Post mortem deur Pieter Fourie: ’n resensie

  • 1

Post mortem
Pieter Fourie
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485304333

Pieter Fourie is seker een van die veelsydigste en mees gesoute teatermakers wat ons in Afrikaans het, ’n deurwinterde akteur, regisseur, skrywer en toneelorganiseerder wat met meer as 50 jaar se betrokkenheid by die Suid-Afrikaanse bedryf kan spog. (Was hy André Huguenet het hy teen nou seker al vyf “jubileums” gevier!)

Sy loopbaan as dramaturg neem ’n aanvang met die skep van Hansie die Hanslam in 1969 en strek oor Die Joiner en sy ander vroeë politieke werke, sy gewilde volksteaterstukke (bv die kanniedood Faan se Trein) en die aangrypende drieluik van Afrikaanse plaastragedies, Die koggelaar, Donderdag se mense en Ek, Anna van Wyk natuurlik vooraan. Dit is ’n uiteenlopende oeuvre,met wissellende hoogte- en laagtepunte, maar is onteenseglik ’n kernkorpus in die kanon van die Afrikaanse dramatiese literatuur, in en vir die Afrikaanse toneelbedryf geskep.

Teen hierdie agtergrond is die publikasie van Pieter Fourie se 1993-teks Post mortem in vele opsigte verrassend, want nie net is die teks self ’n interessante kuriositeit nie, maar die publikasie daarvan 23 jaar ná die eerste opvoering nogal raaiselagtig.

 

Die titel

Die titel, met sy veelvlakkige verwysingsveld, is uiteraard lank reeds baie gewild onder skrywers – benewens verskeie romans en films, is daar in the 20ste eeu minstens vyf toneelwerke geskryf met dieselfde titel.1

In Fourie se geval is die titel, met sy donker ondertone van oortreding, dood, disseksie, ondersoek en ontleding, nogal heel toepaslik op dié besondere teks en duidelik met sorg en erns gekies. Op die mees basiese vlak dui die titel en verhaalgegewe natuurlik op ’n gedramatiseerde nadoodse ontrafeling van ’n spesifieke en hoogs traumatiese insident iewers op ’n Suid-Afrikaanse plaas deur die enigste oorlewende van die tragedie.

Daar is egter ook verskeie ander, meer metaforiese, vlakke van betekenis in die titel vervat. Laettia Pople het byvoorbeeld die stuk destyds as “’n lykskouing ... van die Afrikaner se verlede” bestempel (Rapport, 28 April 1993), terwyl ander ná dit iets meer, miskien ’n simboliese ontbloting van die kernsondes van die apartheidsdebakel, en selfs van die Suid-Afrikaanse een in sy geheel, wou sien. Pieter Fourie self beskryf dit, op meer abstrakte wyse, as ’n verkenning van “die vernietigende wêreld van uitbuiting as oersonde van die mens. Veral die verstompende kragte van afsondering, ontmensliking en die blindelingse najaag van ’n moreel bankrot meerdermanskap word oopgevlek” (Skutblad van Post mortem, 2016).

Na my gevoel is dit alles in wese dalk waar, maar ook ’n verstommend swaar las van betekenisgewing om op ’n enkeldrama te plaas.

’n Ander perspektief op die titel kom uit die spesifieke kritiek wat op die 1993- en die 2000-opvoerings uitgespreek is, naamlik die hergebruik van soveel temas (seksuele frustrasie, onvrugbaarheid, verhoudings oor die kleurlyn, baas-klaas-verhoudings, onderdrukte gewelddadigheid, ens) en selfs dramatiese tegnieke (oproep van dooies, direkte spraak met die gehoor, edm) uit sy vorige stukke. In sy reaksie het Fourie dit in ’n onderhoud met Nico Luwes2 eintlik erken toe hy na die stuk verwys het as “basies ’n post mortem van al my werke wat ek tevore gedoen het”.

