Huldiging aan Pieter Fourie (3 April 1940 – 12 September 2021)

  • 10

Pieter by die troue van sy dogter Mashinka. Van links is: Natasja Fourie, Tanya Steininger, Mashinka Fourie, Pieter Fourie, Nandi Kai, Sonja Swart en Maletta Fourie. Sonja is Maletta se dogter. Pieter en Maletta is in 1995 getroud.

Na soveel jare se persoonlike vriendskap, mentorskap, my skerpste kritikus en die man wat eendag lank gelede as vreemdeling na die debuut van Aku vang ’n ster die kleedkamer ingekom en net gesê het: “Hou maar aan skryf”, betreur ek en die UV se Dramadepartement saam met medekunstenaars en die publiek Pieter Fourie se dood op 12 September 2021.

Ons vriendskap het verdiep toe hy in die negentigerjare ’n paar maande by ons familie in Bloemfontein kon bly. Soveel indringende gesprekke oor die teater en die lewe het ons lewens verryk. Ons jongste dogter, Carmen, koester nog oupa Piet se kort kierietjie en Alet bêre steeds Pieter se glasie in die Sandveldkassie wat hy spesiaal vir haar laat maak het. Saam kon ons die vreugde, na soveel maande se swaarkry, vier toe hy by die KKNK aangestel is. So kon ons almal kaalvoet by sy huwelik met Malette opdaag omdat hy nooit skoene wou dra nie. En daar staan hy as die enigste man op die troue sowaar met skoene aan! Tot net na die diens. Teen twaalfuur die aand kon hy Gerrit Geertsema as bas, Karen Meiring as sopraan, Lydia vom Hagen as alt en die uwe as tenoor se kort geïmproviseerde tragiese opera – in Italiaans natuurlik – skaterend weglag.

Die trotse Pieter wat in liefde omring was deur sy dogters en sy eggenote. Geëer deur soveel akteurs en regisseurs wat die voorreg gehad het om sy karakters lyf en stem te gee. Hy wat vreesloos alle politieke en sosiale valsheid, eiewaan, misbruik van mag en minagting van die natuur en ontkenning van die waardigheid en menslikheid van alle inwoners van die land op die verhoog ontbloot en tot orde geroep het, se kleurvolle lewe is verby – maar sy stem nooit stil nie.

Hoeveel stemme uit sy pen het nie in die Staatsteater en skole oor die land, in die ou Scaena, die Wynand Mouton-teater en in die nuwe Scaena opgeklink nie! Wat ’n voorreg was dit nie om die regie van sy dramas en komedies te kon uitvoer en in sy stukke te kon speel nie. Die man wat vrouekarakters kon skep soos geen ander Afrikaanse dramaturg nie. Ons medekunstenaars eer sy nagedagtenis as die mees gepubliseerde Afrikaanse dramaturg, digter en teateradministrateur. Geen ander Afrikaanse dramaturg het op die mees eksperimentele wyses met die volle teatersemiotiek omgegaan nie. Die spanning tussen gevestigde teatertradisies en vernuwende teaterkodes waarmee hy eksperimenteer, veral wat die tematiese en vormgegewe betref, sou dikwels tot kontroversiële kritiek op van sy werk lei. Fourie se skrywerskap het inderdaad gegroei van realistiese well-made plays-toneelskrywer tot ’n meesterlike dramaturg wat met die manipulering van teatersemiotiek ongekende vernuwing gebring het ten opsigte van die tematiese en die vormgegewe van die Afrikaanse teater en drama.

Fourie veg ook as teateradministrateur en skrywer by Kruik, Truk en die KKNK saam met medekunstenaars teen dikwels beperkende sisteme soos sensuur. Hy slaag daarin om die Nico Malan-teater onder uiters moeilike politieke en sosiale omstandighede na die struwelinge by die Baxter- en Joseph Stone-teaters in Kaapstad te vestig. Saam met teaterkunstenaars soos Bartho Smit, Adam Small, Athol Fugard en Breyten Breytenbach sorg Pieter Fourie dat die stem van die Nar (die teater) van die Koning (die staat) nooit stilgemaak word nie en veg hy daarteen dat die Koning oningelig moet bly met tragiese gevolge vir die land en sy inwoners. As teateradministrateur en as een van die inisieerders van die ATKV-Kampustoneel-projek, eerste direkteur van die KKNK en jare lange beoordelaar by die Logan-fees en van die Sanlamprys vir Afrikaanse teater, lewer hy ’n reusebydrae as beleidmaker en rigtinggewer vir die Afrikaanse teater in die breë.

