Resensie: Pieter Fourie: Teatermaker – ’n huldiging deur Fanie Olivier (redakteur)  

  • 1

Pieter Fourie: Teatermaker – ’n huldiging
Fanie Olivier (redakteur)
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485310815

Die Hertzogprys

Die Hertzogprys is op 27 Mei 1914i ingestel nadat die restant van geld wat deur die publiek ingesamel is vir die lastersaak wat teen generaal JBM Hertzog aanhangig gemaak is, deur hom aan die Akademie bemaak is. Dié prys, die mees gesogte Afrikaanse literêre prys, word sedert 1915 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan ’n skrywer wat literêre werk van hoogstaande gehalte gelewer het, toegeken. Die prys word om die beurt vir drama, poësie en prosa toegeken, en alhoewel die prys in geldwaarde minder is as ander literêre pryse, val die klem eerder op die prestigewaarde van die literêre toekenning wat deur die sewe lede van die Akademie se Letterkundekommissie bepaal word.

Die toekenning van die Hertzogprys het die afgelope eeu op verskeie geleenthede die wenkbroue laat lig, soos in die geval van die toekenning in 1979 aan Etienne Leroux vir sy roman Magersfontein, o Magersfontein! en toe Breyten Breytenbach die toekenning vir sy bundel Yk weens gewetensbesware van die hand gewys het. ’n Aantal faktore, waaronder politieke inmenging deur die eertydse Nasionale Party-regering, het opspraak verwek met die toekenning (asook die nietoekenning aan sekere skrywers wat eers op ’n latere stadium “reggestel” is) van die “Boere-Nobelprys” soos die dramaturg Pieter Fourie na dié prys verwys het (Kapp 2009:236).

Die huldigingsreeks

In die sewentiger- en tagtigerjare het reekse soos Skrywers in beeld (Tafelberg) en Skrywers in woord en beeld (Perskor) verskyn waarin Afrikaanse skrywers soos NP Van Wyk Louw, C Louis Leipoldt, TT Cloete, Totius, Jan Rabie en andere vereer is. Alhoewel hierdie reekse hoofsaaklik op biografiese gegewens (en gefotografeerde materiaal) van skrywers gefokus het, was dié tekste waardevolle hulpbronne vir beide navorsingsdoeleindes en belangstellende lesers.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se huldigingsreeks bevat biografiese gegewens asook akademiese artikels, huldeblyke en foto’s van skrywers wat met die Hertzogprys bekroon is. Die eerste bundel in die reeks het in 2017 verskyn. Tot op hede het ses huldigingsbundelsii verskyn, naamlik Adam Small (Jacques van der Elst), PG du Plessis (Heilna du Plooy), Pieter Fourie (Fanie Olivier), Breyten Breytenbach (Francis Galloway), Johann de Lange (Daniel Hugo) en Reza de Wet (Temple Hauptfleisch en Marisa Keuris). Verdere huldigingsbundels in wording sluit in bundels oor Elsa Joubert (Thys Human), Antjie Krog (Louise Viljoen) en Anna M Louw (Chris van der Merwe).

Dié foto's verskyn op die voorblaaie van die ander Akademie-bundels

Vanuit ’n literêre perspektief bied die huldigingsbundels ’n welkome samevatting van gesoute Afrikaanse skrywers se oeuvres. Een aspek wat my opgeval het, is die estetiese verskille wat stadigaan begin kop uitsteek. Vier van die ses bundels is deur Protea uitgegee, een deur Litera en een deur die Akademie self. Daar is egter ’n merkbare verskil te bespeur in die kwaliteit van die bundels wat nie deur Protea uitgegee is nie. Aangesien die boeke deel van ’n reeks vorm, is dit belangrik dat daar eenvormigheid bestaan ten opsigte van lettertipe en estetiese aspekte soos die voorplat. In vyf van die bundels word die foto’s monochromaties afgedruk, terwyl die foto’s in Johann de Lange se huldigingsbundel in kleur is. Boonop is die drukwerk van die foto’s in PG du Plessis se bundel (deur Litera uitgegee) van swak gehalte. Die vraag moet ook gevra word waarom die Akademie self Johann de Lange se huldigingsbundel uitgegee het en dit nie deur ’n hoofstroomuitgewer uitgegee is soos die ander bundels nie. In laasgenoemde bundel verskil die lettertipe op die voorplat van dié van die ander vyf bundels, wat afbreuk doen aan die estetika van die reeks in sy geheel. Daar moet sover moontlik gepoog word om eenvormigheid aan die eksterne voorkoms van die reeks huldigingsbundels te gee om sodoende al die Hertzogpryswenners op gelyke voet te huldig.