Die frase klink miskien na ’n netjiese samevatting van die aard en plek van die teks in Fourie se oeuvre, maar dit is ook ’n rigtingwyser na een van die kernkwellinge wat mens met die teks het, soos hier bo bespreek, en laat mense dalk met meer vrae as antwoorde. Want selfs metafories gesien wek Fourie se woorde onmiddellik die vrae: Hóé word die woord “na-doods” nou eintlik hier gesien? Waarna kyk ons dan eintlik in hierdie soort nadoodse ondersoek? Kyk ons nou na ’n wêreld van rassisme, bekrompenheid en geweld wat gestorwe en verby is? Of kyk ons na ’n versameling “vergete” toneelwerke? Na ’n “gestorwe” skrywer? Na die metaforiese “lyk” van ’n vergane (vermoorde) skrywersloopbaan?

Dis dalk juis in die lig van hierdie soort kwellinge dat die werk in die reklameteks eerder beskryf word as “die sluitstuk van Pieter Fourie se vierluik plaastragedies” – ’n aansienlik veiliger woordkeuse.

By nabetragting bied die voorgaande gedagtes interessante perspektiewe op die besluit om hierdie besondere teks juis nóú te publiseer – iets waarna ek later sal terugkeer.

 

Die teks

Die embrio vir hierdie teks was skynbaar ’n koerantberig oor ’n soortgelyke geval (Fourie, bl 5), maar die gegewe is baie duidelik verwerk om verskeie bekende temas waarmee Fourie oor jare al worstel, by te bring. Op die oog af gaan Post mortem oor ’n plaastragedie, ’n vierledige stel komplekse verhoudings oor ras-, ouderdoms- en klasgrense heen wat alles onvermydelik uitloop op ’n grusame slagting en die dood van drie van die vier betrokkenes. Net Trien bly agter om die lyke van haar man, Basjan, die stoere kerkman en boer, Vytjie, die jong en aanvallige inwonende huisbediende, en Gulu, die plaaswerker wat op Vytjie verlief is, te gaan uitken, voor te berei en te begrawe. In die stuk tree sy dan op as tussenganger/betrokkene wat ons as lesers/gehoorlede oor die gebeure inlig en ons uiteindelik as ’n soort jurie vra om ’n oordeel te vel. In hierdie sin is Trien tegelyk die lykbesorger, lykskouer, getuie en biegtende, asook die fasiliteerder/regisseur wat die vertellings en vertolkings ontlok waardeur sy, en ook ons, as lesers/gehoorlede, miskien tot die “waarheid” oor die gebeure gebring kan word.

Fourie gebruik vir hierdie doel die raam van ’n (simboliese) nadoodse ondersoek om die dooies uit hulle grafte op te roep en hulle dan te gebruik om die ware beweegredes vir die uiteindelike slagting uit te rafel en te probeer verstaan. Hieruit vloei daar deur die loop van die “ondervraging” verrassende en ontstellende openbarings deur die onderskeie karakters oor hulle jeug, hulle verhoudinge met mekaar, en die oorsake en gevolge daarvan. Hortend en stotterend word ons verbaal vertel en grafies ingelig oor Vytjie se drome van bevryding en haar swangerskap; Gulu se jaloesie, vrese en verval in drankverslawing; Basjan se stryd met sy gewete, sy onsekerhede en sy wellus; en Trien se vloek van kinderloosheid en haar eie vleeslike verlangens – tot by die grusaam-simboliese slottonele van die vergiftiging van Gulu, die letterlike slagting van Vytjie en Basjan en die ontboesemende wastoneel waarin Trien haar eie – en óns – aandeel en skuld moet beken.

Dit is ’n donker, dreigende en ontstellende werk, vol sterk eggo’s van temas en tegnieke uit Die koggelaar en Ek, Anna van Wyk, maar toon ook neerslae van daardie dorre geestelike en fisiese verlatenheid wat Eugene O’Neill byvoorbeeld in Desire under the Elms so meesterlik ontgin het. Fourie self het al erken dat dit “’n post mortem [is] van ’n hele affair ,van alles wat vantevore in my werk gebeur het ... basies ’n post mortem van al my werke”. Soos reeds genoem, is die ondersoek dus metafories gekonsipieer, en nie net aangebied as ’n doodgewone en realistiese nadoodse ondersoek na fisiese oorsake nie.

