk of die mate van herkenning wat elke individu by Ek, Anna van Wykmag ervaar, is ’n dwingende saak vir selfondersoek en leen hom eintlik nie tot rasionalisasie nie. Dieter Reible se produksie vir Truk – sy eerste as vaste regisseur van dié streeksraad – ontleed en openbaar die kruitvat van onregverdigheid, manipulasie, indoktrinasie en korrupsie tot op die been.”

Boekkooi het afgesluit: “Hoewel nie altyd in alle opsigte ideaal ten opsigte van stemming en struktuur nie, is dié produksie van Ek, Anna van Wyk een wat ’n mens weer en weer sal wil sien. Die raamwerk van gegewens en rype subteks vereis dit van die teaterganger wat hom as Afrikaner tegelykertyd oopstel vir selfkritiek.”

Ek, Anna van Wyk is in 1986 die eerste maal gepubliseer en in 2002 gee Protea Boekhuis ’n tweede, hersiene uitgawe uit. Vir Johan Coetser (Beeld, 7 April 2003) is hierdie drama ’n hoogtepunt in die Afrikaanse drama ná 1976; dus moet hierdie heruitgawe verwelkom word.

“Uiterlik gaan die drama oor Anna Terre’blanche se huwelik met Junior, haar versweë epilepsie wat meebring dat sy haar seun by die doopvont laat val, en haar inperking tot ’n inrigting.

“Kritici het hierdie oënskynlik eenvoudige gegewe geïnterpreteer as onder meer ’n ondersoek van die Afrikaner-gemeenskap: die rol wat kerk, politiek (mag) en gender (geslagsidentiteit) daarin speel. Waar Elke duim ’n koning die psige van ’n toneelarties ondersoek, werk Ek, Anna van Wyk met die psige van ’n kultuurgroep.”

In 2014 het die dramadepartement van die Universiteit van die Vrystaat weer Ek, Anna van Wyk op die planke gebring met die hoof van hierdie departement Nico Luwes as regisseur en derdejaarstudente in die rolverdeling.

Die debakel rondom die bekende en berugte Boetman-brief van Chris Louw het Pieter in 2000 geïnspireer om ’n drama, Boetman is die bliksem in!, rondom die gebeure te skryf.

Pieter het meer uitgebrei oor dié debakel teenoor Francois Griebenow (Beeld, 30 Mei 2000): “Chris Louw se brief was soos ’n vonk by die kruitvat en die reaksie kring steeds wyer. Die vroue klim ook in, en dis wonderlik. Dis hoog tyd dat dié ding oopgekrap word. (…)

“Daar is twee redes waarom ek bly is oor die ongekende reaksie op die Boetman-brief. Noudat die hou-jou-bek-kultuur aan die kaak gestel is, het mense vrymoedigheid om te skryf oor gevoelens wat jare lank opgekrop was.”

Vir Fourie was die ander positiewe uitkoms van die polemiek die rykdom materiaal wat daaruit voortgevloei het en wat kon uitloop op ’n dokumentêre drama in Afrikaans – “’n drama uit die volk, deur die volk, vir die volk. Mans en vroue uit alle beroepe is besig om die pen op te neem en een van die grootste dramas te skryf wat nog ooit in ons geskiedenis geskryf is. Of hulle dit nou weet of nie, almal wat op Louw se brief reageer, is mede-skeppers van ’n lewende drama wat om ons afspeel. En hulle skep nie niet die karakters wat daarin speel nie; hulle ís die karakters.”

Pieter het sy rol as dramaturg in die storie gesien as dié “van griffier – iemand wat sy ambag gebruik om die gebeure op te teken,” het hy aan Francois Griebenow gesê. “Ek moet die materiaal wat geskep is, sif en die essensie daarvan vasvang. Ek glo dit gaan die eerste werklike dokumentêre drama in Afrikaans wees, ’n eindproduk wat almal help skep het.” Die drama bestaan uit vier elemente: Louw se brief, die reaksie daarop, Willem de Klerk se reaksie en Louw se repliek. (Beeld, 30 Mei 2000)

Boetman is die bliksem in! het in 2000/1 twee FNB Vita-toekennings gewen – vir die beste nuwe Afrikaanse toneelstuk en beste produksie.

Pieter stig ook in 2000 se eie produksiemaatskappy, Rooderandt Produksies, wat binne ’n jaar vier produksies op die planke bring, onder andere ook Pieter se stuk oor die teaterlegende André Huguenet, Elke duim ’n koning, wat in 2003 deur Protea Boekhuis gepubliseer is. Die stuk is tydens die KKNK van 2001 vir die eerste maal opgevoer met Gavin van den Bergh as André Huguenet en Rolanda Marais as die Aktrise.

Johan Coetser som die drama as volg op (Beeld, 7 April 2003): “Die Aktrise speel die rol van ’n student wat pas ’n navorsingsprojek oor die lewe en werk van Huguenet voltooi het. Sy doebleer in ander rolle, onder andere as Huguenet se moeder.

“Haar navorsingsverslag is die aanleiding om Huguenet op die verhoog uit die dood terug te roep, en om hom aan ’n eie uitspraak te toets (naamlik die motto van die teks): Daar is wet wat eis dat mate en gewigte altyd weer getoets moet word en dié wet behoort ook op dokters en onderwysers toegepas te word, maar veral op verhoogkunstenaars.

“Dit bring mee dat Elke duim ’n koning groei tot ’n ondersoek van Huguenet as mens, as akteur, maar ook van opvattings oor die toneelkuns en dramateorie. Die teks is gevolglik ook ’n ondersoek van een van die eerste premisse van teater, naamlik die verhouding tussen spel (skyn) en werklikheid.

“Die toneelganger/leser vind die dramatiese ondersoek van gedeeltes van Huguenet se lewe terug in die analogie van die teater as spieël van die werklikheid. Dit geld veral van die ondersoek na sy seksuele identiteit in die tweede bedryf.

“Verder vertoon die drama kenmerke van die teater van herinnering, met ’n sterk biografiese kleur. Die dramaturg het opvallend van gepubliseerde bronne gebruik gemaak om die handelingsverloop te skep. (…)

Elke duim ’n koning is ’n besonder digte teks. Vanweë die plesier van die ontdekking van tekste in gesprek sowel as Fourie se sprankeldialoog, sal toneelliefhebbers en kenners van Huguenet hierdie drama in opvoering en as leesdrama ewe genotvol vind.”

In sy kritiek op Die koggelmanderman wat in 2002 die Nagtegaal/KKNK-kompetisie vir nuutgeskrewe verhoogtekste gewen het, sê André Brink, wat een van die beoordelaars was, dat die outeur sy verhoog ken en weet hoe om kontraste en dramatiese effekte te hanteer. Tog is te veel nog idee, te min het al sy finale beslag gekry.

