Pieter Fourie: woordsmid en teatermaker

  • 0

Foto van Pieter Fourie: Naomi Bruwer

Met die heengaan van Pieter Fourie neem ons afskeid van seker een van die merkwaardigste en veelsydigste persoonlikhede in die Suid-Afrikaanse teaterbedryf in die onlangse geskiedenis. Daar was oor die jare natuurlik ’n paar werklik monumentale uitblinkers op die gebied, persone wat deur hulle aktiwiteite ’n onuitwisbare impak op die kultuurlandskap gehad het. Onder hulle tel Pieter Fourie sonder twyfel as een van die invloedrykstes.  

Hy is seker die beste bekend is as bekroonde dramaturg en skrywer van meer as 35 toneelwerke, waaronder van die gewildste Afrikaanse stukke van die afgelope 50 jaar (vanaf gewilde kinderwerke, deur die eksperimente in volkstoneel, tot visioenêr-eksperimentele en die digterlike werke van later). Maar dis alles maar een faset van Pieter Fourie se grotere bydrae, want hy was, op die keper beskou, eintlik veel meer: akteur, digter, dramaturg, regisseur, toneelbestuurder, feesdirekteur, raadgewer, teoretikus, filosoof, aktivis – en les bes, skrynwerker, meubelrestoureerder en gastehuisbestuurder.

.......

In sy verbysterende verskeidenheid kan hy dalk ten beste in hedendaagse terme beskryf word as ’n volwaardige teatermaker – in die wydste betekenis van die woord maker, of selfs beter: skepper. In dié sin was hy sy lewe lank ’n dinamiese, kreatiewe, strategiese en, by tye, konfronterende katalisator tot vernuwing, verandering en eksperimentering op alle terreine binne sy gekose veld.

.........

In sy verbysterende verskeidenheid kan hy dalk ten beste in hedendaagse terme beskryf word as ’n volwaardige teatermaker – in die wydste betekenis van die woord maker, of selfs beter: skepper. In dié sin was hy sy lewe lank ’n dinamiese, kreatiewe, strategiese en, by tye, konfronterende katalisator tot vernuwing, verandering en eksperimentering op alle terreine binne sy gekose veld. En nog belangriker: Hy was ’n leidende figuur in die daarstel van ’n geskikte teaterbestel, ’n ontvanklike konteks vir die nuwe impetus in die kunste, een waarbinne vernuwing en kreatiwiteit werklik vlam kon vat, veral onder die nuwe geslag.

Ter illustrasie verwys ek graag op ’n meer persoonlike noot na my ervaring van sy sentrale aandeel in die ATKV se unieke Kampustoneel-projek van die 1980’s - ’n onderneming waarvan hy medestigter was. Dis in daardie milieu dat ek hom vir die eerste keer van nader leer ken het, toe ons saam op verskeie panele gedien het. Dit was van meet af aan duidelik dat hy, as teaterpraktisyn in al sy menigte fasette, werklik geglo het dat so ’n projek, een wat aan nuwe en gevestigde skrywers ’n verhoog verskaf om te probeer en te slaag of faal, die beste manier was om ’n tyd van geweldige droogte aan Afrikaanse tekste aan die begin van die 1980’s te oorkom.

In my omgang met hom destyds het veral twee dinge my getref: In die eerste plek was daar Pieter se verbete dog goedgemotiveerde standpuntinname oor enige vorm van sensuur by Kampustoneel – ’n standpunt wat seker verstaanbaar was in die lig van sy eie ervarings by Kruik en elders. Hy het dit as ’n ononderhandelbare deel van die reglement beskou dat daar geen beperkende bande op skrywers se werk geplaas moet word nie. Elke keer as enige bedenkinge oor die aanvaarbaarheid van ’n tema of die welvoeglikheid van ’n teks uitgespreek is, het hy dié standpunt onomwonde gestel. Bygesê, dit strek Fritz Kok en sy personeel by die ATKV tot groot eer dat hulle Pieter by hulle beplanning betrek het en dat hulle daarna dapper genoeg was om dié voorskrif so te aanvaar en te ondersteun (nou wel soms seker met moeite). Ek glo vas dat die merkwaardige sukses van die projek oor die loop van die daaropvolgende dekade grootliks aan daardie waagmoed toe te skryf is en dat die beleidstandpunt veel gedoen het om die reputasie van die ATKV self ’n merkwaardige en positiewe hupstoot te gee.

Die tweede herinnering wat my bybly uit die Kampustoneel-ervaring, het te doen met die wyse waarop hy te werk gegaan het om sy tekste en opvoerings te konstrueer en as unieke entiteite tot lewe te bring. Een ervaring kom uit ’n skrywerswerkswinkel waar hy aan die voornemende dramaturge genoem het dat hy self dalk die meeste oor toneelskryf en tydsberekening op die verhoog geleer het tydens sy twee jaar as eienaar en bestuurder van die kompakte Pieter Fourie Genootskap (1965–1966). Omdat hulle op toer was, vertel hy toe, moes hy vir hulle toneelstukke probeer skep volgens praktiese behoefte, met inagname van die mense, fasiliteite en begroting tot hulle beskikking. En dié insig sou sy hele loopbaan beïnvloed, vanaf daardie eerste, intense leerkurwe tot sy werk by die streeksrade, die KKNK en sy jare met Rooderandt Produksies, sy latere professionele geselskap.

.......

Gebore uit ’n proses wat miskien kan begin in die verbeelding, daar in die donker ure, so tussen die droom en die wakkerword, is die finale produk uiteindelik en onteenseglik ’n stuk goedgeskaafde vakmanskap, fisies gemáák, aand na aand, toneel ná toneel, in die driedimensionele ruimte van ’n repetisielokaal, ’n tipe Gesamtkunstwerk geskep met die hulp van, en deur die medium van, talle ander mense, strukture en instansies.

.........

Wanneer mens na die onderskeie werke in sy formidabele oeuvre kyk, is dit duidelik dat hy vroeg deur dié soort ervaring gelei is tot ’n oortuiging dat die teaterpraktyk in sy wese iets merkbaar anders is as enige ander stuk geskrewe literatuur – dalk selfs iets méér. Gebore uit ’n proses wat miskien kan begin in die verbeelding, daar in die donker ure, so tussen die droom en die wakkerword, is die finale produk uiteindelik en onteenseglik ’n stuk goedgeskaafde vakmanskap, fisies gemáák, aand na aand, toneel ná toneel, in die driedimensionele ruimte van ’n repetisielokaal, ’n tipe Gesamtkunstwerk geskep met die hulp van, en deur die medium van, talle ander mense, strukture en instansies.

Om saam te vat: In sy lewe en sy kuns was Pieter Fourie by uitstek die toegewyde vakman, ’n katalisator vir verandering en ’n belangrike argitek van ’n nuwe bestel vir die Afrikaanse toneel. En ons is die dankbare erfgename daarvan.

Lees ook:

Huldiging aan Pieter Fourie (3 April 1940 – 12 September 2021)

Resensie: Pieter Fourie: Teatermaker – ’n huldiging deur Fanie Olivier (redakteur)  

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top