In sy vorige plaastragedies het Fourie daarin geslaag om die stukke tematies duidelik te omlyn en sy fokus nou en spesifiek op enkele tersaaklike aspekte te hou. Op daardie wyse kon hy daardie donker, verraderlike Calvinisties-gedrewe stroom van skuldgevoel, bekrompenheid, wantroue, magsug en selfgeregtigheid wat deur sy karakters se lewens – en deur die Afrikaner en deur ons land – geloop het, in sy vertelling opdam en die dieptes daarvan peil. Maar in Post mortem word daar net ’n té wye net gegooi, wat beteken dat die leser tevrede moet wees met iets minder voortstuwend van aard, ’n reeks kort klank- en beeldgrepe waarin ware diepte van belewenis onvermydelik verlore gaan.

Dit bring ons terug by die probleem wat hier bo geïdentifiseer is: die metaforiese las wat Fourie op hierdie betrokke drama plaas is doodeenvoudig té gewigtig vir die intieme storie wat hy wil vertel. Die resultaat is ’n byna melodramatiese byeenbring onder een dak van talle voorbeelde van onderdrukking, verwringing en mistasting waarvan ons in die ou bekrompe Suid-Afrika bewus gemaak is en vandag nog voor kwalik geneem word.

Tegnies vertoon die stuk by tye alle tekens van daardie vaardige, klassieke Fourie-dramaturgie waaraan mens so gewoond geraak het – ’n stel beskryf as ’n kaal verhoog met slegs drie sandhope daarop, wat grafte verteenwoordig, en ’n tafel met rekwisiete, wat die akteurs gebruik soos benodig wanneer tonele uit die verlede uitgespeel word. Die dialoog en vertellings is oorwegend knap en karaktergedrewe, met slim oorgange tussen Trien se ondervraging en die terugflitse na die gebeure. Maar deurgaans bly daar iets haper, ’n oneweredigheid aan dit alles, iets wat lol met die ritme en die afronding van die werk, ’n onafgerondheid wat in hierdie geval dui op ’n té wydlopige fokus en moontlik selfs ’n té haastige skeppingsproses. Die ontboesemings kom doodeenvoudig té vinnig, té gemaklik op mekaar om sinvol impak te maak – van die gebeure en vertellings voel soms ongemotiveerd of banaal voorspelbaar.

 

Verhooglewe en resepsie

Die voorgaande kommentaar is, soos genoem, gebaseer op die lees van die teks. Maar ongelukkig lyk dit tóg of die opvoergeskiedenis van die stuk die reaksie vertoon. Anders as met Fourie se meer bekende en gerekende werke het hierdie stuk tot op hede slegs drie speelvakke beleef, almal geheel en al, of ten minste gedeeltelik, deur die toedoen van die Universiteit van die Vrystaat. Nico Luwes (2012) vertel dat die teks vir die Departement Drama- en Toneelkunde geskryf en deur hulle opgevoer is, waarna hulle dit na ATKV Kampustoneel in Pretoria geneem het as hulle inskrywing vir die 1993-teksprojek.

Diegene wat Kampustoneel se gloriedae geken het, sal natuurlik goed weet dat die fees spoedig na sy aanvang in 1983 ontwikkel het tot ’n unieke en opwindende mark vir nuwe tekste, regisseurs en spelers, ’n geleentheid waarheen joernaliste, kritici, regisseurs, uitgewers en die publiek elke jaar gekom het met die hoop dat hulle die nuutste meesterwerk in Afrikaans te sien sou kry, en nuwe talent kan ontdek.3 Vir die skrywers self het dit beteken: jy kry ’n geleentheid om ’n stuk werk deeglik te ontwikkel en uit te toets. Sou jou werk dáár ’n sukses wees, sal dit gou in omloop gekom het om gepubliseer te word en opgevoer te word – as jy gelukkig is, deur een van die streeksrade, die Markteater of ’n ondernemende professionele groep. Faal jou werk egter daar, of is dit nie in staat om genoeg geesdrif by kritici, die publiek of toneelmakers te wek nie, beland dit meestal op die rak van anonimiteit, saam met talle ander ... om (miskien?) eendag weer ontdek te word.