Hierdie drama het sy ontstaan gehad toe Pieter op ’n keer buite Philippolis ry en ’n bloukopkoggelmander op ’n ysterklip sien sit het. Die beweging van die koggelmander se kop het ’n ou herinnering in Pieter losgemaak van die boer wat met ’n halwe bloukopkoggelmandermasker en ’n stert gevleg met repe uit ’n binneband, vir sewe jaar by sy plaashek sit en wag het op sy vervreemde vrou. “’n Ent verder het die sien van die koggelmander én ’n storie uit my kinderdae skielik bymekaargekom in die ou Boesmangesegde: ‘Waar die bloukopkoggelmander sit, dáár lê die vrou tevrede.’” (Aan Jens Friis, Volksblad, 23 Februarie 2005)

Oor die regisseur van Koggelmanderman, Marthinus Basson, se vertolking van hierdie stuk, was Pieter baie opgewonde, het hy aan Francois Smith gesê (Die Burger, 16 April 2003): “Kwits, man, kyk wat het jy daar: Jy het jou regisseur, die skilderkuns, beeldhoukuns, musiek, dans, ballet … Hier het ons weer teater soos wat hy moet wees: kollektiewe kuns.

“Volgens dié benadering moet ’n dramateks nooit heeltemal voltooi wees nie. As ek niks aan Marthinus oorlaat nie, het ek ’n swak teks geskryf. Kyk maar na Shakespeare se Titus Andronicus. Kan jy swakker? Maar in die hande van grotes word dit iets aangrypends.”

Pieter Fourie het in 2001 aan Volksblad (7 Mei) meer vertel oor wat hy lees: “Buite my vakgebied lees en reageer ek op romans en poësie as blote individu met sy persoonlike smaak en hebbelikhede. Twee dinge ontroer, prikkel en bevredig my by die lees van ’n boek of ’n bundel poësie – ja, selfs in die kyk na ’n skildery of ’n beeldhouwerk. Aan die een kant: toeganklike eenvoud met ’n eerlike ondertoon, sterk verhaal, identifiseerbare karakters wat as ’n geheel uitstyg bo wat Van Wyk Louw ‘gemoedelike, lokale realisme’ genoem het en ’n wêreld van universaliteit en tydloosheid betree. Hier troon Bart Nel van J van Melle vir my kop en skouers uit bo al diesulkes.

“Aan die anderkant: ’n ragfyn verwikkeldheid, verskuilde suggesties, misterieuse prikkels en ontwykende klaarheid. Die lees van so ’n werk word een opwindende – dog frustrerende – speurtog en opwindende reis deur die katakombes van die gees. Hier bly Sewe dae by die Silbersteins deur Etienne Leroux die hoogtepunt van alles wat ek nog in die genre gelees het.”

Met die ontvangs van die Hertzogprys vir sy hele oeuvre in 2003 het Pieter aan Fanie Olivier vertel (Beeld, 4 April 2003) dat hy in ’n mate stomgeslaan is, maar ook bly. “Hierdie toekenning wys weer hoe daar wegbeweeg word van die leesdrama na die verhoogdrama. En dit terwyl ek darem nog aktief aan die skryf is. Anders as met Adam (Small) en Bartho (Smit). Weet jy, Bartho is die man wat eintlik by ons die verhoogdrama ingevoer het. Hy was my mentor. En hoeveel keer is sy stukke nie afgeskiet nie, nek omgedraai kort voor die opvoering deur ’n streekraadbedeling waar vryheid nie bestaan het nie.

“En Kanna! – 41 jaar oud, en steeds die beste drama in Afrikaans ... Dit is die mees universele en tydlose stuk wat nog in Afrikaans geskryf is.” Pieter was van mening dat as Adam Small na die graf moes gaan voordat hy die Hertzogprys gekry het, sou dit ’n ewige spook wees wat oor die Hertzogprys bly hang. (Rapport, 6 April 2003)

Pieter sou self die Hertzogprys die graagste wou ontvang het vir Die joiner, omdat dit nog die meeste omtrent homself sê en hoe hy na toneel kyk. Maar ongelukkig sou die establishment nooit daarvan gehou het nie: “Daardie soort WVK rondom die Anglo-Boereoorlog word darem te ongemaklik.” (Beeld, 4 April 2003)

Pieter Fourie het ook aan Pieter Malan (Rapport, 6 April 2003) gesê dat hy baie ingenome is met die “Boere-Nobel”: “Wat hulle ook al sê van die verlede van die Hertzogprys gee dit jou steeds ’n moerse kick om dit te kry. Dis die Rolls Royce (van literêre pryse). Dit gee jou selfvertroue. Ek wil amper sê dit het inspirerende betekenis.”

Hy het verder aan Francois Smith vertel dat die ontvangs van die Hertzogprys vir hom ’n “persoonlike vreugde” was. “Dit hou verband met ’n verskuiwing in denke oor die gepubliseerde drama, dat dramas nie meer net as leestekste beskou word nie, maar ook as verhoogstukke. Met ander woorde, die teaterwerker met ’n talent vir skryf kan op gelyke voet meeding met die toneelskrywer met ’n effense instink vir die verhoog. Ek skryf nie letterkunde nie. Ek skryf goed vir die verhoog. Ek is ’n teaterwerker.”

Voor Etienne Leroux se dood in 1989 het Pieter by hom op Koffiefontein gekuier. Leroux het vertel dat hy Pieter beny omdat hy self nie volksdramas en sterk letterkundige werke kon skryf wat algemeen aanklank vind nie. Pieter het hom egter daarop gewys dat daar reeds twee karakters in Magersfontein, o Magersfontein is wat verder ontgin moet word – die plaaswerker Gert Garries en die verkeersbeampte Le Grange. So ontstaan Gert Garries – ’n Baaisiekel Babelas. “Ek het twaalf jaar nodig gehad om te besin hoe ’n mens die wêrelde van ’n volkskrywer (ek self) en ’n intellektuele reus (Leroux) kon laat saamsmelt tot ’n sinvolle geheel. Maar toe ek besef dat merino-, dorper- en Persiese skaap mekaar in die Suidwes-Vrystaat kan vind, het ek geweet dat Fourie en Leroux hulle dit sou kon nadoen. Die meeste van my karakters (...) kom net so uit my kinderwêreld. Maar dit is veral eksentrieke, deerniswekkende individue wat my as kind aangegryp en laat besef het: volronde mense kom uit alle lae van die samelewing. (...) Sulke karakters smeek om op papier verewig te word, want in ’n wêreld wat almal in ’n grys tegnologiese massa wil saamvoeg, het die individu – wat eintlik ’n juweel moet wees – ’n steen des aanstoots geword.” (Volksblad, 23 Februarie 2005)

In 2002 is Gert Garries by die KKNK opgevoer onder die titel Gert Garries: 'n baaisiekel-babelas. Dit is deur Pieter Fourie self vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees geskryf en het op 30 Maart 2002 (onder regie van Marthinus Basson en Rooderandt Produksies) suksesvol gepremière. Die stuk is daarna ook opgevoer by Kunstekaap, in Bloemfontein, by Aardklop en by die Walvisfees op Hermanus, en is gunstig deur gehore ontvang. 'n Radioverwerking van die drama is deur Eben Cruywagen in 2019 gedoen en is in die eerste Radioteater-seisoen van 2019 op RSG uitgesaai.