Pieter Fourie

Pieter Fourie (foto: Naomi Bruwer)

Op 3 April 2020 vier die akteur, regisseur, administrateur en dramaturg Pieter Fourie sy 80ste verjaardag. Alhoewel die huldigingsbundel saamgestel deur die digter-literator Fanie Olivier reeds in 2019 verskyn het, is dit ’n gepaste geskenk aan een van Suid-Afrika (en Afrikaans) se grootste kultuurskatte.

Olivier het daarin geslaag om ’n deeglike oorsig oor die lewe en werk van Fourie saam te stel deur onder andere literatore sowel as historici te betrek wat insiggewende bydraes oor Fourie se rol as dramaturg, regisseur, akteur en veral ook as administrateur en stigter van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees lewer.  

Die bundel open met Daniel Hugo se huldigingswoord ten tye van die toekenning van die Hertzogprys vir drama aan Fourie in Oktober 2003 en sluit af met Nico Luwes se commendatio vir die toekenning vir die eredoktorsgraad in drama en teaterkuns deur die Universiteit van die Vrystaat – dus ’n netjiese samevatting van dié kreatiewe reus van die dramatiese kunste se talle prestasies. ’n Aspek wat Fourie se huldigingsbundel uniek maak, is die outobiografiese hoofstuk “Die einste hy” waarin Fourie sy lewensverhaal in die derde persoon met die leser deel. Hierdie hoofstuk is geen selfverheerliking nie, maar ’n eerlike, ongesensoreerde verhaal van ’n man met foute en al – soos in Bart Nel se geval is die “einste hy” steeds net Pieter Fourie.

Luwes bied ’n insiggewende oorsig oor Fourie se stormagtige (en dog opwindende) jare as hoofdirekteur: Afrikaanse Toneel en later artistieke direkteur: Afrikaanse Toneel by die destydse Kruik. Alhoewel daar heelwat oorvleuelings en herhalings is tussen Luwes se bydrae en dié van Hauptfleisch en Breytenbach (hoofstuk 4), word die feite vanuit ’n eie bepaalde invalshoek aangebied. Die leser moet ook in ag neem dat elke artikel afsonderlik geskryf en gekeur is en daar gevolglik herhalings in van die hoofstukke mag voorkom.

Die historikus Fransjohan Pretorius ondersoek die historiese reste van Fourie se dramatekste en bied hiermee ’n alternatiewe invalshoek ten opsigte van die geskiedkundige gebeure wat volop in Fourie se uitgebreide drama-oeuvre aan bod kom. Pretorius wys op sekere historiese feitefoute soos die verwysing na die datum van die insident op Bloedfontein wat verkeerdelik as “4 Oktober 1901” in plaas van 4 Oktober 1900 in Die joiner aangedui is. Belangrike inligting in sommige dramatekste wat nie vantevore deur resensente of literatore raakgelees is nie word ook bespreek. Een so ’n voorbeeld verwys na die simboliek van Stoetdrif se telefoonnommer (1713) in Die plaasvervangers (1978) wat dui op die jaartal waartydens hele Khoikhoistamme deur die pokke-epidemie uitgewis is. Laasgenoemde verwysing is belangrik binne die konteks van die dramateks.  

Maritha Snyman se bydrae oor Fourie se kinderdramas is van besondere belang, aangesien daar tot op hede bitter min navorsing op die gebied van Afrikaanse kinder- en jeugdramas gedoen is. Snyman wys op die belangrikheid van die plek van die kinderdrama in die Afrikaanse literêre sisteem en die invloed wat Fourie se Hansie die hanslam (1968) op teatergangers – veral die jonger geslag – gehad het. Sy beklemtoon die voortdurende behoefte aan kinder- en jeugdramas en die opvoedkundige rol wat laasgenoemde binne die samelewing in sy geheel kan speel.   