In Post mortem se geval is die eerste opvoering in the Wynand Mouton-teater aangebied onder regie van Chris Fourie, met Anton Welman en drie studente – Simoné Verster, Linda Louw en Nico Davids. Dieselfde aanbieding gaan dan na Pretoria om in die Breytenbach-teater aan ATKV Kampustoneel deel te neem. Alhoewel van die resensies positief was, was daar ook ’n hele aantal voorbehoude, onder andere oor die betreklike onoorspronklikheid van die stuk (’n lappieskombers van temas, beelde en tegnieke uit sy vorige werke som dit miskien op), en die tekort aan ervaring van die jeugdige studentespelers is as ’n remmende faktor gesien.

Die ontvangs by Kampustoneel was dus nie positief nie, en die stuk is derhalwe nie daarna deur enige streeksraad of ander toneelgeselskap opgeneem nie. Daar is ook nie gekyk na publikasie nie, wat natuurlik op sigself reeds ’n interessante kommentaar op die teks en sy moontlikhede moes gewees het.

Die een ander opvoering van die stuk het in 2000 plaasgevind, weer in die Wynand Mouton-teater, en was tot ’n groot mate nog ’n heropvoering van die 1993-een. Hierdie keer is die regie deur Anton Welman waargeneem, maar nou met twee professionele spelers (Stephanie Brink en Welman self) en twee meer ervare nagraadse studente (Teresca Muishond en Richard Miles) in die geselskap. Welman se aanbieding is deur Fourie self hoog aangeslaan4 en is skynbaar met meer geesdrif deur die plaaslike resensente ontvang, maar steeds nie genoeg om aan die teks ’n verdere lewe te verskaf nie.

 

Publikasie en die toekoms

Die stuk is nooit gepubliseer nie en afskrifte van die tekste was lank na die opvoerings in 1993 en 2000 slegs by Dalro en by die Universiteit van die Vrystaat se Dramadepartement beskikbaar. Die feit dat die teks nou, ná 23 jaar, gepubliseer word, stem mens dus tot nadenke, en maak die teks wat ons voor ons het, miskien nog méér van ’n enigma.

Dis natuurlik glad nie ongehoord dat tekste lank ongepubliseerd bly en dan later herontdek en gepubliseer word nie. Daar kan verskeie beweegredes voor wees, gewoonlik gesetel in een van drie moontlike scenario’s:

  1. Die werk is nog altyd gewild as opgevoerde werk, en daar ontstaan ’n behoefte om dit ook permanent vas te lê (dit is bv die geval by heelwat geïmproviseerde werk oor die jare, veral in die tagtigerjare in Suid-Afrika).
  2. Die werk is opgediep uit argiewe, of herontdek na jare van vergetelheid, en ’n nuwe lewe gegee deur ’n nuwe, relevante en suksesvolle opvoering van die oorspronklike, of in verwerkte vorm, wat die teks aantreklik vir uitgewers maak.
  3. Dit word ingesluit in ’n versamelbundel (of publikasiereeks) van die betrokke skrywer se werk.

Soos reeds genoem, is hierdie teks in 1993, toe die entoesiasme met Kampustoneel nog hoog geloop het, klaarblyklik net nie goed genoeg of geskik vir publikasie geag nie. Ook nie eers na die meer suksesvolle opvoering in 2000 nie. Waarskynlik is dit destyds net nie – tematies, inhoudelik, teatermatig en/of struktureel – as die portuur van Fourie se beste werke beskou nie. Dit kan ook wees dat sommige uitgewers op daardie tydstip dalk gevoel het dat nóg ’n wroeging oor die sondes en ellendes van die verlede nie ’n goeie proposisie sou wees nie, veral gegee die tentatiewe optimisme van die tydsgewrig, so ná aan die oorgangstyd na ’n nuwe bestel.