Met hierdie drama het Pieter Fourie Gert Garries se karakter uit Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein so ’n bietjie vleis gegee. 

“Die plaaswerker Gert Garries ry vir drie dae met die verbrande liggaam van sy kind op sy fiets rond. Hy wil ’n doodsertifikaat bekom, ’n voorvereiste voordat hy die kind kan begrawe. Weens sy velkleur word hy egter deur die burokrate van bakboord na stuurboord gestuur. Na sy ontmoeting met Le Grange, ’n empatiese verkeersbeampte, ontstaan ’n sonderlinge verhouding tussen hulle. Hierdie verhouding suggereer ’n beter toekoms en menslike identiteit vir Gert, terwyl die kind simbool word van ’n bitter en wrang verlede. Eindelik begrawe Gert sy kind saam met die room van die Engelse. Die gehoor volg Gert Garries op sy drie dae lange fietsrit en beleef saam met hom ’n prutpot van emosies. Die drama word gepubliseer in 2019 deur Protea Boekhuis as Gert Garries: ’n Baaisiekel-blues.” (Inligtingstuk van die uitgewer)

In Literator (vol 41, no 1) skryf Marisa Keuris as volg oor Gert Garries: “Gert Garries: ’n Baaisiekel-blues is ’n uitsonderlike drama in Pieter Fourie se oeuvre: saam met Gert gaan die lesers en toeskouer op ’n dolle reis vol swart humor, skreiende ironieë en klugtige absurditeite, maar besef ook ten slotte hoeveel patos daar in die lewe en dood van ’n enkele baba opgesluit kan lê. Fourie is bekend vir sy uitsonderlike karakterbeeldings (veral in sy sogenaamde volksdramas, byvoorbeeld die Faan-dramas) en dialoog vol oorspronklike beeldspraak. In hierdie drama sou net die besondere taalgebruik (vergelyk die gesprekke tussen Gert en Lord Sudden, asook sy interaksies met die swart chauffeur) ’n studie op sigself kon inhou. Die publikasie van hierdie drama deur Protea Boekhuis word dus verwelkom: dié werk van Pieter Fourie kan as een van die hoogtepunte in sy oeuvre beskou word.”

Daniel Hugo (Die Burger, 29 November 2003) lewer die huldigingswoord met die oorhandiging van die Hertzogprys aan Pieter: “As dramaturg het veral vier soorte mense in sy skryfwerk belang gestel: die toneelliefhebber, die resensent, die akademikus en die sensor. Met die lojale en entoesiastiese ondersteuning van die toneelliefhebber het hy die ander drie seëvierend oorleef. (...) Fourie het aan die begrip volksteater ’n besondere diepgang gegee. As ek hom daarom ’n volkskrywer noem, bedoel ek dit as erenaam. Die mens, en in besonder die Afrikaanse mens, kom in ’n ryke verskeidenheid van gestaltes en situasies in sy werk voor. Hy het Suid-Afrikaanse gehore emosioneel, moreel én ideologies help lei in veelbewoë tye. Sy toneelstukke het dikwels ’n sielsnodige katarsis by misleide en verwarde mense teweeg gebring. (...) Pieter Fourie is ’n dramaturg vir al vier die seisoene van dié tragiese en komiese land: hy ken die speelse en romantiese lente, die volryp en verskroeiende somer, die melancholiese en euforiese herfs, die besinnende en sentimentele winter.”

Pieter Fourie se bekroning in 2002 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, asook die Gerhard Beukes-prys vir Drama; sy insluiting in 1997 as trusteelid van die Kuns- en Kultuurtrust van die staatspresident, asook die feit dat hy in 1998 vir drie jaar aangestel word as kommissielid vir kuns by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, is van die belangrikste erkennings vir sy werk.

Ander toekennings is die Nagtegaalprys vir Afrikaanse teater. Vir sy bydrae tot die groei van die KKNK, die bevordering van toerisme in Oudtshoorn en die streek, en sy uitbouing en handhawing van Afrikaans word hy in 2003 deur die Oudtshoorn Sakekamer bekroon. Die Universiteit Stellenbosch bekroon hom ook in 2003 met ’n spesiale toekenning vir sy uitsonderlike bydrae tot die Suid-Afrikaanse teaterbedryf. In 2006 word ’n Fleur du Cap aan hom toegeken vir sy bydrae as voortreflike veelsydige teaterpraktisyn as toneelbestuurder, kultuurfeesorganiseerder, speler, regisseur en dramaturg. Vanaf 2006 is hy lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Akademie bekroon hom met ’n erepenning. In 1996 ontvang Fourie die erepenning vir toneelkuns en die Gerhard Beukes-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. In 2019 publiseer die Akademie ’n bundel aan hom, onder redaksie van Fanie Olivier, met die titel Pieter Fourie: Teatermaker: ’n Huldiging.

Op 11 Mei 2011 word die kroon op sy loopbaan gespan as die Universiteit van die Vrystaat ’n eredoktorsgraad (DLitt) in Drama en Teaterkuns aan Pieter toeken vir sy bydrae tot die Afrikaanse teater in Suid-Afrika. In sy bedankingstoespraak by die Kanseliersete het Fourie weer sy bekende woorde oor die kunstenaar herhaal: “Die kunstenaar is soos ’n vlermuis. Dis ’n lelike ding wat in die nag werk en alles onderstebo sien as hy hang. Hy sien die wêreld om hom uit ’n totaal ander hoek.” (Nico Luwes op LitNet)

In 2010 is die Afrikaans Onbeperk-prys vir sy lewensbydrae deur die KKNK aan Pieter toegeken en in 2012 is hy ook deur die feeskomitee van die Innibos-kunstefees vereer vir sy lewenswerk. ’n Beeld deur die Laeveldse beeldhouer Arend Eloff is aan hom oorhandig ná ’n opvoering van Mooi Maria op die fees.

