Persvrystelling: Universele teater by KKNK 2020

  • 0

.........

“Stories van ons vroue, Suid-Afrikaanse vroue, wat deur die geskiedenis van die mensdom eggo. Dis intiem, snaaks, hartroerend en gaan jou nog lank na die tyd laat dink.” Brandbaar

.........

Die teater-aanbieding by vanjaar se KKNK is vol stories wat ’n groot emosionele impak maak, waar persoonlike, intieme verhale universele temas aanraak en wys dat óns land se stories almal se stories is. Hierdie is verhale wat teatergangers op ’n innerlike reis neem. In kort, hartstories.

Die artistieke direkteur van die KKNK, Hugo Theart, sê: “Die jaar se program is gevul met hartsverhale in alle genres. Daar is verskeie eg-Suid-Afrikaanse produksies wat outobiografies van aard is en ook verskeie wat gebaseer is op werklike gebeure en stories met historiese agtergronde. Dis ons mense se stories en ons mense se geskiedenis.”

Biografiese teater

Een van die KKNK se vlagskipproduksies, Die Atleet, is die outobiografiese storie van Reginald Hufkie, wie se lewenspad wye draai met hom geloop het. Van weeskind in die Oos-Kaap tot pryswenner-atleet en nou suksesvolle akteur. Dis ’n inspirasionele storie van deursettingsvermoë en wilskrag wat verskeie struikelblokke uit die weg ruim.

Die Atleet (Foto: KKNK)

Lizz Meiring, wat ook vir die suksesvolle My naam is Ellen Pakkies verantwoordelik was, het die teks geskryf en regie gedoen en Karin van der Laag is saam met Reginald ook in die toneelstuk te sien.

.........

“Met watter oë kyk ons na die geskiedenis, en wat doen ons met daardie inligting? Hoe kan ons dit gebruik om die toekoms te verbeter?” Wit Isse Colour

.........

’n Plaaslike storie vanuit die Suidkaap, is Karatara. Dis onder andere geskep deur twee van vanjaar se ontvangers van die Kunste Onbeperk-prys vir Jong Stem, Shaun Oelf en Grant van Ster en hulle dansgeselskap, Figure of 8 Dance Collective, en vertel die storie van die nadraai van die Knysna-brande in 2018. Dean Balie is ook hierin te sien, en die teks is deur Wilken Calitz en Oelf. Gideon Lombard behartig die regie. Dit is die tipe teater wat deur woord en fisikaliteit met jou hart praat.

Shaun Oelf en Grant van Ster (Foto: Menán van Heerden)

Zolani Mahola is nie net ’n naam wat in Suid-Afrika bekend is nie, maar internasionaal het dié hoofsangers van die groep Freshlyground ook al ’n stewige aanhangersbasis opgebou. Vir haar musiekteaterstuk The One Who Sings, waar sy pas vir ’n Fleur du Cap-teaterprys vir beste aktrise benoem is, het sy lof vanuit alle oorde ingepalm tydens die produksie se speelvak in Kaapstad. En nou kry gehore in KKNK die geleentheid om saam met haar te reis. ’n Reis na haar verlede waar sy met egtheid en deernis háár storie vertel. Dis ’n emosionele tog, en die soort stories waarvoor ’n mens KKNK toe kom. Die regisseur Faniswa Yisa is ook vir ’n Fleur du Cap benoem as beste nuwe regisseur.

.........

“Die teater-aanbieding by vanjaar se KKNK is vol stories wat ’n groot emosionele impak maak, waar persoonlike, intieme verhale universele temas aanraak en wys dat óns land se stories almal se stories is.” 

.........

Nathan Trantraal (Foto: Ronelda S Kamfer)

Wit Isse Colour is gegrond op die outobiografiese ervarings van die skrywer en digter Nathan Trantraal. Die kwessies van die dag is hier op die tafel. Min dinge bly onaangeraak, van verwarde toxic masculinity tot ’n re-imagined geskiedenis van Autshumao, oftewel Harry die Strandloper, en Jan van Riebeeck. Belangrike vrae word hier gevra: met watter oë kyk ons na die geskiedenis, en wat doen ons met daardie inligting? Hoe kan ons dit gebruik om die toekoms te verbeter?