Die teks wat ons vandag voor ons het, is wesenlik die teks van 1993 – dis nie aangepas vir vandag nie, terwyl die veelvuldige temas wat die stuk probeer aansny het, tóé reeds plek moes maak vir ander, destyds meer kritieke kwessies wat ’n snel veranderende samelewing konfronteer – en vandag dalk des te meer.

Maar dit is nie om te sê dat die kwessies wat Fourie in die stuk te berde bring, nou skielik ongeldig, vergete of sinloos geraak het nie, maar eerder dalk dat dit miskien net anders bekyk, aangevoor en hanteer sou kon word om aan te sluit by die dringende kwessies van vandag.

Ons leef in ’n tyd van entoesiastiese argivale herwinning van die vergete verlede, herinneringe van ons eie verlede, en herinterpretasie van die verlede in terme van die nuwe bestel. Daarby het die angswekkende voorkoms van xenofobie, fanatisme, korrupsie, eiegeregtigheid, gierigheid, sinlose geweld en menseslagting wêreldwyd ’n alledaagse en sensasionele werklikheid geword, veral danksy die media, ’n reeks kwessies wat smeek om insig, ontleding en ondersoek. Ook op die verhoog.

So, ja – in daardie sin is dit moontlik dat enige post mortem-ondersoek na kernoorsake dalk wel van belang geag kan word en dat werke soos hierdie een miskien, deur middel van ’n kreatiewe herinterpretasie deur ’n skeppende regisseur of teatermaker, tóg as opvoering tot ’n nuwe generasie van toneelgangers en kritici sou kon spreek.5

 

Slotsom

Ten spyte, dus, van my bedenkinge oor die teks as geskrewe drama, is ek baie verheug dat Pieter Fourie se oeuvre van gepubliseerde werke hiermee deur Protea Boekhuis aangevul kon word. Hy is ’n belangrike, invloedryke en kleurryke figuur wie se werke nie net opgevoer behoort te word nie, maar ook bestudeer moet word – en daarvoor is die beskikbaarheid van gepubliseerde tekste natuurlik onontbeerlik.

In daardie verband, miskien net ’n laaste gedagte: as die gevoel is dat hierdie teks gepubliseer móés word, om daardeur die oeuvre van een van ons mees bekwame en bedryfgesoute dramaturge volledig daar te stel (soos in scenario (c) hier bo aangedui) sou dit – in die lig van Fourie se eie gevoel daaroor – miskien beter kon gepas het in ’n versamelbundel van al vier Pieter Fourie se plaastragedies, juis dan as ’n soort sluitstuk (of dan ’n post mortem-samevatting) van die tematiese lyne wat deur die werke loop.6

Om die waarheid te sê, die titel sou selfs goed te pas kon kom as titel vir so ’n bundel in sy geheel.

 

Bronne

http://www.azarchivesonline.org/xtf/view?docId=ead/asu/bradford.xml.

https://en.wikipedia.org/wiki/Post_Mortem_(Coward_play).

https://en.wikipedia.org/wiki/Post_Mortem_(Gurney_play).

https://www.samuelfrench.com/p/758/postmortem-ludwig].

Laetitia Pople, Kampustoneel 1993 – ’n oorsig, Rapport, 28 April 1993.

Nico Luwes, 2012, Pieter Fourie (1940–) se bydrae as Afrikaanse dramaturg en kunsbestuurder: 1965–2010. Ongepubliseerde doktorale tesis. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.

Pieter Fourie, 2016, Post mortem. Pretoria: Protea Boekhuis.

“Pieter Fourie” in Wikipedia.