Ná die toekenning deur die Innibos-fees wou Anna-Retha Bouwer by hom weet wat dit vir hom beteken het: “Inaggenome die kern van my oeuvre voel ek ek word vereer as nasaat van ’n Boer en nie spesifiek as Afrikaner nie. Daarop is ek trots en dit maak my opreg dankbaar. My lewensfilosofie word uitgespel in Die joiner: ‘Staan eers jou man as mens en dan as Afrikaner.’ Dit was 51 jaar lank die fondament van my dramaturgie en teaterbestuur.” (Beeld, 19 Junie 2012)

In 2017, op 77-jarige ouderdom, word Pieter Fourie se eerste digbundel by Naledi Uitgewers gepubliseer. Pieter was die laaste van die manne van die 60’s, skryf Gerard Scholtz in De Kat, asook die laaste van DJ Opperman se “laboriete”. “Ek is so bly dat ek onder hom die woord kon leer ken,” was Pieter se kommentaar.

In De Kat van Mei/Junie 2017 vertel Gerard Scholtz van ’n kuier by Pieter en Maletta in Onrusrivier. Tydens hierdie kuier het Pieter aan hom vertel van ’n “stortvloed woorde en beelde wat as verse by hom opgewel het”. Hy kon dit nie keer nie.

Pieter het vertel: “As ’n woord eers daar is, soek hy ’n lewensmaat. ’n Woord langs hom of ’n woord onder hom. Dit het alles net gebeur. Ek dink dit het ook te doen met die skoonheid van die taal. Dit het alles net gebeur. Die musikaliteit. En baie jammer om te sê, ook die verdwyning van sekere aspekte van die taal. Vir my alles vreemde ervaringe wat ek nooit as dramaturg geken het nie. In die vers ‘Kro’ het dit net spontaan gebeur. Woorde met ’n sekere drif wat binne-in jou lê. Dit het alles binne ’n minuut of twee gebeur. Woorde het mekaar gesoek en op ’n bondeltjie kom sit. En so het dit dwarsdeur die bundel geloop.”

Vir Pieter was die oorgang van dramaturg na digter nie deel van die “bokspringe van die lewe” nie: “Ek sien dit eerder as ’n eerste liefde wat nooit sterf nie. Ou liefde wat nooit roes nie. My eerste liefde was poësie en ek is terug daarby. Ek sal nie weer terugkeer na die skryf van dramas nie. Dis ’n geval van oumense moenie in die water mors nie, die kinders wil dit drink. Ek los dit nou vir die jonges.”

Hy het ook in Knapsekêrels teruggegaan na ’n Afrikaans van ’n vroeër generasie, want sy grootwordtaal is nog altyd lewendig vir hom, het hy aan Scholtz verduidelik en as voorbeeld die woord “waenhuis” genoem wat hy elke dag gebruik: “Weet jy wat se wonderlike woord is waenhuis in vergelyking met motorhuis. Alles is daarin. Velle. ’n Ou skaal. ’n Hele ou oopgevlekte wêreld. En om met hierdie ou Afrikaans te werk, is vir my fantasties.”

Die laaste gedig in die bundel het die dood as tema: “Vir twee jaar het ek loop soek na ’n enkele woord. Voor Hamlet sterf, sê hy: ‘Die res is stilte.’ Niemand kan dit meer gekonsentreerd, meer waar, wetenskaplik, meer kompak en meer filosofies stel nie. Maar ek wou dit hê. Ek wou die dood assosieer met stilte. Ek wou in hierdie ruimte van die dood inbeweeg van mens, blom, insek, dier, plant, enigiets, na stilte. En toe, sonder om plagiaat te pleeg, kom hierdie ou vergete woord by my op – allemensig / die klokhelder stilte.”

Daar sit ook veel meer agter die titel Knapsekêrels as net die saad van onkruid wat aan jou kom vassit: “Dit is iets onaangenaams wat jy in jou lewe ervaar,” het Pieter dit aan Scholtz uitgelê. “Dit steek, klou aan jou, dit wil jou nie los nie. Maar in hierdie bundel is dit nie net oor irritasies nie, nie oor dinge wat seermaak nie, nie rou wonde wat oopgeskaaf word nie. Dit is ook vir plesier. Dit is ook wonderlike oomblikke wat soos ’n knapsekêrel aan jou kom sit en jy vir die res van jou lewe wil onthou. Dit gaan ook wyer. Na die samelewing waarin ons leef. Wat hier en nou gebeur, lê deurspek van knapsekêrels.”

Johann de Lange skryf oor Knapsekêrels (De Kat, Mei/Junie 2017): “Dis lank sedert ’n digter met soveel onverdrote ywer met die volkstaal omgegaan het. Ons ken die hardnekkige knapsekêrels wat aan mens se klere of kouse vassit. By Pieter Fourie is dit die taal self wat so hardnekkig bly klou. Gaandeweg ontplooi die digter ook ander betekenisse, ander maniere waarop die titel gelees of verstaan moet word. Knapsekêrels is ’n stimulerende, uitdagende teks. Die taalregister wat betrek word, is wyd – en so ook die emosionele register. Selfs net op taalvlak is die verse loutere plesier.”

Joan Hambidge resenseer Knapsekêrels vir Volksblad van 29 Mei 2017 en vir haar was Pieter Fourie se debuut as digter “onverwags”. Sy beskryf hierdie verse as kontreiverse wat in die aard van die styl die leser laat terugdink aan NP van Wyk Louw se “Klipwerk”-reeks. Die verse neem haar ook terug na Ezra Pound se “In a station of the Metro” (1913), asook na Boerneef.

“Fourie praat dus hier met gekanoniseerdes, hier te lande en buitelands. Die nuttige woordelys maak die gedigte ‘oop’ vir die leser om die streekgebonde woorde in gedigte te begryp. Fourie, soos wyle Anton Prinsloo, een van my helde, bewaar ‘annerlike’ Afrikaans,” skryf Hambidge voorts.

“Hierdie soort skerfgedig word dikwels geskryf deur ’n volwasse digter wat terugkyk op sy jeug. Dis verse gevul met nostalgie, verlange en pyn; oor ’n wêreld wat vir ewig verby is. (…) Kortom, dit is nie die soort gedig wat ’n jongeling sal kan skryf oor sy jeug nie. (…)

“Fourie skryf boere-haikoes. Puntdigte. Onvoltooide verse wat wag vir invul en klaarskryf. Die gedig as blokkiesraaisel vir die leser.”