Fourie se vierluik plaastragedies geniet heelwat aandag in bydraes deur Thys Human asook Nico Luwes. Waar Human op die metadramatiese elemente in die vierluiki fokus, stel Luwes ten doel om die opvoeringsgeskiedenis en onlangse (2016) publikasie van Post mortem te ondersoek. Beide Human en Luwes ontsluit Fourie se vierluik vir die leser en openbaar sodende die groter geheelbeeld van Fourie se magistrale werke.

Op haar beurt bespreek Annabelle Smit Fourie se komiese werk en op welke wyse dit kommentaar lewer op die samelewing. Marisa Keuris ondersoek met “Die siekrit van Pieter Fourie se Faan” die gewildheid van die twee Faan-stukke wat tot op hede nog nie deur enige dramaturg geëwenaar kon word nie. Keuris deel ook inligting rondom ’n derde teks getiteld Die mankind: Faan (2006) wat nooit opgevoer of gepubliseer is nie. Ek hoop dat Fourie die geleentheid gegun sal word om laasgenoemde dramateks op die planke te bring of moontlik te publiseer.

Reeds as student in DJ Opperman se Letterkundige Laboratorium het Fourie gedigte begin skryf, waarvan sommige in literêre tydskrifte gepubliseer is. Ten tye van die publikasie van Knapsekêrels in 2017 is Fourie die oudste debutant in die Afrikaanse poësie. Joan Hambidge ondersoek Fourie se poësie vanuit die konteks “kanonisering en herkanonisering”. Sy plaas veral klem op Fourie se volksverse, wat sterk aanklank vind in talle van sy dramatekste met allerlei outobiografiese gegewens vanuit sy jeug. Hambidge merk op dat Fourie “in hierdie twee bundels [Knapsekêrels en Bidsnoer] […] die hele tradisie van die volksvers in Afrikaans vanaf Louw tot Antoinette Olivier bewaar”. Sy sluit haar bydrae af deur ’n oop vraag te stel waaroor literatore moet besin: “Is [Bidsnoer] nie net een lang gedig nie?”

’n Paar foute het egter tydens die redigerings- en keuringsproses deurgesluip. In hoofstuk twee word Suid Afrika (sic) op ble 39 en 45 sonder ’n koppelteken geskryf. Nico Luwes verwys ook foutiewelik na die publikasiedatum van Post mortem as 2017 (54) in plaas van 2016.

In geheel het Fanie Olivier hom as redakteur goed van sy taak gekwyt. Hy het verseker dat alle fasette van Fourie se loopbaan op een of ander wyse in die bydraes weerspieël word. Die teks in sy geheel lees soos ’n lewensverhaal – ’n oorsig oor die lewe en werk van ’n kreatiewe gees wat ’n enorme bydrae tot die Afrikaanse kultuurskat gelewer het. Sonder Pieter Fourie sou die Afrikaanse toneelwêreld heelwat armer gewees het. Soos Daniel Hugo (8) tereg opmerk: “Pieter Fourie is ’n dramaturg vir al vier seisoene van hierdie tragiese en komiese land: hy ken die speelse en romantiese lente, die volryp en verskroeiende somer, die melancholiese en euforiese herfs, die besinnende en soms sentimentele winter.”

Bronnelys

Kapp, P. 2009. Draer van ’n droom: Die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 1909–2009. Hermanus: Hemel & See.

Nienaber, PJ. 1965. Die Hertzogprys Vyftig Jaar: ’n Feesbundel. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Eindnotas

i Sien Nienaber (1965:159).

ii Elke bundel bevat ’n verskeidenheid artikels of huldeblyke wat deur ’n redakteur saamgestel is.

iii Die vierluik verwys na Fourie se dramas Ek, Anna van Wyk (1986), Die koggelaar (1988), Donderdag se mense (1989) en Post mortem (2016) – Laasgenoemde datums verwys na die publikasiedatums van die dramatekste.

  • 1

Kommentaar

  • Dis net jammer dat die Pieter Fourie-huldigingsbundel ontsier word deur baie druk-, spel- en feitefoute en kontradiksies.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top