Nog ’n uiters persoonlike vertelling is musiekteaterstuk Santa’s Story waarin die operasangeres Aviva Pelham die storie van haar ma, Santa, vertel. Haar reis het op 17-jarige ouderdom begin, vanuit ’n oorloggeteisterde Europa na ’n nuwe lewe in Afrika. Van klein Duitse dorpies, as vlugteling deur Spanje, Frankryk en eindelik die destydse Rhodesië. Later vind sy haar holte in Suid-Afrika. Die musiek in die toneelstuk weerspieel die musiek wat Santa op haar reis teegekom het. Dis in Frans, Jiddisj, Spaans, Engels en Hebreeus, en neem die gehoor saam na die plekke waar hierdie musiek vandaan kom. Dis ’n internasionale reis in die Klein Karoo.

Kamphoer: Die verhaal van Susan Nell is ook ’n biografiese toneelstuk wat die bekende geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog met emosionele diepte aanpak deur die oë van een vrou. Nadat Susan Nell in die Winburg-konsentrasiekamp wreedaardig verkrag en vir dood gelos word, oorleef sy. Sy bekwaam haarself as sielkundige in Nederland en werk tydens die Eerste Wêreldoorlog in ’n psigiatriese hospital waar haar paaie met een van haar verkragters kruis wat vir bomskok behandel word. Dis vir verskeie pryse by ander feeste benoem, en het pas ’n Fiësta gewen vir Beste Spel in ’n solovertoning vir Sandra Prinsloo.

Universele temas

Brandbaar is ’n vertaling van Rehane Abrahams se toneelstuk Womb of Fire, wat KKNK toe kom met ’n string pryse wat dit reeds op verskeie ander plekke gewen het. Womb of Fire is met drie Woordpryse en twee Fleur du Cap-pryse bekroon en verweef historiese ware gebeure met eietydse werklikhede. Drie vroue se stories word vertel deur tyd, spasies kontinente heen. Stories van ons vroue, Suid-Afrikaanse vroue, wat deur die geskiedenis van die mensdom eggo. Dis intiem, snaaks, hartroerend en gaan jou nog lank na die tyd laat dink. Jason Jacobs het die vertaling behartig.

Die Dinge van ’n Kind, gebaseer op Marita van der Vyver se roman, vertel ’n storie wat al te bekend is aan Suid-Afrikaanse vroue. Traumas uit die verlede word op ’n hartroerende manier verwerk in treffende toneelstuk met Cintaine Schutte in die hoofrol. Die produksie is benoem vir verskeie pryse en Schutte het ’n Aardklop-prys vir beste solo-kunstenaar ontvang.

Cintaine Schutte in Die dinge van ’n kind (Foto: Toyota US Woordfees)

In Opdrifsel en Terminaal 3 word onder meer verlies ondersoek, en watter impak dit op veral ouers het van kinders wat sterf. Dis intieme stories met universele temas waarmee baie mense hulself sal kan vereenselwig. Brendan Daniels en Tinarie Van Wyk-Loots is in Opdrifsel te sien, met ’n teks en regie deur Philip Rademeyer, en Anna-Mart van der Merwe, Edwin van der Walt, Carla Smith en André Roothman is in die rolverdeling van Terminaal 3. Dis ’n vertaling van die Sweedse dramaturg Lars Norén se stuk, en pas ewe gemaklik in ’n Suid-Afrikaanse milieu. Dit bewys dat universele stories nie noodwendig aan ’n spesifieke plek gekoppel hoef te word nie. Marthinus Basson het die regie en vertaling gedoen.

Die teatergeselskap van Queenie-hulle  (Foto: Aardklop)

En Queenie-hulle is ’n toneelstuk wat op ’n empatiese manier aandag gee aan ’n gemarginaliseerde groep mense wat dikwels misgekyk word: haweloses. Dis ’n tragikomedie wat onlangs met drie Fiësta-pryse beloon is vir Beste Nuwe Afrikaanse Teks, Beste Akteur vir Brendan Daniels en Beste Aanbieding. Christo Davids en sy oom, Lloyd Davis, het die teks geskryf, en Christo behartig die regie.

Lees ook 

Fotogalery: KKNK 2020-programbekendstelling

Onderhoud met Ronelda S Kamfer oor Wit isse colour

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top