Fourie dig egter nie net oor die dood en ellende nie – net soos by Van Wyk Louw is daar ook humor in hierdie verse in Knapsekêrelsen is die skunnige ook te bespeur. “Kyk hoe laai Fourie ’n varkblom met seksuele innuendo. Die reeks ‘los kraletjies’ is ’n hoogtepunt in hierdie bundel met sy speelse aanslag:

2

tietermantollie
tonteldosie
in knippievlam
kring ons krosie (…)

“’n Man wat só kan dig, verdien al die akkolades. Om so ’n ‘geurtjie in gebeurtjie’ om te sit, vereis ’n vaste hand én oor. Pieter Fourie het met hierdie digterlike oes iets presteer: min woorde maar baie implikasie én nadink. Die digkuns as klokhelder stilte. Die uitgewer Naledi het hier ’n belangrike bundel gepubliseer en hiermee ou woorde aan die vergetelheid ontruk.”

Pieter Fourie se digterspen was nie stil ná die publikasie van Knapsekêrels nie. In 2018 word Bidsnoer by Naledi uitgegee en in 2019 Stof en ster, weer by Naledi.

Joan Hambidge is weer die resensent, maar hierdie keer vir Rapport (6 Mei 2018): “Die tweede bundel is ’n bliksem wat party digters van die Pegasus afgooi, maar gebeur dit nie. Fourie is vaardig in sy erns en guitigheid; in sy speelsheid en hartseer. Party lesers kan dalk voel hier is nie genoegsame vooruitgang of verdieping nie, maar basta! ’n Digter doen wat hy of sy kan – die onmenslike eis van ‘vernuwing’ is min van onse digters beskore.

Bidsnoer sluit duidelik aan by die reeks ‘los kraletjies’ in Fourie se debuut waarin hy in gesprek tree met Boerneef. (…)

Bidsnoer is ’n pragtige bundel vol volksryme wat in hul speelsheid en bedrieglike eenvoud bekoor, en miskien is die ‘nuutheid’ gewoon nou minder ‘nuut’ omdat die boek te na in die skadu of lig van die debuut staan. Hierdie bundel bewys hoe Boerneef en die onopgesmukte vers weer terugkeer ná jare se vergeet, selfs by moderne digters soos Breyten Breytenbach en Johann de Lange.”

Fanie Olivier (Beeld, 24 Junie 2019) het egter sy bedenkinge oor Stof en ster gehad. Vir hom bring hierdie derde bundel van Pieter Fourie “verstegnies” nie iets nuuts nie. “Die digter neem verder drie gedigte uit die vorige bundels hierin op, waarvan die lang en knap siklus ‘gehuggie’, uit Bidsnoer, een is. Die leser ontdek dan ook dat daar tematies ook nie juis nuwe dinge ter sprake kom nie, hoewel die aanslag miskien anders is.

“As ’n mens Stof en ster moes omskryf, sal jy dit kon saamvat as ’n uitgebreide reeks portrettekeninge van die lewe en van karakters op ’n klein plattelandse dorp. (…) Die klein, alledaagse omgang van mense met mekaar en hulle verskille en vooroordele, ’n wisselwerking van persone wat voortdurend op mekaar aangewese of van mekaar bewus is, word aan die orde van die dag gestel.”

Vir Olivier is daar te veel gedigte in die bundel waar die beskrywing oppervlakkig bly, “met een of ander korrektief of bywerking in die slotreëls, en mis ’n mens ’n beduidender wensing of insig. Die plesierigheid wat met die beskrywing saamhang, is in die meeste gevalle van so ’n aard dat die indruk en nadink jou nie bybly nie. In hierdie opsig mis te veel dinge in Stof en ster die diepgang wat die eenvoudige volkse verse van Boerneef, en selfs Ronnie Belcher, met hulle saamgebring het.

“Verstegnies haper daar soms iets aan die ritme in ’n klompie van die gedigte en mis ’n mens die tweede ‘nie’, die dubbele negatief wat juis in hierdie wêreld en sy taal tuishoort. (…) Moet my nie misverstaan nie. Daar is geweldige plesierige dinge, as vertellings, in die bundel aanwesig, maar dit op sigself is nie rede genoeg om die publikasie van Stof en ster te regverdig nie.

“Die bundel kon myns insiens sonder veel verlies met ’n derde gesnoei word. Of, nog beter, miskien sou dit verstandig gewees het om ’n jaar of twee te wag en te kyk of daar nie ook ander gedigte tot stand kom wat publikasie sinvoller sou gemaak het nie.”

Op Versindaba is Amanda Lourens meer positief oor Stof en ster: “’n Mens begin al byna té gewoond raak aan uitstekende poësie deur Pieter Fourie, sowel as aan artistiek keurig versorgde digbundels uit Naledi se stal. Stof en ster, die derde bundel uit Fourie se pen nadat Afrikaans se voorste dramaturg se digterlike wal in 2017 met Knapsekêrels gebreek het en in 2018 met Bidsnoer opgevolg is, sluit tematies en tegnies naatloos by sy voorgangers aan, sonder dat daar enige dalende lyn in terme van gehalte te bespeur is.

“Fourie se poëtiese styl en aanslag is teen dié tyd kenmerkend, en die bundel bevat ongetitelde verse wat die leser se middelklas-verstedelikte gemaksone deur die eerlikheid en gestrooptheid daarvan uitdaag. Hierdie digter skroom nie om deur te dring tot in die diepste kern van die menslike psige met sy primordiale drifte nie, maar nêrens word dit met grootdoenerigheid of vertoon aangebied nie – trouens, Fourie is die meester van die nugter en eenvoudige, maar altyd gelade en meerlagige gedig. Soos in die vorige bundels lei die volkse taalgebruik tot besondere klankeffekte, maar skep dit ook die eiesoortige aardse en lokaal realistiese tekstuur van Fourie se poësie. (Fourie self bestempel sy werk as ‘folk’-realisme, en verskaf voor in die bundel ’n aanhaling van David Barnett wat hierdie kunsrigting soos volg omskryf: ‘Folk realism is the new genre as literary work, reminding us that under our veneer of sophistication we are of the soil that still breathes and remembers the old ways under the layers of tarmac and concrete that we hide it beneath.’)

“Die bundel het sy oorsprong in die lang gedig ‘gehuggie’ in Bidsnoer (geïnspireer deur Dylan Thomas se bekende Under Milk Wood), volgens ’n nota van die digter voor in die nuwe bundel.