“Post Mortem” in ESAT: The Encyclopaedia of South African Theatre, Film, Media and Performance.

Volksblad, 17 November 2001.

 

Eindnotas

1 Benewens Fourie se drama: Post mortem (Noel Coward, 1931), Post mortem (Benjamin Bradford, 1970), Postmortem (Ken Ludwig, 1983) en Post mortem (AR Gurney, 2006). Bradford se werk is skynbaar die enigste ander een wat in Suid-Afrika opgevoer is (1973 by Die Ruimte in Kaapstad, geregisseer deur wyle Bill Flynn, met Phillip Boucher, Christopher Prophet en Mike Richard).

2 Ek is baie dank verskuldig aan Nico Luwes vir die deeglike inligting oor die ontstaan, opvoering van en kritiese reaksie op hierdie teks wat hy in sy formidabele DPhil-proefskrif oor Pieter Fourie opgeneem het.

3 Vier Pieter Fouries tel onder die grondleggers van die Kampustoneel-projek in die vroeë tagtigerjare, naamlik Pieter Fourie, die ATKV se organiseerder vir toneel, Pieter J Fourie, professor van kommunikasie by Unisa en ’n gereelde beoordelaar, wyle Pieter-Paul Fourie, dramaturg en op ’n stadium literêre adviseur by Truk, en natuurlik Pieter Fourie, dramaturg en regisseur, wat nie net ’n gereelde skrywer van stukke vir die fees was nie (Ek, Anna van Wyk was seker een van die treffendste werke wat Kampustoneel opgelewer het), maar wat as adviseur by die beplanning opgetree het en moontlik een van die belangrikste en mees fundamentele reëls vir die projek daargestel het, naamlik dat daar geen sensuur mag toegepas word op die stukke wat aangebied word nie – ’n reël wat die ATKV tot sy groot eer deurgaans nagekom het.

4 Volgens ’n onderhoud ná Anton Welman se onverwagse heengaan in November 2001 het Fourie aan Est de Klerk gesê dat hy Post mortem oorspronklik aan Welman opgedra het: “Hy het die regie van die stuk in 2000 so skitterend gedoen dat ek besluit het om dit aan hom op te dra” (Volksblad, 17 November 2001, bl 3, aangehaal in Luwes 2012). Dit verwys dalk na die opdrag van die opvoering van 2000, want in die gepubliseerde teks van 2016 dra Fourie dit op aan sy vier dogters: Tanya, Mashinka, Natasja en Nandi.

5 Dit is onteenseglik waar dat daar al in die verlede verskeie vergete dramas van een of ander skrywer opgediep en ’n tweede lewe gegee is. Sommiges hiervan het ’n reuse-impak op ’n nuwe generasie teatergehore gehad, en het dalk selfs die praktyk van toekomstige teatermakers onmeetbaar beïnvloed. Mens dink byvoorbeeld aan die klassieke geval van Georg Büchner, wat sy meesterwerk, Woyzeck, in 1836 begin skryf het, maar dit is nie voltooi voordat hy in 1837 oorlede is nie. Verskeie mense het daarna gepoog om dit te voltooi, en dit word uiteindelik die eerste keer eers in 1879 in Karl Emil Franzos se verwerkte weergawe gepubliseer, maar eers op 8 November 1913 deur Max Reinhardt in die Residenztheater, München opgevoer.

6 Reza de Wet se stukke is byvoorbeeld meesterlik op hierdie wyse gekonsipieer, verpak, gepubliseer en bemark in die twee bundels Vrystaat Trilogie en Trits: Mis, Mirakel en Drif. (Haar Russiese stukke is in die Engelse weergawes ook so hanteer.) Van Athol Fugard se werk is ook so uitgegee.

  • 1

Kommentaar

  • Knap uiteengesit, Temple. Jip, Pieter F is 'n force to be reckoned with en jy het die uitdaging skitterend en met insig en perspektief opgeneem - mooi so!
    NS Waar is Kampustoneel nou dat ons haar nodig het! J

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top