Sy bekroning in 2002 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, asook die Gerhard Beukes-prys vir Drama; sy insluiting in 1997 as trusteelid van die Kuns- en Kultuurtrust van die Staatspresident, asook die feit dat hy in 1998 vir drie jaar aangestel word as kommissielid vir kuns by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, is van die belangrikste erkennings vir sy werk.

In 2000/1 wen hy twee FNB Vita-toekennings vir Boetman is die bliksem in vir die beste nuwe Afrikaanse toneelstuk en beste produksie. Ander toekennings is die Nagtegaalprys vir Afrikaanse teater. Vir sy bydrae tot die groei van die KKNK, die bevordering van toerisme in Oudtshoorn en die streek, en sy uitbouing en handhawing van Afrikaans word hy in 2003 deur die Oudtshoorn Sakekamer bekroon. Die Universiteit Stellenbosch bekroon hom ook in 2003 met ’n spesiale toekenning vir sy uitsonderlike bydrae tot die Suid-Afrikaanse teaterbedryf. In 2006 word ’n Fleur du Cap aan hom toegeken vir sy bydrae as voortreflike veelsydige teaterpraktisyn as toneelbestuurder, kultuurfeesorganiseerder, speler, regisseur en dramaturg. Vanaf 2006 is hy lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Akademie bekroon hom met ’n erepenning. In 1996 ontvang Fourie die erepenning vir toneelkuns en die Gerhard Beukes-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. In 2019 publiseer die Akademie ’n bundel aan hom, onder redaksie van Fanie Olivier, met die titel Pieter Fourie: Teatermaker: ’n Huldiging.

Pieter Fourie en Khotso Mokhele, visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat, in 2011. Fourie het op 11 Mei 2011 ’n eredoktorsgraad in Drama en Teater van die UV ontvang. (Foto: Hannes Pieterse)

Op 11 Mei 2011 word die kroon op sy loopbaan gespan as die Universiteit van die Vrystaat ’n eredoktorsgraad (DLitt) in Drama en Teaterkuns aan Pieter toeken vir sy bydrae tot die Afrikaanse teater in Suid-Afrika. In sy bedankingstoespraak by die Kanseliersete het Fourie weer sy bekende woorde oor die kunstenaar herhaal: “Die kunstenaar is soos ’n vlermuis. Dis ’n lelike ding wat in die nag werk en alles onderstebo sien as hy hang. Hy sien die wêreld om hom uit ’n totaal ander hoek.”

Op 21-jarige ouderdom het hierdie sensitiewe Vrystaatseun reeds gesien wat die toekoms sou inhou met sy gediggie “31 Mei 1961”.

31 Mei 1961

republiekwording
vrystaat-stadion
vryheidsduif
verseg om te vlieg
uit verwoerd se hand

fladder af
sit voor die wêreld
aan sy voete

ooswind roer
die wit maluti
sny knypkoud
die stadion in

die duif bly sit.

Retrospektief beskou, het Fourie inderdaad sy kunstenaarskap op soveel terreine met uitsonderlike artistieke insig, deursettingsvermoë en durf gestand gedoen. Sy stem in die Afrikaanse teater sal nooit uitgedoof kan word nie. My dierbare vriend wat “nooit ’n kwikstertjie sou skiet nie”, jou duif sal voortvlieg in ons lewe.

Lees ook:

Lesse as teaterresensent van Pieter Fourie geleer

  • 10

Kommentaar

  • Johann van der Merwe

    Buitengewone goeie eerbetoon - en méér op-die-man-af kon dit nie wees nie! Welgedaan.

  • Johan Esterhuizen

    Net so, Nico - dankie! My 50 jaar se saamreis met Pieter loop oor met agting, waardering en warmte ... en 'n klompie lewenslesse.

  • Pierre Labuschagne

    Waar ek die res van my lewe hier in Londen uitleef, maak hierdie eerbetoon my bewoë en ook trots, veral as ek sy gedig as jong seun lees met die insig op so 'n jong ouderdom.

  • Amanda+le+Roux

    Dankie vir die mooi huldiging. Ek het Pieter goed leer ken deur my suster, Nicoleen van Wyk se betrokkenheid by die Logan toneelfees waar hy 'n groot inspirasie was.

  • Elize Hanekom

    Pieter Fourie se nalatenskap is gegrafeer op die hart van Afrikaans se voortbestaan. Onuitwisbaar en betekenisvol.
    Ek eer sy diepgesetelde bydrae.

  • Nico Johannes Luwes

    Dankie Amanda. Ek het Nicoleen , Francois en sy kinders ook goed leer ken by die Loganfees later jare saam met Pieter. Heerlik op Celeryfontein by hulle gebly. Wonderlike mense. Geskryf oor hulle in my roman Die reënboogmaker, by Denovo. Kontak my asb en ek stuur 'n boek aan julle. (LitNet het my adres.)
    Mooi dag Nico

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top