“Die lieflike kunswerk op die voorblad deur Maletta Fourie is ’n soort impressionistiese beeld van ’n landskap, sonder té veel realisme of detail. Eerder skep dit die indruk van ’n vloeibaarheid of ’n vormingsproses, wat sterk aansluit by die ‘swerfsand’ binne ’n groter kosmiese opset, soos wat in die eerste gedig aan die orde gestel word:

die oerknal sper
sy heelal af
mens plant insek dier
leef hier stil deurdag
verken hul al
kortom
swerfsand
strawasie
vervlietend
onder
ster en son:

“Op ’n manier kan die titel Stof en ster geïnterpreteer word as ’n deel-geheelverhouding, veral wanneer die kosmiese situering van die bundel in gedagte gehou word. Stof is ’n relatief klein vorm van materie, en ook die samestelling van die twee naamwoorde (‘sterstof’) aktiveer die moontlikheid van stof as die boustof van sterre, oftewel aansienlik groter konglomerate van materie, alhoewel hulle op hul beurt weer dele van die veel meer komplekse sterrestelsels is. En wat in die bundel voorgehou word, is ook niks anders nie as ’n deel-geheelverhouding: Die bundel gaan naamlik oor ’n landelike gemeenskap, maar word saamgestel uit bepaalde karakters en hulle individuele wel en wee. (…)

“Fourie verken die spektrum van lewe binne ’n gemeenskap op meesterlike wyse, en ontbloot met humor en deernis die tragiek van individuele menselewens, maar skroom ook nie om die skadukant van die gemeenskap aan die kaak te stel nie. (…)

“Stof en ster is in alle opsigte ’n merkwaardige bundel deur ’n digter wat hom in ’n kort tyd as ’n belangrike rolspeler binne die Afrikaanse poësiesisteem gevestig het.”

In 2019 is Pieter Fourie deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer toe ’n huldigingsbundel wat deur Fanie Olivier saamgestel is, gepubliseer is. Dit was die derde bundel in die Akademie se boekeprojek oor Hertzogpryswenners.

Pieter Fourie het aan Christiaan Boonzaier (Volksblad, 1 Julie 2019) gesê dat hy nuuskierig en baie bly is oor hierdie bundel waarin daar na sy lewe en werk gekyk word: “Ek kan nie wag om dit te lees nie. Dit is seker een van die hoogste vorms van erkenning wat jy kan kry – en dit is min mense beskore!

“Natuurlik gaan ek dit lees. Ek is nie ’n vreeslike sosiale ou of ’n statussoeker nie, maar ek is ’n ou wat my werk gedoen het, en as jy erkenning vir jou werk kry, moet jy dankbaar wees daarvoor.”

Die bundel bevat ook ’n biografiese hoofstuk wat deur Pieter self geskryf is: “Ek het aanvanklik vir Fanie Olivier gesê ’n jakkals gaan nie oor sy eie stert praat nie, maar hy het aangehou en gesê ek het ’n lekker skryftrant en ek moet daaroor besin. En toe het ek dit heroorweeg en besluit om dit te doen. Ek het eintlik aan alle aspekte van my lewe geraak – van my geboorte af tot nou – maar ek het besluit om dit vanuit die derde persoon te skryf sodat ek van buite af na my lewe kon kyk. Ek het dit nogal tong in die kies en met genoeg humor benader,” het hy aan Boonzaier vertel.

In dieselfde onderhoud met Boonzaier het Pieter afgesluit: “My oeuvre groei steeds. Ek het die afgelope tyd ’n interlude gehad, toe ek met die poësie besig was, maar ek het drie bundels in drie jaar gepubliseer en voel nou redelik skoon aan die binnekant. Oor my volgende stap wil ek eers besin, maar stilsit kan ek nie.

“Daar is altyd dinge wat enigiemand nog in hulle lewe sal wil doen. Etienne Leroux se Die eerste lewe van Colet spook by my. As dit rustiger word en ek kry toestemming, sal ek dit graag wil verwerk, want dit bly vir my een van die mooiste liefdesverhale in Afrikaans. Ek hoop regtig ek sal dit kan doen.”

Op 12 September 2021 is Pieter Fourie in sy huis op Onrusrivier naby Hermanus oorlede. Maagkanker is vroeër in September by hom gediagnoseer. Hy word oorleef deur Maletta, sy kunstenaarvrou, ’n stiefdogter en vier dogters (twee elk by Liz Dick en Marlize Herselman), asook kleinkinders.

Huldeblyke:

  • Marthinus Basson, teaterskepper: “Alle teater wat ek nog in my lewe ervaar het as ’n baken of rigtingwysend, was te danke aan Pieter Fourie. Hy moet benewens as groot dramaturg van klassieke dramas soos Die koggelaar, Faan se trein en Die joiner onthou word vir sy enorme werk as kunste-administrateur by die streekrade, waar hy daagliks ’n eierdans uitgevoer het.

“Nie net het hy as hoof van Afrikaanse toneel by Kruik voorsien in die behoefte van sy gehore nie, hy het die destydse politieke klimaat bestuur. Al die balle soos ’n goëlaar in die lug gehou en werk verskaf aan honderde akteurs en regisseurs. Daarby het hy regisseurs van die buiteland, soos die Duitser Dieter Reible, na Suid-Afrika gebring, wat ’n durende invloed hier gelaat het. Pieter het nie geglo dat Afrikaners na hul eie naeltjies moet staar nie, sy teater was nie inklusief Afrikaans nie, maar dit het altyd na die breër werklikheid en gemeenskap gekyk. Al het Fourie dikwels skreiende aanvalle op die destydse establishment geloods, het sy kritiek uit eie boesem gekom. Hy het reeds in die spieël gekyk en daardie spieël teruggekaats.” (Netwerk24, 13 September 2021)

  • Nico Luwes: “Ons verloor ons skerpste, mees kritiese en vreeslose dramaturg in Afrikaans. Sy grootste werk was Die koggelaar, waarin hy die Afrikaner se valsheid en misbruik van godsdiens blootlê. Dit is asof die Afrikaner ’n kontrak met God moet hê. Hy kon chauvinisme blootlê en werklik groot rolle vir vroue skryf. Ek dink sy werk is, soos Reza de Wet s’n, tydloos.” (Netwerk24, 13 September 2021)
  • Nico Luwes op LitNet: “Na soveel jare se persoonlike vriendskap, mentorskap, my skerpste kritikus en die man wat eendag lank gelede as vreemdeling na die debuut van Aku vang ’n sterdie kleedkamer ingekom en net gesê het: ‘Hou maar aan skryf,’ betreur ek en die UV se Dramadepartement saam met medekunstenaars en die publiek Pieter Fourie se dood op 12 September 2021. (…)

“Die trotse Pieter wat in liefde omring was deur sy dogters en sy eggenote. Geëer deur soveel akteurs en regisseurs wat die voorreg gehad het om sy karakters lyf en stem te gee. Hy wat vreesloos alle politieke en sosiale valsheid, eiewaan, misbruik van mag en minagting van die natuur en ontkenning van die waardigheid en menslikheid van alle inwoners van die land op die verhoog ontbloot en tot orde geroep het, se kleurvolle lewe is verby – maar sy stem nooit stil nie. (…)

“Wat ’n voorreg was dit nie om die regie van sy dramas en komedies te kon uitvoer en in sy stukke te kon speel nie. Die man wat vrouekarakters kon skep soos geen ander Afrikaanse dramaturg nie. Ons medekunstenaars eer sy nagedagtenis as die mees gepubliseerde Afrikaanse dramaturg, digter en teateradministrateur. Geen ander Afrikaanse dramaturg het op die mees eksperimentele wyses met die volle teatersemiotiek omgegaan nie. Die spanning tussen gevestigde teatertradisies en vernuwende teaterkodes waarmee hy eksperimenteer, veral wat die tematiese en vormgegewe betref, sou dikwels tot kontroversiële kritiek op van sy werk lei. Fourie se skrywerskap het inderdaad gegroei van realistiese well-made plays-toneelskrywer tot ’n meesterlike dramaturg wat met die manipulering van teatersemiotiek ongekende vernuwing gebring het ten opsigte van die tematiese en die vormgegewe van die Afrikaanse teater en drama.”

