Lesse as teaterresensent van Pieter Fourie geleer

  • 0

Kerneels Breytenbach skryf op Facebook:

Die ontslape dramaturg Pieter Fourie het my een van die beste lesse van my loopbaan as teaterresensent geleer. Dit is iets waaraan ek hom dikwels herinner het deur die jare, maar iets waarna hy self nooit weer uit sy eie verwys het nie. Wanneer daar in die komende dae aan hom hulde gebring word, soos dit hoort, en oorvloedig ook, dink ek terug aan hom as die man wat my een van die grondbeginsels van joernalistiek geleer het.

Laat in 1978 het Kruik-Toneel sy toneelstuk Die plaasvervangers opgevoer – met Pieter as regisseur. Ek was lid van Die Burger se Kunsredaksie, en moes alle toneelopvoerings resenseer wat ons hoof-teaterresensent, WEG Louw, nie kon doen nie. In effek het dit beteken dat Louw alle belangrike opvoerings hanteer het, en ek het my voete gevind met opvoerings in die Volksruimte en mindere stukke in die Nico Malan- en Baxter-teaters.

Tydens pouse met die openingsaand van Die plaasvervangers kom Louw na my en versoek (eintlik beveel) dat ek die resensie skryf, want hy vind die opvoering uiters swak.

Wat ek toe die volgende dag, ’n Sondag, op kantoor in Keeromstraat 30 doen. Ek was pas klaar, so net voor middagete, toe lui die foon. My buurman, Deon Malherbe, wonder of ek nie gou by Pieter aan huis wil kom koffie drink nie. Deon is Pieter se prokureur, en ek is ’n nuuskierige jong joernalis.

Ek ry toe soontoe, en oor ’n koppie koffie vertel Pieter toe hoe hy sy pragtige vakansiehuis teen die hang by Rooi-Els bekom het. WEG Louw het hom jare gelede, in die dae toe Kruik nog hul opvoerings in die Hofmeyr-Teater gehad het, belaster. Die skikkingsgeld uit die lasteraksie het hom in staat gestel om die erf te koop en ’n huis te bou.

Hy verneem dat ek die taak van die resensie van Die plaasvervangers gekry het, en hoop tog dat ek my goed vergewis het oor die onderwerp van laster. Natuurlik was Pieter nie dom nie – hy het geweet dat Louw, deur die taak na my oor te hewel, ook sy negatiewe gevoelens aan my, ’n oud-student van hom en boonop op goeie vriendskaplike voet met hom, sou oordra.

Dit was lekker koffie, en vrolike geselskap (altyd só waar Deon Malherbe betrokke was). Ek is terug kantoor toe en het my resensie gefynkam. Al lesende besef dat ek inderdaad in sommige opsigte dinge op só ’n manier beoordeel het dat dit Louw sou tevrede stel.

Ek het daardie dele herskryf. ’n Kritikus is nie sy naam werd as hy nie sy eie gevoelens oordra nie.

Daar was ’n effense kilheid in die lug die volgende keer wat ek Louw gesien het, maar ek is tot vandag toe bly oor die manier waarop ek ’n gewisse lasteraksie vrygespring het, en terselfdertyd geleer het dat elke resensie wat ek skryf, net my eie mening sal behels.

Uiteraard het die optrede van die destydse administrateur, Lapa Munnik, toe alle gesprekke oor Die plaasvervangers in ’n ander rigting gestuur deur die opvoering in Januarie 1979 te verbied, omdat dit té “omstrede” sou wees. Die plaasvervangers had leemtes, soos ek in my resensie genoem het, maar omstrede was dit nie. Dit was deel van die kritiese gesprek wat volwassenes oor hul eie kultuurgroep behoort te voer. In die skemerjare van die apartheidsregime was daardie gesprek baie skaars, en het veroorsaak dat Fourie uiteindelik sy rug op Kruik moes keer.

Dít is dan ook wat ek vandag, wanneer ek oor wyle Pieter Fourie nadink, die graagste onthou. Hy was ’n man wat gestaan het by sy eie insigte, en nie geskroom het om hulle oor te dra nie. Kruik se verlies was vir die Afrikaanse toneelkultuur in die Noorde ’n absolute wins.

Lees ook:

Lesse as teaterresensent van Pieter Fourie geleer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top