  • Karen Meiring, uitvoerende hoof van kykNET: “Dit was vir Pieter Fourie baie belangrik dat almal betrek moes word by die KKNK. Dit moes nie weer ’n geleentheid wees waar Afrikaners laer trek nie. Wat hy vermag het met die fees, is revolusionêr. Sy motto vir die fees was: verryk, vermaak en versoen. Pieter het risiko verstaan en dit berekend geneem. Hy het ’n eiesoortige insig in die psige van mense gehad, en ten spyte van sterk standpunte, deernis met almal gehad. Hy het kunstenaars intuïtief verstaan en hulle uitgedaag en geïnspireer.” (Netwerk24, 13 September 2021)
  • Nicola Hanekom, dramaturg en akteur: “As jong aktrise in Ek, Anna van Wyk het hy vir my so baie vraagstukke oopgemaak, daarna in die rolprent Faan se trein, dit is maar twee van sy groot werke. As ek net dink aan wat die KKNK in ons lewe as akteurs en regisseurs beteken, dan het ek bykans nie woorde nie – en hy was een van die stigters daarvan. As skrywer was hy ’n ongelooflike inspirasie en as mens was hy enig in sy soort.” (Netwerk24, 13 September 2021)
  • Kerneels Breytenbach, joernalis, uitgewer en skrywer: “Die ontslape dramaturg Pieter Fourie het my een van die beste lesse van my loopbaan as teaterresensent geleer. Dit is iets waaraan ek hom dikwels herinner het deur die jare, maar iets waarna hy self nooit weer uit sy eie verwys het nie. Wanneer daar in die komende dae aan hom hulde gebring word, soos dit hoort, en oorvloedig ook, dink ek terug aan hom as die man wat my een van die grondbeginsels van joernalistiek geleer het.

“Laat in 1978 het Kruik-Toneel sy toneelstuk Die plaasvervangers opgevoer – met Pieter as regisseur. Ek was lid van Die Burger se Kunsredaksie, en moes alle toneelopvoerings resenseer wat ons hoof-teaterresensent, WEG Louw, nie kon doen nie. In effek het dit beteken dat Louw alle belangrike opvoerings hanteer het, en ek het my voete gevind met opvoerings in die Volksruimte en mindere stukke in die Nico Malan- en Baxter-teaters. Tydens pouse met die openingsaand van Die plaasvervangers kom Louw na my en versoek (eintlik beveel) dat ek die resensie skryf, want hy vind die opvoering uiters swak. Wat ek toe die volgende dag, ’n Sondag, op kantoor in Keeromstraat 30 doen. Ek was pas klaar, so net voor middagete, toe lui die foon. My buurman, Deon Malherbe, wonder of ek nie gou by Pieter aan huis wil kom koffie drink nie. Deon is Pieter se prokureur, en ek is ’n nuuskierige jong joernalis.

“Ek ry toe soontoe, en oor ’n koppie koffie vertel Pieter toe hoe hy sy pragtige vakansiehuis teen die hang by Rooi-Els bekom het. WEG Louw het hom jare gelede, in die dae toe Kruik nog hul opvoerings in die Hofmeyr-teater gehad het, belaster. Die skikkingsgeld uit die lasteraksie het hom in staat gestel om die erf te koop en ’n huis te bou. Hy verneem dat ek die taak van die resensie van Die plaasvervangers gekry het, en hoop tog dat ek my goed vergewis het oor die onderwerp van laster. Natuurlik was Pieter nie dom nie – hy het geweet dat Louw, deur die taak na my oor te hewel, ook sy negatiewe gevoelens aan my, ’n oud-student van hom en boonop op goeie vriendskaplike voet met hom, sou oordra.

“Ek is terug kantoor toe en het my resensie gefynkam. Al lesende besef dat ek inderdaad in sommige opsigte dinge op só ’n manier beoordeel het dat dit Louw sou tevrede stel. Ek het daardie dele herskryf. ’n Kritikus is nie sy naam werd as hy nie sy eie gevoelens oordra nie. Daar was ’n effense kilheid in die lug die volgende keer wat ek Louw gesien het, maar ek is tot vandag toe bly oor die manier waarop ek ’n gewisse lasteraksie vrygespring het, en terselfdertyd geleer het dat elke resensie wat ek skryf, net my eie mening sal behels.

“Uiteraard het die optrede van die destydse administrateur, Lapa Munnik, toe alle gesprekke oor Die plaasvervangers in ’n ander rigting gestuur deur die opvoering in Januarie 1979 te verbied, omdat dit té ‘omstrede’ sou wees. Die plaasvervangers had leemtes, soos ek in my resensie genoem het, maar omstrede was dit nie. Dit was deel van die kritiese gesprek wat volwassenes oor hul eie kultuurgroep behoort te voer. In die skemerjare van die apartheidsregime was daardie gesprek baie skaars, en het veroorsaak dat Fourie uiteindelik sy rug op Kruik moes keer. Dít is dan ook wat ek vandag, wanneer ek oor wyle Pieter Fourie nadink, die graagste onthou. Hy was ’n man wat gestaan het by sy eie insigte, en nie geskroom het om hulle oor te dra nie. Kruik se verlies was vir die Afrikaanse toneelkultuur in die Noorde ’n absolute wins.” (LitNet)

  • Temple Hauptfleisch: “Met die heengaan van Pieter Fourie neem ons afskeid van seker een van die merkwaardigste en veelsydigste persoonlikhede in die Suid-Afrikaanse teaterbedryf in die onlangse geskiedenis. Daar was oor die jare natuurlik ’n paar werklik monumentale uitblinkers op die gebied, persone wat deur hulle aktiwiteite ’n onuitwisbare impak op die kultuurlandskap gehad het. Onder hulle tel Pieter Fourie sonder twyfel as een van die invloedrykstes. Hy is seker die beste bekend as bekroonde dramaturg en skrywer van meer as 35 toneelwerke, waaronder van die gewildste Afrikaanse stukke van die afgelope 50 jaar. (…) Maar dis alles maar een faset van Pieter Fourie se grotere bydrae, want hy was, op die keper beskou, eintlik veel meer: akteur, digter, dramaturg, regisseur, toneelbestuurder, feesdirekteur, raadgewer, teoretikus, filosoof, aktivis – en les bes, skrynwerker, meubelrestoureerder en gastehuisbestuurder.

“In sy verbysterende verskeidenheid kan hy dalk ten beste in hedendaagse terme beskryf word as ’n volwaardige teatermaker – in die wydste betekenis van die woord maker, of selfs beter: skepper. In dié sin was hy sy lewe lank ’n dinamiese, kreatiewe, strategiese en, by tye, konfronterende katalisator tot vernuwing, verandering en eksperimentering op alle terreine binne sy gekose veld. En nog belangriker: Hy was ’n leidende figuur in die daarstel van ’n geskikte teaterbestel, ’n ontvanklike konteks vir die nuwe impetus in die kunste, een waarbinne vernuwing en kreatiwiteit werklik vlam kon vat, veral onder die nuwe geslag. (…)

“In my omgang met hom destyds het veral twee dinge my getref: In die eerste plek was daar Pieter se verbete dog goedgemotiveerde standpuntinname oor enige vorm van sensuur by Kampustoneel – ’n standpunt wat seker verstaanbaar was in die lig van sy eie ervarings by Kruik en elders. Hy het dit as ’n ononderhandelbare deel van die reglement beskou dat daar geen beperkende bande op skrywers se werk geplaas moet word nie. Elke keer as enige bedenkinge oor die aanvaarbaarheid van ’n tema of die welvoeglikheid van ’n teks uitgespreek is, het hy dié standpunt onomwonde gestel.

“Die tweede herinnering wat my bybly uit die Kampustoneel-ervaring, het te doen met die wyse waarop hy te werk gegaan het om sy tekste en opvoerings te konstrueer en as unieke entiteite tot lewe te bring. Een ervaring kom uit ’n skrywerswerkswinkel waar hy aan die voornemende dramaturge genoem het dat hy self dalk die meeste oor toneelskryf en tydsberekening op die verhoog geleer het tydens sy twee jaar as eienaar en bestuurder van die kompakte Pieter Fourie Genootskap (1965–1966). Omdat hulle op toer was, vertel hy toe, moes hy vir hulle toneelstukke probeer skep volgens praktiese behoefte, met inagname van die mense, fasiliteite en begroting tot hulle beskikking. En dié insig sou sy hele loopbaan beïnvloed, vanaf daardie eerste, intense leerkurwe tot sy werk by die streeksrade, die KKNK en sy jare met Rooderandt Produksies, sy latere professionele geselskap. (…)

“Om saam te vat: In sy lewe en sy kuns was Pieter Fourie by uitstek die toegewyde vakman, ’n katalisator vir verandering en ’n belangrike argitek van ’n nuwe bestel vir die Afrikaanse toneel. En ons is die dankbare erfgename daarvan.” (LitNet)

  • Daniel Hugo: “’n Gedig vir Pieter”

Knapsekêrel
Vir Pieter Fourie

in die telegraafkantoor
het jy as klerk veral dit
geleer: om woorde te tel
en hul waarde te weeg
want dit kos ’n prys
om bondig te berig oor
die lewe: sy vreugdes
en die durende ellende
jy het toe reeds geweet
waar om die woord stop
te plaas: dat jy elke sin
tot stilte moet dwing. (Netwerk24, 13 September 2021)

  • Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns: “Fourie het Suid-Afrikaanse gehore emosioneel, moreel en ideologies geïnspireer in veelbewoë politieke kontekste. Hy het die leiding geneem by die ontwikkeling van die ATKV se Kampustoneelprojek en eweneens ’n belangrike rol gespeel by die totstandkoming van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (die KKNK) en daarmee ook die kunstefeesbeweging in Suid-Afrika aan die gang gesit. Deur sy toedoen het dit gelei tot ’n opbloei in die Afrikaanse toneelwêreld. Vir daardie bydrae het die Innibosfees hom vereer. Hy het in 2017 ook as digter gedebuteer.” (LitNet)

Publikasies

Publikasie

Hansie die hanslam: ’n toneelstuk vir kinders

Publikasiedatum

  • 1969
  • 1970

ISBN

(sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Dalro
  • Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Kindertoneel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Faan se trein

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1976

ISBN

  • 0624007200 (hb)
  • 062400807X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

2005 Herrie-Kanna vir die gewildste toneelstuk by KKNK

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tsjaka

Publikasiedatum

1976

ISBN

0628010044 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die joiner

Publikasiedatum

  • 1976
  • 1984

ISBN

  • 0624009157 (hb)
  • 0624020177 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die plaasvervangers

Publikasiedatum

1978

ISBN

0628014287 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Mooi Maria

Publikasiedatum

1980

ISBN

0628019335 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ek, Anna van Wyk: drama

Publikasiedatum

  • 1986
  • 1989
  • 2002

ISBN

  • 0798621508 (hb)
  • 0798629711 (sb)
  • 1869190246 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: HAUM-Literêr
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die proponentjie: ’n klug

Publikasiedatum

1987

ISBN

0628031491 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die koggelaar

Publikasiedatum

1988

ISBN

0798622997 (hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

  • 1986 SAKRUK-prys
  • 1987 Dawie Malan-prys vir die beste inheemse drama

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Donderdag se mense

Publikasiedatum

1989

ISBN

0798630280 (hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die groot wit roos

Publikasiedatum

1989

ISBN

079862955X (hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Geen

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vat hom, Flaffie!

Publikasiedatum

1989

ISBN

0798629825 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Naelstring (’n band tussen twee teaterstrominge)

Publikasiedatum

2001

ISBN

1919825657 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Elke duim ’n koning

Publikasiedatum

2002

ISBN

1869190157 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Koggelmanderman

Publikasiedatum

2003

ISBN

1869190343 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

2002 KKNK/Nagtegaal-prys vir nuutgeskrewe verhoogtekste

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Jasmyn

Publikasiedatum

2009

ISBN

9781869192600 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Post mortem

Publikasiedatum

2016

ISBN

9781485304333 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Knapsekêrels

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780928316773 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bidsnoer

Publikasiedatum

2018

ISBN

9781928426066 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gert Garries – ’n Baaisiekel blues

Publikasiedatum

2019

ISBN

9781485310457 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stof en ster

Publikasiedatum

2019

 ISBN

9781928426707 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Boeke opgedra aan Pieter Fourie:

Artikels oor Pieter Fourie beskikbaar op die internet:

Pieter Fourie se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2008-09-09 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top